Uitgawe 1 – Maart 2020

Ons gaan see toe

Uit die nuuskantoor

Foto’s kan nie naastenby beskryf hoe mooi die saal opgemaak is vir hierdie jaar se somersokkie nie. Dit was ook nie net die saal nie, maar die versierings het so ver as die tennisbane gestrek! Die sosiale komitee en Gr.7-ouers het die skool omskep in ‘n strandtoneel so realisties dat jy sonbrandolie kon ruik.

Daar is ure se werk en moeite ingeploeg om die sokkie onvergeetlik te maak en daar is selfs speletjies uitgepak vir nog meer vermaak. Emmy Stoltz, ‘n ouer by ons skool, het ‘n oulike video van die somersokkie gemaak. Gaan loer gerus onderaan hierdie berig vir die video.

Wat ‘n lekker hoogtepunt om die kwartaal se funksies mee af te sluit voor ons vir ‘n hele ruk nie bymekaar mag kom nie. Ons wil almal wat betrokke was by die reël en opstel van die sokkie bedank vir ‘n onvergeetlike aand. Ons kon nie vir beter vra nie!

Redakteursbrief

Die eerste kwartaal van 2020 het verbygevlieg en ‘n mens kan nie glo hoe baie dinge kan verander in so ‘n kort tydjie nie.

Daar was klomp opwindende dinge wat hierdie kwartaal gebeur het, soos die somersokkie wat omtrent ‘n groot storie was. Die swemgalas was weereens ‘n lekker geesbou geleentheid, die Jannies het behoorlik daarin uitgeblink. Ons het kennis gemaak met die nuwe Gr.1’s en die oulikste antwoorde op ons vrae uit hulle gekry. Gaan lees bietjie wie hulle dink die skoolhoof is en waarvoor NWT staan. Ons het ook die nuwe onderwysers beter leer ken en jy kan in hierdie uitgawe die onderhoude op ‘n video kyk!

Vanjaar se Suidooster lyk anders as ander jare, want na positiewe terugvoer op einde verlede jaar se elektroniese uitgawe, het ons besluit om daarmee voort te gaan. Dit beteken boonop dat ons video’s kan insluit, so vat gerus julle tyd om alles te lees én kyk!

Die Koronavirus het skielik die hele wêreld op hol (of eerder in kwarantyn) en ‘n verlengde vakansie is maar net een van die gevolge. Ons hoop almal kan hulself vermaak, ten spyte daarvan dat ons almal Jan Tuisbly se karretjie moet ry. Geniet dit, was jul hande en bly maar weg van mense met vreemde aksente! Sien julle volgende kwartaal.

Groete,
Stella Malan

Redaksie 2020:
Stella Malan (redakteur)
Nina Badenhorst
Jana Brink
Zerchelle Faes (videograaf)
Ella-Mari le Roux
Kianna-Gro Liversage
Armand Meyer
Hein Muller (fotograaf)
Ben Terblanche
Klara von Lieres
Juf. Magriet van Zyl (redigering)
Juf. Suzaan Burger (uitleg)

Liefde vir swem

Seniorswemgala

Deur Ella-Mari le Roux

Daar was liefde in die lug met hierdie jaar se Gr.4-7 swemgala wat op Valentynsdag geval het! Dit is altyd net ‘n plesier om ons atlete te sien swem, veral as hulle so tuis soos visse in die water is.

Kian Eksteen in Gr.7 het vir een van ons top-swemmers, Lourens van der Walt, ore aangesit in rugslag en vlinderslag. Kianna Liversage het omtrent vir ons gewys hoe dit gedoen moet word en het die beker vir die beste senior meisie ontvang. Alexander Benecke is aangewys as ons top senior seunswemmer. Soos altyd, het ons die dag met die Gr.7 pretresies afgesluit.

Al het al die individuele bekers aan die Blouspan gegaan, het die Oranjespan vir die vierde jaar in ‘n ry die spanbeker verower!

Juniorswemgala

Deur Jana Brink

Die reuk van vars pannekoek en die geluide van die skreeuende Gr.1 tot 3 leerders, wat Vrydag, 28 Februarie aan ons jaarlikse Junior Swemgala deelgeneem het, was oordonderend.

Daar was selfs lewensredders wat leerders kon help as hulle sukkel, maar gelukkig was dit glad nie nodig nie, want ons Jannies was soos visse in die water. Daar was party baie entoesiastiese toeskouers, soos Phumi Salimani in Gr.2, wat baie geesdriftige swemmers van die kant af aangemoedig het.

Sophia Liebenberg is as die beste junior meisies-swemmer aangewys en Albert Griesel as die beste junior seuns-swemmer. Ons is baie trots op hulle!

Laerskool is nie kinderspeletjies nie

Deur: Stella Malan en Armand Meyer

Op 15 Januarie het daar het ‘n groep opgewonde Gr.1’s by Jan van Riebeeck se deure ingestap. Hulle was duidelik al gereed vir die groot skool. Sommige van hulle het wel met trane in hul oë die skool trotseer, ander met groot vreugde, maar almal was lus vir maats maak. Hulle het sommer al op die eerste dag van hul laerskoolloopbaan hul juffrouens mal gemaak!

Hulle is vir ons nogtans baie oulik. Ons het vir hulle ‘n paar vrae gevra:

Wat is die Gr. 7’s se werk?
Hulle werk op rekenaars.
Wie is mnr. Steyn?
Dis die hoof van die skool
Wat is die grootste woord wat jy al hier gehoor het, en wat dink jy beteken dit?
Duisend – Baie, te veel om te tel.
Respek – Jy moenie praat wanneer ander mense praat nie.
Hardloop – Baie vinnig.
Driedimensionele vorms – Ek het geen idee wat dit beteken nie
Wie is die kwaaiste juffrou of meneer in die skool?
Mnr. Oosthuizen
Juffrou Oosthuizen
Juffrou Kellerman
Die LO meneer
Wat doen julle in die rekenaarklas?
Ons rekenaars.
Wat is die moeilikste ding wat julle al moes doen in LO?
Dodgeball
Ons moes ‘n bal op ‘n houtraket balanseer
Watter verskille is daar tussen

die laerskool en die kleuterskool?
Ons pouses is baie korter hier.
Wie was Jan van Riebeeck?
Hy was ‘n stoute man.
Sy naam was Laerskool.
Wat mis julle van die kleuterskool?
Ons mis vir juf. Sune en juf. Liezel.
Watter reëls sou jy maak as jy die skoolhoof van die skool was?
Daar moet lollipop cannons oral wees.
Ek sou ’n massiewe glyplank laat bou wat in ‘n swembad ingaan.
Daar moet room service wees.
Ons kan altyd gaan swem wanneer ons lus is.
Wat dink jy is die Suidooster?
Suidoosthuizen
Wat dink jy doen die leerderraad (die mense met balkies aan)?
Hulle leer.
Wat is die eerste ding wat jy doen as jy by die huis kom?
Huiswerk, sodat ek kan leer om te tel.

Wat dink jy is NWT?
Brandewyn.
Wat doen Tannie Adri en wie is sy?

Sy sê goed uit daai ding (interkom) uit.
Wat moet mnr. Oosthuizen doen wanneer hy nie meer skoolhoof is nie?
Op die straat sit en wag vir geld.
Hy moet die huis skoonmaak.

Daar is nog baie tyd vir die Gr.1’s om groot woorde te leer. Die skrywer, Jaco Jacobs, sê die volgende oor ‘n groot woord in sy boek, Op my planeet:

Die Groot Woord
Escargot is ‘n deftige woord
wat mense help vergeet
dat hulle in werklikheid besig is
om tuinslakke te eet.

Ons hoop die Gr.1’s rus lekker uit die vakansie, want daar lê nog drie propvol kwartale voor!

Boekhoek

Deur Hein Muller

Percy Jackson’s Greek Gods (nie-fiksie)
Outeur: Rick Riordan

In hierdie ongelooflike interessante boek is daar omtrent ‘n verskeidenheid van stories oor Griekse mitologie. Van oeroue chaos, van die Titans tot by Zeus, die koning van die gode en die god van die lug. Die verhale word uit die oogpunt van Percy Jackson, die hoofkarakter in die wêreldbekende Percy Jackson-reeks, vertel. Die boek is geskik vir ouderdomme 11 jaar en ouer. Wat hierdie boek lekker maak, is dat dit Griekse gode meer in diepte behandel, wat die lees van die Percy Jackson-reeks vergemaklik en ‘n hele nuwe wêreld vir die leser ontsluit. Dit word aanbeveel om eers hierdie gids te lees voordat jy met die Percy Jackson-reeks begin.

Deur Ameli Snyman, Gr. 6B

Die Book Dash-reeks
Outeur: Verskeie

Book Dash is ‘n Suid Afrikaanse organisasie wat wil hê dat alle kinders teen die ouderdom van 5 ‘n honderd boeke moet besit. Maar boeke is duur, en dit beteken dat baie gesinne dit nie kan bekostig nie. En dis hoe Book Dash help: hulle nooi skrywers, illustreerders en boekontwerpers uit om vrywillig kinderboeke te kom maak by ‘n 12-uur “Book Dash”. Daar word gewoonlik 10 nuwe kinderboeke gemaak by ‘n Book Dash, en al die kreatiewe mense wat aan die boeke werk, doen dit verniet. Dit beteken dat die boeke baie bekostigbaar is, aangesien die enigte koste wat oorbly, die drukkoste is. Book Dash kry dan befondsing om die boeke te druk en het al meer as 750,000 boeke gedruk en vir Suid-Afrikaanse kinders gegee om te besit. Die boeke is in al die Suid-Afrikaanse tale beskikbaar.

In ons biblioteek, is daar ook boeke van Book Dash, bv. Waar is Lulu? en Uphi uLulu? – dieselfde storie in Afrikaans en isiXhosa. As jy die isiXhosa wil lees, is dit maklik wanneer jy die Afrikaans in jou ander hand het, want dan kan jy die storie verstaan, selfs in isiXhosa! Waar is Lulu? is die storie van ‘n klein dogtertjie wat wegkruip wanneer haar ma haar roep om biblioteek toe te gaan. Sy wil nie biblioteek toe gaan nie, want sy verstaan nie dat jy elke keer nuwe boeke kan uitneem nie, en sy’s nie lus om haar boek terug te gee nie. Die illustrasies is oulik en kleurvol, en nie té realisties nie. Die span wat hierdie boek gemaak het is Clyde Beech (illustreerder), Mohale Mashigo (skrywer) en Nkosingiphile Mazibuko (ontwerper). Clyde en Mohale werk ook saam aan die bekroonde grafiese romans Kwezi.
Vir meer oor Book Dash, besoek hul webwerf by www.bookdash.org

Deur Emma van Biljon, Gr. 4F

Lag ‘n slag

Deur Stella Malan

Ons het vir ‘n paar baie talentvolle kunstenaars in ons skool gevra om spotprente vir die skoolkoerant te teken. Daar het ‘n klomp skreeusnaakse prente uitgekom, en ons het twee daarvan gekies vir die koerant.

Raai, raai, riepa!

Deur Jana Brink

Raaisels kan ‘n mens soms vir ‘n rukkie besig hou. Geniet dit om hierdie twee te ontrafel! Die eerste twee Jannies wat raak raai, kan in die week van 14 April ‘n verrassing gaan haal by juf. Magriet in die biblioteek.

“I once was full of thoughts, but now I am white and empty. What am I?”
“Mnr. Blou woon in die blou huis. Mnr. Geel woon in die geel huis. Mnr. Oranje woon in die oranje huis. Wie woon in die wit huis?”

Siya Kolisi: Kaptein met karakter

Deur Ella le Roux

Die o\13 rugbyspan het op 7 Februarie 2020 saam met die Alive Foundation die Springbokkaptein, Siya Kolisi, ontmoet. Die Alive Foundation het geld geskenk vir die rugbyveld waarnatoe ons gegaan het.

Siya vertel dat wanneer hy klaar rugby gespeel het, hy graag voltyds rugbyvelde in minderbevoorregte areas sal wil bou. Die eerste veld open in Mei by die Mbekweni Jeugsentrum in die Paarl vir die Desmond Tutu skool. Een van Siya se grootste drome is om ‘n veld in Port Elizabeth te bou by die skool waar hy begin rugby speel het.

Die boodskap wat Siya aan ons Jannies wil oordra, is dat ons dankbaar moet wees vir ons geleenthede en fasiliteite soos sportgeriewe, ‘n rekenaarsentrum en kunsklasse, want nie almal het sulke voorregte nie. Hy self het arm grootgeword en moes hard werk om bo uit te kom. Siya is ‘n inspirasie vir soveel mense en sy storie bring hoop. Dit was ‘n voorreg om hom te ontmoet. Ons hoop sy boodskap bereik baie mense!

Ons toekoms in 3D

Deur Ben Terblanche

Rekenaarklas is verseker een van die gunstelinge onder die leerders en hierdie jaar lê daar nog baie opwindende dinge voor!

Juf. Burger en juf. Roos het 3D-ontwerp en druk by die kurrikulum gevoeg! Leerders van Gr.1 tot 7 het hierdie kwartaal met 3D-ontwerp op Tinkercad, ‘n gratis aanlyn program, begin. Tydens die eerste kwartaal het leerders ontwerpoefeninge gedoen om die program baas te raak. Die groot pret begin egter later hierdie jaar, wanneer leerders met projekte gaan begin. Gr.6 tot 7-leerders gaan die geleentheid hê om dit wat hulle ontwerp en in 3D print, aanmekaar te sit en met elektronika te koppel om dit dan te kan programmeer om sekere aksies uit te voer.

Die skool se 3D-printer het as gevolg van die Koronavirus ‘n bietjie lank gevat om by die skool aan te kom, want die invoer daarvan was vir lank nie moontlik nie. Dit het egter begin Maart gearriveer en leerders sal in die tweede kwartaal dit begin gebruik. Kyk solank na die video terwyl ons die 3D-printer uittoets.

Ons kan nie wag om te sien watter vindingryke ontwerpe daar te voorskyn gaan kom nie.

Nuwe onnies

Ons het ‘n hele paar toevoegings tot die Jannie-familie hierdie jaar! Ons het hulle onderhoude op ‘n video vasgevang.

  • Video deur Zerchelle Faes
  • Onderhoud deur Stella Malan, Kianna-Gro Liversage en Klara von Lieres

Kliek HIER om die video in Google Drive oop te maak. Dit is ongelukkig te groot om op te laai, maar julle kan dit aflaai om die video te kyk.

Trouklokke

Uit die nuuskantoor

Juf. Anja Nauta (neé van der Merwe), ‘n intern by ons skool, en Emil Nauta het in Februarie ‘n Karoo-troue enig in sy soort in Matjiesfontein gehad.

Sy vertel dat daar so te sê ‘n nul persent kans was vir reën, maar net toe hulle seremonie klaar is, toe val die druppels. Dit reën baie min daar, so dit was ‘n spesiale oomblik.

Juf. Anja en Emile het ‘n heerlike wittebrood in Europa gehad. Hulle was in Duitsland, Nederland en Frankryk. In Duitsland het hulle gastehuis oorspoel en het hulle die eerste aand daar amper nie ‘n slaapplek gehad nie.

Juf. Nauta het haar trourok saamgeneem Europa toe om op verskeie plekke foto’s in haar trourok te neem, onder andere voor die Eiffeltoring en in die Franse Alpe. Dit klink of dit omtrent ‘n geseënde dag en vakansie was!

#ImStaying

Deur Nina Badenhorst

#ImStaying is ‘n Facebook-groep met meer as 220,000 Suid-Afrikaners wat oor al die positiewe aspekte van die land praat en hoekom hulle nie wil emigreer nie. Die groep is deur ‘n Afrikaanse man, Jarette Petzer, in 2019 begin. Dis ‘n baie gewilde groep en dit het al so groot geraak dat Jarette sy voltydse werk moes prysgee om 100% te fokus op die Facebook-groep. Jarrete sê dat hulle nie probeer om mense te oortuig om in Suid-Afrika te bly nie of om mense te oortuig om nie te emigreer nie, maar dat die groep geskep is sodat mense saam kan staan en die feit dat hulle in Suid-Afrika bly kan vier.

#ImStaying is aan Suid-Afrikaanse mans en vrouens van alle gelowe en rasse wat aan ons land lojaal bly, toegewy. Die groep is geskep vir die mense wat nog glo dat ons die mag het om dinge beter te maak en om goeie nuus oor ons land te versprei. Jarette sê dat hy eendag net ‘n video op Facebook gelaai het oor hoekom hy in Suid-Afrika woon en al die dinge waarvoor hy dankbaar is, toe iemand kommentaar gelewer het dat hy ‘n Facebook groep daavoor moet maak. Jarette het na daardie video besluit om so ‘n groep te stig en die groep het soos ‘n veldbrand versprei.

Suid-Afrikaners pos insetsels wat hulle laat goed voel om deel van die reënboognasie te wees. Oomblikke wat medemenslikheid en omgee uitstraal. Daar is elke dag nuwe stories en videos en die hoeveelheid mense wat elke dag deel word van #ImStaying styg nog steeds.

Dit is lekker om te sien dat ons land so ‘n positiewe reaksie toon en dat daar so baie mense is wat oor een ding saamstem; dat ons in ‘n ongelooflike mooi land met spesiale mense bly!

Onrustige Ryan

Deur Klara von Lieres

Ryan Sandes het op 11 Februarie by ons skool met die leerders kom praat as deel van die Mense van Kaapstad inisiatief. Hy is ‘n bekende uithou-atleet wat al ‘n hele paar resies gewen het. Na ‘n baie interessante en inspirerende praatjie, het ek besluit om vir hom ‘n paar vrae te vra.

Hoe lank oefen jy elke dag?
Dit hang af waarvoor ek oefen, maar gemiddeld 20 ure ‘n week. Partykeer ‘n bietjie meer. Ek hardloop enige iets tussen 100km tot 200km per week met ‘n styging van 7000m tot 8000m bo seespieël.

Wat eet jy om gesong te bly terwyl jy oefen?
Ek eet plantgebaseerde kosse soos dadelballetjes en ek eet graag toebroodjies.

Wat is die naaste wat jy al aan die dood gekom het?
Tydens die Oerwoud Marathon en die Great Himalaya trail in 2018 waar ek en Ryno Griesel die Nepalese Himalayas te voet oorgegaan het.

Wat was vir jou die lekkerste kompetisie en hoekom?
Ek was mal oor die Western States 100-myler in die VSA. Dit het ‘n ongelooflike atmosfeer en is die eerste 100 meiler.

Ryan Sandes se uithouvermoë en avontuurlustige persoonlikheid is aansteeklik en ons kan verseker almal iets by hom leer.