Die afgelope week was die fokus op ons opwindende skoolkonsert wat elke twee jaar aangebied word. Hierdie was weereens nie die gewone en vervelige skoolkonsert wat die meeste mense in die algemeen by ’n skoolkonsert verwag nie! Dit was ’n skouspel, uitstekend beplan en puik uitgevoer! Dit het vanjaar op Maandag, 14 September, afgeskop en die saal was elke aand propvol ouers, voogde, familie en grootouers! Die opwinding het reeds vanaf Maandagoggend tydens die kleedrepetisie behoorlik momentum begin kry en dit het eenvoudig vanaf die eerste aand se puik opvoering tot die magiese grand finale op Donderdagaand, 17 September, opgebou. Ons leerders het baie toegewyd saam met hul onderwysers die afgelope weke baie hard geoefen om seker te maak dat ons dieselfde standaard as die vorige konsert in 2024 kon handhaaf. Die teks van ons spogkonsert, naamlik ‘Musical Diner’, is deur juf. Naomi (gr. 2) geskryf. Die detail en die kwaliteit van die spogkostuums was asemrowend. Die musiek wat elke graad se dansies komplementeer en die puik optrede van die hoofkarakters voer jou maklik weg na ’n magiese musikale wêreld deur die ‘jukebox’ waar ons ’n huldeblyk aan die bekendste musiekblyspelle oor ’n klompie dekades bring. Ek glo julle sal stemsaam dat die spesifieke liedjies tot baie goeie herinneringe van veral die tagtigerjare opgeroep het. Graag wil ek al ons ouers wat so hard gewerk het om die spogkostuums te maak en die professionele grimering te doen, asook die wat met toesig gehelp het, hartlik te bedank vir jul waardevolle hulp. Graag wil ek ’n lansie breek vir juf. Naomi wat aan stuur van die konsert gestaan het, asook juff. Megan en Liesel (kaartjieverkope en beligting) en die res van die personeel wat baie hard agter die skerms gewerk het om die musiekskouspel spreekwoordelik op die planke te bring. Dit was ’n ongelooflike en trotse week vir die Jannie-gemeenskap.
Ek deel verder met julle nog ‘n trotse oomblik waar ons skool weereens presteer het, hierdie keer nie op die sport- of kultuurfront nie, maar met kodering en robotika. Ons senior robotika- en koderingspan ook bekend as die Jannie Bom wat vernoem is na die Springbokke se bekende ”Bomb squad”, sluit die volgende Gr.7-leerders in:
Kohl Kushner,
Rafa Lamprecht en
Liam du Plessis.
Hulle het op Vrydag, 11 September, aan die nasionale kompetisie van die World Robotics Olimpiad in Pretoria gaan deelneem. Ons is so trots op ons 3-manspan onder leiding van juf. Suné wat brons medaljes na afloop van die nasionale kompetisie verower het. Daar het ‘n 160 spanne van dwarsoor die land deelgeneem en ons behaal ‘n spoggerige derde plek– dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie! Baie geluk juf. Suné vir jou harde werk en passie om ons leerders vir die moderne, tegnologiese wêreld daar buite voor te berei deur die kritieke 21ste eeu-vaardighede te ontwikkel wat verder gaan as net die gebruik van ‘n rekenaar. Vir my ontsluit die leerarea ‘n wêreld van kritiese denke en probleemoplossing wat help om ons leerders van gewone verbruikers van tegnologie na skeppers daarvan te verander. Mag ons koderings- en robotikaprogram elke jaar net van krag-tot-krag gaan. Graag wil ek ook vir Mari en Brin Kushner hartlik bedank wat die veilige vervoer van ons 3-manspan en juf. Suné vanaf Lanseria lughawe na Pretoria en terug, gereël het.
Dan hou ons Jannies nie op om ons trots te maak nie. Tussen konsert en al die ander bedrywighede deur neem ‘n groepie van ons Gr. 6’e en 7’s aan ‘n gesogte wiskundekompetisie te Melkbosstrand deel – dieselfde aand as die konsert se Grand Finale! Hulle wen die trofee vir die beste wiskundespan op die dag! Baie geluk aan Jamie Jordaan (gr. 7), Reuben Janse van Rensburg (gr. 7), Chris Derksen (gr. 7) en Ben Louw (gr. 6) wat vir hierdie prys verantwoordelik is. Verder verower ons skool die tweede plek vir algehele uitslae tydens hierdie wiskundekompetisie. Hierdie uitslae is merkwaardig veral omdat ons ‘n klein skooltjie is wat teen baie groter skole as ons kompeteer en dan puik presteer. Juf. Andri en mnr. Leon het hierdie leerders uiters goed voorberei deur soggens voor skool uitdagende somme met hulle deur te werk. Dan het hulle ook verseker dat ons wiskundiges betyds was om by hul onderskeie graadgroepe vir hul finale konsertoptredes op die verhoog te verskyn. Hierdie toewyding van beide die leerders asook die onderwysers spreek boekdele van toewyding en veelsydigheid.
Môre verjaar ons Voorsitter van die Beheerraad, Merwe Scholtz. Baie geluk Merwe en mag die Here jou nuwe lewensjaar ryklik seën en graag wil ek ook namens ons skoolgemeenskap jou hartlik bedank vir wat jy alles vir die skool doen en beteken.
Afrikaans is ‘n unieke en lewendige taal, ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer, deel gerus met jou kind/ers:
” ‘n Stuiwer in die arm beurs gooi”
Die uitdrukking beteken dat iemand iets sê net om ook deel van ‘n gesprek te wees al is dit nie nuttig nie.
Ek sluit dan week nege af met baie dankbaarheid in my hart, hope opwinding en energie wat die konsert die afgelope week na die spreekwoordelik tafel gebring het. Die van julle wat die konsert bygewoon het, sal seker met my saamstem dat die glansgeleentheid ‘n amper tasbare goeie gevoel van trots, samesyn en kameraderie bring sodat ons die besige kwartaal op ‘n hoogtepunt kon afsluit. Dit was ook wonderlik om te sien hoe ons leerders die konsertaande terdeë geniet het, terwyl hulle hul rolle so goed vertolk het. Ek is so trots op ons leerders en personeel!
Mag almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet en lekker rus na ‘n besige konsertweek.
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF