Kategorie: Nuus

Huiswerk Graad 4

Boekverkope – 19 & 20 Augustus 2026

Exclusive Books bring hul boekverkope na ons skool op 19 en 20 Augustus!
✨ Boeke beskikbaar vanaf slegs R50 – daar is iets vir elke jong leser.
Moenie hierdie geleentheid misloop om jou boekrak uit te brei en ‘n nuwe gunstelingboek te ontdek nie.
🗓️ Teken 19 en 20 Augustus nou op jou kalender aan!

JvR skitter by Sun City Tennistoernooi

Van 19–24 Julie het ons 1ste Tennisspan (seuns en dogters) die voorreg gehad om aan die gesogte Sun City Tennistoernooi deel te neem. Altesaam 18 van Suid-Afrika se voorste skole (17 dogters- en 18 seunsspanne) het in die dogters- en seunsafdelings meegeding, wat vir ons spelers die geleentheid gebied het om hul vaardighede teen die bestes te toets.

Gedurende die week het ons spelers elke dag wedstryde teen sterk skole soos Courtrai, Trinity House, Hennops, Elarduspark en Randhart gespeel. Elke wedstryd het nuwe uitdagings gebied en waardevolle ervaring opgelewer. Ons spelers het hulself met trots gemeet aan van die sterkste tennisskole in die land.

Ons is ongelooflik trots op ons uitslae:

Meisies: 3de plek
Seuns: 6de plek

Hierdie uitslae weerspieël nie net talent nie, maar ook ure se oefening, deursettingsvermoë en spanwerk. Ons spelers het met trots die JvR-klere gedra en uitstekende sportmangees op en langs die baan getoon. ‘n Hartlike dankie aan ons afrigters, ouers en ondersteuners wat hierdie toer moontlik gemaak het. Julle aanmoediging, ondersteuning en opoffering het ‘n groot bydrae gelewer tot die sukses van ons spelers.

Baie geluk aan elke speler wat Laerskool Jan van Riebeeck met trots verteenwoordig het. Julle prestasies is ‘n bewys dat sukses nie net gemeet word aan die finale uitslag nie, maar ook aan die karakter, dissipline en vasberadenheid wat julle deur die week uitgeleef het. Die hele JvR-gemeenskap is ongelooflik trots op julle. 

Geagte Ouers / Voogde – 31 Julie 2026

Die kwartaal het skaars afgeskop en die eerste twee weke is agter die rug.
Graag spog ek met ons o.13A-tennisspanne (seuns en dogters) wat vanaf 20 – 24 Junie aan die prestige Sun City-tennistoernooi deelgeneem het. Ons dogterspan het vanjaar hul titel gaan verdedig en hul baie goed van hul taak gekwyt deur bronsmedaljes te verower. Ons seuns het ook gewys dat hulle nie onderskat moet word nie deur ‘n sesde plek te behaal. Daar het vanjaar 18 seuns- en 17 dogterspanne aan die prestige-tennistoernooi deelgeneem en ek glo dat julle sal saam stem dat dit merkwaardig is dat ons as ‘n ‘klein skooltjie’ op nasionale vlak teen heelwat groter skole kompeterend kan wees. Baie geluk aan ons dogters en seuns wat ons so trots gemaak het en in die proses het hulle ook as ware ambassadeurs vir ons skool by Sun City opgetree. Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogter- en seunspanne suksesvol bestuur en vergesel het. Laat my ook toe om Yurich Daniels (buite-tennisafrigter) hartlik te bedank vir sy instrumentele rol oor die afgelope klompie jare om tennis by ons skool te ontwikkel.

Baie dankie ook aan al ons ouers wat die ouerafsprake op 27 en 28 Julie by jul kind(ers) se onderskeie onderwysers bygewoon het. Baie dankie dat julle tyd gemaak het om die akademiese vordering van jou kind(ers) met hul onderwysers te bespreek. Hou ook ingedagte dat kinders nie net bekommerd is oor hul eie punte nie, maar ook oor hul ouers se reaksie daarop. Ek glo dat julle die geleentheid gebruik het om weer met onderwysers kontak te maak, insigte te deel en saam te werk om jou kind(ers) se leerervaring te verbeter. Ek glo dat ‘n spograpport ‘n groot seëning is, maar beslis nie die geheelbeeld van jou kind(ers) bepaal nie. Baie dankie dat ons kollektief saam met julle as ‘n span kan funksioneer om jul kind(ers) verder te ondersteun sodat hulle met selfvertroue probleme kan aanpak en leer om dit op te los.
Op Maandag, 27 Julie, het ons skool ook vir die eerste keer ‘n Kodering- en Robotikadag vir die Grondslagfase-leerders aangebied. Ons graad 1- tot 3-leerders het soveel pret gehad en met groot entoesiasme aan die dag deelgeneem. Die bou en programmering van die kabelkarretjies het suksesvol afgeloop en baie opwinding veroorsaak. Baie dankie, juf. Suné, vir al die puik reëlings, asook die onderskeie onderwysers wat die dag met soveel entoesiasme aangepak het. Ons moet nooit die waarde van leer en onderrig buite die vier mure van ‘n klaskamer onderskat nie. Dit is juis een van die redes waarom ons op ‘n gereelde basis opvoedkundige uitstappies en instappies vir ons leerders reël.

Ek gaan die kwartaal weer voort om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):
“Ledigheid is die duiwel se oorkussing”
Die uitdrukking verwys dikwels na ‘niksdoeners’ wat dikwels onheilighede bedink, m.a.w. wanneer ‘n mens besig is, dan kry hy/sy nie tyd om onbenullighede uit te dink nie.
Ek sluit dan die tweede week van die nuwe kwartaal af en my beste wense vir ons mini-sportdag (mini-rugby en -netbal) wat môre by ons skool aangebied word. Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne!
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

Loading
<iframe src="https://calendar.google.com/calendar/embed?src=jvrprim.co.za_classroomb18e0c73%40group.calendar.google.com&ctz=Africa/Johannesburg" style="border: 0" mode="agenda" width="800" height="600" frameborder="0" scrolling="no"></iframe>