So breek die einde van kwartaal twee uiteindelik aan. Dit was ‘n lang (12 weke) en besige kwartaal met propvol opwindende skoolaktiwiteite en kosbare hoogtepunte. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport d.m.v. ‘n elektroniese weergawe wat julle as ouers/voogde per e-pos sal ontvang. Hiermee word daar erkenning vir jul kind(ers) se harde werk, toewyding en deursettingsvermoë die afgelope kwartaal gegee. Ek wil graag die leerders hartlik gelukwens en komplimenteer met hul spograpporte. Spograpporte behels nie net altyd uitmuntende punte nie, maar sluit ook in waar positiewe vordering deur middel van toewyding, deursettingsvermoë en harde werk getoon word. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op jul kinders se akademiese vordering en -prestasies.
Op Woensdag, 24 Junie, het ons skool vir die eerste keer vir ons personeel ‘n Gesondheidsdag (Wellness Day) by die skool gereël. Dit sluit onder andere mediese ondersoeke (bloeddruk, suiker, cholesterol en liggaamsindeks) asook belangrike oogtoetse in. Hierdie inisiatief is hoofsaaklik om ons beheerraadspersoneel (alle personeel insluitend ons terreinpersoneel) te ondersteun aangesien hulle kontrakte nie mediesefonds insluit nie. Op hierdie manier skep ons die geleentheid om die bogenoemde mediese dienste gratis by die skool te ontvang. Groot dankie aan Jodene (Hoof van MHK) vir die wonderlike inisiatief. Die personeel het groot waardering daarvoor.
Die Intersen (Gr. 4 – 7) se kwartaalikse musiekkonserte is onderskeidelik op Donderdagaand, 18 Junie, en Vrydagoggend, 19 Junie, deur ons dinamiese musiekdepartement, onder leiding van juf. Rolene en die musiekonderwysers, in die saal aangebied. Die saal was uiters stylvol vir die spoggeleenthede voorberei. Baie dankie, mnr. Ben, vir jou stylvolle hand wat duidelik sigbaar was. Beide musiekkonserte is op ‘n hoogtepunt deur die puik optredes van onderskeidelik die senior- en junior koor afgesluit. Die merkwaardige vooruitgang van beide ons kore is op almal se lippe en hul optredes met totaal nuwe liedjies het beide gehore behoorlik betower. Die groei en vooruitgang van ons musiekdepartement die afgelope twee jaar is te danke aan die kwaliteit van musiekonderrig en die ongelooflike toegewydheid van die musiekonderwysers. Hartlike dank aan ons Hoof van Musiek en Kultuur, juf. Rolene, wat aan die stuur van sake staan en verseker dat ons elke jaar van krag tot krag gaan sodat kultuur sy regmatige plek saam met sport en akademie by die skool kan inneem.
Ons sporttoerspanne (netbal o.13A & o.12A, hokkie o.13A-seuns & -dogters en o.13A-rugby) het op Maandag, 22 Junie, net na 08:00 op ‘n luukse toerbus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer vertrek. Die eerste stop en wedstryde het op dieselfde dag teen Laerskool Volschenk te Riversdal plaasgevind waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde gespeel het. Daarna het hulle na Hartenbos vertrek waar hulle spreekwoordelik vir die week gaan kamp opslaan het. Deel van die sporttoer sluit onder andere uitstappies na bekende toeristebestemmings en -aktiwiteite (Highgate Volstruisplaas te Oudtshoorn, Acrobranch-besoek te George, Sandboarding by Dragon Dune te Vleesbaai) in wat die leerders terdeë geniet het. Verder word smaaklike etes by verskeie restaurante geniet wat altyd ‘n hoogtepunt vir beide die leerders en personeel is. Geen selfone is vir leerders op die sporttoer toegelaat nie. Mnr. Leon (Toerbestuurder) het daagliks op die ouer-WhatsApp-groep terugvoering met baie foto’s oor elke aktiwiteit gegee sodat ouers/voogde presies oor al die daaglikse gebeure ingelig is. Ek glo dat dit baie goed vir ons leerders was om ‘n week sonder ‘n selfoon te wees. Leerders het beslis meer sosiaal verkeer en in die proses mekaar beter leer ken terwyl daar saans bordspeletjies gespeel is wat tot groot vermaak en heerlike samesyn gelei het. Ek het self die wonderlike voorreg gehad om vanaf 23 – 24 Junie by die toergroep aan te sluit om hulle te ondersteun. Die leerders was baie aangenaam verras toe ek skielik in Stilbaai net voor hul wedstryde opdaag het. Dit was so lekker om hulle te sien en dat hulle die toer terdeë geniet. Ons wens die sporttoergroep vandag ‘n veilige rit terug na Kaapstad toe. ‘n Hartlike dank aan die volgende personeel wat die toergroep van 55 leerders vergesel het en so mooi na ons toerleerders omgesien het: mnre. Leon, André en Keenen, juff. Ischké, Shahneé, Sharon en Suné asook afrigter Patrick.


Sterkte ook aan ons eerste tennisspanne (seuns & dogters) wat vanaf 19 – 24 Junie aan die prestige o.13-Tennistoernooi in Sun City gaan deelneem. Ons dogterspan gaan vanjaar hul titel verdedig. Baie dankie aan mnr. Rashard en juf. Suné wat die tennisspanne vergesel. Ons hou styf duimvas!
Laat my ook toe om ons sportdepartement (mnre. Leon Hanekom, Rashard Fuller & Sportkodehoofde) hartlik te bedank vir al die puik reëlings om seker te maak dat ons leerders voldoende wedstrydblootstelling die afgelope kwartaal kon geniet. Sien gerus die onderstaande statistieke wat die groei en ontwikkeling van sport oor die laaste 4 jaar gedurende kwartaal 2 aandui:
Algemene inligting vanaf 2023 – aantal wedstryde vir kwartaal 2
2023 Wedstryde: 302
2024 Wedstryde: 406
2025 Wedstryde: 489
2026 Wedstryde: 652 – sonder toerwedstryde
Baie geluk aan juf. Raché (Departementshoof: Grondslagfase) wat op Saterdag, 20 Junie, met Nicolaas Loubser in die huwelik getree het. Ons wens vir hulle ‘n geseënde en gelukkige toekoms saam.

Op ‘n hartseer noot is dit dan vandag die laaste werksdag vir ons Hoof van die Nasorg, juf. Madri Greyling. Juf. Madri was sewe jaar aan die bestuur van die Nasorg en onder haar bekwame bestuur het die groei van nasorgleerdergetalle tot rekordgetalle gelei met 144 leerders wat hulle op ‘n daaglikse basis moes hanteer. Ons beste wense vergesel haar vir die nuwe hoofstuk in haar beroepslewe en mag sy net sukses ervaar.
Ek sluit dan die kwartaal af as ‘n dankbare skoolhoof met ‘n ongelooflike kwartaal propvol kosbare hoogtepunte agter die rug. Ek is dus baie dankbaar vir ons dinamiese Beheerraad en Opvoedingstrust, onder leiding van ons voorsitter, Merwe Scholtz, vir hul waardevolle insette en kosbare tyd om saam met die EXCO (bestuurspan) en personeel van Laerskool Jan van Riebeeck se reis na uitnemendheid moontlik te maak. Die kombinasie van goeie verhoudinge en vertroue tussen Beheerraad, skoolbestuur en personeel is instrumenteel daarin dat ons ons skool jaar in en jaar uit na nog hoër hoogtes kan lei sodat ons trotse skool homself as een van die voortreflikste skole in die land kan vestig.
‘n Skool kan verder slegs suksesvol wees indien sy ouers/voogde aktief betrokke en lojaal is, en dit is presies waarvoor ons skool staan – betrokke ouers/voogde wat net die beste vir hul kind(ers) en die skoolgemeenskap wil hê. Mag ons die spesiale JvR-etos by die skool asook die unieke band tussen leerders, ouers/voogde, personeel en sportafrigters vir nog baie lank koester! Solank ons onsself kan wees, sal Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan.
Laat my ook toe om ons toegewyde personeel hartlik te bedank vir hul harde werk die afgelope kwartaal, maar veral hul omgee om seker te maak dat ons leerders ‘n leersame en genotvolle skoolervaring geniet. Baie dankie ook aan juf. Marinda (Adjunkhoof) en die EXCO (Skoolbestuur) vir jul lojale ondersteuning; saam maak ons ‘n gedugte span om ons trotse skool effektief operasioneel te bestuur. Laaste, maar nie die minste nie, baie dankie aan Louise en haar wonderlike span by Huppelland wat ongelooflike werk doen om die Huppellanders so mooi vir die laerskool voor te berei.
Ek deel graag nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking/idioom en die betekenis daarvan met julle in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):
‘’Wie laaste lag, lag die lekkerste’’
Die uitdrukking beteken dat wie laaste aan die beurt kom, dikwels die voordeel ontvang. Die wat voor die tyd lag, lag dikwels ontydig en sonder gronde. Dus is die wat laaste lag, verheug oor die uitkoms van die saak.
Ek sluit dan die suksesvolle kwartaal af en mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike wintervakansie geniet. Mag julle jul spreekwoordelike batterye ten volle herlaai om kwartaal drie soos spreekwoordelik die bul by die horings te pak. Haal dus die vakansie jou slimhorlosie af en skakel jou slimfoon af om kwaliteittyd saam met jou dierbare gesin te spandeer. Geniet dit en reis veilig. Sien uit om julle weer op Dinsdag, 21 Julie, terug by die skool vir die nuwe kwartaal te verwelkom!
SKOOLHOOF