Ek hoop en vertrou dat dit met almal in ons skoolgemeenskap goed gaan, veral dié tyd van die jaar (ook bekend as die “silly season”) waar ons nog so baie persoonlike en/of werkstake moet afhandel en sperdatums moet eerbiedig onder baie druk voordat die langverwagte Desembervakansie vir almal welverdiend aanbreek.

Volgende week, op Maandag, 10 November, begin die finale eksamen vir die Gr. 7’s. Die assesserings vir die grondslagfase is reeds vanaf Maandag, 3 November, volstoom aan die gang. Ons grondslagfase-onderwysers hanteer die finale assesserings op ’n deurlopende basis, wat beslis help om die assesseringsangs by ons leerders te verminder. Soos julle weet, mag ek mos nie eintlik die “E-woord” gebruik nie aangesien die WKOD dit assesserings as kontroletoets beskou, maar op Donderdag, 13 November, begin die Gr. 4–6-leerders ook met hul eksamen, en wens ek al ons leerders, ouers/voogde, tutors, fasiliteerders en personeel voorspoed toe.

Eksamen verhoog ongelukkig stres- en angsvlakke by leerders, en dit filter ook dikwels deur na die huisgesin. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as onderwysers te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen/assessering te help bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres as gevolg van enige eksamen laat die meeste mense snak na hul asem, maar dit is ’n natuurlike reaksie, en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees om ons leerders vir hul hoërskoolloopbaan asook volwasse lewe voor te berei.

Graag neem ek die vrymoedigheid om die volgende wenke aan julle as ouers/voogde voor te stel wat jou kind/ers se eksamenstres — en moontlik jou eie angstigheid daaroor — hok sal slaan:

  • Help jou kind/ers asseblief om betyds voor te berei. Stel betyds ’n studierooster saam met jou kind/ers op wat jou kind/ers genoeg tyd sal gee om die werk baas te raak, maar ook tyd om te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap kan kry. Handhawing van ’n roetine is altyd ’n wenner!

  • Skep ’n rustige en ontspanne atmosfeer, vry van stressors vir jou kind/ers om te leer.

  • Skep ’n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.

  • Skep ’n emosionele band met jou kind/ers, sodat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle daagliks hoe die eksamen/assessering was, en dit is belangrik om positiewe woorde uit te spreek deur byvoorbeeld ter ondersteuning die volgende te sê: “Dit sal goed met die eksamen gaan, want jy het goed voorberei.” Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae, en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.

  • Help jou kind/ers om ’n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en toerusting vir die eksamendag skool toe pak.

  • Vermy asseblief gejaagdheid en om jou kind/ers op die nippertjie soggens voor die eksamen/assesserings by die skool af te laai, want dit maak leerders ongelooflik angstig.

Op Maandag, 3 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers om 18:00 in die saal plaasgevind. Ek was aangenaam verras met die opkoms van ouers/voogde tydens die vergadering. Baie dankie aan die 93 ouers/voogde wat die vergadering bygewoon het. Ons volg altyd ’n deursigtige proses met die begroting, en ek glo dit was ’n insiggewende sessie vir ouers/voogde rakende die finansiële bestuur van die skool, asook om te sien waarvoor julle skoolgelde jaarliks aangewend word. Die 2026-begroting en verhogings van skoolfooie is soos volg deur ouers/voogde goedgekeur:

Laerskool:

Gr. 1–3 = R46 385 per leerder

Gr. 4–7 = R47 780 per leerder

Huppelland:

Gr. R = R51 100 per leerder

Gr. 0 & 00 = R49 900 per leerder

Baie dankie aan ons Finansiële Bestuurder, Liesel Hammond, ons Tesourier, Susan van der Walt, asook ons BR-voorsitter, Merwe Scholtz, vir jul kosbare tyd en harde werk om ’n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Weereens baie dankie aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.

Ons jaarlikse Gr. 4-inligtingsessie met ons huidige gr. 3-ouers het op Dinsdagaand, 5 November, om 18:00 in die saal geskied. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige gr. 3-ouers te verduidelik wat gr. 4 asook die nuwe fase (Intermediêre fase) behels. Dit sluit onder andere die nuwe gr. 4-vakke in, voorstellings aan die verskillende onderwysers wat die vakke onderrig, die volg van ’n ruilrooster vanaf 2026, gebruik van MS Teams, eksamens, asook om hul voor te berei vir hul kind/ers se oorgang na gr. 4. Ouers is dikwels meer angstig as hul kind/ers wat na ’n volgende fase beweeg. Ek wil graag vir juf. Marianne (graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik en insiggewende aanbieding.

 
Op Woensdagoggend, 5 November, het ons ’n spesiale Opedag vir ons 2026 gr. 1’s gehou om hulle by die skool te verwelkom en vroegtydig te oriënteer sodat die transisie vanaf gr. R na gr. 1 soomloos kan geskied, sonder onnodige trane. Hulle is dan ook aan hulle nuwe juffrouens vir 2026 voorgestel, en hulle het ook die geleentheid gekry om die skool se nuwe gelukbringer, BRUL-JANt, in die nasorgparkie te ontmoet. Dit het tot groot opwinding gelei, terwyl hulle heerlik op die springkastele baljaar het. Ons het besluit om dinge hierdie jaar anders te doen deur die voornemende gr. 1-ouers dieselfde aand in die skoolsaal toe te spreek om vir hulle ook so goed moontlik op hul laerskoolreis voor te berei. Ek is baie dankbaar vir Nicola Potter (graadhoof) en haar span wat hierdie dag so spesiaal gemaak het. 

Sportaktiwiteite vir Gr. 4–7 kom dan dié week ook tot ’n einde met die eksamen wat op hande is. Gr. 1–3-leerders gaan volgende week, 10 tot 11 November, voort met hul normale buitemuurse sportprogram, maar vanaf 12 November sal hul sportoefeninge egter vir die res van die week in skooltyd geskied, aangesien die hele skool vanaf 12 November vroeër (13:15) as gevolg van die eksamen verdaag. Vanaf 17 November sal ons weer ’n interne sportprogram vir alle leerders daagliks binne skooltyd volg, direk net na afloop van die betrokke eksamen op die dag.

Daar word hoofsaaklik op atletiek gefokus, aangesien die jaarlikse interhuis-atletiek op Woensdag, 3 Desember (velditems) en Vrydag, 5 Desember (baanitems en optogte) plaasvind. Hierdie interne sportoefeninge binne skooltyd is egter vrywillig. Ek glo dat die leerders dit terdeë sal geniet om net na afloop van ’n eksamen- of assesseringsessie sport te kan beoefen. Dit sal beslis help om die angstigheid van eksamen/assesserings te verminder, asook om net ’n bietjie asem te skep na ’n lang skryfsessie.

Graag wil ek dan al ons onderwysers en afrigters wat die afgelope jaar die spreekwoordelike ekstra myl gestap het om sport by ons skool te ontwikkel, hartlik bedank. Ons skool se uitstekende sportprestasie die afgelope jaar spreek boekdele van die harde werk en toewyding deur ons personeel, maar sluit ook die lojale ondersteuning van julle as ouers/voogde in om week in en week uit al die wedstryde, toernooie, byeenkomste en galas by te woon.

Baie dankie dat julle as ouers/voogde ons skool se sportontwikkeling komplimenteer deur tyd op te offer en logistieke planne te maak om die sportaktiwiteite by te woon en jul kind/ers te ondersteun – dit is kosbaar!

Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Husse met lang ore”

Die uitdrukking verwys daarna om op ’n nuuskierige persoon se vraag te reageer sonder om die vraag te beantwoord. Die uitdrukking word dikwels gebruik om ’n nuuskierige kind/ers te antwoord.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne, en mag die Bokke spreekwoordelik die Franse Hane se stertvere die naweek behoorlik pluk.

Vriendelike groete

Naas Beets

Skoolhoof