Uitvoerende funksies:
Almal van ons benodig uitvoerende funksies. Vir sommige kinders is dit ’n natuurlike proses, maar vir baie kinders bly dit ’n uitdaging en ’n frustrasie. Hierdie vaardigheid is een van die belangrikste vaardighede om te funksioneer in ons besige leefstyl.
Twee weke gelede het ons oor uitvoerende funksies in die algemeen gesels. Hierdie funksies kan verbeter word deur vaardighede te ontwikkel wat ons oor die volgende paar weke sal bespreek. Sommige kinders kan die vaardighede vanself ontwikkel, maar meeste kinders benodig hulp om die vaardighede te ontwikkel. Hulp kan op verskillende maniere ingewin en gebruik word, byvoorbeeld deur van eksterne bronne (arbeids-, fisio-, spelterapie, remediëring of opvoedkundige sielkundiges) gebruik te maak. Jy kan ook self op jou kind se behoeftes en leemtes fokus en dan oor die onderwerp lees sodat jy tuis daaraan aandag kan skenk deur die onderstaande te probeer:
1. Werksgeheue
Dit is jou brein se notaboek. Werksgeheue is die vermoë om inligting te gebruik wat in die geheue gestoor word sodat ’n opdrag/taak uitgevoer kan word.
Die inligting wat jy opneem deur jou sintuie, word in jou korttermyngeheue gestoor. Die belangrikheid van die vaardigheid verg aandag en konsentrasie. Maak gebruik van geheuespeletjies. Speel speletjies waar kinders meer as drie verskillende woorde, kleure of getalle hoor en kan terug sê. Vermeerder dit elke keer.
2. Aanpasbaarheid (Kognitiewe buigsaamheid)
Kognitiewe buigsaamheid behels aanpasbaarheid in verskeie situasies.
Dit is baie belangrik om by veranderinge en nuwe situasies aan te pas deur strategieë te hersien en te verander indien nodig. Hierdie vaardigheid help jou om vinnig besluite te neem. Leer jou kind wat die stappe is om ’n probleem op te los. Skep ’n scenario van ’n probleem en vra jou kind hoe ’n mens die probleem sal oplos. Wat sal die eerste stap wees, ensovoorts.
3. Impulsbeheer of Selfbeheersing
Impulsbeheer verwys na selfbeheersing en kontrole om die impuls te beheer om onmiddellik te reageer. Om eers te stop en te dink voordat daar opgetree of gereageer word, is die vaardigheid wat hier ter sprake is. Hierdie vaardigheid word benodig in ’n mens se alledaagse funksionering, sosiale ontwikkeling sowel as geestesgesondheid.
4. Tydsbestuur en Beplanning
Om die vaardigheid van tydsbestuur en beplanning aan te leer, moet stappe vasgestel word sodat ’n doel bereik kan word. Wanneer kinders in hierdie doel slaag, ervaar hulle sukses wat die proses bevorder.
Kinders moet geleer word om hulle dae te beplan. Leer jou kind om gebruik te maak van ’n dagboek, kalender of ’n daaglikse beplanner wat hulle iewers in hulle kamer, teen die yskas of selfs teen die badkamerspieël kan opsit. Kinders moet self leer om te beplan: watter leervakke hulle het, watter buitemuurse aktiwiteite hulle het en wat hulle daarvoor benodig. Hulle kan dit op hulle beplanners aanteken. Hulle moet leer om hulle skoolwerk, projekte en toetse te beplan en om vroegtydig te begin leer. Dit help indien kinders die aand voor die tyd self hul tasse pak en hul skoolklere reg sit. Natuurlik sal ons as ouers aanvanklik help om hulle te wys en te leer hoe om hulself te organiseer.
Kinders kan tydens huiswerktyd of leertyd gebruik maak van ’n tydmeter. Hulle stel die hoeveelheid tyd wat hulle wil werk en dan gaan ’n alarm af om te sê die tyd is verby. Dit help kinders om te fokus en teen spoed te werk.
5. Organisering
Organisering is die vermoë om stelsels te ontwikkel en te gebruik sodat bronne en inligting maklik is om vind. Dit is baie belangrik dat kinders huishoudelike take verrig. Dit help hulle om verantwoordelikheid te aanvaar, te beplan en te organiseer. Implementeer ‘n gesonde en definitiewe roetine sodat jou kind(ers) daarvolgens hul dag en takies kan organiseer. Huistakies kan die volgende insluit:
- skottelgoed wegpak, tafeldek, honde se water gereeld vervang;
- kamer organiseer en netjies hou (so goed soos hul kan – nie volgens ons standaard nie);
- hul eie bed opmaak;
- help om kos voor te berei, te bak deur die resep te volg en aksie uit te voer tot gebak as die resultaat en belonging;
- om daagliks huiswerk te doen en vir projekte te beplan, is deel van ‘n gestruktureerde en doelgerigte roetine.
Kodering is ‘n uitstekende manier om uitvoerende funksies te ontwikkel omdat dit kinders help om te dink hoe hulle ‘n probleem gaan oplos. Hulle leer om die probleem in klein dele te verdeel en stap-vir-stap toe te pas. Kinders moet sekere kodes onthou wat help met werksgeheue. Kinders moet aan ander kodes dink, indien hulle kodes nie werk nie en dit is waar aanpasbaarheid (kognitiewe buigsaamheid) na vore kom. Laastens moet hulle geduldig die proses toets en aandag aan die uitkomstes gee as om net impulsief te raai wat gaan gebeur. Dit is waar selfbeheersing toegepas word.
Samestelling van teks – Marinda Brink, Marietjie de Kock
Ander bronne gebruik:
-
Executive Functioning – Life Skills That Develop Executive Functioning
-
The Sensory Spectrum – The 8 Executive Functions
Visuele teks – Helene Slabbert