Vandag is die eerste Vrydag van Maart en dit beteken dat die skole oor drie weke vir ‘n kort en welverdiende vakansie sluit, voordat ‘n besige kwartaal 2 afskop. Die seisoen is ook besig om te draai, met die son wat soggens later opkom en vroeër ondergaan, terwyl volmaan op 14 Maart gaan aanbreek, wanneer die aarde direk tussen die son en die maan gaan wees. Maart word ook gekenmerk deur Ramadan en ons wens vir al ons Moslem-ouers en -vriende ‘n geseënde Ramandan Mubarak toe.

Ons skool was vanaf Maandag weer voltallig met die terugkeer van die gr. 5– en 7-leerders vanaf hul onderskeie skoolkampe. Ek het met van die ‘kampers’ gepraat en hulle was almal eens dat hulle die skoolkampe terdeë geniet het. Natuurlik was hulle Vrydag by terugkeer doodmoeg van die min slaap, die uitdagings van die onbekende avontuur en al die opwinding. Tydens die kampe kon ons stadsjapies heerlik die natuur verken, terwyl hulle in spanne moes saamwerk. Skoolkampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede, vereis deursettingsvermoë en ontwikkel leiersvaardighede. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar het verseker hul ouers/voogde se tuisgemaakte kos, asook die gemak van hul ouerhuise, gemis. Ek glo hulle waardeer sommer weer van vooraf hul ouerhuise en is dankbaar vir al die wonderlike voorregte wat hulle baie keer as vanselfsprekend aanvaar.

Verlede Vrydag het ons jaarlikse Junior Swemgala plaasgevind en ons grondslagfase-swemmers was spreekwoordelik soos visse in die water, terwyl hulle luidkeels deur hul ouers/voogde, grootouers en maats aangemoedig is. Die junior swemgala bly maar altyd vir my ‘n hoogtepunt. Dit is baie opwindend, veral omdat die gr. 1-leerders vir die eerste keer ‘n geleentheid kry om aan ‘n formele skoolswemgala deel te neem. Hierdie week het die wintersport-buitemuurse program ook in volle swang afgeskop, en dit terwyl Moeder Natuur ons herinner het dat dit eintlik nog somer is, met die hoë temperature wat tans heers.

As skoolhoof kry ek die wonderlikste geleenthede om onder andere na ons leerders se ongelooflike mondelinge te luister en take te sien. Graag deel ek die volgende met julle: Verlede week het die graad 3’s hul Engelse mondeling vir formele assesserings afgelê en het Chidima Manzana, ‘n gr. 3-leerder by juf. Ehlers, die onderstaande Engelse mondeling oor haar skool in die klas geskryf en aan die klas voorgedra:

“Hello teacher, friends and class. I am going to tell you about my school. It is like a dream, but you cannot sleep here, but you can learn here.

We have the best sports, the best teachers and the best classes.

If you like this school, then feel proud, thank you.”

Dit is vir my so kosbaar om te hoor hoe ‘n leerder die skool positief ervaar en waardering daarvoor uitspreek. Dit is vir my so belangrik dat die skool ‘n veilige omgewing vir leerders is, waar hulle kan leer, geliefd voel en geleenthede kry om net hulself te wees.

Op Saterdag, 01 Maart, het ons leerders en personeel aan die volgende aktiwiteite deelgeneem:

  • Senior Koor-kamp: Het vanaf 08:00 – 14:00 plaasgevind. Ons koorlede het dit baie geniet en hulle werk baie hard ter voorbereiding van die Mzani Conducto’s Convention by CTICC vanaf 14 – 16 Maart. Baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Pieter Bezuidenhout wat die koorkamp georganiseer en gelei het. Baie dankie aan ons ouerkoorkomitee wat gehelp het met die logistieke reëling vir eet- en drinkgoed. Ons waardeer julle hulp baie!

  • Mini-krieket: Toernooi het by Laerskool Table View plaasgevind. Ons o/8A- en B-, asook o/9A- en B-spanne het deelgeneem en puik gevaar deur al hul onderskeie wedstryde te wen. Ons mini-krieket het vanjaar ‘n puik seisoen agter die rug. Die standaard van ons mini-krieket het aansienlik verbeter en dus wil ek al ons afrigters en juffrouens hartlik bedank vir hul puik afrigting en toegewydheid.

  • Netbal: Ons o/12- en o/13-spanne het aan Hoërskool Jan van Riebeeck se ‘onder die berg’-toernooi deelgeneem en puik gevaar. Baie dankie aan juf. Ischké en Shahneé vir julle diens.

  • Dapper Stappers en Uitreik: Het op Saterdag die strandarea te Bloubergstrand gaan skoonmaak deur vullis op te tel en te verwyder. Baie dankie aan juf. Anika, Michelle, Nicola, mnre. Keenen en Dian, asook Petronella se ouers wat so hard gewerk het om die strandarea skoon te maak.

Ons interne redenaarskompetisie het op Dinsdag, 04 Maart, met groot opwinding afgeskop en word oor twee dae aangebied. Baie dankie aan juf. Andri vir al jou puik reëlings, asook die ouers/voogde wat dit so getrou ondersteun het. Ek bly verstom oor ons leerders se selfstandigheid, hul selfvertroue en kommunikatiewe vaardighede om indrukwekkende toesprake voor ‘n gehoor te lewer. Hulle is nog so jonk, maar lewer toesprake met die grootste gemak, asof hulle dit al vir jare doen. Ek was so beïndruk met die wyse waarop hulle hul gedagtes formuleer en orden om hul standpunt met argumente oortuigend in te neem. Verseker het hulle my van hul standpunte oortuig. Hartlike dank ook aan juf. Lize (Gr. 1) wat as interne beoordeelaar opgetree het.

Vandag neem ons netbalspanne (o/11 – o/13) en ons rugbyspanne (o/7 – o/13) aan die Bulfees-sportdag te Porterville deel. Daarom moes ons die skool vandag oor vroeër verdaag. Die o/13-rugbyspan neem ook môre aan die Hopefield Rugbydag deel. Sterkte aan al ons sportspanne en afrigters vir die deelname aan die voorseisoentoernooie.

In verlede week se nuusbrief het ek ‘n skrywe aan ouers/voogde en donateurs gerig om finansiële ondersteuning rakende die beoogde opgradering van sportfasiliteite agter by die mini-sportveld:

Fase 1 behels die lê van ‘n veeldoelige kunsgrasbaan. Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust uit fondse van ons mees onlangse skoolveiling en daarmee saam die gawe hand van Gerhard Conradie wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg.

Fase 2 van die projek behels dat ons graag die fasiliteite verder wil opgradeer met ‘n volledige sportsentrum met pawiljoene, kleedkamergeriewe, twee klaskamers, sportstore en ‘n mini-klubhuis.

Fase 3 sluit ook in die plaveisel agter onder die bome om die hele area esteties af te rond.

Die kosteberaming van die opwindende projek beloop R7,76m. Baie dankie aan die donateur wat na afloop van verlede week se nuusbrief (28/02) vir ons geld vir die projek bewillig het, maar ons benodig nog heelwat fondse om die projek ‘n moontlikheid te maak. Ek sluit dus weer ‘n skakel in wat al die planne en motivering bevat soos dit in verlede week se nuusbrief verskyn het. Baie dankie vir jul goedgunstige oorweging om die infrastrukture by die skool op te gradeer en esteties af te rond. Kontak my gerus indien jy sou belangstel om ‘n bydrae tot die wonderlike projek te maak. Hartlike dank aan Stephen Hitchcock (ouer op ons Beheerraad en argitek) wat die ongelooflike planne ontwerp het.

Sien die planne hier: SPORTSPAVILJOEN-PROJEK

Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne. Ek sluit dan die week af met ‘n onbekende aanhaling oor wat ‘n mens definieer:

“Two things define you:

Patience when you have nothing
                          and

Your attitude when you have everything.”


Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF