Kan julle dit glo, oor minder as ‘n maand sluit die skole vir die leerders. Ek glo dat die leerders en julle as ouers/voogde nie meer kan wag om die welverdiende rustyd te geniet nie. 2024 was ‘n besige jaar met propvol opwindende skoolaktiwiteite waarvan die skoolkonsert seker die kollig gesteel het. Een aspek wat vir my die jaar soos die spreekwoordelike paal bo water uitstaan, is die feit dat ons leerders elke skoolaktiwiteit terdeë geniet het. Dit is vir my wonderlike om te sien hoeveel vreugde dit vir hulle bring. Wanneer leerders skoolgaan en in dieselfde proses ook pret het, leer hulle soveel makliker en beter. Dus fokus ons om gelukkige leerders te huisves wat ons in staat stel om hulle holisties te ontwikkel om hul volle potensiaal te kan bereik.

Die Graad 7’s se finale laerskooleksamen het die week op Woensdag, 13 November, met Wiskundevraestel 1 afgeskop. Die assesserings vir die grondslagfase eindig vandag en ek glo die grondslagfase leerders gee saam met hul ouers/voogde ‘n sug van verligting en kan nou net die res van die kwartaal geniet met verskeie pretaktiwiteite wat vir hulle voorlê. Op Maandag, 18 November, begin die Gr. 4 – 6 finale eksamen en wil ek vir hulle ook spesiale sterkte toewens. Die eksamen vir die intersenfase (Gr. 4 – 7) eindig op 27 November 2024. Die eksamenproses behels nie net die skryf van vraestelle nie, maar sluit ook ‘n deeglike moderasie van die antwoordstelle en kontrolering van punte in voordat die finale rapporte uitgedruk word.

Die somersportoefeninge vir kwartaal 4 het op Donderdag, 14 November, tot ‘n einde gekom, maar so tussen die eksamen en die leer, gaan die somersportprogram nou in skooltyd vir Gr. 1 – 3-leerders voort terwyl die Gr. 4 – 7-leerders slegs op atletiek gaan fokus a.g.v. die kleure-atletiek wat op Woensdag, 06 Desember ,(velditems) en Vrydag, 08 Desember ,(baanitems) by die hoërskool se velde plaasvind. Ek glo dat julle sal saamstem dat die leerders dit terdeë geniet om ‘n sportaktiwiteit net na afloop van ‘n eksamen- of assesseringsessie te kan beoefen. Dit help beslis om die angstigheid van assessering te verminder asook om net ‘n bietjie asem te skep na ‘n lang skryfsessie. Studies toon dat leerders wat gereeld sportoefeninge bywoon beter tydens kognitiewe toetse presteer, beter geheue het en meer gefokus tydens eksamens is. Ons weet om vir eksamens voor te brei en die skryf daarvan, kan geestelik en fisies uitputtend wees wat baie leerders moeg en afgemat laat voel. Wanneer hulle dan oefen, stel hul liggame hormone soos adrenalien en kortisol vry, wat weer help om die energievlakke hoog te hou. Ek is vas oortuig dat om sportoefeninge vir leerders tydens die eksamen in te sluit, hulle beslis sal help om beter in die eksamen te presteer en hul algemene gesondheid en welstand ook in die proses te verbeter.  

Ons jaarlikse gr. 7-inligtingsessie met ons huidige gr. 6-ouers het op Donderdagaand, 07 November, om 18:00 in die saal plaasgevind. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige gr. 6-ouers te verduidelik wat gr. 7 asook die nuwe fase (senior fase) behels. Dit sluit onder andere die nuwe gr. 7-vakke in en om die verskillende onderwysers wat die vakke onderrig, voor te stel. Ek wil graag vir juf. Charlene (Graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik en insiggewende aanbieding. 

Deel van die Gronslagfase se laaste week van assesserings sluit onder andere mondeling in. Ek wil nie graag spesifieke leerders uitsonder nie, maar ek het die week die wonderlike voorreg gehad om na die Afrikaanse mondeling van Petronella Gouws ‘n Graad 2leerder in my kantoor aan te hoor. Haar mondeling het oor die Groot Vyf gehandel, waarvan die Buffel haar gunsteling een is. Behalwe dat ek geleer het dat ‘n Buffel 32 tande, slegs 2 tone het en kan teen 56 km/h hardloop, was ek so beïndruk met die puik mondeling van Petronella. Haar ongelooflike selfvertroue en die vermoë om al haar woorde so mooi te onthou en duidelik te artikuleer is eenvoudig net merkwaardig vir ‘n Graad 2-leerder.  Welgedaan, Petronella, jy maak ons baie trots!

Op Maandagaand, 11 November, het die beheerraad sy laaste amptelike vergadering vir die akademiese jaar gehad. Laat my dus toe om die Voorsitter, Merwe Scholtz, hartlik vir sy puik leierskap en visie die afgelope jaar te bedank asook sy lojale ondersteuning aan my as Skoolhoof. Baie dankie aan die volgende Beheerraadslede vir julle kosbare tyd, toewyding en passie om seker te maak Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan:

  • Hugo van den Heever (Onder-Voorsitter)
  • Susan van der Walt (Tesourier)
  • Marié Cruywagen (IKT en adminstelsel)
  • Stephen Hitchcock (Geboue en Terreine)
  • Marinda Brink (Sekretaresse)
  • Andri de Villiers (KS Opvoeder-verteenwoordiger)
  • Hannes Muller (Nie-KS Opvoeder-verteenwoordiger)

Jammer dat ek soos ‘n platespeler klink wat vashaak, maar as gevolg van die dringendheid neem ek die week weer die vrymoedigheid om ons ouers/voogde te nader of daar dalk iemand bereid sou wees om die koshuisfooi by HS Jan Van Riebeeck van ‘n huidige graad 7-leerder by ons vir 2025 (Gr. 8) te kan dra. Hierdie leerder kom uit ‘n behoeftige gesin wie se omstandighede skielik verander het en dus benodig die leerder vanaf 2025 koshuisinwoning wat hulle nie kan bekostig nie. Kontak my asseblief indien jy van hulp kan wees, by voorbaat dankie.

Ek sluit die week met ‘n anonieme aanhaling wat ek dink baie gepas is veral vir die tyd van die jaar waar enegievlakke laag is, frustrasievlakke hoog is en die meeste mense se humeure maklik opvlam.  Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe, sterkte met die eksamen en mag die bokke môreaand die arrogante Engelse Rugbyspan ‘n behoorlike loesing gee.

“You cannot see your reflection
in boiling water.  Similarly,
you cannot see the truth in a state of anger.
When the water calms, clarity comes.’’

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF