Die jaarlikse interskolestryd tussen die Laerskole Jan van Riebeeck en Dirkie Uys is weer op hande. Dit is dan my eer om al ons besoekers vanaf Moorreesburg hier in die pragtige Moederstad hartlik te verwelkom. Ons wens vir julle ‘n wonderlike interskole-ervaring toe en by voorbaat dankie aan ons skoolgemeenskap wat ons besoekers met ope arms sal ontvang.
Dus het week 6 van die akademiese kwartaal tradisioneel met die ‘Geesweek’ afgeskop as deel van die jaarlikse Interskolebyeenkoms. Om gees te vang het ons vir elke dag die afgelope week ‘n spesifieke tema gehad en dit sluit die volgende in:
- Maandag, 12 Augustus: Ouma- en Oupadag
- Dinsdag, 13 Augustus: Olimpiese Spele
- Woensdag, 14 Augustus: Bloudag met die wedstryde tussen Onnies en Ouers/voogde
- Donderdag, 15 Augustus: Country vs Country Club
- Vrydag, 16 Augustus: Oranjedag, ‘’Groot Brag’’ en hokkiewedstryde
- Saterdag, 17 Augustus: Rugby- en netbalwedstryde

Die interskole is vir seker ‘n wonderlike tyd van die jaar vir die leerders daarom het hulle behoorlik die afgelope week geesgevang en getrou elke dag volgens die bogenoemde temas aangetrek. Ons weet die mededinging tydens die interskole gaan fel wees daarom wil ek by voorbaat ons ouers/voogde bedank vir hul onvoorwaardelike ondersteuning asook die daarwees wanneer daar gewen word, maar belangrik ook as daar verloor word. Mag ‘n gunstige tellingbord bloot ‘n meevallertjie wees. Verloor is nooit lekker nie, maar soos ek gereeld tydens die saalbyeenkomste vir ons Jannies leer: ‘n mens leer dikwels net as jy verloor. Mag goeie sportmansgees vanjaar se wenner wees.
Laat my ook toe om al ons organiseerders, onderwysers, afrigters en personeel wat die opwindende geleentheid moontlik maak hartlik te bedank vir hul harde werk en passie om die sukses van interskole te verseker. Ek is baie dankbaar vir ons puik en toegewyde personeel wat nooit skroom om die ekstra myl te loop nie.
Op Woensdag, 14 Augustus, was die rugby- en netbalwedstryde tussen die ouers/voogde en onnies as deel van geesvang natuurlik ‘n groot hoogtepunt. Die leerders is altyd so opgewonde om hul ouers teen die onnies te sien meeding. Hulle is dan ook nie altyd seker vir wie om te ondersteun nie. Die gesonde mededinging tussen ouers/voogde en onnies op die sportveld is so waardevol en kosbaar! Dit stel die voorbeeld vir die interskole en gee vir seker amper ‘n tasbare gevoel van kameraderie en trots. Baie dankie aan al die ouers/voogde wat deelgeneem het en sommer in die proses ‘n gratis oefensessie gekry het.

Laat my toe om HS JvR hartlik te bedank vir die uitnodiging om op Donderdagoggend, 15 Augustus, saam met ons eerste wintersportspanne en afrigters hul ‘Groot Brag’ in hulle saal te kon bywoon. Baie geluk aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span met ‘n uitstekende ‘Groot Brag’ – dit was indrukwekkend en die ‘Gees’ is ‘Groot’! Hiermee wens ek al die JvR-spanne, Hoër- en Laerskool, sterkte vir die interskole toe en onthou al is daar baie op die spel, is dit nog steeds belangrik om dit te geniet!
Ons het die week ook afgeskop met die eerste deurloop as voorbereiding van die konsert wat binnekort gaan plaasvind. Die opwinding en energievlakke die afgelope week as gevolg van die interskole en inoefening van die konsert, is kosbaar!
Ek sluit dan die week af met ‘n bekende aanhaling van die voormalige tenniskampioen, naamlik Jim Couriers, rakende sportmanskap. Ek wens vir elkeen ‘n wonderlike interskole-ervaring en heerlike naweek toe!
“Sportsmanship for me is when a guy walks of the court
and you can’t really tell whether he won or lost,
when he carries himself with pride either way!’’
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF