So breek die einde van ‘n lang en besige, maar ‘n opwindende kwartaal aan. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport om erkenning te ontvang vir hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë die afgelope kwartaal. Ek wil graag die leerders hartlik gelukwens en komplimenteer met hul spograpporte. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op jul kinders se akademiese vordering en –prestasies.  Geniet ‘n welverdiende wintervakansie om sommer alles te doen wat julle die afgelope tyd as gevolg van die eksamen en/of assesserings nie voor tyd gehad het nie.

Op Vrydag, 07 Junie, het die oorhandiging van die sporttoerklere vir die Suid-Kaaptoer vroeg die oggend in die saal plaasgevind. Ons was so bevoorreg om ‘n legende in die netbalwêreld, Pumza Maweni, tydens hierdie spesiale geleentheid by ons skool te verwelkom. Sy was so gaaf om die sporttoerklere aan die toerlede te oorhandig. Pumza is ‘n voormalige Protea-netbalspeler en het ‘n ongelooflike 121 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel. Sy is ‘n ware rolmodel vir ons dogters en dit was ‘n besondere voorreg om haar te kon ontmoet. Die netbaldogters en -afrigters het dit vreeslik geniet om foto’s saam met haar te neem. Baie dankie aan juf. Sharon wat met Pumza reëlings getref het om haar besoek aan ons skool moontlik te maak.   

Ons sporttoerspanne het op Maandag, 10 Junie, so net na 08:00 op ‘n luukse bus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer vertrek. Die eerste stop en wedstryde het op dieselfde dag teen LS Volschenck te Riversdal plaasgevind waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde gespeel het. Die o.13A-seunshokkiespan het ongelukkig 1 – 2 verloor, maar die o.13A-dogterspan het 1 elk gelykop gespeel. Daarna het hulle na Hartenbos vertrek waar hulle die res van die week in rondawels oornag het. Deel van die sporttoer sluit onder andere uitstappies na bekende toeristebestemmings (Redberry farm, Highgate Volstruisplaas, “Dune Sandboarding”, “Let’ s Go Bowling”, ens.) in wat die leerders terdeë geniet het. Verder word smaaklike etes by restaurante geniet wat altyd ‘n hoogtepunte vir beide die leerders en personeel is. Geen selfone is vir leerders op die sporttoer toegelaat nie. Mnr. Leon (toerbestuurder) het daagliks op die WhatsApp Community-groep terugvoer oor elke aktiwiteit gegee sodat ouers presies ingelig is van al die gebeure.  Ek glo dat dit goed vir leerders is om ‘n week sonder ‘n selfoon te gaan. Leerders het meer sosiaal verkeer en in die proses mekaar beter leer ken terwyl daar saans heerlik bordspeletjies gespeel is wat tot groot vermaak en samesyn gelei het. Ons wens die sporttoergroep vandag ‘n veilige rit terug na Kaapstad.

Op Donderdag, 13 Junie, het die koor en jazz-orkes van Hoërskool Pearson al die pad vanaf Gqeberha ons besoek. Hul puik koor het drie pragtige liedere gesing en die optrede van die jazz-orkes was beslis die hoogtepunt. Ons leerders het dit baie geniet en graag wil ons die musiekhoof van HS Pearson, naamlik mev. Lynn Gouws hartlik bedank vir hul puik optrede en tyd om net na hul optrede by die Hoërskool JvR ook by ons op te tree. Dit was baie spesiaal en inspirerend vir ons leerders en personeel. 

Laat my asseblief toe om ons personeel hartlik te bedank vir hul harde werk, toewyding en omgee die afgelope kwartaal om daagliks ‘n positiewe skoolervaring vir ons Jannies te verseker. Dit was ‘n besige kwartaal vol sport- en kultuuraktiwiteite asook lekker sosiale geleenthede soos die kleiduifskiet, kaperjolle en die suksesvolle veiling. Indien ek refleksie rakende die afgelope kwartaal sou wou neem, staan daar een ding soos ‘n paal bo water uit en dit is UITNEMENDHEID. Ons streef daarna om in alles wat ons by die skool beplan en doen dit onder die uitnemendheidsvaandel te laat geskied om ons leerders te leer dat alhoewel middelmatigheid in veral Suid-Afrika aan die orde van die dag is dit nie vir ons aanvaarbaar is nie, want ons wil elke dag verbeter op die vorige dag. Kinders is ons toekoms en ‘n blink toekoms kan net gegrond wees indien skole uitnemende onderrig aan sy leerders bied. Alhoewel ons die laaste jaar of twee tegnologie meer in die klas betrek het, is dit vir seker alleen nie genoeg nie. Daarom is ons besig om ‘n kultuur van voortdurende verbetering in die skool te vestig waar die skoolhoof, bestuurspan, beheerraad en die onderwysers altyd op soek sal bly na maniere om die opvoedkundige ervaring van ons leerders te verbeter.

Verder is ek baie dankbaar vir ons dinamiese Beheerraad en wil ek graag hulle ook hartlik bedank vir hul waardevolle insette en kosbare tyd om saam met die EXCO (bestuurspan) Laerskool Jan van Riebeeck se reis na uitnemendheid aan te pak en ons skool na nog hoër hoogtes te lei sodat ons trotse skool homself as een van die voortreflikste skole in die land kan vestig. ‘n Skool kan slegs suksesvol wees indien sy ouers/voogde aktief betrokke is, en dit is waarvoor ons skool staan – betrokke ouers/voogde wat net die beste vir hul kinders en die skoolgemeenskap wil hê. Mag ons die spesiale etos by die skool asook die unieke band tussen leerders, ouers/voogde en personeel vir nog baie lank koester! Solank ons onsself kan wees, sal die Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan. Laaste, maar nie die minste nie, baie dankie aan Louise en haar wonderlike span by Huppelland wat ongelooflike werk doen om die Huppellanders so mooi vir die laerskool voor te berei.

Graag sluit ek dan die kwartaal af met die volgende stelling van Charles Dickens rakende dankbaarheid en wens vir julle ‘n wonderlike en welverdiende vakansie toe. Wees asseblief veilig. Ons kan nie wag om al die Jannies op 09 Julie terug by die skool te verwelkom nie:

“Reflect on your present blessings,  
of which every man has plenty; 
not on your past misfortunes,  
of which all men have some!’’  

Vriendelike groete 

Naas Beets 
SKOOLHOOF