Hiermee ‘n hartlike welkom terug by die skool. Ek glo dat almal die welverdiende ruskansie ten volle geniet het en ‘n geseënde tyd saam met familie en vriende, veral oor die Paasnaweek, spandeer het. Ek is so dankbaar dat almal veilig terug is na die vakansie, veral weens die paaie wat die tyd van die jaar buitengewoon besig is en dikwels tragies, as gevolg van motorongelukke, kosbare lewens eis.

Die skool het skaars begin en sommer op dag een van die nuwe kwartaal skop ons af met die wintersport buitemuurse program op ‘n warm Woensdagmiddag om vroegtydig voor te berei vir ‘n besige sportkwartaal wat voorlê. Verder was dit ook my voorreg om die kwartaal met ‘n saalbyeenkoms te kon begin. My saalboodskap het gehandel oor eerlikheid – een van ons kernwaardes – en waarom dit belangrik is om altyd die waarheid te vertel. Laat jul kind/ers julle gerus die legendariese verhaal van Casius Insectus, ‘n lewenheersbesie (ladybird), wat ek met hulle gedeel het, vertel. Min leerders het egter die Afrikaanse woord vir die pragtige besie geken. Baie geluk aan Marcus Sieberhagen (gr. 1) wat vir my tydens die saalbyeenkoms die korrekte Afrikaanse woord vir ‘n “ladybird” kon noem. Ek glo daar is baie volwassenes wat soos ek aanvanklik nie geweet het dat ‘n “ladybird” in Afrikaans ‘n lewenheersbesie is nie. Die lewensles uit die stories handel oor eerlikheid en betroubaarheid. Kinders hou van stories en my ervaring is dat kinders lewenslesse makliker deur middel van storievertelling leer. Ek glo dat stories ‘n mens se brein stimuleer, nie net om die woorde en die storie te hoor nie, maar dit ook te beleef. Storievertelling word wêreldwyd aangewend om individue op ‘n informele wyse te onderrig. Maak gerus van storieverteling gebruik om jou kind/ers belangrike lewenslesse te leer en in dieselfde proses hul mondelinge en geskrewe geletterdheid te verbeter. Spesifieke storievertellings kan kinders help om hul leefwêreld en omgewing beter te verstaan. Kinders kan aanklank vind by sekere gebeure in ‘n storie en veral hoe karakters wat probleme ondervind het, dit oorkom het. Gebruik gerus vir ouma en oupa om hiermee te help. Hulle ken baie stories propvol waardevolle lewenslesse.

Dis heerlik om te noem dat mnr. André Lourens nou voltyds Engels Eerste Addisionele Taal en Tegnologie onderrig en ook as een van ons gr. 7-registeronderwysers optree. Ons verwelkom op hierdie noot ook amptelik ons nuwe LO-onderwyser, mnr. Keenan Faro, wat vanaf 08 April 2024 by ons gaan aansluit. Ons wens vir hom alle voorspoed en sukses toe en mag hy baie vervulling by ons skool ervaar.

En dan is dit spesiaal om vir juf. Nicola (gr. 1) terug te verwelkom na haar kraamverlof. Ons is bly om te verneem dat dit baie goed met baba Alex en haar man, Jean, gaan.

Volgende week (week 2) is ‘n besondere besige week wat onder andere die volgende insluit:

  • Maandag, 08 April: Ouerafsprake
  • Dinsdag, 09 April: Ouerafsprake
  • Woensdag, 10 April: Interne Redenaars EN o.7 – o.13 Netbalwestryde tuis teen Curro Durbanville.
  • Donderdag, 11 April: Interne Redenaars
  • Vrydag, 12 April: o.13 Hokkiewedstryde (seuns & dogters) te Laerskool Van Riebeeckstrand EN Landloopwedloop te Zwaanswyk Akademie
  • Saterdag, 13 April: Netbaltoernooie (o.7 – o.13) te LS Tableview, Sunningdale en Kampsbaai EN o.7 – o.13 Rugby te LS Sunningdale.

Verder is ek baie opgewonde om die volgende rakende die bouprojekte by die skool met julle te deel:

  • Die opgradering van die ou biblioteek na ‘n nuwerwetse mediasentrum loop klopdisselboom. Daar word 24/7 alreeds vanaf 15 Maart aan die projek gewerk en ons glo dat dit teen einde van volgende week afgehandel sal wees. Die nuwe, moderne fasiliteit sal enige persoon inspireer tot kreatiwiteit asook om die moderne spasie daagliks te gebruik om te lees en te ontspan. Ons kan nie meer wag om die nuwe mediasentrum amptelik te open nie.
  • Kontrakteurs is ook laasweek aangewys om die leerontwikkelingsentrum asook die bou van die balletsaal by Huppelland te begin. Die amptelike bouplanne van die balletsaal is uiteindelik deur Stad Kaapstad goedgekeur en ons kan nie wag om die spreekwoordelike grond te breek nie. Hou gerus die spasie dop vir meer inligting. Groot dankie aan Stephen Hitchcock (ouer by Huppelland asook ‘n BR-Lid) vir sy leeue-aandeel in beide die twee projekte (balletsaal en leerontwikkelingsentrum).

Graag sluit ek af met die volgende stelling oor waardes deur Roy Disney en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek en ‘n voorspoedige kwartaal 2 toe:

“It is not hard to make decisions
when you know what your values are.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF