Dis ‘n KUNS om ‘n jannie te wees …

Gedurende 25 Aug. – 2 Sept. 2023 vier ons die KUNS van jannie-wees. Dit verg omtrent ‘n spesiale KUNS om ‘n jannie in murg-en-been te wees. Tydens hierdie week staan die ‘akademiese rooster’ soos ons dit ken, stil. Ons wyk van die verpligte KABV-kurrikulum af en gebruik ‘n lekker wye tema (Die KUNS van jannie-wees) om op verskeie areas met ons kern besigheid waarmee ons skool spog en uiters trots is nl. AKADEMIE te integreer. Ons bied die geleentheid aan ons personeel en ouers om betrokke by hierdie week te wees. Hierdie holistiese week sal baie pret en leersame geleenthede verseker. Om blootstelling en leergeleenthede aan leerders te bied sonder dat hulle besef dat hulle met akademie en leer besig is, is die KUNS.

Ons het ‘n soortgelyke week vier jaar gelede aangebied waartydens die klem op Sport in Akademie geplaas is. As gevolg van die sukses van aktiwiteite van daardie week het ons skool besluit om die daaropvolgende jaar hokkie as ‘n formele sport by ons skool aan te bied.

Die idee met vanjaar se Akademiese week is nie noodwendig om iets nuut na afloop van die week by die skool te implementeer nie, maar eerder om Akademie met verskillende leerareas rondom die woord KUNS te integreer. Om daardeur ons skoolgemeenskap te verryk en verder te bou aan die unieke, besondere kultuur wat Laerskool Jan van Riebeeck van ander skole onderskei. Die balans waarna ons skool jaarliks streef, word hiermee gevier, want dit verg ‘n spesiale KUNS om ‘n Laerskool Jan van Riebeecker te wees!

Ek rig ‘n ope uitnodiging aan jou as ouer/voog om betrokke by hierdie week se program te raak – as toeskouer, deelnemer of selfs aanbieder. Hou asb. hierdie ruimte dop, want daar sal weekliks verdere inligting rondom al die bedrywighede van die week geplaas word.

Vir nou is twee goed belangrik:

  1. Hou die datum op jou kalender oop en raak gerus saam met ons opgewonde!
  2. Indien jy voel dat jy graag betrokke wil raak, kontak my gerus (Marinda Brink: marinda@jvrprim.co.za). Enige talent, inligting, diens wat jy aan ons leerders kan oordra of jou kennis van ‘n spesifieke onderwerp wil deel, sal ‘n reuse bydrae by ons program kan maak. Dis altyd so lekker indien daar ‘n ouer/voog is wat iets vir ons leerders kan leer of demonstreer of aanbied. Enige voorstel is welkom. Voorbeelde om aan te dink: Dis ‘n KUNS om kuns te waardeer; die Geskiedenis van KUNS; Dis ‘n KUNS om jouself te beskerm, te beveilig; Om gesond te bly, is ‘n kuns; Dis ‘n KUNS om (interessante sport/vaardigheid) te bemeester; Om te kan skryf, is ‘n KUNS, om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak is ‘n KUNS, ens.

Onthou dat ons fokus is om af te wyk van die gewone en om ander, interessante inligting te deel deur heerlike aktiwiteite en leergierige blootstelling te beplan.

Hier volg ‘n lys van bedrywighede wat reeds vir die week beplan is:

  • Vrydag, 25 Aug: Ouma- en oupadag met Elsabe Daneel as gasspreker (Die KUNS om in die onthou-gange van ouma en oupa te wandel). Kaartjies binnekort op Karri te koop. (Vir die grootouers)
  • Woensdag, 30 Aug:
    • Gr. 6 & 7-leierskappraatjie met Lindie Strydom as gasspreker (Die KUNS om leierskap te ontwikkel)
      (Vir ons senior leerders)
    • Jannies Talent (Die KUNS om talente te ontwikkel) – kaartjies binnekort op Karri te koop
      (Vir die gesin)
  • Donderdag, 31 Aug: Personeelopleiding (Sensoriese integrasie en die KUNS om dit aan te spreek (vir die onderwysers)
  • Vrydag, 1 Sept: Loslit-dag (Die KUNS van omgee) Kaartjies binnekort op Karri te koop (vir die leerders)
  • Vrydag en Saterdag (1 – 2 September): Sportafsluiting: Sport vs Laerskool Welgemoed. Inligting volg later.
  • Saterdag, 2 Sept.: Damesontbyt met Lindie Strydom (en nog ‘n verrassing) (Die KUNS van vrou-wees) Kaartjies binnekort op Karri te koop.

*Joga vir ons leerders word reeds ook beplan en sal oor verskeie dae aangebied word.