Hartlik welkom terug by die skool. Groot opwinding met hoë energievlakke het op Woensdagoggend, 18 Januarie 2023, tydens die opening van die skool na die heerlike somervakansie geheers. Ons graad 1’s is spesiaal met ope arms deur die leerderraad ontvang en na hul onderskeie klaskamers vergesel. Dit was so lekker om ook al ons ouers te verwelkom, blad te skud en sommer net lekker te gesels oor die vakansie en die jaar wat voorlê.

Ek hoop en vertrou almal het ‘n heerlike vakansie en ‘n geseënde Kerstyd saam met familie en vriende geniet. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is ten volle herlaai en slaggereed om die nuwe jaar aan te pak. Sterkte ook met al die nuwe jaar voornemens!

Graag rapporteer ek dat al ons personeel veilig terug is na die lang vakansie, uitgerus en gereed om jul kinders te onderrig en te ondersteun om seker te maak dat elke Jannie sy/haar skooljaar sal geniet. Ons streef daarna dat elke leerder sy/haar volle potensiaal bereik teen die tempo waarteen elke leerder individueel ontwikkel. Laat my ook toe om die volgende nuwe personeel hartlik by die JvR-familie te verwelkom:

  • Naomi Uys (Gr. 2)
  • Ilse-Marie Holtshauzen (Gr. 4)
  • Erick Snyman (Gr. 5)
  • Suné Swanepoel (Kodering en Robotika)
  • Jua-Mari Strehler (GF-klasassistent)
  • Charmlynn Hendricks (GF-klasassistent)

Maak asseblief seker dat jy volgende week op Dinsdagaand, 24 Januarie 2023, vanaf 18:00 die bekendstellingsfunksie en inligtingsaand by die skool bywoon sodat julle ook al die nuwe personeel kan ontmoet. Die program vir die aand werk as volg:

  • 18:00 – Inligtingsgesprek met klasonderwyser in klaskamer soos deur onderwysers gereël.
    Benut assseblief dié geleentheid om jou kind se leeromgewing te sien en die roetines / stelsels binne-in die klas te verstaan. Ons gaan ook die akademiese verwagting vir die graad deurgee. Onderwysers moet egter direk na afloop van die vergadering in die saal wees vir die bekendstellingsfunksie. Individuele afsprake sal op ‘n latere stadium met ouers gemaak word sodra die basislynassesserings voltooi is.
  • 18:45 – Almal verdaag saal toe vir ons algemene inligtings- en bekendstellingsvergadering.

Na afloop van die bekendstellingsfunksie sal heerlike etes geniet word. Ek sien baie uit na die heerlike samewyn.

Ons begin ook vanjaar vroeër met ons sportoefeninge. Die atletiekspan het alreeds vanaf Woensdag, 18 Januarie, begin oefen ter voorbereiding van die Interskole atletiekbyeenkoms wat op 06 Februarie plaasvind. Die somersport-buitemuurse program skop dan amptelik op Maandag, 23 Januarie 2023, af. Hou asseblief Saterdagoggend, 28 Januarie 2023, oop waartydens ons ‘n ouer-kind informele sportdag by die Conradieveld gaan aanbied. Die doel hiervan is om pret saam met jou kind te hê terwyl ouers ook die geleentheid kry om sommer ook mekaar beter te leer ken en saam die jaar behoorlik af te skop met lekker gees en opwinding.

Graag sluit ek af en wens julle ‘n wonderlike en voorspoedige 2023 toe. Geniet saam met jou kind/ers hul nuwe graad en leerervaring. Mag julle ‘n heerlike naweek geniet.

Vriendelike groete

Naas Beets

SKOOLHOOF