Die tweede laaste week van die akademiese jaar het afgeskop met die jaarlikse prysuitdelings. Op Maandag, 5 Desember, het die Grondslagfase se prysuitdelings onderskeidelik vanaf 08:30 (gr. 1), 10:00 (gr. 2) en 12:00 (gr. 3) plaasgevind. Die intermediêre fase se prysuidelings het op Dinsdag, 6 Desember, onderskeidelik vanaf 08:30 (gr. 4), 10:00 (gr. 5) en 12:00 (gr. 6) plaasgevind. Die doel van die prysuitdelings is om erkenning aan ons leerders vir hul harde werk en toewyding te gee. Akademie is ons kernbesigheid en aangesien ons elke Dinsdag erkenning in die saal vir sport- en kultuurprestasies gee, is dit ook belangrik om op die regte wyse vir leerders erkenning vir akademiese uitnemendheid te gee. Natuurlik gaan daar leerders teleurgesteld wees, maar hulle kan dit verwerk as daar ‘n veilige anker by die huis is wat hulle dra. Ons moet saam met julle as ouers/voogde ook die leerders leer dat die lewe daar buite soms hard en onregverdig is, maar dat hulle meer werd is as enige trofee, sertifikaat of medalje.

Elke leerder het ‘n pragtige sertifikaat ontvang wat elkeen se onderskeidelike prestasies toon. Die Top Tien akademiese leerders in grade 4 tot 6 het spesiale sertifikate ontvang. Graag wil ek weer al ons leerders hartlik gelukwens met hul uitnemendheid, merkwaardige pretasies asook hul onberispelike gedrag die afgelope jaar. Ek het ook tydens die prysuitdelings gemeld dat ons leerders se emosionele intelligensie vir my merkwaardig is. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe hulle mekaar gelukwens met hul onderskeie prestasies sonder enige tekens van afguns. Hierdie gedrag spreek boekdele rakende die skool se kultuur en etos. Verder wil ek julle as ouers komplimenteer vir die wyse waarop julle jul kinders grootmaak asook jul aktiewe betrokkenheid by jul kinders se skoolaktiwteite. Om tyd saam met jou kind te spandeer, is kosbaar en die grootste belegging wat jy as ouer/voog in jou kind se toekoms kan maak.

Op Maandagaand, 5 Desember 2022, om 18:00 het die gr. 7’s hul afskeidsokkie by die klubhuis te Conradieveld gehou. Die opwinding was groot, die klubhuis was pragtig verfraai en ‘n professionele platejoggie het die aand die musiek verskaf. Die gr. 7’s was deftig uitgevat vir die belangrike okkasie. Baie dankie aan juf. Charlene, Izél en Suné vir die voorbereiding, toesig en reëlings asook mnr. Leon wat vir hulle wors gebraai het. Die gr. 7’s het dit terdeë geniet.

Gedurende die afgelope week het die jaarlikse kleure-atletiekbyeenkomste ook plaasgevind. Op Woensdag, 7 Desember, het die velditems te HS Jan van Riebeeck se sportvelde plaasgevind. Die weer het wonderlik saamgespeel en die uitsig vanaf die hoërskool se veld was eenvoudig asemrowend terwyl 4 nuwe rekords op die dag aangeteken is. Vandag vind die baanitems by HS Kampsbaai plaas en daaroor sal ek in volgende week se nuusbrief terugvoer gee. Die doel met die onderskeie atletiekbyeenkomste aan die einde van die jaar is tweeledig; eerstens is daar tyd, want die eksamens is afgehandel en tweedens kan die atletiekspan vir die 2023 se interskole vroegtydig bepaal word, want die interskole atletiekbyeenkoms vind vroeg in volgende jaar plaas wat ons baie min tyd gee om ons atlete daarop voor te berei.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die laaste kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Respect is earned by action alone,
not self-gratification.’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF