Op Dinsdag, 20 April, het ons dogters (Mia Symington, Héloïse Strauss, Katrien Stimie en Luca Zulch) en seuns (Fredrich Erasmus, Danny Newton, Jan Karsten en Sebastian Maree) eerste tennisspanne aan die eerste ronde van die BNP Paribas Rising Stars toernooi deelgeneem. Die dogters sou die dag hul toernooi by die laerskool se bane speel, maar met die vuur se rook wat die oggend nog swaar in die stad gehang het, het ons besluit dis veiliger om dit na ander bane te skuif. Reëlings is inderhaas gemaak en die dogters se wedstryde is na Laerskool Eversdal geskuif. Die seuns se wedstryde het die dag by Drieankerbaai se tennisklub in Seepunt plaasgevind. Beide spanne moes teen minstens twee ander skole speel. Elke span van 4 spelers moes 2 enkelspel wedstryde en een dubbels wedstryd speel. Die middag het later aand geword en die spelers het steeds alles ingesit. Die dogters het eerste teen Eversdal B te staan gekom. Hulle het 2 van hul 3 wedstryde gewen en na die volgende ronde deurgedring. Hierna moes hulle teen Oakhurts speel. Ons het ongelukkig al drie wedstryde teen hulle verloor. Ons dubbelspan (Katrien Stimie en Luca Zulch) het tot die einde geveg en pragtige rallies gespeel. Hulle het tydens hul derde stel se sudden death 14-16 verloor. Aan die einde van die aand het ons dogterspan 2de geëindig.

Fredrich Erasmus het ongelukkig met sy eerste wedstryd ‘n besering opgedoen en ons reserwe, Dawid-Wiese Viljoen, het ingespring om die span by te staan. Die seuns het sterk kompetisie gehad. Dawid-Wiese en Danny het twee wedstryde vir die skool gewen. Ongelukkig dring ons spanne nie deur na die volgende ronde nie, maar ons is so trots op elkeen wat na ‘n lang rokerige atletiekdag steeds die skool se naam met trots uitgeleef het!