Ek hoop en vertrou dat julle ‘n heerlike en geseënde Paasnaweek saam met jul kinders, familie en/of vriende geniet het. Ek glo almal is dankbaar vir die meevallertjie van 4 dae net om weer die spreekwoordelike ‘baterrye te herlaai’. Die kwartaal is redelik lank en soveel is alreeds vermag in ‘n baie kort tydjie. Ons kry so stadig maar seker amper ‘n voorsmakie van ‘n tipe normale samelewing wat ons so mis. Tyd vlieg ongelooflik vinnig verby en daar is net 2 weke van die kwartaal oor en ek wens al ons leerders sterkte toe met die formele assesserings wat nog afgehandel moet word.

Die nuwe Beheerrraad (BR) het hul eerste amptelike vergadering op Dinsdag, 6 April 2021, om 17:30 gehou waartydens die ampsdraers vir die die tydperk 2021 – 2024 verkies is. Dit is dan my voorreg om bekend te maak dat Merwe Schotlz weer as ons BR-voorsitter aangewys is; Izelle Venter is as ons ondervoorsitter en Lucia de Jager as die sekretaris. Wees verseker dat die nuwe BR die skool na nog hoër hoogtes gaan lei en dat die leerders se belange altyd prioriteit sal geniet. Suskesvolle en funksionele skole word gekenmerk deur aktiewe ouerbetrokkenheid en waar alle besluite geneem word in die beste belang van die leerders, en niks anders nie.

Die afgelope week het ons ook afgeskop met die wintersportprogram. Dit voel amper soos ‘n historiese gebeurtenis as gevolg van die lang grendelperiode met al sy drakoniese regulasies. Dit is lekker om te sien hoe opgewonde ons leerders is om weer aan spansportaktiwiteite te kan deelneem.

Gun my ook die geleentheid om juffrou Andri Baird hartlik te bedank vir die reël en bestuur van die interne Gr.2 – 7 redenaarskompetisie vir ons leerders vanaf 6 – 8 April 2021. Ek is nog steeds stomgeslaan met ons leerders se puik redenaarsvermoë, die selfvertroue, die spitsvondigheid en die gemak om voor ‘n gehoor op te tree.

Gister het die FAK (Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge) ons skool besoek om ‘n kopie van die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel te oorhandig. Elizma Smith, die FAK-verteenwoordiger in die Wes-Kaap, het die nuwe vertaling aan my en die prefekte oorhandig en genoem dat dit die 5de vertaling sedert die eerste vertaling in 1933 is. Dit is so gepas in ons skoolkonteks dat Afrikaans, wat voor 1933 as kombuistaal beskou was, vandag met trots as ‘n onderrigtaal gebruik kan word. Verder vier ons in Afrikaans die 100ste bestaansjaar van ons merkwaardige skool. Voor in die Bybel haal ek die spesiale boodskap van dr. Danie Langner, die Besturende Direkteur FAK aan: “Geluk en dankie vir 100 jaar van toegewyde onderrig in Afrikaans”.

Neem asseblief kennis van die volgende:

1. Merk van leerders se persoonlike besittings
Die hoeveelheid verlore goedere wat ons op ‘n daaglikse basis moet bestuur is besig om hand uit te ruk. Daarom wil ons julle asseblief versoek om voor Woensdag, 14 April, jou kind/ers se persoonlike items duidelik te merk sodat indien ons dit optel, ons dit onmiddellik aan die spesifieke leerder kan besorg. Onderwysers gaan vanaf Woensdag, 14 April, leerders wie se persoonlike items nie duidelik gemerk is nie, wel met ‘n permanente pen merk. Ek vra om verskoning dat die oefening moontlik drakonies klink, maar ek glo julle verstaan dat ons iets daadwerklik aan die saak moet doen. By voorbaat dankie vir julle samewerking in die verband. Groot dankie aan Colitha Janse van Rensburg wat soveel tyd as ‘n ouer insit om die verlore goedere te bestuur.