Die verlore klere en goedere bly maar ‘n kopseer en ‘n uitdaging by ons skool. Die aantal truie, baadjies, hemde, sportklere en sportstoerusting wat elke week opgetel en gebêre word in die kratte en kaste, word net al meer.
Daar raak ook al hoe meer klere en items weg alhoewel dit duidelik gemerk is. Ons het ‘n paar weke terug op die nuusbrief die proses vir verlore goedere weer verduidelik. Die proses alleen gaan nie die probleem oplos nie. Kom ons kyk hoe ons VERLORE kan omswaai in Verantwoordelikheid, Eerlikheid, Respek, Liefde, Omgee, Regverdigheid, Etiket
*Verantwoordelikheid:
Maak asseblief seker dat alle klere, sakke, tasse en sportstoerusting duidelik gemerk is. Etikette kan ook bestel word by die Klerebank.
*Eerlikheid:
Besorg asseblief enige klere, sakke, tasse en sportstoerusting wat nie aan u kind / kinders behoort nie, terug by die skool.
*Respek:
Ons ouers gaan groot onkostes aan om klere en items vir hulle kind / kinders aan te skaf. Kom ons respekteer ons eie eiendom asook die eiendom van ander.
*Liefde en Omgee:
Talle ouers en kinders word direk benadeel as eiendom verlore raak. Ure en partykeer baie dae word daar herhaaldelik deur al die kaste en kratte gegaan op soek. Dit veroorsaak onnodig ongelukkigheid en stres vir die ouers en kinders.
*Regverdigheid:
Dit is regverdig teenoor alle kinders dat hulle warm skool toe kom met die regte klere aan en dat hulle hul sport kan beoefen.
*Etiket:
Goeie maniere is nog altyd deel van Laerskool Jan van Riebeeck! Kom ons leef dit ook hier uit. Die oorskakeling na somerdrag is om die draai, en ‘n goeie tyd om deur die klere by u huis te gaan.
Kan ons asseblief vra dat ons almal hiermee kan help!!