Die jaar is reeds lekker aan die gang, en so ook bedrywighede rondom die JvR Laerskool Opvoedingstrust!

Dis met groot opgewondenheid dat ons ouers, familie en vriende uitnooi na die 2020 Veiling Fondsinsameling wat op Saterdag, 16 Mei, aangebied sal word. Kaartjies is vanaf vandag by QUICKET beskikbaar. Die ikoniese en majestueuse Sentrum vir die Boek, in Koningin Victoria-straat, langs die Kompaniestuin, is waar dit alles sal gebeur: ’n eersteklas ete, uitsoekwyne, veilinglotte om oor huis toe te skryf, en ’n hele paar vars vermaakverrassings.

Die Veiling is vir meer as twee dekades reeds ’n onmisbare deel van die skool en gemeenskap se trotse, en dankbare, tradisie van wedersydse betrokkenheid. Dit het ’n gegewe geword op die skoolkalender, en ’n glansgeleentheid waarna wyd uitgesien word. Dit is na aanleiding van Veiling-opbrengs dat die Trust gestig is, en sedert 2017, is dit ’n volwaardige en finansieel ’n essensiële, Trust-inisiatief.

Die veiling-lotte, waarvan daar vanjaar 30 sal wees, is ’n uiteeenlopende en eksklusiewe versameling bydraes, van alumni en ouers, vriende en familie sowel as die omliggende besigheidsgemeenskap en welwillende ondersteuners oor die wêreld. En daar is altyd iets vir almal. Vanjaar se katalogus sal veral gekenmerk word deur ’n groot versameling kuns, eksklusiewe ‘experiences’ en unieke kombinasie-lotte. Die katalogus sal vanaf 1 Mei aanlyn beskikbaar wees, en as glansbrosjure op die aand.

Maak vanjaar dié jaar. Kom beleef een van die skool se bes bekende en mees eksklusiewe fondsinsameling geleenthede. Veiling 2020.
BESPREEK HIER

Die volledige Veilingkatalogus sal teen 20 April hier beskikbaar wees