Boekbende skop weer af!
Die Boekbende skop volgende week Woensdag weer af! Ons nooi graag al ons graad 4–7-leerders om dit by te woon.
Kom kuier saam om 07:15 in die Mediasentrum en deel in die lekkerte van lees!
Die Boekbende skop volgende week Woensdag weer af! Ons nooi graag al ons graad 4–7-leerders om dit by te woon.
Kom kuier saam om 07:15 in die Mediasentrum en deel in die lekkerte van lees!
Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat ons skool Wêreldboekedag op 23 April gaan vier!
Om hierdie spesiale dag te vier, nooi ons al ons leerders uit om soos hul gunstelingkarakter uit een van Jaco Jacobs se boeke aan te trek. Jaco Jacobs vier vanjaar ook die 25ste herdenking van die publikasie van sy eerste boek.
Dit is ’n wonderlike geleentheid om ’n liefde vir lees aan te wakker en kreatiwiteit te vier. Daar sal ook ’n spesiale boekprys per graad toegeken word aan die leerder met die beste kostuum!
Ons sien baie uit daarna om al die kleurvolle en kreatiewe uitrustings te sien. 🎉📖
Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.
Ondersteun gerus ons Graad 7’s.
’n Groep ouers bied tans ’n onafhanklike inisiatief aan waar katoen-alternatiewe vir skooluniforms beskikbaar gestel word.
Neem asseblief kennis dat hierdie projek nie deur die skool of Jan Kas bestuur word nie.
Klere wat aangekoop word, kan nie by Jan Kas omgeruil word nie. Dit is daarom baie belangrik dat leerders tydens die beskikbare aanpassessie behoorlik seker moet maak van die kledingstuk se grootte wat bestel word.
Let ook daarop dat groottes en pryse verskil van dié by die klerebank.
Aanpasdag besonderhede:
📅 Maandag, 13 April 2026
📍 Mediasentrum, Laerskool JvR
⏰ 13:00–17:00
📞 Kontakpersoon: Lian Lombard – 079 933 9925
Hiermee ’n hartlike welkom aan almal terug by die skool met ’n nuwe kwartaal propvol geleenthede wat voorlê. Ek glo dat almal die kort, maar welverdiende vakansie terdeë geniet het. Dit is veral die spesiale Paasfeestyd saam met familie wat so kosbaar was. Ek is baie dankbaar dat almal veilig terug na die vakansie is, en veral die graad 7’s en hul ouers wat aan die jaarlikse Oranjerivierroeitoer deelgeneem het. Baie dankie aan Pieter Rademeyer en sy span ouers wat aan stuur van die suksesvolle roeiroete gestaan het. Ons graad 7’s sal die ongelooflike ervaring saam met hul ouer(s) vir die res van hul lewe koester. Graad 6-leerders en hul ouers, julle moet beslis ’n plan maak om nie volgende jaar die onvergeetlike avontuur te mis nie. Dit is die ideale geleentheid om ’n spesiale konneksie met jou kind(ers) te maak en spanwerk is bepalend om die eindbestemming te bereik.
Die skool het skaars begin en spreekwoordelik, soos ’n goed geoliede masjien, is ons skoolaktiwiteite sommer vanaf dag 1 weer goed op dreef, met die akademiese klasse, wintersport- en buitemuurse program, musiekklasse en kooroefeninge wat op dag 1 van die nuwe kwartaal met baie opwinding afgeskop het. Sportwedstryde vir die o.10 netbal- en o.13-hokkiespanne skop ook die komende naweek af. Saterdag, 11 April, is weer tyd vir die jaarlikse Kaperjolle en ons leerders kan nie wag om aan al die opwindende aktiwiteite deel te neem nie. Ek glo dat julle as ouers ook nie kan wag om aan die gewilde voedselfees, Kaperjolle, deel te neem nie, asook om die kosbare samesyn wat net Laerskool Jan van Riebeeck kan opdis, te geniet. Kom neem gerus deel aan die proe-kompetisie wat klein happies, maar groot geure, insluit. Daar is vir seker nie ’n beter manier om ’n kwartaal af te skop nie en sommer in die proses lekker gees te vang vir die nuwe kwartaal wat voorlê.
Die afgelope vakansie het ons o.11-rugbyspan aan die prestige Willie le Roux-rugbytoernooi vanaf 27–31 Maart te Laerskool Lochnerhof in die Strand deelgeneem. Ons het in die B-afdeling van die toernooi deelgeneem, aangesien die gewilde toernooi deur al die groter skole ondersteun word. Ons seuns het nie ’n enkele tree vir die opposisie teruggestaan nie en uitstekend soos volg gevaar:
Ons verloor teen Paarl Gimnasium 0–14;
Ons wen Laerskool Bastion 12–10;
Ons wen Curro Hermanus 17–0;
Ons wen Laerskool Hermanus 17–0; en
Ons wen Laerskool Eversdal 21–0.
Baie geluk en baie dankie mnre. Rashard en Rahim, asook die seuns met die puik uitslae. Daar lê vir julle ’n opwindende seisoen voor en mag julle net verder op al die leerervaring bou wat julle tydens die toernooi opgedoen het.
Normaalweg word die Top 10 Akademiese Graad 7-leerders kwartaalliks op die laaste dag van die kwartaal bekend gemaak. Weens die graad 7’s se deelname aan die Oranjerivierroeitoer wat vanaf 26–31 Maart plaasgevind het, kon ons kwartaal 1 se Top 10 Gr. 7-leerders eers op Woensdag, 08 April, die dag wat die skole vir die tweede kwartaal heropen, bekend maak en hul welverdiende sertifikate oorhandig. Baie geluk en graag gee ons erkenning aan die volgende gr. 7-leerders (alfabeties) vir hul harde werk en toewyding:
Anabella Boshoff;
Chris Derksen;
Jamie Jordaan;
Karla Louw;
Bella Naylor;
Jana Nel;
Ghia Pereira;
Cato Terblanche;
Dané Walker; en
Benjamin Ward.
Ek gaan die kwartaal verder om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):
“Die berg het ’n muis gebaar”
Die uitdrukking beteken dat daar ’n verwagting vir groot dinge was, maar uiteindelik het daar net iets kleins gebeur, m.a.w. niks spesiaal het gebeur nie.
Ek sluit dan af en ek sien uit om julle môre saam met Susan Derksen (OOV-voorsitter) en haar span by die Kaperjolle te ontvang. Geniet julle naweek en sterkte ook vir die senior koor wat Sondag, 12 April, aan die Boston Koorfees te Hugo Lambrechts Musieksentrum optree.
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF