Die Interskole-koors loop behoorlik hoog en ons as personeel is saam met die leerders baie opgewonde om vanjaar vir die eerste keer Interskole teen Laerskool Welgemoed tuis aan te bied. Sien gerus ons spesiale Interskole-video wat die personeel saamgestel het. Graag wil ek Laerskool Welgemoed, hul skoolhoof, mnr. Johan Engelbrecht, personeel, afrigters, leerders en ouers hartlik in die Moederstad verwelkom. Hierdie is beslis vir beide uitnemende skole ’n spesiale geleentheid om met mekaar sake uit te spook. Geniet en vier saam met ons ’n genotvolle Interskole waar goeie spel en sportmangees op die onderskeie moet seevier.
Ons vang die afgelope week behoorlik gees en ons leerders het saam met hul ouers baie moeite gedoen om daagliks volgens die volgende ‘gees-temas’ aan te trek:
Dinsdag, 25 Augustus: Dra van ’n pruik of kopstuk met skoolklere.
Woensdag, 26 Augustus: Trek aan soos ‘n gewonde Blessie.
Donderdag, 27 Augustus: Wees ‘n BRUL-JANt ‘’Look-alike’’.
Groot was die opwinding op Woensdagmiddag, 26 Augustus, toe die Interskole amptelik met ’n kodering- en robotika-uitdaging afgeskop het. Dit was ook ’n eerste vir beide skole en bied nie-sportleerders onder andere ook ’n geleentheid om aan Interskole deel te neem deur van spanwerk, probleemoplossing en kritiese denke gebruik te maak. Heelwat ouers van beide skole het die opwindende geleentheid bygewoon. Die Jannies was eenvoudig net te sterk vir Welgemoed se koderings- en robotikaspan en het met die louere weggeloop. Welgedaan, juf. Suné, en ons leerders wat daarby betrokke was.
Op Dinsdag, 25 Augustus, was ons baie bevoorreg om die bekende rugby-afrigter, Sean Erasmus, by ons saalbyeenkoms te verwelkom. Hy was ons gasspreker en ons leerders het behoorlik aan sy lippe gehang met sy ongelooflike boodskap rakende die belangrikheid van spanwerk, veral met die oog op Interskole. Sean is ’n oudonderwyser en was vir ’n geruime tyd Hoër Jongensskool Paarl (Boishaai) se mees suksesvolle hoofafrigter. Hy is vir meer as 26 jaar by skolerugby betrokke en is vanaf 2027 as Maties se hoofafrigter aangestel. Ons weet dat hy by US ongelooflike waarde sal toevoeg en ons beste wense vergesel hom vir die res van sy loopbaan. Sy nederige geaardheid en beginselvastheid staan vir my soos ’n paal bo water uit en dit pas so mooi by ons eie kernwaardes!
Vanoggend het die tradisionele ‘Groot Brag’ onder groot toejuiging van die leerders in die saal plaasgevind en ons is slaggereed om ’n wonderlike naweek van sport te geniet. Vir seker gaan dit vanjaar meer kompeterend wees, want om teen ’n sterker en groter skool mee te ding, dwing ons outomaties uit ons gemaksone asook om ons grense te verskuif, harder te werk en in die proses kry ons wonderlike geleenthede om ons eie vermoëns en prestasies te verbeter. Graag versoek ek ouers en afrigters dat hulle asseblief oor die naweek van Interskole hul eie verwagtinge moet bestuur, want daar is meer as genoeg druk op ons spelers. Hou ingedagte dat die Bokke op Saterdag, 22 Augustus, gewys het dat selfs die beste rugbyspan in die wêreld ook afdae beleef – so hoe kan ons van laerskoolleerders verwag om elke wedstryd feitlik foutloos te speel! Sport is so diep verweef met die Suid-Afrikaanse kultuur en daar is ’n oormatige klem op oorwinning. Gunstige tellingborde is beslis nie vir my al waaroor Interskole gaan nie! Kom ons vier eerder oor die sportnaweek goeie spel, maar belangriker ook gesonde sportmanskap, deursettingsvermoë, effektiewe spanwerk, karakterbou en wedersydse respek.
Ons o.10A- en o.11A-netbalspanne asook ons o.11A-rugbyspan het op Saterdag, 22 Augustus, aan die JWG Sportdag wat deur Laerskool Brackenfell aangebied is, deelgeneem en uitstekend gevaar:
o.10A-netbalspan wen bronsmedaljes. Baie geluk, juff. Lucia en Esmarie!
o.11A-netbalspan wen bronsmedaljes. Baie geluk, afrigter Lazelle en juff. Ischké en Shahneé!
o.11A-rugbyspan wen silwermedaljes en verloor in die finale teen Laerskool Welgemoed. Baie geluk, mnr. Rashard en afrigter Rahim.
Tydens die bogenoemde sportdag het ons spanne teen heelwat groter skole meegeding en is weereens ’n bewys van die sportontwikkeling wat by ons skool oor die laaste klompie jare plaasgevind het, sodat ons kompeterend teen groter skole kan deelneem. Welgedaan aan al ons afrigters vir jul harde werk en toewyding die afgelope seisoen.
Dit is dan my eer en voorreg om vir Jamie Jordaan (gr. 7) hartlik geluk te wens met sy 4de plek in vanjaar se Horizon Wiskundekompetisie. Dit is ’n merkwaardige prestasie, aangesien meer as 27 000 leerders in die Wes-Kaap vanjaar aan dié wiskundekompetisie deelgeneem het. Welgedaan, Jamie, dit wil gedoen wees! Jy maak ons baie trots!
Afrikaans is so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer, deel gerus met jou kind/ers:
‘Die kool is nie die sous werd nie’
Die uitdrukking beteken dat die saak nie die moeite of koste werd is nie.
Ek sluit dan week ses af en wens vir julle ’n wonderlike Interskole-naweek saam met jul gesinne en Welgemoed-vriende. Mag die Bokke darem môremiddag die All Blacks hier in die Moederstad wys wie regtig koning kraai. Sterkte ook vir al ons sportspanne wat die naweek aan Interskole tuis deelneem – geniet elke oomblik en sien julle langs die sportvelde!
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF