
Het jy al ooit van Uitvoerende funksies (Executive functioning) gehoor?
Of jy nou bekend is met terminologie soos neurotipies, neurodivers, sensories sensitief of -soekend – ons almal moet die verskillende uitvoerende funksies baasraak om effektiewe kognitiewe ontwikkeling moontlik te maak.
Kinderontwikkeling beteken dat alle aspekte van die kind op verskillende maniere en tye ontwikkel om in ‘n vaardige volwassene te ontwikkel wat verantwoordelike keuses kan neem terwyl selfstandigheid, deernis en dankbaarheid uitgeleef word.
Ons almal het iewers ons bepaalde vaardighede aangeleer en daar is selfs vaardighede waarmee volwassenes steeds uitdagings ervaar. Uitvoerende funksies (executive functioning) is ‘n term wat gewild geraak het en waaroor baie meer navorsing gedoen word. Die tekort aan sommige vaardighede verwant aan uitvoerende funksies is ‘n kardinale deel van die ontwikkelingsproses waarmee sommige volwassenes steeds sukkel.
Uitvoerende funksies is die bestuurstelsel van die brein wat jou help om probleme op te los, besluite te neem, opdragte te begin en deur te voer, ens. Hierdie funksies vind in die sentrale deel van die brein plaas.
Voorbeelde van uitvoerende funksies
1) opdragte begin en uitstel van take
2) beplanning
3) organisering
4) werksgeheue
5) aandag te gee / met fokus te werk
6) tydsbestuur
7) prioritisering
8) regulering van emosies
9) om ‘n opdrag te voltooi / deur te over
10) Kognitiewe aanpasbaarheid – fokus van een na ander onderwerp soomloos te verskuif
11) aanpasbaarheid – ander se opinies te verstaan
12) impulsbeheer/selfbeheersing – dink voor doen
Die aanbieding van Tale (Afrikaans en Engels) is die perfekte plek waartydens hierdie vaardighede ontwikkel en afgerond kan word aangesien dit die aanvanklike ruimte is waar ons geleer word om te skryf. Opstelskryf – watter soort ookal (kreatief, beskrywend, transaksioneel) – word beskou as ‘n reuse berg waarmee elkeen van ons sukkel om te klim totdat ons die vaardighede rondom dit ingeoefen het. Tydens hierdie opdrag word jy aan die volgende uitdagings blootgestel: opdrag en onderwerp verstaan, kreatiwiteit om die opdrag aan te pak, om daarmee te begin en nie dit uit te stel nie, om te beplan, woordkeuse, sinskonstruksie, uitleg, spasiëring, paragrawe, vloei van storielyn, karakters, bou van skryfwerk (begin, middel, einde), netheid (handskrif, lettergrootte, vorming van letters, ens.), proeflees, redigering, voorlegging en om nie te praat van die selfbeeld en konsentrasie wat ook nog ‘n rol speel nie. Dan is daar die sensoriese sensasie wat ook ‘n rol speel. Om ‘n skryfstuk binne ‘n bepaalde tyd en met bepaalde hoeveelhede woorde te skryf, dra ook by tot spanning om die skryfproduk te lewer. Dan moet die werk nog nagesien word wat beteken dat jy terugvoer gaan ontvang wat nie altyd maklik is om te aanvaar nie. Soms word daar van jou verwag om in groepe te werk wat verdere uitdagings mag bied.
Hierdie vaardighede word dan uitgebrei byvoorbeeld in ‘n skoolvak soos Geskiedenis waar langvrae aan die orde van die dag is om nie eers van jou tersiêre of verdere studies te praat nie. Op die einde van die dag is uitvoerende funksies vir almal van ons belangrik en van waarde aangesien almal op een of ander tyd bestuursfunksies moet uitvoer.
Om die tekort aan hierdie vaardighede so gou moontlik by jou kind aan te spreek, is dus van kardinale belang. Dis waarom so baie jong kinders onder andere na arbeidsterapeute en fisioterapeute verwys word sodat die uitvoerende funksies saam met ander uitdagings aangespreek kan word indien dit nodig is. Die aanleer van die regte studiemetodes wat vir jou kind werk, is deel van hierdie vaardighede en kan help om organisering en beplanning makliker te maak.
Wat doen ek indien ek nie hierdie vaardighede wat by my kind ontbreek op ‘n vroeë ouderdom aangespreek het nie?
Dis nooit te laat nie. Deur ontvanklik vir ondersteuning te wees, is ‘n goeie begin. Gesels gerus met jou kind se onderwyser of enige ander professionele persoon wat by opvoeding en leer betrokke is.
Skool en die akademiese kurrikulum is so saamgestel dat dit daarna streef om leerders so goed moontlik te bemagtig sodat hierdie vaardighede jaarliks op mekaar bou en afgerond word. Dis iets wat tyd vat en waarmee ons geduldig moet wees. Die vreesaanjaende take/projekte waarmee leerders gekonfronteer word, is als deel van hierdie vaardighede wat uitgebrei word. Dis die rede waarom ons aanmoedig dat formele assesserings tydens klastyd gedoen word sodat leerders by hul maats kan leer met die toesig of fasilitering van die onderwyser. Aangesien kinders elkeen teen hul eie tempo ontwikkel, is dit dan ook so dat nie almal die vaardighede ewe vinnig bemeester nie. Daar is ook hope navorsing wat bewys dat neurodiversiteit dikwels daarop dui dat uitvoerende funksies ontbreek.
Indien jy tot die besef kom dat jou kind(ers) van die funksies ontbreek, is jy reeds op die regte pad. Alles begin in elk geval by bewuswording. Gesels met en raadpleeg gerus verskeie bronne onder andere ons eie onderwys- en Zen Den-personeel.
Samestelling van teks – Marinda Brink
Visuele teks – Helene Slabbert