Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Do 27 Augustus 2026

  • Wintersport Eindig
  • Trinity Musiekeksamens by Beau Soleil Musieksenstrum (Kenilworth)

Vr 28 Augustus 2026

  • Finkom Vergadering
  • Sivvies
  • Hokkie: Interskole vs Welgemoed (TUIS) - Almal
  • Anika le Roux (Onderwyser) verjaar
  • Assessering: SW Aardrykskunde
  • Skaak: Interskole TUIS (o.9 , o.11 en o.13 span)

Sa 29 Augustus 2026

  • Rugby: Interskole vs Welgemoed (TUIS) - Almal
  • Netbal: Interskole vs Welgemoed (TUIS) - Almal

Ma 31 Augustus 2026

  • GEEN SPORT

Di 1 September 2026

  • GEEN SPORT

Wo 2 September 2026

  • Laerskool JvR Kore en Tjeggiese Kinderkoor (NG Kerk Tamboerskloof)

Do 3 September 2026

  • Jannies vir Jesus
  • Wintersporttoer o.13B
  • Sanna Molepo (Terrein) Verjaar
  • Gr.7 Entrepreneursdag

Vr 4 September 2026

  • Tennis: o.13A Toernbooi by Courtrai
  • Loslitdag
  • Skaak: vs Deutsche Internationale Schule Kaapstad WEG (o.9, o.11 en o.13 span)

Sa 5 September 2026

  • Skaak Topskole Wellington (o.9&o.11)
  • SING. MOVE. PLAY. CONNECT

So 6 September 2026

  • Skaak Topskole Wellington (o.9&o.11)

Ma 7 September 2026

  • Somersport Begin
  • Tweedehandse Klereverkope

Di 8 September 2026

  • Dolinda (Nasorg) Verjaar
  • Kaapse Afrikaanse Eisteddfod - Junior Koor
  • Koffie-en-Beskuit Konsert
  • Los alles en Lees

Do 10 September 2026

  • Somersport Eindig Tydelik
  • Jannies vir Jesus


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 21 Augustus 2026

Vandag vier ons Bok Vrydag, met die helfte van kwartaal 3 wat vandag iets van die verlede is, wat ’n mens weereens laat besef dat tyd beslis nie stilstaan nie. Ons nader ook die einde van die wintersportseisoen met ’n opwindende interskole vanjaar teen Laerskool Welgemoed, wat oor die naweek van 28 en 29 Augustus by ons gaan plaasvind.

Graag deel ek van ons puik sportuitslae wat die vorige naweek plaasgevind het:

Netbal: Die topskole se distrikuitspeeltoernooi het op Saterdag, 15 Augustus, by Laerskool Kenridge plaasgevind, en ons is baie trots op die volgende uitslae:
  • o.13A behaal tweede plek en wen silwermedaljes.
  • o.11A wen brons.
  • o.10A wen brons.
Baie geluk aan ons spelers en afrigters met die puik prestasies.
Rugby: Op Saterdag, 15 Augustus, wen ons o.13A-span 17–12 in ’n titaniese stryd tuis teen Laerskool Dirkie Uys. Die rede hoekom ek dié spesifieke wedstryd uitsonder, is weens die feit dat ons eerste rugbyspan vanjaar ’n baie moeilike seisoen ervaar met sterk teenstanders van groter skole. Op Saterdag het hulle gewys waartoe hulle wel in staat is deur in hulself te glo, as ’n span saam te speel terwyl elkeen sy kant gebring het. Daar was baie emosie ná afloop van die wedstryd – die seuns en afrigters was in ekstase oor die puik oorwinning! Die trane het behoorlik geloop, want hulle het die afgelope tyd so hard gewerk om die een nederlaag ná die ander te oorkom. Die lewe leer mos maar harde lesse en dikwels werk ’n mens besonders hard, maar daar is nie onmiddellike resultate of sukses nie, maar aanhouer wen! Hulle het moeilike lesse die afgelope seisoen geleer, en ek en die afrigtingspan, onder leiding van mnr. André, moes ná afloop van elke wedstryd mooi praat en aanhou motiveer om nie moed op te gee nie. Ek was self emosioneel en so ongelooflik trots op wat die span op die dag vermag het, dat ek dit moeilik gevind het om ná die wedstryd met hulle in die kringetjie te praat. Ek het veral gefokus op die groot lewenslesse wat hulle die afgelope seisoen geleer het, want jy leer dikwels net as jy verloor of nie suksesvol is nie. Hulle het presies gedoen wat ek en die afrigterspan vir hulle wedstryd ná wedstryd gesê het om spreekwoordelik hul kenne op te tel, nooit moed op te gee nie, dat ons harder sal moet werk, en die belangrikste is seker die karaktertoets om in jouself te bly glo. Baie geluk, seuns en die afrigters, mnre. André, Keenen en Divan, met die puik oorwinning. Hierdie is ’n tipiese voorbeeld van leer buite die vier mure van ’n klaskamer wat karakter bou, en dit kan vir seker nie in die klaskamer geleer of nageboots word nie.
Ek is verder ook baie opgewonde om met julle te deel dat ons gr. 3–5-leerders aan die Mzansi Insek van die Jaar-kompetisie, wat deur die Entomologiese Vereniging van Suider-Afrika (ESSA) in samewerking met Media24 aangebied word, gaan deelneem. Die projek is oop vir alle skole en dit behels dat leerders foto's van hul gunsteling-insek wat in hul tuin of in enige habitat voorkom, kan neem en dit dan as die Mzansi Insek van die Jaar kan nomineer, met ’n kort motivering wat dan aanlyn ingedien word. Baie dankie, juf. Marianne, dat jy die opwindende projek by ons skool saam met die gr. 3–5-onderwysers gaan dryf. Ek glo die Jannies sal dit terdeë geniet terwyl hulle ons persepsie van insekte gaan verander, sodat ons almal deel kan wees van die bewaring van ons kosbare insekpopulasie.

Op Sondagmiddag, 16 Augustus, het ons senior koor onder leiding van juf. Rolene en mnr. Leon Starker by die Stadsaal opgetree. Ons is vanjaar deur die Tygerberg Kinderkoor genooi om saam met hulle en die volgende top kore aan ’n koorfees (Tygerberg in Harmonie) in die ikoniese Stadsaal op te tree:
  • Laerskool Durbanville
  • Laerskool Panorama
  • Laerskool Pinehurst
Dit was ’n belewenis en ek glo dat ons ouers wat dit bygewoon het, met my sal saamstem dat ons beslis nie meer terugstaan vir enige van die ander top kore nie. Baie geluk en baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Leon vir jul harde werk en toewyding om ons senior koor na nog hoër hoogtes te lei. Ek is so trots op elke senior koorlid wat week in en week uit getrou al hul oefensessies bywoon.
Op Dinsdagaand, 18 Augustus, was ek uitgenooi om die prestigekonsert van Hoërskool Jan van Riebeeck, waartydens hul die JanArté-sertifikate uitgereik het, by te woon. Baie geluk aan die volgende leerders wat spesiale sertifikate (90%+) ontvang het:

Kreatiewe Skryfwerk
  • Jamie Jordaan
  • Quinn du Toit
Visuele Kuns
  • Munday Lina
  • Elisa van den Berg
  • Louis Hofmeyer
  • Nina Ferreira
  • Anya Maritz
  • Dané Walker
Baie geluk aan die volgende leerders met hul puik optredes tydens die bogenoemde konsert:
  • Antjie Samuel (Gedig) – Die Heks met die Aërosolkan
  • Chris Derksen (Gedig) – Ril Restaurant
  • Coreen Scholtz (Gedig) – Is jy die Mooiste?
  • Alexander Styan – Elektriese kitaar, wat op die aand beslis die kollig gesteel het met sy indrukwekkende optrede.
  • Jack Theron – Tromstel
  • Deon de Kock – Saksofoon
  • Benjie Ntloko – Klarinet
  • Juf. Bea se uitstekende junior vokale ensemble: Frannie Samuel, Emma Venter, Marguerite Eksteen, Maya Basson, Sabastian Scott en Heike Louw.
Baie dankie aan al ons ouers wat ook die konsert en prysuitdeling bygewoon het. Ek is saam met julle ongelooflik trots op hulle!

Op 'n hartseer noot dink ons besonders baie aan mnr. Ben Reynecke wat sy lewensmaat oor die afgelope naweek aan die dood moet afstaan. Ons dink aan Rudi se dogter, sy familie, vriende en natuurlik vir Ben wat hy agterlaat. Mag Rudi se mooi herinneringe nog lank voortleef.

Afrikaans is so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes, en daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

“Hy eet alles vir soetkoek op”

Die uitdrukking verwys na persone wat liggelowig waarhede van mense aanvaar, m.a.w. alles glo wat mense vertel.

Ek sluit dan week vyf af en mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne geniet. Mag die Bokke die All Blacks wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Sterkte ook aan die sportspanne wat die naweek aan toernooie deelneem.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

Fondsinsameling vir ons Terreinwerkers

Dit is met gemengde gevoelens dat ons aankondig dat vier van ons geliefde terreinwerkers, aan die einde van die jaar, by ons skool klaarmaak. Christopher, Elliam, Matthews en Patrick gaan, wanneer die skool vir Desember-vakansie sluit, terugkeer huis toe. Hulle is almal al meer as 16 jaar lank by die skool en is in murg-en-been Jan van Riebeeckers. Hulle is vir ons ontsettend kosbaar en het daagliks gehelp om ons skool veilig en skoon te hou. Hulle was en is altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop om te verseker dat alles wat ons aanpak, hetsy dit akademiese verryking, kultuurgeleenthede, sportdae of sosiale funksies is, vlot verloop.

Hierdie vier terreinwerkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Hulle is geliefd onder leerders, personeel, ouers en selfs mense wie om en naby die skool woon en werk. Ons is hulle oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Ons gaan hulle baie mis.

Gedurende hulle tyd by die skool het hulle hard gewerk om hul families op verskeie maniere te ondersteun. Elkeen het al vir hulself 'n huis tuis gebou en maak vir 'n geruime tyd planne om te kan hervestig en herenig met hul families. Die tyd het nou aangebreek waar dit sin maak om die volgende stap te neem. Ons is saam met hulle opgewonde vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en wens hulle almal voorspoed en sukses toe, maar is ook hartseer om hulle te verloor.

Die skool en Opvoedingstrust het reeds op verskeie maniere ingetree om hulle te ondersteun met hul hervestigingsplanne om sodoende hulle te verseker dat hulle in 'n beter posisie sal wees om 'n nuwe lewe tuis te bou. Ons wil hulle graag ondersteun sodat hulle kan voortbou op dit wat hulle reeds vermag het en help dat hulle en hul families tuis kan floreer.

Elkeen van hierdie vier manne het 'n besonderse bydra tot ons skool se sukses gelewer. Ons is hulle oneindig dankbaar en wil graag die geleentheid vir ons ouers gee om te help deur 'n bydrae tot hul hervestigingskostes te maak. Ons sal dus, vir die volgende drie maande, 'n spesiale fondsinsameling op Karri oopmaak sodat ouers vir wie die saak naby aan die hart lê, 'n geleentheid bied om 'n donasie te maak.

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

KULTUUR

Skoolkonsert

Die konsertkaartjies op Quicket is uitverkoop! Baie dankie vir almal se belangstelling en ondersteuning!

Indien jy nog opsoek is na kaartjies, kontak asseblief vir Megan op WhatsApp - 082 794 8430

Ons sien daarna uit om saam met ons Jannie-gemeenskap ’n onvergeetlike konsert te beleef! 🎭✨

Jiřičky Jeugkoor van Praag deel 'n verhoog met JvR Kore

Ons nooi almal hartlik uit na 'n besonderse koorkonsert op Woensdag, 2 September, waar ons Junior- en Senior Koor die verhoog met die Jiřičky Jeugkoor van Praag (Tsjeggië) en die Hoërskool Jan van Riebeeck koor deel.

Die konsert vind om 18:00 by die NG Kerk Tamboerskloof plaas. Toegang is gratis, en dit beloof om 'n aand van uitsonderlike koormusiek en internasionale samewerking te wees. Kom ondersteun ons Jannies en geniet hierdie unieke musikale ervaring saam met ons.

JUNIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebbeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (NG Kerk Tamboerskloof)

8 September: Kaapse Afrikaanse Eisteddfod (Laerskool Simon van der Stel) @ 16h00. Alle junior koorlede maak van busvervoer na Laerskool Simon van der Stel gebruik. Ouers is welkom om leerders na afloop van die Eisteddfod by Laerskool Simon van der Stel op te tel. Daar sal ook busvervoer terug skool toe wees na die optrede. Ons bevestig later die vertrektyd van die bus. Hou die Junior Koor WA-groep dop.

Teken hierdie belangrike datums asseblief aan. Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en ons wil graag met ’n volledige koor optree!

Hou die Junior Koor WA-groep dop vir meer inligting rakende die onderskeie konserte. Kontak gerus vir Juf Bea indien daar enige vrae is.

SENIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums 

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (NG Kerk Tamboerskloof)

Teken hierdie belangrike datums aan, asseblief. Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en dit is altyd lekker om met ’n volledige koor op te tree!

Hou die Senior Koor WA-groep dop vir meer inligting rakende die onderskeie konserte. Kontak gerus vir Juf Rolene indien daar enige vrae is.

Orff en Kodály Werkswinkels by Laerskool Jan van Riebeeck

LsJvR bied Orff en Kodály Werkswinkels vir enige belangstellende musiek- en klasonderwysers aan! Kom woon dit gerus by!

Kontak vir Juf. Rolene vir meer inligting.

CSA Cape Studio Assessment – 30 Augustus 2026

Barbara Schreuder Dansskool nooi almal hartlik uit om ons talentvolle dansers te kom ondersteun tydens die CSA Cape Studio Assessment op Sondag, 30 Augustus 2026 by JvR Laerskool.

Dansers sal ongeveer ses moderne en kontemporêre danse en bewegingsreekse uitvoer wat spesiaal vir hul ouderdom en vlak gechoreografeer is. Hierdie informele geleentheid bied ouers, familie en vriende die geleentheid om die dansers se harde werk en pragtige optredes te geniet.

Program A: 10:00
Program B: 14:15

Parkering is agter die skool beskikbaar.

Toegang:
  • Volwassenes: R70
  • Skoolgaande kinders: R40
Betaling kan kontant by die deur of via EFT na die FNB Studio-rekening geskied.

Aan die einde van die assessering ontvang alle dansers 'n sertifikaat en 'n verslag met opbouende kommentaar. Dansers van Graad 4 tot 11 kan ook, op versoek, 'n amptelike gradering ontvang.

Vir meer inligting, kontak Barbie by 072 454 9353.

SPORT

Interskole Geesweek: 25–28 Augustus 2026

Volgende week hou ons Geesweek ter voorbereiding vir Interskole! Leerders mag volgens die daaglikse temas aantrek en hul Jannie-gees behoorlik wys.

Neem asseblief kennis dat leerders Maandag en Vrydag hul gewone skooldrag moet dra.

Daar sal elke dag ’n prys wees vir die beste Grondslagfase- en Intersenfase-leerder.

Bring hope gees saam en kom ons maak hierdie Interskole een om te onthou! 💚💛

Winterinterskole Program 2026

Klik op die blad om die program oop te maak:

ALGEMEEN

Kennisgewing: Skool verdaag vroeër

Neem asseblief kennis van die onderstaande datum waarop die skool weens sportverpligtinge vroeër sal verdaag. Daar sal steeds toesig beskikbaar wees vir leerders wat nie vroeër huis toe kan gaan nie. Nasorg sal gewone tyd plaasvind.

Vrydag, 28 Augustus, verdaag 12:00 (Interskole vs LS Welgemoed)


Baie dankie vir die samewerking en ondersteuning in die verband.

Snoepie: Kosbestellings via Karri

Neem asseblief kennis dat alle snoepie-kosbestellings voortaan slegs deur die Karri-toep geplaas moet word. Om die bestelproses glad en doeltreffend te laat verloop, sal geen laat bestellings of versoeke meer aanvaar word nie.

Onthou ook dat geen kos die snoepie mag verlaat voordat dit betaal is nie.

Leerders wat op die dag self 'n broodjie wil koop, is welkom om dit met kontant of 'n bankkaart by die snoepie te betaal.

Indien jy probleme met bestellings op Karri ervaar, kontak vir Megan op WhatsApp by 082 794 8430.

Dankie vir u samewerking.

Loslitdag – 4 September 2026

Plakkers is op die Karri-toep beskikbaar teen R20 elk.
Die fondse wat ingesamel word, gaan aan Die Paarl Skool vir Ontwikkeling.

Kwartaal 3: Welwillendheid

Hierdie kwartaal is ons fokus om diere te help!

Wat: Bring kat- en hondekos skool toe.
Wanneer: 28 Julie - 7 September 2026
Waar: By jou registerklas

Trofees terugbring

Ons is tans besig om al die trofees wat die leerders verlede jaar tydens die prysuitdeling ontvang het, te dokumenteer. Indien u kind verlede jaar ’n trofee ontvang het, stuur dit asseblief na die Mediasentrum, aan Juffrou Marecia van Zyl.

Baie dankie vir u hulp hiermee.

Groete,
Juffrou Marecia

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

BESTEL NOU OP KARRI

LsJvR Gholfdag: 11 Maart 2027

Sien meer inligting oor die 2027 gholfdag hier onder:

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Rugbyuitslae van 15-19 Augustus 2026

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Hokkie-uitslae van 13-18 Augustus 2026

Hier volg die week se hokkie-uitslae:

Netbaluitslae van 15-19 Augustus 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

INDIVIDUEEL

Livia-Mae vertolk hoofrol in die Baxter-teater!

Stap in ’n wêreld waar stories lewendig word!
Livia-Mae Liebenberg vertolk die hoofrol in die Saterdagvertoning van PAGEBOUND op 24 Oktober om 11:00 by die Baxter-teater! 🌟.

Elliott Coetzee skitter op die yshokkiebaan

Gedurende die wintervakansie het Elliott Coetzee die Westelike Provinsie by die interprovinsiale yshokkietoernooi in Pretoria verteenwoordig. Sy het vir drie verskillende spanne gespeel en uitstekend gevaar.
Elliott het ’n goue medalje saam met die o.12A-span, ’n silwermedalje saam met die o.18-meisiespan en ’n bronsmedalje saam met die o.14B-span verower.

Baie geluk, Elliott, met hierdie besonderse prestasie!

Foto’s: Krediet aan die fotograaf /SAIHF IPT Photos Facebook-blad

Gerhard en Luna op kykNET

Baie geluk aan Gerhard Conradie en Luna Coetzer, wat saam in die kykNET-reeks Beter as Gister speel. Ons is trots op julle puik prestasie!

Luna Coetzer blink op die SilwerSkerm Filmfees uit

Baie geluk aan Luna Coetzer, wat in die film Silas en die Ysbeer op Tafelberg speel. Die film het op die eerste dag van die SilwerSkerm Filmfees gedebuteer. Ons is trots op hierdie besondere prestasie!

OUD-JANNIES

Oud-Jannie Chrystal Conradie blink op die skerm uit

Baie geluk aan oud-Jannie Chrystal, wat die rol van Young Emma vertolk in Deon Meyer se nuwe reeks Invisible. Welgedaan, Chrystal!
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet