Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 13 Junie 2025

Week 10 van die kwartaal kom vandag tot ’n einde soos kwartaal twee se spreekwoordelike uurglas stadig maar seker uitloop. Die eksamens verloop nog klopdisselboom en kom volgende week op Woensdag, 18 Junie, tot ’n einde. Hierdie naweek sluit weereens ’n lekker meevallertjie van ’n langnaweek in met ’n publieke vakansiedag, naamlik Jeugdag, wat op Maandag, 16 Junie, landwyd gevier word.

Jeugdag word jaarliks in ons land op 16 Junie gevier ter nagedagtenis aan die 1976-opstande deur leerders wat hoofsaaklik in Soweto plaasgevind het. Die regering van daardie tyd het slegs Engels en Afrikaans as onderrigtale aanvaar en geen etniese tale is in skole vir onderrig toegelaat nie. Tragies het die gebeure tot die sterftes van meer as 600 leerders tydens die opstande gelei wat landwyd uitgebreek het toe die polisie op die betogende jeugdiges losgebrand het om hulle in toom te hou. Vandag kan ons jeug die voorregte geniet wat deur die jeugdiges in 1976 die weg begin baan het. Mag die tragiese gebeure en diskriminasie nooit weer in ons land herhaal word nie.

Vanaf Maandag, 9 Junie, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd afgeskop. Dit vind daagliks net na die aflê van die eksamensessie plaas. Die doel om nog steeds met sportoefeninge tydens die eksamentyd voort te gaan, is tweeledig: Eerstens, die leerders geniet dit terdeë om direk ná ’n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug buite te geniet en aktief te wees, wat sommer ook met hul algemene geestelike welsyn tydens eksamen help. Tweedens help die program ook om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf, veral met ’n welverdiende drie weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer, en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamen sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper sewe weke van geen oefeninge en afrigting sou plaasvind nie. Baie dankie dat julle ook sal help om jul kind(ers) aktief en fiks gedurende die komende vakansie te hou.

Op Saterdagaand, 7 Junie, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mount Nelson Hotel, plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die tema vir die aand was "Betowerde Tuin" en die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers, het soos in die verlede as afslaer opgetree. Dit was my vyfde veilingsdinee as skoolhoof en MC se tiende keer dat hy as die afslaer optree. Hy het die ongelooflike 42 lotte binne ’n kort tydjie onder groot geesdrif van die gaste verkoop. Baie dankie aan al ons donateurs vir jul ruim skenkings wat die 42 lotte opgemaak het. Die versameling kunswerke wat ons ontvang het, was die beste wat ek nog in my tyd as skoolhoof by die veiling gesien het. MC het soos oudergewoonte hom puik van sy taak gekwyt om die lotte in ’n baie kort tyd van die hand te sit. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ’n enorme R1,3 miljoen ingesamel is. Dit het weereens al ons verwagtinge oortref, veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook van die geleentheid gebruik om al ons gaste, en veral ons ouers wat op die aand ’n ruim finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul bydrae om Laerskool Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ’n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mount Nelson was uiters stylvol voorberei en verfraai. Die samesyn was kosbaar en die ‘goeie gevoel’ van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz, vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee, bestaande uit Anna Blackmore, Marina van der Westhuizen, Martie Viljoen en Herna-Dette Marais, hartlik te bedank en geluk te wens met ’n onvergeetlike glansaand.
Ek sluit dan week 10 af. Mag julle as ’n gesin ’n fantastiese langnaweek geniet. Sterkte met al die studies vir die laaste week van die eksamens.

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

"Jakkals trou met wolf se vrou"

Die uitdrukking beteken dit reën terwyl die son skyn. Mag dit gebeur tydens die koue wintermaande!

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Kennisgewing: Elektroniese Rapporte

Neem kennis dat ons vanaf hierdie kwartaal alle leerders vanaf Graad 1–7 se rapporte elektronies en in harde kopie (soos voorheen) sal versprei. Let asseblief op dat ons volgende week ’n e-pos aan ouers/voogde sal stuur om te bevestig dat die korrekte e-posadres bereik word. Jy sal 'n afsonderlike e-pos ontvang vir elke kind wat jy in die skool het. Hierdie toetslopie sal nie oor enige belangrike inligting beskik nie. Ons het nodig om dit so te doen sodat ons die rapporte die daaropvolgende week, wanneer die skool sluit, aan alle ouers kan stuur. Indien jou e-posadres verander het, moet jy dit asseblief so gou moontlik aanpas.

Ons is baie opgewonde oor hierdie nuwe IKT-verwikkeling en wil ons dank aan Marié Cruywagen en Leon Hanekom uitspreek.

WOW-Spelfees 2025

Dit is weer daardie tyd van die jaar waar die Jannies hul goeie spelvermoëns tydens die WOW-Spelfees ten toon kan stel. Leerders (graad 1-7) wat belangstel om deel te neem, sal woordelyste by hul onderwysers ontvang. Die woordelyste is ook HIER beskikbaar.

Die leerders wat belangstel om deel te neem, word aangemoedig om al deur die woorde te begin gaan. Hierdie leerders sal dan in die eerste week van volgende kwartaal deur hul Afrikaanse onderwysers getoets word en inligting rakende registrasie sal daarna volg.

Belangrike datums wat al beskikbaar is (onderhewig aan verandering):
Distrikskompetisie: 22 Augustus 2025
Provinsiale rondte: 13 September 2025
Nasionale rondte: 11 Oktober 2025

Vir enige navrae, kontak gerus vir Ilse-Marié Holtzhausen (ilsemarie@jvrprim.co.za).

KULTUUR

Kwartaal 2 ISF Musiekkonsert: Donderdag, 19 Junie 2025

Dit is weer tyd vir ’n musiekkonsert! Van ons leerders het die afgelope kwartaal hard gewerk aan hul musiektalente – en wat is beter as ’n konsert om hul musiek saam met hulle te geniet? Ons seniorkoor, strykensemble en marimbagroep tree ook by hierdie geleentheid op.

Datum: Donderdagaand, 19 Junie 2025

Tyd: 17:30

Plek: Skoolsaal

Ons nooi almal hartlik uit om saam met ons te kom luister na die leerders se mooiste musiek! Wyn sal ook voor die tyd te koop wees.

Groete,
Rolene van Zyl

Jannies Talent Inskrywings

Het jy ’n talent wat jy graag met ons wil deel? Skryf in vir Jannies Talent!

Oudisies vind ná skool plaas van 28 tot 31 Julie. Gedurende hierdie tyd sal die finaliste gekies word wat dan op 25 September tydens die Jannies Talentkonsert sal optree.

Onpartydige beoordelaars sal tydens die Jannies Talentkonsert aanwesig wees om die top drie finaliste te kies en pryse te oorhandig.

Dit beloof om ’n asemrowende aand en ’n spoggeleentheid te wees — ons kan nie wag om ons talentvolle Jannies se harde werk en toewyding op hiérdie manier te vier nie!

Skryf gerus in deur die volgende skakel te volg:
https://forms.office.com/r/JYp5GEvefs?origin=lprLink

Inskrywings sluit op die laaste dag van Kwartaal 2, 27 Junie.

Kontak gerus vir Juf. Rolene vir meer inligting:
???? rolene@jvrprim.co.za

ALGEMEEN

Skoolhoofdeverslag aan die beheerraad

Die beheerraad hou een keer per kwartaal 'n vergadering waartydens verskeie skoolsake bespreek en besluite geneem word. Ons skoolhoof gee dan ook periodiek kortliks terugvoer aan die Beheerraad rakende die operasionele aktiwiteite wat oor 'n spesifieke periode plaasgevind het. Ons hoop en vertrou dit gee ook vir julle 'n bietjie meer insig in die dag-tot-dag operasionele aktiwiteite wat by ons skool en Huppelland plaasgevind het. Klik op die knoppie hier onder en lees die skoolhoof se verslag vir die tydperk 15 Januarie tot 30 April 2025.

Markdag aankondiging

Kom geniet die gees van samewerking, kreatiwiteit en pret!

???? Datum: Donderdag, 26 Junie

???? Verkopers: Grondslagfase-leerders

???? Plek: Vierkant

Dis die Grondslagfase se beurt om hul entrepreneursvernuf te wys! Van smullekker happies tot kreatiewe handwerk – jy wil dit nie misloop nie!

???? Bespreek nou jou tafel!

???? Karri is oop vanaf Dinsdag, 17 Junie vir tafelbesprekings. Moenie uitmis nie – plek is beperk!

Bring jou kontant, kom kuier en ondersteun ons jong verkopertjies. Ons sien uit daarna om jou daar te sien!

Laaste Kans: Karri-kaartbestellings sluit vandag om 17:00!

Ouers, neem asseblief kennis dat bestellings vir Karri-kaarte vandag om 17:00 sluit. Indien jy graag vir jou kind ’n kaart wil bestel, doen dit asseblief sonder uitstel via die Karri-toepassing.

Let asseblief daarop dat geen laat versoeke hanteer sal kan word nie.

Baie dankie vir julle samewerking!

Karri stel 'n kaart vir kinders bekend

 Dear Parents 

We are very pleased to introduce you to the Karri Card. 

A Mastercard for students 

The Karri Card is an innovative and secure way for parents to manage their child’s spending. Children get their name on a bank card and parents get peace of mind through transaction information and controls.  

Parents can top-up instantly, block lost cards, reset forgotten PINs and receive spending alerts in real time. Students can pay at South African merchants that accept Mastercard - perfect for purchases at school and beyond!  

DEPARTEMENT VAN BASIESE ONDERWYS – WERKSKEPPINGSINISIATIEF (BEEI)

Die Departement van Basiese Onderwys het op 1 Junie 2025 fase V van die BEEI (voorheen PYEI) projek uitgerol. Ons skool het 3 assistente aangestel – een in die sportkantoor, een in die adminblok en een assistent wat met skoonmaak help. Ons wil hulle graag aan almal voorstel:

Mohamad Toureeq Daniels – Mohamad het laas jaar by die Duitse Skool gematrikuleer en oorweeg dit om verder in die onderwys te studeer. Hy is ’n atleet wat WP-kleure in twee sporte het, naamliks handjietennis en spiesgooi. Mohamad gaan in die sportkantoor uithelp.

Unathi April – Unathi is ’n CPUT-student wat tans ’n diploma in bestuur studeer. Sy is in haar finale jaar en gaan hierdie geleentheid as ’n internskap gebruik sodat sy die praktiese gedeelte van haar studies kan voltooi. Unathi gaan in die adminblok werksaam wees.

Musfeeqah Ely – Musfeeqah is ’n ma van drie en het al by verskeie plekke as ’n algemene werker gewerk. Sy is opgewonde om weer te werk en help ons skoonmaakspan om die gebou mooi skoon te hou.

Baie welkom aan al 3 by ons skool! Hulle is tot einde November by Laerskool Jan van Riebeeck en ons glo dat hulle waarde gaan toevoeg en baie gelukkig by ons gaan wees.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Rugbyuitslae: 7 Junie 2025

Sien die week se rugbyuitslae hier onder:

Hokkieuitslae: 6 Junie 2025

Sien die week se hokkieuitslae hier onder:

JANNIES GESPREKKE

Insigte, wenke en kundige leiding vir ouers wat hul kinders se groei en welstand wil bevorder.

Tienerskap vervolg: Slapende skoonheid

Jou slapende tiener se slaappatrone lyk heelwat anders as toe jou kind 8 of 9 jaar oud was. Wat sal die rede hiervoor wees, en hoe verseker ek dat my tiener voldoende slaap kry?

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad