Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 30 Mei 2025

Die wintersportprogram vir kwartaal 2 kom die week ongelukkig tot ‘n einde met die laaste sportnaweek vir die kwartaal tuis teen Laerskool Milnerton. Aprilmaand, met al sy ‘vakansiedae-meevallertjies’, het ons nie toegelaat om enige sportwedstryde of sportdae te hou nie, dus moes Meimaand spreekwoordelik instaan met ‘n besige sport- en kultuurprogram. Met die buitemuurse program wat vir eers op ys geplaas gaan word, glo ek dat elke gesin nou ‘n bietjie begin asem skep, maar in die proses vir die gr. 4 – 7 Junie-eksamen voorberei wat volgende week gaan afskop.

Ons het op Vrydag, 23 Mei, weer ons jaarlikse netbaltoernooi vir o.10 - o.13 B- tot F-spanne aangebied. Tien skole, 70 spanne en 490 dogters het aan die gewilde netbaldag deelgeneem en in die proses meer as een wedstryd op die dag gespeel. Opvallend was die goeie ‘gees’ waartydens die wedstryde geskied het met besoekende ouers, -onderwysers en -afrigters wat nie uitgepraat kon raak oor die ongelooflike sportervaring en gasvryheid nie. Dit was dan ook ‘n ideale vertoonvenster-geleentheid om ons trotse skool te bemark. ‘n Netbaltoernooi van dié kaliber kan net geskied as dit gepaard gaan met puik reëlings, en daarvoor is ons mnre. Rashard en Leon, asook die ondersteunende personeel, baie dankbaar. Dit is vir ons as skool net so belangrik dat daar ook op ons B- tot D-spanne gefokus moet word deur vir hierdie spelers die geleenthede te skep waar hulle op ‘n gereelde basis aan wedstryde kan deelneem en meeding. Sommige leerders se fisiese- en vaardigheidsontwikkeling geskied eers later soos hulle ouer word. Hulle mag dalk nie tydens hul laerskoolloopbaan vir A-spanne speel nie, maar soos hulle dan teen hul eie tempo ontwikkel, eindig baie van hulle in A-spanne op hoërskoolvlak. Ons wil dus seker maak ons behou die spelers om steeds deel te neem, dus is die skep van geleenthede vir hulle juis ‘n prioriteit by ons skool. Graag moedig ek skole aan om meer toernooie vir B- tot F-spanne aan te bied en nie net vir A-spanne nie.

Baie geluk aan ons volgende twee o.13-netbalspelers wat vanjaar WP-kleure verwerf het:

Jeanne van Heerden (WP-Disa)
Stella Pansegrouw (WP-Dolphins)

Ons is ongelooflik trots op hul prestasie. Hulle toer na Riversdal vir ‘n provinsiale toernooi vanaf 16 – 19 Julie. Sterkte, ons weet dit sal goed gaan.

Wintersportoefeninge vir die kwartaal het op Donderdag, 29 Mei, vir gr. 4 tot 7-leerders geëindig en gr. 1 tot 3 eindig op 6 Junie. Sportoefeninge gaan egter gedurende skooltyd voort. Dit skop vanaf 9 Junie af en eindig op 18 Junie. Hierdie wintersportoefeninge (o.7 - o.13) gedurende die eksamen is vrywillig. My ondervinding is dat die leerders dit terdeë geniet om net na afloop van ‘n eksamen- of assesseringsessie sport te kan beoefen. Dit help beslis om die angstigheid van eksamen te verminder, asook om net ‘n bietjie asem te skep na ‘n lang skryfsessie. Navorsing toon dat leerders wat gereeld oefen, beter tydens kognitiewe toetsing presteer, beter geheue het en meer waaksaam tydens eksamens is. Om voor te berei en gedurende die eksamen te studeer, kan geestelik en fisies uitputtend wees, wat baie leerders moeg en afgemat laat voel. Wanneer jy oefen, stel jou liggaam onder andere hormone soos adrenalien en kortisol vry, wat weer help om die energievlakke hoog te hou. Ek is vas oortuig dat om sportoefeninge vir leerders tydens die eksamen in te sluit, hulle beslis sal help om beter te presteer, asook hul algemene gesondheid en welstand in die proses te verbeter.

Die eksamen vir die gr. 7’s begin reeds op Dinsdag, 3 Junie, en vir die gr. 4 tot 6-leerders op Vrydag, 6 Junie. Assesserings van die gr. 1 tot 3-leerders het die week op Maandag, 26 Mei, afgeskop. Eksamen/assesserings verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders, en dit filter dikwels ook na die gesinne deur. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres voor en tydens ‘n eksamen is ‘n natuurlike reaksie, en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Oorweeg gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres, en moontlik jou eie angstigheid daaroor, hok te slaan:
  • Berei betyds voor. Help vroegtydig jou kind/ers om ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om voor te berei, tye in te sluit om te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap inkry.
  • Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer, vry van enige stressors by die huis, vir jou kind/ers om te leer.
  • Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
  • Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra gerus na afloop van elke dag vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief is, ongeag die uitslae, en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
  • Help jou kind/ers om ‘n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die eksamen daagliks inpak.
  • Vermy gejaagdheid en veral om jou kind/ers op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool af te laai, want dit maak leerders angstig.
Graag deel ek met julle die wonderlike nuus dat Katryn Silvis (Gr. 7) deur is na die finale rondte van die ATKV-Redenaarkompetisie, wat vanaf 5 tot 6 Augustus te Goudini Spa gaan plaasvind. Ons is so trots op haar ongelooflike prestasie, aangesien sy die eerste posisie vir Graad 6 en 7 Afrikaanse Huistaal in die Wes-Kaap beklee. Dit is ook ‘n eerste vir ons skool om ‘n leerder wat eerste in Wes-Kaap staan, in die finale te verteenwoordig. Hierdie is ‘n merkwaardige prestasie vir enige redenaar, maar veral as jy vanjaar eers met Redenaars begin het. Baie geluk, Katryn, en welgedaan juf. Andri, wat aan die stuur van redenaars by ons skool staan.

Ek sluit dan week 8 af. Mag julle as ‘n gesin ‘n fantastiese naweek geniet. Ek sien uit om julle vanmiddag en môre weer langs die sportvelde tuis teen Laerskool Milnerton te sien.

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Hy hamer op dieselfde aambeeld’

Die uitdrukking beteken: Hy praat pal oor dieselfde onderwerp.

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: Junie 2025

Sien asseblief die eksamenrooster vir die Junie-eksamen hier onder:
  • Leerders sal Vrydag, 25 April, die eksamenafbakening ontvang.
  • Neem asseblief kennis dat die skool vanaf Donderdag, 5 Junie, om 13:00 vir gr.1-3 en om 13:15 vir gr.4-7 sluit.
  • Die gr.7’s kan reeds vanaf Maandag, 2 Junie, om 13:15 verdaag.
  • Indien ‘n leerder afwesig op ‘n gegewe dag is, moet ‘n doktersertifikaat getoon word.
  • Vraestelle wat noodgedwonge gemis word, sal tydens die tweede sessie ingehaal word indien moontlilk.
  • Leerders mag nie skryfbehoeftes by mekaar leen nie en moet liefs hul eie skryfbehoeftes onthou.
  • Eksamenvraestelle word tussen 07:50 en 10:10 geskryf.
  • Sport- en kooroefeninge sal tydens skooltyd plaasvind.
  • ‘n Spesiale program sal opgestel en versprei word.

KULTUUR

Kwartaal 2 ISF Musiekkonsert: Donderdag, 19 Junie 2025

Dit is weer tyd vir ’n musiekkonsert! Van ons leerders het die afgelope kwartaal hard gewerk aan hul musiektalente – en wat is beter as ’n konsert om hul musiek saam met hulle te geniet? Ons seniorkoor, strykensemble en marimbagroep tree ook by hierdie geleentheid op.

Datum: Donderdagaand, 19 Junie 2025

Tyd: 17:30

Plek: Skoolsaal

Ons nooi almal hartlik uit om saam met ons te kom luister na die leerders se mooiste musiek! Wyn sal ook voor die tyd te koop wees.

Groete,

Rolene van Zyl

Jannies Talent Inskrywings

Het jy ’n talent wat jy graag met ons wil deel? Skryf in vir Jannies Talent!

Oudisies vind ná skool plaas van 28 tot 31 Julie. Gedurende hierdie tyd sal die finaliste gekies word wat dan op 25 September tydens die Jannies Talentkonsert sal optree.

Onpartydige beoordelaars sal tydens die Jannies Talentkonsert aanwesig wees om die top drie finaliste te kies en pryse te oorhandig.

Dit beloof om ’n asemrowende aand en ’n spoggeleentheid te wees — ons kan nie wag om ons talentvolle Jannies se harde werk en toewyding op hiérdie manier te vier nie!

Skryf gerus in deur die volgende skakel te volg:
https://forms.office.com/r/JYp5GEvefs?origin=lprLink

Inskrywings sluit op die laaste dag van Kwartaal 2, 27 Junie.

Kontak gerus vir Juf. Rolene vir meer inligting:
???? rolene@jvrprim.co.za

Musiek-ouervergaderings: Kwartaal 2

Die Musiekdepartment wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser/s te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines, en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.

Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Kontak asseblief die betrokke musiekonderwyser om die spesifieke lestyd en -datum, wat jóu die beste pas, te bevestig sodat die nodige voorbereiding vir die ontmoeting getref kan word. Die tydsgleuf vir ‘n musiekles is 30 minute, alhoewel ‘n afspraak nie noodwendig die volle tydsduur hoef te beloop nie.

Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.

Ek lys die musiekonderwysers se kontakbesonderhede:

Rolene van Zyl rolene@jvrprim.co.za

Ben Reynecke ben@jvrprim.co.za

Larah Eksteen info@larah.co.za

Shannon Cook shannonsjb@gmail.com

Paul Richard paulrichard07041986@gmail.com

Brent January brentjanuary1305@gmail.com

Estelle Slabber eeslabber@gmail.com

Helecia Groenewald helecia@gmail.com

Pieter Bezuidenhout bezuidenhoutpl@gmail.com

Lily van der Merwe meetlily@gmail.com

SPORT

Beoogde Projek: Sportopgradering van 2025

Sien die planne van die Sportpaviljoen hier onder:

ALGEMEEN

Vadersdag geskenkpakkies

Bederf Pa met iets spesiaals hierdie Vadersdag!

Koop ’n geskenkpakkie vir net R60 op Karri.

Moenie dit misloop nie – wys jou waardering met ’n lekker bederf! ????

Ter ondersteuning van ons gr.7-fondsinsameling.

Boekverkope: 2 & 3 Junie 2025

The Book Box kom binnekort weer 'n draai maak met hope interessante nuwe boeke! Spaar solank sodat jy vir jou 'n lekker boek of twee kan koop voor die wintervakansie.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

Hokkieuitslae: 15 - 24 Mei 2025

Hier volg die week se hokkieuitslae:

Rugbyuitslae: 24 Mei 2025

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Netbaluitslae: 23 -24 Mei 2025

Hier volg die week se netbaluitslae:

ATKV-Redenaars : Katryn behaal 1ste plek!

Baie geluk aan Katryn Silvis wat ‘n eerste plek in die Wes-Kaap tydens ATKV se semifinale ronde behaal het. Ons is sommer baie trots op jou!

Katryn neem die 5de/6de Augustus aan die nasionale finale ronde deel! Ons hou styf duimvas vir jou Katryn, gaan redeneer net soos jy kan!

Coreen Scholtz presteer in klaviereksamen

Coreen Scholtz (Graad 5) slaag die Trinity College London Graad 2-klaviereksamen met onderskeiding (87%). Dit is ’n uitstekende prestasie en ons is baie trots op haar. Welgedaan, Coreen!

Karate Kyle!

Kyle het die naweek aan die Suid Afrikaanse JKA kampioenskappe en All Africa JKA kampioenskappe in die novice afdeling in Johannesburg deelgeneem. Hy het 2de plek vir sy kumite behaal en so sy SA kleure vir karate verdien.

Jy maak ons trots Kyle! Baie geluk.

Jacques Theron presteer in "fencing"

Jacques het die afgelope naweek n goue medalje verower by die FWC II skermkuns (fencing) kompetisie in Kaapstad. Hy was die enigste o.12 seun en moes deelneem teen o.17 seuns wat baie groter en meer ervare was as hy. Ons is baie trots op hom dat hy nie geskroom het om teen die ouer seuns te skerm nie, tenspyte van hoe intimiderend dit moes wees. Hy het goeie punte asngeteken en is toe beloon met n medalje deur die organiseerders as “Beste o12.”

Wel gedaan Jacques! Ons is baie trots op jou.

Elliott skaats tot in WP-span

Elliott Coetzee is gekies vir die o.12 Westelike Provinsie Yshokkie-ontwikkelingspan vir die interprovinsiale toernooi in die Julie-vakansie.

Sy het eers in Januarie vanjaar met yshokkie begin! Wow, Elliott! Dit is ’n uitsonderlike prestasie – wel gedaan!

JANNIES GESPREKKE

Insigte, wenke en kundige leiding vir ouers wat hul kinders se groei en welstand wil bevorder.

Puberteit: Pasop! Daar is 'n tiener in jou huis...

Om met tieners te werk, is ’n spesiale fokus en ingesteldheid nodig.
Puberteit begin nie eers op 13 nie, maar lank reeds voor dit. Dis ’n lang, uitgerekte fase wat met groot sorg aangepak moet word. Die volgende paar weke val die fokus op ons tieners. Trek gerus die bril nader as dit moet!

OUD-JANNIES PRESTEER

Nuus oor ons oud-Jannies se prestasies.

Sophia Liebenberg presteer in Netbal

Baie geluk aan Sophia Liebenberg (oud-Jannie) wat op geneem is in die Willows 0.16 Weskaap netbalspan. 
 
Die nasionale All Ages(AA) vind tydens die Junie/Julie vakansie plaas in Boksburg. Ons is ongelooflik trots op jou, Sophia. 
 

Klik HIER vir Die Suidooster met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad