Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Vr 5 Junie 2026

  • Hokkie: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Skaak: Herzlia Highlands Primary School (WEG)

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 05 Junie 2026

Tyd staan beslis vir niemand stil nie, aangesien ’n Junie-maand skielik sy opwagting gemaak het. Ek deel sommer ook ’n bietjie nuttelose inligting: Junie is na die Romeinse godin van die huwelik en vrugbaarheid, bekend as Juno, vernoem, maar sy is ook bekend as die vrou van Jupiter. Die eerste semester van die jaar staan dus einde se kant toe met die eksamen wat tans aan die gang is en 'n welverdiende wintervakansie wat vir ons voorlê.

Sportnaweke vir die Gr. 4 - 7-leerders is nou eers iets van die verlede vir hierdie kwartaal met die sportnaweek wat vanaf 29–30 Mei weg te Laerskool Sunningdale plaasgevind het. Dit was ’n besige sportkwartaal met legio geleenthede vir ons leerders om aan wedstryde en toernooie deel te neem en ons skool te verteenwoordig.

Graag wil ek ons ouers en voogde hartlik bedank wat ons leerders by sport- en kulturele geleenthede so getrou ondersteun en saam met ons leerders as ware ambassadeurs van ons trotse skool optree. Ek glo ons almal hou van prestasie en die strewe na uitnemendheid by die skool sodat leerders hul volle potensiaal kan bereik. Die probleem is egter dat ons almal se volle potensiaal anders lyk. As skool wil ons seker maak ons ken ons leerders sodat ons nie ons leerders tot verby hulle potensiaal druk nie. Te veel druk van die skool en veral vanaf ouers sal veroorsaak dat hulle hul liefde vir sport asook hul selfvertroue verloor. Hou gerus wedstryde in die algemeen dop - ouers skreeu luidkeels selfs vanaf o.7-ouderdom op skeidsregters, afrigters en die kinders om ’n doel aan te teken, te duik, minder foute te maak of om ’n drie te druk, en dit op sewejariges wat nog nie eers die vaardigheidsvlakke van die sport begin bemeester het nie. Ons as volwassenes vergeet beslis dat heelwat van die leerders dalk nie eers op hoërskool aan die spesifieke sport gaan deelneem of dit eendag as ’n professionele sport sal kan beoefen nie. Die vraag is: Hoekom raak ouers as ondersteuners langs die sportveld meer as gereeld die kluts heeltemal kwyt? Ek is van mening dat die skolesportomgewing al hoe meer kompeterend raak en vir ’n ouer om sy/haar kind op die sportveld te sien meeding, verskillende emosies en verwagtinge skep. Ouers is dalk bang hul kind/ers faal in hul poging òf dit kan selfs die ouers se ego wees wat op die spel is. As volwassenes moet ons baie versigtig wees dat ons verwagtinge van ons kinders en hulle potensiaal om te presteer, nie uit balans is nie. My afrigters weet dat ons leerders die kwesbaarste is wanneer hulle die baan of veld na afloop van ’n wedstryd verlaat, veral as hulle verloor het, want hulle is moeg en hul streshormone is hoog. Dit is juis dan dat sinvolle gesprekke moet geskied eerder as om jou kind of ’n spanmaat se foute uit te wys, die skeidsregter te blameer of, erger, die afrigters se besluite met jou kind te bespreek. Baie dankie dat julle as ouers ons sal help dat ons eerder in verloor situasies ons kinders sal komplimenteer dat hulle hard geoefen het, nooit tou opgegooi het nie, ’n moeilike verloor situasie hanteer het en eerbaar opgetree het. Dit is waarom ons op ons kinders trots is. Dit maak die wêreld se verskil en so leer hulle van jongs af om hul deursettingsvermoë te ontwikkel!

Die eksamens vir die Gr. 4 tot 6-leerders het op Woensdag, 03 Junie, afgeskop terwyl die Gr. 7's al 'n rukkie met hulle eksamen aan die gang is. Die eksamenprogram verloop klopdisselboom. Assesserings van die Gr. 1 tot 3-leerders is ook die afgelope week afgehandel. Ek glo die grondslagfaseleerders is saam met hul ouers baie verlig dat dit afgehandel is. Graag wil ek die grondslagfasepersoneel komplimenteer en bedank wat elke dag voor skool en na afloop van die assesseringsessies hul leerders buitentoe geneem het om eers bietjie rond te hardloop en te speel om sodoende die assesseringsangs te bekamp. Hulle het dit so geniet en was baie jolig, wat beslis gehelp het om die assesserings met minder angs af te lê. Moderering van die grondslagfase se antwoordstelle geskied tans voordat die finale punte vir die rapporte gefinaliseer word.

Môreaand vind die Opvoedingstrust se jaarlikse veilingsdinee in die ikoniese Mount Nelson Hotel plaas waartydens fondse ingesamel word ten bate van die laerskool. Die fondse wat vanjaar geïn word, gaan vir die opwindende sportbouprojek wat aan die agterkant van die skool aangewend word. Sterkte en by voorbaat hartlike dank aan Anna Blackmore, Lyndi Kuys en hul span wat so hard gewerk het om die sukses van die glansgeleentheid te verseker.

Graag neem ek die vrymoedigheid om julle as ouers te versoek om asseblief nie op private WhatsApp-groepe boodskappe of kommentaar te plaas asook uitlatings te maak wat julle nie eers vooraf met onderwysers, afrigters of met myself opgevolg het nie. Dit lei tot onnodige ongelukkigheid en vermorsing van tyd en energie. Ons het effektiewe kommunikasiekanale en platforms by die skool om jul bekommernis aan te spreek of klagte aan te hoor sodat al die feite op die tafel geplaas kan word. Ek het begrip dat ’n ouer alles glo wat hul kind/ers vir hul vertel wat by die skool of op die sportveld gebeur. Ons moet egter onthou dat ons leerders baie jonk is en moontlik dit wat die onderwyser of afrigter sê verkeerdelik vertolk. Ek verstaan ook dat dit instinktief vir ’n ouer is om sy/haar kind altyd te glo en kant teen ’n onderwyser of ’n afrigter sal kies. Neem asseblief in ag dat daar ’n gebrek aan konteks is, want as ouer is jy nie in die klaskamer of op die sportveld nie. Jy hoor net jou kind se weergawe en dikwels laat hulle belangrike feite uit, wat ons ook nie as kwaadwillige leuens sien nie, maar dit is hoe kinders somtyds situasies ervaar. Ek is baie seker dat al die personeel en buite-afrigters net die beste belange van jou kind/ers op die hart dra en die ekstra myl vir jou kind stap om geleenthede te skep en hulle te help groei. Dit is nogal hartseer dat sommige ouers ons nie vertrou nie en so maklik krities kan wees sonder om eers al die feite in te win. Ek probeer nie hiermee foute van personeel of afrigters verdoesel nie, maar ongegronde beweringe en negatiewe boodskappe op private WA-groepies doen niemand goed nie. Baie dankie vir julle samewerking in die verband.

Ek gaan dan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind/ers:

‘’Die kameel wat deur die oog van 'n naald moet gaan’’

Die uitdrukking beteken moeilikheid wat nie oorkom kan word nie, 'n probleem wat nie opgelos kan word nie of om 'n skynbaar onmoontlike taak uit te voer.

Ek sluit dan week 9 af en mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Beplanning vir die volgende paar weke

Neem asseblief kennis dat die volgende interne program vanaf 8 Junie tydens skooltyd in werking tree. Op dae waar jou gr. 4 - 7-kind aan sport deelneem, mag hy/sy met sportdrag skool toe kom.

Maandag (8 Junie):
07:45 - 10:00 Gr. 4-7 eksamensessie
08:00 - 08:45 Junior Koor oefening in saal
10:00 - 10:20 Pouse
10:30 - 11:45 Sport: Rugby en netbal o.10 - o.13
12:00 - 12:15 Pouse
11:45 - 12:45 Sport: Rugby en netbal o.7 - o.9
12:15 - 13:15 Kultuur: strykensemble oefen
13:00 Skool verdaag GF
13:15 Skool verdaag ISF

Dinsdag (9 Junie):
07:45 - 10:00 Gr. 4-7 eksamensessie
10:00 - 10:20 Pouse
10:30 - 11:45 Sport: Hokkie o.10 - o.13
12:00 - 12:15 Pouse
11:45 - 12:45 Sport: Hokkie o.7 - o.9
12:15 - 13:15 Kultuur: Senior Koor
13:00 Skool verdaag GF
13:15 Skool verdaag ISF

Woensdag (10 en 17 Junie):
10 Junie 07:45 - 10:00 Gr. 4-7 eksamensessie
17 Junie 09:15 - 10:00 Gr. 6 en 7: Hoofleiertoesprake vir hoofseun en -dogter; graad 7's stem direk na hierdie toesprake in hul klasse
10:00 - 10:20 Pouse
10:30 - 11:45 Sport: Netbal en Rugby o.10 - o.13
17 Junie 11:30 - 12:15 Graad 4 - 7: Bekendmaking van hoofseun en -dogter 2026
12:00 - 12:15 Pouse
11:45 - 12:45 Sport: Rugby en netbal o.7 - o.9
12:15 - 13:15 Kultuur: Senior Koor
13:00 Skool verdaag GF
13:15 Skool verdaag ISF

Donderdag (11 en 18 Junie):
11 Junie 07:45 - 10:00 Gr. 4-7 eksamensessie
18 Junie 08:00-10:00 ISF-musiekkonsertoefening
10:00 - 10:20 Pouse
10:30 - 11:45 Sport: Hokkie o.10 - o.13; Landloop; Skaak o.7-o.9
18 Junie 10:30 - 11:45 Kultuur: Junior koor en musiekensemble
12:00 - 12:15 Pouse
11:45 - 12:45 Sport: Hokkie o.7 - o.9
12:15 - 13:15 Kultuur: Houtblaasensemble
13:00 Skool verdaag GF
13:15 Skool verdaag ISF
18 Junie 18:00 - 19:00 Musiekkonsert in skoolsaa
Vrydag (12 en 19 Junie):
12 Junie-eksamen eindig - 07:45 - 10:00 Gr. 4-7 eksamensessie
12 Junie 08:00-08:45 Junior kooroefening
19 Junie 08:00-09:00 GF-musiekkonsert
10:00 - 10:20 Pouse
10:30 - 11:45 Kultuur: Senior kooroefening
12:00 - 12:15 Pouse
19 Junie 12:20 - 13:00 Sporttoeroorhanding
13:00 Skool verdaag GF
13:15 Skool verdaag ISF

Laaste week van skool: 22 - 26 Junie
*Skool verdaag 13:00 en 13:15
*Sporttoer (senior spanne)
*Donderdag, 25 Junie, Markdag en Sivvies
*Vrydag, 26 Junie - Skool sluit om 10:30 (elektroniese rapporte) en Sivvies

KULTUUR

Koffie-en-Beskuit Konsert: Donderdag, 11 Junie 2026

Ons volgende oggendkonsert vind Donderdagoggend, 11 Junie, in die GROOT MUSIEKKLAS plaas.

Die volgende leerders tree op:
Floris Muller - Klavier
Frannie Samuel - Klavier
Sebastian Scott - Klavier
Elsie Janse van Rensburg - Klavier
Emma Wilke - Viool
Joshua du Toit - Kitaar
Eduard Hoogendyk - Klavier
Cornelia Opperman - Blokfluit
Mila Maree - Klavier
Cara Scholtz - Klavier
Francois Maree - Klavier
Pierre du Toit - Klavier
Izak Steyn - Klavier
Emma Kuys - Klavier

Daar word ook kunswerke van hierdie leerders uitgestal, waarna julle gerus voor óf na die konsert kan kyk.

Hier is enkele algemene reëlings rondom die verrigtinge:
* Deelnemende leerders meld stiptelik om 07h30 in die groot musiekklas met hul instrument aan. Juf Bea en/of mnr Ben sal daar wees om hulle te ontvang en te help om instrumente te stem.
* Elke deelnemende leerder bring een of twee maatjies saam om die konsert by die woon. Ons het ongelukkig nie spasie om meer leerders te akkommodeer nie.
* Ouers is welkom om te kom luister - bring gerus koffie saam!
* Gebruik asb die deur by die Nasorg om in te kom - die senior koor oefen in die saal, en ons wil hulle nie steur nie.

Tyd: 08h00 - 08h30
Plek: Groot Musiekklas

MUSIEKKONSERTE: 18 en 19 Junie

Dit is weer daardie tyd van die kwartaal om musiekkonsert te hou! Ons nooi almal uit om die konsert by te woon en die musiekleerders te ondersteun. Dit beloof om pragtige konserte te wees met optredes deur ons kore, houtblaasensemble, strykensemble, kleiner ensembles, en individuele items.
 
Jou kind se musiekonderwyser sal jou in kennis stel indien jou kind gekies is om by een van hierdie konserte op te tree. 
 
Donderdag, 18 Junie: Graad 4-7’s
 
Die konsert op Donderdag, 18 Junie, is vir ons Intersenfase musiekleerders. Die volgende ensembles neem deel:
 
* Senior Koor
* Houtblaasensemble
* Strykensemble
* Ander kleiner ensembles
 
Tyd: 18h00 - 19h00
Plek: LS JvR Skoolsaal
Drag: Formele Skooldrag
 
Vrydag, 19 Junie: Graad 1-3’s
 
Die konsert op Vrydag, 19 Junie, is vir ons Grondslagfase musiekleerders. Ons junior koor en gekose musiekleerders tree op. 
 
Tyd: 08h15 - 09h00
Plek: LS JvR Skoolsaal
Drag: Formele Skooldrag
 

Hou die relevante WA-groepe dop vir meer inligting, of kontak gerus vir juf Rolene indien daar enige vrae is.

Skoolkonsert 2026: 14 -17 September 2026

Ons is baie opgewonde oor ons skoolkonsert wat hierdie September plaasvind! Elke leerder word versoek om ’n bedrag van R200 by te dra om die kostes van kostuums en grimering te help dek. Leerders sal hul kostuums ná afloop van die konsert kan hou.

Karri sal vanaf Dinsdag, 28 April, tot en met September beskikbaar wees vir betalings.

Baie dankie vir almal se ondersteuning en samewerking om hierdie produksie moontlik te maak.

ALGEMEEN

VAKANSIESORG: VAKANSIE HANDJIES

Dit is vir ons baie lekker om aan te kondig dat me. Felicity Beerwinkel, wat tans by die skool se nasorg werk en reeds sedert 2016 by die vakansiesorg betrokke is, die vakansiesorg van nou af gaan bestuur.

Die vakansiesorg was vir die afgelope paar jaar in Loraine van Vuuren se bekwame hande. Die vakansiemaats sal haar baie mis, maar ons weet dat die vakansiesorg, soos voorheen, sommer baie goed bestuur sal word.

Datums: Maandag, 29 Junie, tot Maandag, 20 Julie.

Tye en koste: Halfdag: 07:30 – 13:00 vir R100; en voldag: 07:30 – 17:00 vir R200.

Kos: Maats bring hul eie kos. Daar is wel elke dag bak-en-brou en ’n kreatiewe aktiwiteit.

Spanlede: Hierdie bekende gesigte neem net so oor by Loraine van Vuuren.

As jy wil inskryf, VOLTOOI HIERDIE VORM en WhatsApp dit teen Vrydag, 19 Junie 2026, terug aan Felicity met die datums wat jou kind/ers vakansiesorg gaan bywoon, na 073 856 6537.

Leerders Programmeer Hul Pad deur Kultuur en Erfenis

Op 28 Mei 2026 het 145 leerders aan 'n opwindende Robotikadag deelgeneem waar hulle die vaardighede wat gedurende kwartaal 1 en 2 aangeleer is, in 'n praktiese en uitdagende omgewing toegepas het.

Die dag se uitdaging was gebaseer op die internasionale tema van die World Robot Olympiad (WRO) 2026, naamlik "Robots Meet Culture". Die uitdagingsmat het 'n erfenisgebied uitgebeeld waar robotte verskillende missies moes voltooi om kulturele en historiese elemente te verken en te beskerm.

Leerders het in spanne gewerk om hul robotte te programmeer om 'n reeks missies suksesvol uit te voer. Elke missie het 'n spesifieke puntwaarde gehad en spanne is volgens die amptelike WRO-puntestelsel beoordeel. Die span wat die meeste missies suksesvol voltooi het, het die hoogste puntetelling behaal. Hierdie wenners van elke graad sal tydens ons laaste saalbyeenkoms aangekondig word.

Die uitdaging het veel meer as net programmering behels. Leerders moes hul wiskundige kennis voortdurend toepas deur afstande te skat, metings te doen en meetkundige beginsels te gebruik om die robot se bewegings akkuraat te beplan. Selfs die kleinste fout in afstand of hoek kon veroorsaak dat 'n missie onsuksesvol was, wat noukeurigheid en kritiese denke vereis het.

Een van die mees opwindende aspekte van die dag was die probleemoplossing wat plaasgevind het wanneer robotte nie soos beplan beweeg het nie. Spanne moes saamwerk, hul programme aanpas, oplossings toets en weer probeer totdat die gewenste resultate bereik is. Hierdie proses het deursettingsvermoë, kreatiwiteit en spanwerk bevorder.

Die Robotikadag het aan leerders die geleentheid gebied om die vaardighede van die toekoms in 'n praktiese konteks te ontwikkel. Benewens kodering en robotika het hulle ook kommunikasie-, spanwerk- en probleemoplossingsvaardighede versterk, vaardighede wat noodsaaklik is in die moderne wêreld.

Die dag was 'n groot sukses en het weereens bewys dat robotika 'n uitstekende platform bied waar tegnologie, wiskunde, kreatiwiteit en spanwerk integreer. Die entoesiasme, toewyding en innovasie wat die leerders getoon het, het van die Robotikadag 'n besondere ervaring gemaak wat nog lank onthou sal word.

Verlore Goedere Belangrike Kennisgewing

Neem asseblief kennis dat elke leerder self verantwoordelik is vir sy/haar persoonlike besittings by die skool. Geen onderwyser of die skool aanvaar verantwoordelikheid vir verlore of vermiste items nie. Alle verlore goedere wat opgetel word, word na die verlore goedere-hoekie geneem waar ouers self daarna kan gaan soek.

Ons doen ons bes om hierdie area netjies en georganiseerd te hou, ook ná skoolure. Ons vra daarom dat ouers en leerders asseblief alles weer netjies terugpak indien daar na items gesoek is.

Neem ook kennis dat geen leerder of ouer ander leerders se besittings mag neem indien hul eie items nie gevind word nie. Respekteer asseblief ander se eiendom te alle tye.

Dankie vir jul samewerking en ondersteuning.

Vadersdag Geskenkpakkies

Jan Kas belangrike kennisgewing

Neem asseblief kennis dat Jan Kas vanaf 01 - 18 Junie gedurende die volgende tye oop sal wees:

Maandae & Woensdae: 07:00 - 08:00
Dinsdae & Donderdae: 12:30 - 13:30
Vrydae: GESLUIT

Jan Kas sal op 18 Junie sluit vir voorraadopname vir die res van die kwartaal.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORTUITSLAE

Hokkie-uitslae van 29 Mei 2026

Hier volg die week se hokkie-uitslae:

Netbaluitslae van 29 Mei 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Rugbyuitslae van 30 Mei 2026

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet