Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Vr 7 Augustus 2026

  • TOETS: Wiskunde Gr.4 ,6 & 7
  • World Robot Olympiad Kompetisie (Kodering en Robotika)
  • TOETS: NWT Gr.5

So 9 Augustus 2026

  • Nasionale Vrouedag

Ma 10 Augustus 2026

  • Vakansiedag

Di 11 Augustus 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert

Vr 14 Augustus 2026

  • Skool verdaag vroeër
  • Hokkie: Dirkie Uys (TUIS) - Almal
  • TOETS: Wiskunde Gr.5
  • TOETS: NWT Gr.4, 6 & 7

Sa 15 Augustus 2026

  • Netbal: Dirkie Uys (TUIS) - Almal
  • Rugby: Dirkie Uys (TUIS) - Almal

So 16 Augustus 2026

  • Senior Kooroptrede: Tygerberg Children's Choir: In Harmony

Di 18 Augustus 2026

  • Hokkie: Durbanvilletoernooi (o.9 Seuns & Dogters)

Wo 19 Augustus 2026

  • Rugby: De Tyger
  • Netbal: Van Riebeeckstrand (TUIS) - Almal
  • Boekverkope: Exclusive Books

Vr 21 Augustus 2026

  • Netbaltoernooi (o.7-o.9): Tableview
  • Assessering: SW


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 24 Julie 2026

Dit is my groot voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel die week hartlik terug by die skool na ’n welverdiende wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die drie weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai en dat julle slaggereed is vir nog ’n besige kwartaal propvol opwindende aktiwiteite. Daar is verder heelwat sport- en kultuurgeleenthede (Konsert & Eisteddfod) om na uit te sien, veral die jaarlikse interskole wat vanjaar vir die eerste keer teen Laerskool Welgemoed vanaf 15 tot 16 Augustus tuis plaasvind, asook die tweejaarlikse konsert vanaf 14–17 September.

Die Suid-Kaap-sporttoer wat vanaf 22–26 Junie 2026 plaasgevind het, was weereens ’n reuse sukses en die Gr. 6- & 7-leerders wat die toer meegemaak het, praat nog steeds met lof oor die wonderlike ervaring, veral om teen ander skole buite ons onmiddellike area te speel, asook die interessante besienswaardighede wat hulle besoek het. Ons het vanjaar weer eens nie toegelaat dat die leerders hulle selfone saam op toer neem nie. Hulle het dus saans na die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ’n baie lang tyd gaan onthou en koester. Weer eens baie dankie aan die personeel (mnre. Leon, André, Keenen en juff. Ischké, Shahneé, Sharon, Suné en afrigter Patrick) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle welstand omgesien het. Baie dankie en geluk, mnr. Leon, vir al die puik beplanning en reëlings om die spesiale sporttoer moontlik te maak.

Op Dinsdag, 21 Julie, het ons Jannies en onderwysers met groot opwinding terug skool toe gekeer. Die eerste dag van kwartaal 3 was tradisioneel met ’n saalbyeenkoms begin, waartydens ek almal amptelik na die heerlike wintervakansie terug kon verwelkom. Juf. Ilse-Marié (gr. 4) het die saal met ’n puik boodskap oor moed en deursettingsvermoë aan ons leerders geopen. Normaalweg word die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders kwartaalliks op die laaste dag van die kwartaal bekend gemaak. Weens die gr. 7’s se deelname aan die Suid-Kaap-sporttoer wat vanaf 22–26 Junie plaasgevind het, kon ons kwartaal 2 se Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders eers op die dag wat die skool vir die derde kwartaal open, bekendmaak en hul welverdiende sertifikate oorhandig. Baie geluk aan die volgende gr. 7-leerders (alfabeties) met jul harde werk en toewyding:
  • Anabella Boshoff
  • Jamie Jordaan
  • Karla Louw
  • Bella Naylor
  • Jana Nel
  • Ghia Pereira
  • Anna Rabie
  • Cato Terblanche
  • Ella van der Walt
  • Dané Walker
Tydens die saalbyeenkoms van Dinsdag, 21 Julie, is die 2026 Hoofdogter en Hoofseun, naamlik Mila Malan en Dane Botha, se simboliese aansteek van hul hoofleierbalkies deur hul onderskeie ouers behartig. Dit is altyd ’n baie spesiale geleentheid en baie dankie aan Elzette en Francois Malan (Mila se ouers) en Lené en Johan Botha (Dane se ouers) wat die saalbyeenkoms bygewoon het. My beste wense vergesel ons hoofleiers vir die groot taak wat op hulle wag.
Tans is ons o.13A-tennisspanne (seuns en dogters) besig om vanaf 20 Julie aan die prestige Sun City-tennistoernooi deel te neem. Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogter- en seunspanne vergesel.

Gedurende die laaste week van die vakansie was daar netbal- en rugbyklinieke vir ons leerders aangebied. Baie dankie aan ons personeel wat dit moontlik gemaak het.

Die sportopgraderingsprojek aan die agterkant van die skool vorder goed en ons kan amper nie meer wag dat dit gebruik kan word nie.
Die gr. R-badkamers by Huppelland is oor die wintervakansie opgegradeer en lyk ongelooflik. Baie dankie aan al die Huppelland-ouers vir jul donasies om die onbegrote projek moontlik te maak. Baie dankie aan Petro en Fanie Kruger (ouers by Huppelland en by Laerskool) wat aan die stuur van hierdie projek gestaan het – ons het groot waardering vir jul tyd en opoffering! Hartlike dank aan Louise en haar span wat so hard werk om Huppelland so mooi op te gradeer tot ’n wêreldklasinstansie!
Dit is dan vir ons ’n groot voorreg om ons nuwe nasorghoof, juf. Victoria Bampende (née April), aan julle bekend te stel. Juf. Victoria het op Dinsdag, 21 Julie, by ons begin en ons is baie opgewonde dat sy by ons nasorgspan aangesluit het. Juf. Victoria was ’n klasjuffrou by Disa Park Pre-Primêre Skool en het oor die jare die skool ook gehelp om hul nasorg te bestuur. Sy is ’n opgeleide onderwyseres en het ’n omgeehart vir kinders en is reeds bekend en geliefd deur van ons ouers. Sy bring nie net ervaring nie, maar ook hope energie, vars idees en liefde. Ons wens vir Victoria alle voorspoed toe met haar belangrike taak by ons skool.
Graag wil ons vir juf. Shahneé (gr. 6) hartlik gelukwens met haar verlowing gedurende die afgelope vakansie aan Cole. Ons wens vir julle 'n wonderlike en geseënde toekoms saam.

Ek gaan die kwartaal weer voort om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind/ers:

‘Honger is die beste kok’

Die uitdrukking beteken dat as jy werklik honger is, smaak alle kos lekker en dan is ’n honger mens nie sommer vol fiemies (voorkeure) nie.

Ek sluit dan die eerste week van die nuwe kwartaal af. My beste wense vergesel ons skoolgemeenskap vir ’n opwindende kwartaal 3! Geniet julle naweek!

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

Fondsinsameling vir ons Terreinwerkers

Dit is met gemengde gevoelens dat ons aankondig dat vier van ons geliefde terreinwerkers, aan die einde van die jaar, by ons skool klaarmaak. Christopher, Elliam, Matthews en Patrick gaan, wanneer die skool vir Desember-vakansie sluit, terugkeer huis toe. Hulle is almal al meer as 16 jaar lank by die skool en is in murg-en-been Jan van Riebeeckers. Hulle is vir ons ontsettend kosbaar en het daagliks gehelp om ons skool veilig en skoon te hou. Hulle was en is altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop om te verseker dat alles wat ons aanpak, hetsy dit akademiese verryking, kultuurgeleenthede, sportdae of sosiale funksies is, vlot verloop.

Hierdie vier terreinwerkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Hulle is geliefd onder leerders, personeel, ouers en selfs mense wie om en naby die skool woon en werk. Ons is hulle oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Ons gaan hulle baie mis.

Gedurende hulle tyd by die skool het hulle hard gewerk om hul families op verskeie maniere te ondersteun. Elkeen het al vir hulself 'n huis tuis gebou en maak vir 'n geruime tyd planne om te kan hervestig en herenig met hul families. Die tyd het nou aangebreek waar dit sin maak om die volgende stap te neem. Ons is saam met hulle opgewonde vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en wens hulle almal voorspoed en sukses toe, maar is ook hartseer om hulle te verloor.

Die skool en Opvoedingstrust het reeds op verskeie maniere ingetree om hulle te ondersteun met hul hervestigingsplanne om sodoende hulle te verseker dat hulle in 'n beter posisie sal wees om 'n nuwe lewe tuis te bou. Ons wil hulle graag ondersteun sodat hulle kan voortbou op dit wat hulle reeds vermag het en help dat hulle en hul families tuis kan floreer.

Elkeen van hierdie vier manne het 'n besonderse bydra tot ons skool se sukses gelewer. Ons is hulle oneindig dankbaar en wil graag die geleentheid vir ons ouers gee om te help deur 'n bydrae tot hul hervestigingskostes te maak. Ons sal dus, vir die volgende drie maande, 'n spesiale fondsinsameling op Karri oopmaak sodat ouers vir wie die saak naby aan die hart lê, 'n geleentheid bied om 'n donasie te maak.

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Studiekursus: Kwartaal 3

KULTUUR

Skoolkonsert 2026: 14 -17 September 2026

Ons is baie opgewonde oor ons skoolkonsert wat hierdie September plaasvind! Elke leerder word versoek om ’n bedrag van R200 by te dra om die kostes van kostuums en grimering te help dek. Leerders sal hul kostuums ná afloop van die konsert kan hou.

Karri sal vanaf Dinsdag, 28 April, tot en met September beskikbaar wees vir betalings.

Baie dankie vir almal se ondersteuning en samewerking om hierdie produksie moontlik te maak.

JUNIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums

4 Augustus: Reddam Sings (Reddam Constantia) @ 18h00. Daar sal busvervoer en genoeg toesig wees. Leerders vertrek 16h00 met die bus na Reddam, en ons beveel sterk aan dat alle koorlede van busvervoer gebruik maak. Dit is altyd lekker vir die gees en luim van die groep!

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebbeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (LS JvR Skoolsaal) @ tbc

8 September: Kaapse Afrikaanse Eisteddfod. Die spesifieke tyd en venue is nog nie deur die Eisteddfod bevestig nie.

Teken hierdie belangrike datums asseblief aan. Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en ons wil graag met ’n volledige koor optree!

Hou die Junior Koor WA-groep dop vir meer inligting rakende die onderskeie konserte. Kontak gerus vir Juf Bea indien daar enige vrae is.

SENIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums 

Teken hierdie belangrike datums aan:

3 Augustus: Tafelberg Koorfees (Hoërskool Jan van Riebeeck) @ 18h00

16 Augustus: Tygerberg Children’s Choir: In Harmony (Kaapstadse Stadsaal) @ 15h00

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (LS JvR Skoolsaal) @ tbc

Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en dit is altyd lekker om met ’n volledige koor op te tree!

Hou die Senior Koor WA-groep vir meer inligting rakende die onderskeie konserte dop. Kontak gerus vir juf. Rolene indien daar enige vrae is.

ALGEMEEN

2025 Prysuitdeling Trofees Terugbring

Ons herinner graag alle ouers wie se kinders tydens die 2025 Prysuitdeling 'n trofee ontvang het, om die trofee teen 31 Augustus 2026 na juf. Marecia terug te stuur.

Neem asseblief kennis dat dit die ouers se verantwoordelikheid is om die leerder se naam op die trofee se plaatjie te laat graveer voordat dit teruggestuur word.

Baie dankie vir die samewerking om te verseker dat die trofees betyds is vir vanjaar se prysuitdeling.

Kwartaal 3: Welwillendheid

Hierdie kwartaal is ons fokus om diere te help!

Wat: Bring kat- en hondekos skool toe.
Wanneer: 28 Julie - 7 September 2026
Waar: By jou registerklas

Die Boekbende Skop Weer Af

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

Jan Kas: Swart Woolworthssakke

Baie dankie aan almal wat gereeld sakke vir Jan Kas skenk, dit werk baie goed! Indien julle ekstra Woolworthssakke by die huis het en bereid is om dit te skenk, hou asb. aan om dit na Jan Kas of Megan en Sue-Ann se kantoor te stuur. Ons het altyd nog nodig. Baie dankie!

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Netbaluitslae van 22 Julie 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Skaakuitslae van die week

Christina du Toit en Pieter-Steph Bothma het gedurende die vakansie aan die Skaak SA Ope deelgeneem. Christina het 'n 30ste plek in haar ouderdomsgroep behaal, terwyl Pieter-Steph 'n 32ste plek verower het. Baie geluk met julle prestasies!

KULTUUR

Spraak-Eisteddfod: Uitslae

Baie geluk aan die volgende leerders met hul Spraak-Eisteddfodd uitslae.

Gerhard Conradie Gr.7:
Hoogste Lof 90%+ onvoorbereide lees
Lof ++ 87%-89% gedig

Willem du Toit Gr.2
Lof 80%-85% gedig

Ook aan die volgende leerders wat medaljes ontvang:

Sangafdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod

Ons wens die volgende leerders hartelik geluk met hul uitstekende prestasies by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod wat in Mei plaasgevind het:

Hoogste Lof
Alida Loubser
Pieter Rademeyer x3
Christina du Toit
Coreen Scholtz x3
Antjie Samuel x3

Lof
Alida Loubser
Kitty Partner
Dirkie van Eeden
Noa Rademan

Ons wens ook vir Coreen Scholtz (Sang, Graad 6) en Pieter Rademeyer (Sang, Graad 7 en Afrikaanse Lirieke) baie geluk met die toekenning van onderskeidelik een en twee silwer medaljes vir hul puik prestasies.

INDIVIDUEEL

Aiyana presteer in Akrobatiese Solo-dans

Aiyana Alfredo (Gr.7M) het op 27 Junie die Wes-Kaap verteenwoordig by die Akrobatiese Solo-dans Sport Assosiasie se Nasionale Kampioenskappe in Johannesburg. 
Sy het ’n telling van 8.85 uit 10 vir haar vertoning behaal, ons wens haar geluk en is baie trots op haar prestasie!

Coreen presteer in klaviereksamen

Coreen Scholtz (Graad 6) slaag die Trinity College London Graad 3 klaviereksamen met onderskeiding, 89%.  Dit is 'n uitstekende prestasie, en ons is baie trots op haar. Welgedaan, Coreen!

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet