Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Vr 5 Junie 2026

  • Hokkie: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Skaak: Herzlia Highlands Primary School (WEG)

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 15 Mei 2026

Moeder Natuur het ons die afgelope week weer gewys waartoe sy in staat kan wees met hewige storms wat in die Moederstad en omgewing, asook regoor die Wes-Kaap, plaasgevind het. Ongekende stormweer het verwoestende skade in die stad en veral oor die provinsie aangerig, met oorstromings, ontwortelde bome wat paaie versper het, beskadigde eiendom, asook kragonderbrekings. As gevolg van die stormskade aan verskeie skole en infrastruktuur het die WKOD besluit om alle skole in die Wes-Kaap op Dinsdag, 12 Mei, te sluit om die veiligheid van leerders, ouers en personeel te verseker. Verskeie skole het astronomiese skade gely, met dakplate en teëls wat weggewaai het, en baie het oorstroom. Met genade van Bo is ons skool van groot stormskade gespaar, met slegs enkele nuwe lekplekke wat hul verskyning gemaak het. Ek hoop en vertrou dat die res van ons skoolgemeenskap ook van ernstige stormskade gespaar is, en ek is baie dankbaar dat leerders en personeel veilig weer op Woensdag, 13 Mei, by die skool opgedaag het.

Op Woensdagaand, 07 Mei, het ons junior- en senior kore aan die Massa-reünienaweek se Musiekaand te die N.G. Kerk Tamboerskloof opgetree. Hierdie ongelooflike musiekaand is deur HS Jan van Riebeeck as deel van hul eeufeesvieringe aangebied. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om dr. Lestie Hughes en haar span hartlik geluk te wens met ’n baie suksesvolle glansaand van betowerende musiek en sang. Die musiekaand is opgevolg met ’n stylvolle eeufeesdinee en veiling wat Vrydagaand, 08 Mei, in die hoërskool se saal aangebied is. Baie geluk, mnr. Pieter Rademeyer en span, met die suksesvolle gala-dinee wat boekdele spreek van ’n uitnemende skool met groot planne om vir die volgende honderd jaar na nog hoër hoogtes te bereik. Die eeufeesvieringe is dan die naweek met sport afgesluit, en ons sportspanne het weereens hul staal teen LS Noord-Eind gewys.
Ons sportspanne speel altyd om te wen, want ons oefen hard en is toegewyd. Dit is tog lekker om te wen en dit gee sommer almal se selfvertroue en gemoed ’n lekker hupstoot. Die probleem met oorwinnings, veral teen swakker spanne of kleiner skole, is dat ons leerders nie sommer iets daaruit leer nie. Hoe eienaardig dit ook al mag klink, glo ek dat ’n mens ongelukkig dikwels net leer as jy verloor. As opvoeders en ouers moet ons ons leerders/kinders leer om ’n verloor te hanteer, want die lewe gaan nie spreekwoordelik die rooi tapyt met oorwinnings en suksesse uitrol nie. Dit is ook nie so maklik om leerders in ’n klaskamer te leer hoe om mislukkings of teleurstellings te hanteer en te verwerk nie. Die sportveld is ’n baie goeie leerskool, want dit bied meer gevalle van verloor as sukses. Hier speel die opvoeders, afrigters en julle as ouers ’n kardinale rol om ons leerders te help om ’n verloor en teleurstelling te hanteer. Met ’n verloor word ware karakter getoets om te sien of ons uit ons foute kan leer, kan bepaal waar ons moet verbeter en dan daarop kan verbeter, of ons net eenvoudig tou kan opgooi. Hier leer leerders waardevolle lewenslesse van deursettingsvermoë, spanwerk, omgee en veerkragtigheid wat hulle bemagtig om die hoërskool- en volwasse lewe met ’n drafstap te hanteer. Graag versoek ek ouers om nie te veel druk op hul kinders te plaas om net te wen nie en hulle dan nog te beloon as hulle wen of ’n drie druk of ’n doel aanteken. Wees versigtig dat jul kinders nie later gaan dink dat julle hulle net liefhet oor wen nie.

Dieselfde beginsel geld vir akademiese prestasies waar ons as ouers dikwels baie van ons kinders verwag. In my loopbaan (as skoolhoof) het ek al soveel keer gesien hoe heelwat ouers net die Top 10-sertifikate, wisseltrofees, klasposisies, vakpryse, Dux-leerder, prefek, hoofseun en hoofdogter as suksesse tel. Later besef ’n mens gou, sodra jou kind hoërskool en universiteit toe gaan, dat dit bloedweinig tel. Soos die skrywer, Annelie Botes, in haar boek Voetstoots stel, moet die hoofvak of fokus eerder op integriteit wees. Dit is die vak wat ’n mens moet slaag en/of in moet presteer, en die ander goed beteken eintlik niks nie. Wees trots as jou kind met die onsigbare Victor Ludorum vir integriteit en eerlikheid wegstap – dit is ’n vak wat ons almal moet slaag!

Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

“’n Lansie vir iemand breek”

Die uitdrukking beteken om ’n goeie woord vir iemand te doen, of vir iemand op te kom, of vir iemand in die bresse te tree om iemand te verdedig.

Ek sluit dan week 6 af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet. Sien uit om julle die komende naweek tuis langs die sportvelde teen Laerskool Mikro te sien.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Junie-eksamen 2026

Sien belangrike inligting rakende die Junie-eksamen asook die rooster hier onder:

KULTUUR

Skoolkonsert 2026: 14 -17 September 2026

Ons is baie opgewonde oor ons skoolkonsert wat hierdie September plaasvind! Elke leerder word versoek om ’n bedrag van R200 by te dra om die kostes van kostuums en grimering te help dek. Leerders sal hul kostuums ná afloop van die konsert kan hou.

Karri sal vanaf Dinsdag, 28 April, tot en met September beskikbaar wees vir betalings.

Baie dankie vir almal se ondersteuning en samewerking om hierdie produksie moontlik te maak.

Kaapstadse Opera bied CARMEN aan!

Die Kaapstadse Opera bied Georges Bizet se wêreldberoemde opera Carmen in die Kunstekaap-operahuis aan. Op 28 en 30 Mei is daar spesiale verkorte vertonings teen slegs R80. Maak gerus van hierdie wonderlike geleentheid gebruik om jou kind aan die wonder van opera bekend te stel!

Datum en Tyd:
* 28 Mei @ 11h00
* 30 Mei @ 14h00

Koste: R80
Kaartjies: Webtickets - CARMEN

ALGEMEEN

Kleredrag: leerders

As gevolg van die koue- en natweerstoestande het ons besluit om 'n reƫnbaadjie as deel van ons skooldrag te ondersoek. Ons sal laat weet sodra ons gereed is om hierdie baadjie in Jan Kas te verkoop. Die skool se wapen sal hierop aangebring word om eenvormigheid in ons skooldrag te verseker. Die soft shell-baadjie sal steeds deel van die skooldrag vorm.

In die interimperiode mag leerders donkerblou reƫnbaadjies dra om hulle droog en warm te hou. Moet asseblief nie nou onnodig 'n baadjie gaan koop nie. Ons sal binnekort kennis gee van die verwikkeling.

Ons tree vanaf hierdie kwartaal streng op om ons kleredragbeleid te eerbiedig. Hierdeur verseker ons eenvormigheid en gesonde dissipline. Ons besef dit sal 'n tydperk neem om netjies en korrek aan te trek daarom gesels die personeel weekliks met die leerders tydens saalbyeenkomste.

Ons waardeer die samewerking om te sorg dat ons mooi skooldrag met trots gedra word.

Sien die kleredragbeleid by die skakel hier onder:
Kleredragbeleid

Jan Kas belangrike kennisgewing

Neem asseblief kennis dat Jan Kas vanaf 01 - 18 Junie gedurende die volgende tye oop sal wees:

Maandae & Woensdae: 07:00 - 08:00
Dinsdae & Donderdae: 12:30 - 13:30
Vrydae: GESLUIT

Jan Kas sal op 18 Junie sluit vir voorraadopname vir die res van die kwartaal.

Jan Kas: Swart Woolworths-sakke

Baie dankie aan almal wat gereeld sakke vir Jan Kas skenk, dit werk baie goed! Indien julle ekstra Woolworths-sakke by die huis het en bereid is om dit te skenk, hou asb. aan om dit na Jan Kas of Megan en Sue-Ann se kantoor te stuur. Ons het altyd nog nodig. Baie dankie!

Boek Buddies kom kuier: 18 Mei 2026

Ons Gr.R–3-leerders woon die Boek Buddies Vertoning by opĀ 18 Mei 2026 om 10:45Ā in dieĀ Laerskool Jan van Riebeeck-skoolsaal.
Kom geniet ’n prettige oggend vol stories, verbeelding en kreatiwiteit soos geliefde kinderboeke op die verhoog tot lewe kom!

Boeliebief-Blokkies Uitdaging!

Ons skool is opgewonde om hierdie kwartaal ’n welwillendheidsprojek aan te bied om Laerskool Prestwich te ondersteun – ’n minderbevoorregte skool wat hulp nodig het om kos aan hul leerders te voorsien.
Ons gaan blikkies boeliebief insamel, en dit sommer in ’n prettige kompetisie tussen die klasse omskep!
Hoe werk dit?
⭐ Vir elke 5 blikkies boeliebief wat ’n klas insamel, kry hulle 1 blokkie om in te kleur.
⭐ Hoe meer blikkies ingesamel word, hoe voller raak die klas se blokkaart!
šŸ† Die klas met die meeste blokkies wen:
šŸ• ’n Pizza-partytjie
šŸ‘• ’n Sivviedag
šŸ“… Datums:
Begin: 20 April 2026
Sluit: 8 Junie 2026

šŸ’› Elke blikkie maak ’n verskil. Kom ons werk saam en help waar dit regtig nodig is!

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

Veilingsdinee: 6 Junie 2026

Liewe Ouers
Ons nooi julle graag uit om nou julle kaartjies vir die veilingsdinee te bespreek.

Besoek gerus die skakel vir meer inligting:
https://share.google/9rKtH6Bvrg6YZU5DS

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Rugbyuitslae: 9 Mei 2026

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Hokkie-uitslae: 8 Mei 2026

Hier volg die week se hokkie-uitslae:

Netbaluitslae: 9-13 Mei 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

SPORT JANNIE VAN DIE WEEK

KULTUUR

ATKV-Redenaars terugvoer

Baie geluk aan die volgende Jannies wat deurdring na ATKV-Redenaars se semi-finale ronde!

Izak Steyn
Henry Jordaan
Antjie Samuel
Alida Loubser

Hulle neem die 27ste/28ste Mei deel, ons hou styf duimvas en is reeds baie trots op elkeen van julle.

INDIVIDUEEL

Jannies op die TV!

Die nuwe kykNET-reeks, Beter as Gister, begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET. Gerhard Conradie en Luna Coetzer speel in hierdie reeks.

OUD-JANNIES PRESTEER

Chrystal en haar span 2026-kampioene vir Synchronized Figure Skating!

Ons is baie opgewonde om te deel dat Chrystal Conradie en haar span, Team Velocity, goud by die Nasionale Kampioenskappe verower het! Hulle is die 2026-kampioene vir Synchronized Figure Skating! Team Velocity gaan later vanjaar in Europa deelneem.

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet