Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 09 Mei 2025

Ek glo dat almal die meevallertjie van ‘n ekstra vakansieweek (week 4 van kwartaal 2) terdeë geniet het en almal is slaggereed dat ons weer na ‘n normale skoolprogram en –roetine kan terugkeer. Na al die vakansiedae het week 5 skielik weer 5 volle werksdae, propvol aktiwiteite.

Dus het die afgelope week vanaf Maandag, 05 Mei op ‘n hoë noot afgeskop met sportwedstryde (05 & 06 Mei) teen Curro Durbanville, netbal (05 & 09 Mei)- en rugbyproewe (06 & 08 Mei), grondslagfase besoek Kunstekaap (5 – 7 Mei) vir die Woordedief-produksie, netbalwedstryde teen Laerskool St. George (07 Mei) en die kore wat gisteraand by Hoërskool Jan van Riebeeck se musiekkonsert opgetree het as deel van hul Massa-Reünienaweek die komende naweek.
April-maand was beslis vreemd en rustig, maar vanaf Mei gaan ons spreekwoordelik van 0 – 100 km/h binne 5 sekondes. Dus moet jy seker maak jou kwartaalgordel is styf vasgegespe vir die opwindende en besige kwartaal wat voorlê.

Die kunsgrasprojek agter op die mini-sportveld loop volgens plan en gedurende die vakansieweek het die meeste grond- en siviele werk plaasgevind. Gerhard Conradie se span het heelwat grond uitgegrawe, nuwe grond en spesiale gruis is aangery, gegooi sodat daar ‘n behoorlike onderbasis vir die nuwe veeldoelige oppervlakte gelê kan word. Ek sal julle op hoogte hou rakende die vordering van die projek.
Op Maandagoggend, 05 Mei vanaf 06:30, het heelwat van ons ouers/voogde, leerders en personeel kom hand bysit om 1 500 toebroodjies vir behoeftige leerders te smeer. Hierdie is deel van ons kwartaalikse welwillenheidsprojek om uit te reik en te help waar nood verkeer. Dit was werklik ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel ouers en leerders kom help het, wat weereens die omgee-hart van ons skool uitlig. Ek was self deel van die ‘smeerproses’ en dit is wonderlik om welwillendheidsprojekte aan te pak waar ons ons leerders kan betrek en hulle voel dat hulle ook ‘n waardevolle bydrae tot ‘n uitreikprojek kan lewer. Ek glo die ouers wat kom hand bysit het, sal saamstem dat die spanwerk en kameradie kosbaar was!
Baie geluk aan die volgende drie leerders wat deur is na die semi-finale van die ATKV Redenaars op 14 Mei — julle maak ons baie trots:
  • Antjie Samual
  • Katryn Silvis
  • Sabine Barnard
Op Sondag, 10 Mei vier ons weer Moedersdag. Ek glo dat al ons mammas en oumas in ons skoolgemeenskap op Moedersdag tot in die afgrond bederf sal word. Graag wil ons al ons ma’s eerbiedig en hartlik bedank vir die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap speel, asook al die opofferinge wat hulle as ma’s maak tot voordeel van hul kinders en gesin. Ek glo moeders is die spreekwoordelike gom wat gesinne en gemeenskappe bymekaar hou, veral onder moeilike omstandighede.

Daar is ‘n anonieme uitdrukking wat sê dat ma’s soos knope is: hulle hou alles bymekaar. Die hart van ‘n ma is seker die mooiste meestestuk uit die hart van God, want ‘n ma is tog die begin van elke mens.

Ek sluit dan week 5 af. Mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike naweek geniet en ‘n geseënde Moedersdag vol bederf aan al ons mammas. Sien uit om julle die komende naweek langs die sportveld te sien. Sterkte ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck vir hul Massa-Reünienaweek en baie dankie dat ons ook deel daarvan kan wees. My beste wense vergesel ook al ons leerders wat môreoggend aan die Horizon Wiskunde Olimpiade gaan deelneem — ons hou vir julle styf duimvas!

Graag gaan ek voort om ons pragtige taal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Die hemp is nader as die rok.”

Die uitdrukking beteken as ‘n mens hulp verleen, moet jy eers aan jou eie familie en vriende dink — of soos die Engelse eweknie sou sê: “Charity starts at home.”

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: Junie 2025

Sien asseblief die eksamenrooster vir die Junie-eksamen hier onder:
  • Leerders sal Vrydag, 25 April, die eksamenafbakening ontvang.
  • Neem asseblief kennis dat die skool vanaf Donderdag, 5 Junie, om 13:00 vir gr.1-3 en om 13:15 vir gr.4-7 sluit.
  • Die gr.7’s kan reeds vanaf Maandag, 2 Junie, om 13:15 verdaag.
  • Indien ‘n leerder afwesig op ‘n gegewe dag is, moet ‘n doktersertifikaat getoon word.
  • Vraestelle wat noodgedwonge gemis word, sal tydens die tweede sessie ingehaal word indien moontlilk.
  • Leerders mag nie skryfbehoeftes by mekaar leen nie en moet liefs hul eie skryfbehoeftes onthou.
  • Eksamenvraestelle word tussen 07:50 en 10:10 geskryf.
  • Sport- en kooroefeninge sal tydens skooltyd plaasvind.
  • ‘n Spesiale program sal opgestel en versprei word.

KULTUUR

Jannies Talent Inskrywings

Het jy ’n talent wat jy graag met ons wil deel? Skryf in vir Jannies Talent!

Oudisies vind ná skool plaas van 28 tot 31 Julie. Gedurende hierdie tyd sal die finaliste gekies word wat dan op 25 September tydens die Jannies Talentkonsert sal optree.

Onpartydige beoordelaars sal tydens die Jannies Talentkonsert aanwesig wees om die top drie finaliste te kies en pryse te oorhandig.

Dit beloof om ’n asemrowende aand en ’n spoggeleentheid te wees — ons kan nie wag om ons talentvolle Jannies se harde werk en toewyding op hiérdie manier te vier nie!

Skryf gerus in deur die volgende skakel te volg:
https://forms.office.com/r/JYp5GEvefs?origin=lprLink

Inskrywings sluit op die laaste dag van Kwartaal 2, 27 Junie.

Kontak gerus vir Juf. Rolene vir meer inligting:
???? rolene@jvrprim.co.za

Musiek-ouervergaderings: Kwartaal 2

Die Musiekdepartment wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser/s te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines, en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.

Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Kontak asseblief die betrokke musiekonderwyser om die spesifieke lestyd en -datum, wat jóu die beste pas, te bevestig sodat die nodige voorbereiding vir die ontmoeting getref kan word. Die tydsgleuf vir ‘n musiekles is 30 minute, alhoewel ‘n afspraak nie noodwendig die volle tydsduur hoef te beloop nie.

Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.

Ek lys die musiekonderwysers se kontakbesonderhede:

Rolene van Zyl rolene@jvrprim.co.za

Ben Reynecke ben@jvrprim.co.za

Larah Eksteen info@larah.co.za

Shannon Cook shannonsjb@gmail.com

Paul Richard paulrichard07041986@gmail.com

Brent January brentjanuary1305@gmail.com

Estelle Slabber eeslabber@gmail.com

Helecia Groenewald helecia@gmail.com

Pieter Bezuidenhout bezuidenhoutpl@gmail.com

Lily van der Merwe meetlily@gmail.com

ALGEMEEN

Trofees terugbring

Ons is tans besig om al die trofees wat die leerders verlede jaar tydens die prysuitdeling ontvang het, te dokumenteer. Indien u kind verlede jaar ’n trofee ontvang het, stuur dit asseblief na die Mediasentrum, aan Juffrou Marecia van Zyl.

Baie dankie vir u hulp hiermee.

Groete,
Juffrou Marecia

Jannies gee om: Kwartaal 2, 2025

Help ons om 'n verskil te maak – gee jou ou sporttoerusting 'n tweede lewe!

Het jy dalk 'n bal, kolf of raket wat al ‘n rukkie stof staan en vergaar? Ons almal het daardie sporttoerusting wat net in ‘n kas weggebêre is — gaan loer gerus en kyk wat jy kan opspoor!

Ons wil graag ons buurskool, wat tans deur moeilike tye gaan, help deur bruikbare sporttoerusting aan hulle te skenk.

Wat soek ons?
Ou, maar steeds bruikbare sporttoerusting soos balle, kolwe, rakkette – en enigiets anders wat nog in ‘n goeie toestand is.

Waarheen?
Bring jou donasie na Juffrou Michelle Compion se klaskamer.

Wanneer?
Ons versamel van Maandag 5 Mei tot Vrydag 13 Mei.

Laat ons saamwerk en sport pret vir almal moontlik maak!

Nini soek ’n verewig huis!

Nini, ’n oulike twee maande oue Fox Terrier-hondjie, is op soek na ’n liefdevolle vir altyd-huis. Sy word tans met groot sorg ge'foster' deur die gesin van Annabel Brink (Graad 5).

Sy is regtig ’n oulike hondjie – speels, vol liefde, en altyd lus vir geselskap! Nini is ’n uitstekende stap- en drafmaat, maar verkies ’n skoot wanneer sy nie speel nie. Sy is mal oor mense en sal met haar sagte persoonlikheid enige hart vinnig steel.

As jy of iemand wat jy ken vir Nini ’n warm, veilige huis kan bied, kontak asseblief Deane Brink by brinkdeane@gmail.com of 0764558002.

Help ons om hierdie spesiale hondjie haar perfekte tuiste te gee! ????????

Gemak vir die sitvlak!

Binnekort beskikbaar: 'n gemaklike, spons-kussing – perfek vir langs die sportveld of enige skoolaktiwiteit.
Sag, lig en dra maklik – jou ideale sitmaat vir ure se ondersteuning en warmte!

Hou die spasie dop! Ons deel binnekort meer.

Jan Kas spog met nuwe sysakkies!

Ons splinternuwe voorraad sysakkies met die nuwe embleem is nou beskikbaar in Jan Kas!
Beskikbaar in winkel én aanlyn – koop maklik van waar jy ook al is!

Koop HIER aanlyn.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

Jannies blink uit by Nippers SA Lewensredding-kampioenskappe 2025

'n Groepie Jannies het verlede week aan die Nippers Surf Lewensredding SA-kampioenskappe in Gqeberha deelgeneem. Die spanlede was Alexander Weideman, Nils le Roux, Sebastian en Luc Zietsman, Lukas Loubser en Finley le Roux.

Vir drie dae lank moes ons mannetjies hul staal wys in verskeie hardloop-, swem- en Malibu-reddingsborditems en -kombinasies. Lukas het ’n bronsmedalje in die langafstandstrandresies verower, terwyl Nils medaljes in strandnaellope, vlaggies, Taplin-aflos en strandaflos ingepalm het.

Die Zietsmans, saam met Finley en Lukas, het die “Mad Dog”-toekenning ontvang deur aan álle items deel te neem. Lukas het dit selfs verder geneem deur vir nóg drie dae aan die volledige Stilwater Lewensredding-kompetisie deel te neem. Daar het hy sy persoonlike beste in die 100 m-swem met ses sekondes verbeter!

Baie geluk aan hulle met hul vasberadenheid en indrukwekkende prestasies!

Lawwe Lappe: JVR se Naaldwerkklub

Tydens verlede week se vakansie het tien ywerige dogters skool toe gekom om te leer hoe om op ’n naaldwerkmasjien te stik.

Gedurende hierdie vierdag-kursus het elke leerder geleer hoe om lap te kies, te meet en te knip, en dan ook hoe om haar eie masjien te ryg en te gebruik. Die leerders het vinnig besef dat naaldwerk nie net kreatiwiteit verg nie, maar ook veerkragtigheid en hope geduld.

Na die vier dae kon hulle spog met unieke lapprodukte wat hulle weer en weer sal kan maak – linte-'scrunchies', groot vloerkussings, pennesakkies en rygsakke ('string bags').

Oor die jare het al 28 Jannies hierdie beginnerskursus bygewoon. My onderwyserhart bars van trots wanneer ek foto’s ontvang van ons leerders wat steeds tuis aanhou bou aan hulle naaldwerkvaardighede. My wens is dat hulle hierdie talent nog vir baie jare sal koester.

Naaldwerkgroete
Juf. Marianne Conradie

Kristi Snyman presteer in hoogspring

Oud-Jannie, Kristi Snyman, het onlangs ’n merkwaardige mylpaal in haar hoogspringloopbaan bereik.

Tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe het sy die vroue-hoogspringtitel verower met ’n sprong van 1.88 meter – haar persoonlike beste én ’n nuwe skoolrekord.

Haar deurlopende verbetering en onlangse nasionale titel getuig van haar toewyding en talent in hoogspring. Baie geluk aan Kristi Snyman met hierdie uitstaande prestasie!
Foto uit: judolphins.com

Rugbyuitslae: 5 Mei 2025

Sien die week se rugbyuitslae hier onder:

Hokkieuitslae: 6 Mei 2025

Sien die week se hokkieuitslae hier onder:

Netbaluitslae: 5-7 Mei 2025

Sien die week se netbaluitslae hier onder:

JANNIES GESPREKKE

Insigte, wenke en kundige leiding vir ouers wat hul kinders se groei en welstand wil bevorder.

Opname oor besprekingsonderwerpe

Ons poog om soveel moontlik inligting in hierdie rubriek te publiseer sodat ons broodnodige leiding en ondersteuning aan ieder en elk kan voorsien wat dit benodig of vir wie dit interesseer. Vandag wil ons by jou hoor of daar 'n onderwerp is waaroor jy graag meer wil uitvindĀ  OF dalk het jy 'n goeie idee(s) waarvan ouers meer wil hoor wat ons nog nie bespreek het nie.

Vertel ons meer HIER.

Klik HIER vir Die Suidooster met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad