|
|
|
|
|
|
DATUMS
Sa 6 Junie 2026
- Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
- Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
Ma 8 Junie 2026
Di 9 Junie 2026
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)
Do 11 Junie 2026
- Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)
Vr 12 Junie 2026
Ma 15 Junie 2026
Di 16 Junie 2026
Wo 17 Junie 2026
Do 18 Junie 2026
- Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)
Vr 19 Junie 2026
- Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Kom word deel van die musiekdepartement en skryf in om volgende jaar musiekonderrig in een van die volgende instrumente te ontvang: klavier, viool, kitaar, saksofoon, blokfluit, klarinet, dwarsfluit of individuele sanglesse (slegs vir Gr. 4-7’s). Vul die aangehegde musiekinskrywingsvorm in, en stuur dit aan Juf. Rolene. MUSIEKINSKRYWINGSVORM Ons sien uit daarna om jou aansoek te ontvang! Rolene van Zyl rolene@jvrprim.co.za
|
|
|
|
|
|
Senior Kooroefentye vir 2025:
|
- Dinsdag, 07h45-08h45
- Donderdag, 07h45-08h45
- Oefeninge begin Dinsdag, 21 Januarie.
- Leerders moet asseblief stiptelik om 07h45 by die weeklikse kooroefeninge aanmeld.
Senior Koorkamp: 7-8 Februarie (by die skool)
|
Senior Koorkamp: Saterdag, 1 Maart (by die skool)
|
Senior Koorkamp: Donderdag, 6 Maart (by die skool) om 13h00 - 17h00
|
Mzanzi Conductors Convention by CTICC: 14-16 Maart 2025
|
|
George Cantamus Koorfees: 8-11 Augustus 2025
|
|
|
|
|
|
|
|
Elke middag is vol lag, energie en lekker aktiwiteite. As jy verbyloop, hoor jy hoe die kinders fluister, “Mamma, kan ek nog ‘n rukkie kuier?”
|
Hoekom verkies die leerders om nasorg by te woon?
|
Iris, Gr. 2T: "Ek het maatjies by die nasorg en nie by die huis nie, omdat ek nie 'n boetie of 'n sussie het nie." Reuben Strydom, Gr.1T: "Ek speel lekker LEGO op die nasorg se nuwe LEGO-tafels." Eli van Wyk, Gr. 3TB: "As mamma en pappa my nie kom haal nie, weet ek ek kan na julle toe kom. Dit is vir my lekker om huis toe te gaan, want my huiswerk is klaar by die nasorg gedoen." Kyle Meissenheimer, Gr.5: "Ek kan enige sport in die middae doen wat ek wil." Sofia Jooste, Gr. 5: "Ek het die derde kwartaal by die skool begin en nasorg het my gehelp om meer maats te maak." Max Baptista, Gr. 7VR: "Ek is vanaf Gr. 1 by die nasorg en daar was nog niks wat vir my sleg is nie. By die nasorg het ek meer tyd om by my vriende te wees, want pouses by die skool is net te kort." Ariana Greyling, Gr. 4C: “Ons kan verf, hula, dans en boeke lees onder die bome.”
|
Die nasorg skep 'n plek waar leerders regtig gelukkig en hulself kan wees. Dit is ‘n plek waar die leerders die skool se waardes kan uitleef. Ons skep 'n omgewing waar leerders veilig voel en ons wil ouers gerus stel dat hul kinders met liefde na omgesien word. Ons as 'n nasorgspan gee om oor elke leerder en maak elke middag net 'n bietjie helderder.
|
Leerders kan met gemak buitemuurse aktiwiteite beoefen. Ons bied huiswerkklasse vir Gr. 1 - Gr. 7 aan en doen allerhande ander aktiwiteite so almal het altyd iets om te doen.
|
Sosiaal versterk die nasorgomgewing vriendskappe wat ver buite hulle graadgroep strek. Hierdie vriendskappe spoel oor tot op die speelgrond en in die skool se gange. By die nasorg hoef niemand ooit alleen te voel nie.
|
Die nasorg is onlangs opgeknap en ons het baie planne vorentoe om die nasorg nog meer uit te brei tot voordeel van die leerders.
|
As jy 'n plek soek waar jou kind(ers) emosioneel en sosiaal tuis kan voel, dan is ons nasorgsentrum die ideale plek.
|
Ons het voldag of halfdag opsies, en selfs besoekers kan enige dag by ons aansluit.
|
Vir navrae, kontak vir Madrie: nasorg@jvrprim.co.za
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Daar is vakansiesorg beskikbaar vanaf 12 Desember 2024 tot 14 Januarie 2025. Volg die skakel vir die INSKRYWINGSVORM
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Jean-Jacques Rossouw was gaskunstenaar die afgelope Saterdagaand by die "HOPE Journey International Finale" in die Waterfront, Kaapstad. Veertien lande het deelgeneem met welsynsprojekte wat oor twee maande strek, en die top finaliste is Saterdagaand aangewys voor meer as 'n duisend mense. Mnr. Ben Reynecke was seremoniemeester en verantwoordelik vir die choreografie van die produksie. Knap gedaan, Jean-Jacques! Ons is baie trots op jou.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Dit is die einde van die jaar en dit is vakansie! Dit is daardie tyd van die jaar waar ‘n gesin kwaliteit tyd saam spandeer en ons as ouers wil hê die dae moet met die minimum struwelinge en konflik verloop. Maar ons weet dit is nie so maklik nie! Tog kan onderlinge konflik beperk word as elke lid van die gesin vooraf presies weet watter gedrag binne hulle gesin aanvaarbaar is en watter gedrag nié toegelaat word nie. En dit konsekwent toe te pas. Hier gaan GRENSE en KOMMUNIKASIE hand aan hand.
|
Ons as ouers trap dikwels in die strik deur onrealistiese verwagtinge by ons kinders te skep. Ons primêre taak is om ons kinders voor te berei om ‘n goed gebalanseerde individu te wees wat met respek teenoor ander optree. Dit is nié ‘n verhouding waar jou kind die gevoel kry jy is bloot daar om aan al sy/haar eise en behoeftes te voldoen nie. Dit is waarom duidelike grense binne ‘n gesin so krities is. En ons moet by onsself begin.
|
Om duidelike grense te stel, beteken nie dat jy jouself distansieer of isoleer nie. Jy skep net ‘n atmosfeer waar jy voel jou behoeftes en welstand word deur die ander gesinslede gerespekteer. En ook dat dit vir jou belangrik is om aan elke gesinslid sy/haar ‘n eie unieke “ruimte” te gee waar hy/sy tuis, geliefd en onmisbaar kan voel.
|
Duidelike grense bevorder jou kind se onafhanklikheid. Al ís julle ‘n hegte gesin wat graag tyd saam spandeer, bly julle uiteenlopende individue wie se behoeftes en persoonlikhede verskil. Indien ons leer om dit waarvan ons hou of nié van hou nie op ‘n kalm, ferm manier te kommunikeer, verminder dit onnodige misverstande en konflik.
|
Aan die vooraand van ‘n lang vakansie en waar ons moontlik meer tyd saam gaan spandeer, is dit ook ‘n geleentheid vir PRET en aktiwiteite wat julle as gesin saam kan geniet en wat later deel kan word van julle eie unieke en spesiale “geheuebank” van herinneringe. En wat is meer spesiaal as om hierdie vakansie ingestel te wees op mekaar se liefdestale? In sy boek “Five Love Languages” wys Gary Chapman(1992) vyf maniere uit hoe ‘n klein gebaar ‘n magtige instrument kan word om verhoudings binne ‘n gesin te koester. Wat is jóú liefdestaal? Ken jou kinders dit”? En weet jy wat is hulle s’n?
|
Is jou kind se primêre liefdestaal woorde (“words of affirmation”) en kan hy/sy nie genoeg kere die woorde “Ek is lief vir jou” hoor nie? Indien jou kind se liefdestaal dalk kwaliteit tyd saam is, fokus op aktiwiteite wat nét julle deel en wees net onvoorwaardelik dáár. Dalk is fisiese aanraking of dade die “taal” waarmee jy die verste gaan kom: deur te wýs jy gee om, ‘n verbygaande ‘n drukkie, ‘n lekker skuimbad te tap...Of is dit geskenke: ’n simboliese gebaar, iets konkreets, hoe klein ookal... Wees net ingestel op mekaar se behoeftes en maak dit ‘n onvergeetlike vakansie!
|
Marike Badenhorst Opvoedkundige Sielkundige
|
|
|
|
|
|
|
|
Kan jy dit glo? Desembermaand het homself kom tuismaak in ons kalenders en dit beteken ‘n welverdiende vakansie en Kersfees is net om die draai. Ek glo almal is druk besig om die finale take en/of projekte vir die jaar so spoedig moontlik af te handel voordat die Desembervakansie aanbreek.
|
Op Donderdagaand, 28 November, het ons musiekdepartement ‘n wonderlike kerskonsert vanaf 19:00 in die saal aangebied. Die indrukwekkende draaiboek is deur juf. Raché (Hoof van die Grondslagfase) geskryf en die storievertellers is deur twee graad 7-leerders, naamlik Jessica Schincariol (Ouma Berna) en Daniella Boshoff (Ouma Susan) vertolk. Hulle twee het hulle puik van hul taak gekwyt terwyl die senior- en junior koor onderskeidelik onder leiding van Leon Starker en mnr. Ben opgetree het. Die skoolkore en die ouerkoor het die aand met hul pragtige kerssang betower en onwillekeurig die gevoel van nostalgie en heimwee by ‘n mens laat opkom. Die ongelooflike aand is verder gekomplimenteer met die fantastiese optrede van die senior ensembles asook Mika van der Walt (graad 3) en Elisabet Marais (graad 6) met die puik voordra van hul kersgedigte. Die aand is op ‘n hoë noot met die samesang van "Stille Nag" afgesluit. Sjoe, dit was ‘n belewenis met die hele saal wat die pragtige kerslied met soveel deernis gesing het.
|
|
Alhoewel Kersfees die afgelope klompie jare ‘n kommersiële geldmakery geword het, is dit tog vir ons belangrik om dit saam met ons gesinne, familie en vriende te vier. Kersfees is vir my ‘n spesiale tyd van die jaar, want dit is ‘n simbool van liefde, vrede, omgee en veral word daar sommer weer hoop in ‘n mens se hart geskep dat mense in harmonie kan saamleef. Kom ons skep as ‘n skoolgemeenskap ‘n tradisie van liefdebetoning en omgee oor die Kerstyd.
|
|
|
Hierdie week het die jaarlikse prysuitdelings vir grade 1 tot 7 plaasgevind. Graag fokus ek eers op die grondslagfase asook grade 4 en 5-prysuitdelings aangesien die saktyd vir die weeklikse nuusbrief te vroeg in die week is om ook die prysuitdelings vir graad 6 en 7 in te sluit. Ons prysuitdelings geskied op ‘n informele manier, maar tog uiters stylvol. Prysuitdelings is op die beste van tye ‘n sensitiewe en kontroversiële onderwerp van bespreking en ek wil julle die waarborg gee dat ons as skoolbestuur en beheerraad baie begrip daarvoor het. Ek glo dat ons skool die erkenningsproses so verfyn het dat ons dit regkry om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons neem dit egter nog ‘n stappie verder en gee vir elke leerder persoonlike en unieke erkenning in die saal. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as ‘n laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Daar was baie hoogtepunte tydens die prysuitdelings, maar opvallend was die Gr. 4 – 5-leerders se toejuiging tydens die bekendmaking van die presteerders. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat ons leerders mekaar se prestasies vier, nog iets wat ons skool uniek maak. Hierdie trotse oomblikke koester ek vir ewig en bevestig net weer dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning is op die voorwaarde dat ‘n skool waardegedrewe moet wees en ‘n spesiale etos van omgee en respek omhels. Baie geluk aan al ons leerders, julle maak my baie trots!
|
|
Op Woensdag, 05 Desember, het die velditems van die jaarlikse kleure-atletiekbyeenkoms te HS Jan van Riebeeck se sportvelde plaasgevind. Die weer het heerlik saamgespeel en ons leerders het in massas deelgeneem en veral ‘n dag buite in die opelug na die eksamens terdeë geniet. Daar is bittermin mooier plekke in die wêreld as die Boshoff-veld met die ikoniese Tafelberg, Seinheuwel en Leeukop as agtergrond. Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir die puik reëlings om die sukses van die dag te verseker. Die baanitems geskied dus op Maandag, 09 Desember, as gevolg van die gure weer wat vir Vrydag voorspel word. Weereens my verskoning vir enige ongerief in die verband, maar ons het nie juis ‘n ander keuse gehad as om dit op Maandag aan te bied nie.
|
|
|
Ek sluit dan die tweede laaste week van kwartaal 4 af met ‘n bekende aanhaling van John F Kennedy rakende dankbaarheid aangesien ons skool in soveel opsigte so geseënd is. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin en/of vriende toe.
|
“As we express our gratitude, we must never forget that the highest appreciation is not to utter words, but to live by them.’
|
Vriendelike groete, Naas Beets SKOOLHOOF
|
|
|
|
|
|
Kliek HIER vir Die Suidooster
met al die nuutste artikels, foto's en video's.
|
|
|
|
Kliek HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|