Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Di 17 November 2026

  • Huppelland Gr.R Kleedrepitisie
  • Koffie en Beskuit Konsert (slegs Grade 1-3)

Do 19 November 2026

  • Krieket: Tableview (WEG) o.7 - o.9
  • Huppelland Gr.R-konsert

Vr 20 November 2026

  • Eksamen Eindig
  • Megan Zondagh (Kommunikasie) verjaar
  • Raché Turner (Onderwyser) verjaar

Sa 21 November 2026

  • Ouersport- en Pretdag

Ma 23 November 2026

  • Beheerraad-vergadering

Di 24 November 2026

  • Prysuitdeling: Gr.1 (08:30)
  • Prysuitdeling: Gr.2 (10:00)
  • Prysuitdeling: Gr.3 (11:30)

Wo 25 November 2026

  • Jan Kas Monitors Afsluiting

Do 26 November 2026

  • Kerskonsert
  • Jan Kas Sluit
  • Kersfees Musiekkonsert (onder afdak langs snoepie)

Vr 27 November 2026

  • Eksperimaats Instappie: Gr.1-3 (Saal)

Ma 30 November 2026

  • Prysuitdeling: Gr.4-6

Di 1 Desember 2026

  • Prysuitdeling: Gr.5 (11:30)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 06 November 2026

November-maand het amper ongesiens sy verskyning gemaak en skielik besef 'n mens dat Kersfees om die draai is, terwyl daar nog so baie take en/of projekte afgehandel moet word. Ek glo ook dat almal hul burgerlike reg op Woensdag, 04 November, uitgeoefen het deur hul kruisie tydens die plaaslike verkiesing te maak. Ons skool het ook as 'n stemlokaal gedien en verrigtinge het op die dag goed afgeloop met rye wat darem nie te lank was nie.

Dit gaan klopdisselboom met die grondslagfase se finale assesserings en dit kom vandag tot 'n einde. Op Maandag, 09 November, begin die finale eksamen vir die gr. 7's en op Woensdag, 11 November, vir die gr. 4- tot 6-leerders. My beste wense vergesel hulle en baie dankie dat julle as ouers ons gaan help om jul kind(ers) aan te moedig om net hul beste te gee sonder om te veel druk oor resultate op hulle te plaas. Verduidelik gerus vir hulle dat dit die heel laaste bietjie harde werk vir die jaar is om af te handel voor 'n welverdiende somervakansie aanbreek en dit is belangrik om nie nou slap te lê nie.

Graag deel ek die volgende wonderlike nuus rakende die kodering- en robotikaprogram wat die skool aanbied. Vanaf 28–29 Oktober het juf. Suné en ses graad 6-leerders (Stef Nel, Helené de Kock, Antjie Samuel, Gert van der Linde, Kent Chimukuyu en Mia Laubscher) aan die Kuunda Standard Bank STEAM Projek se finaal vir die Wes-Kaap te Laerskool Habibia deelgeneem. Agtien skole het gekwalifiseer en ons tree as gesamentlike wenners met twee ander skole uit die stryd. Hulle wen vir ons skool 'n indrukwekkende 3D-drukker en ek glo julle sal saamstem dat hierdie weereens 'n merkwaardige prestasie is, veral as ons in ag neem dat juf. Suné se graad 7-span ook bronsmedaljes vanjaar tydens die World Robotics Olimpiade in Pretoria verower het! Ons skool se akademiese visie omhels die feit dat kodering en robotika 'n aansienlik groter rol in die wêreld gaan speel en hier is weereens 'n bewys dat ons ons leerders vir die veranderende wêreld daar buite wil voorberei deur hulle met 21ste-eeuse vaardighede (kritiese denke, kreatiwiteit, samewerking en kommunikasie) asook met probleemoplossingsvaardighede toe te rus. 'n Hartlike dank aan juf. Suné vir haar harde werk, toewyding en passie om die leerarea deurlopend te ontwikkel en te promoveer!
Ons kwartaallikse kultuurkonserte het die afgelope tyd soos volg plaasgevind:
  • Gr. 4 en 5: Donderdag, 29 Oktober, vanaf 08:00–09:00 met 20 deelnemers.
  • Gr. 1–3: Vrydag, 30 Oktober, vanaf 08:30–09:30 met 25 deelnemers.
  • Gr. 6 en 7: Maandag, 02 November, vanaf 08:00–09:00 met 22 deelnemers.
Die optredes het sang, voordrag en die speel van verskeie musiekinstrumente (klavier, dwarsfluit, viool, kitaar, elektriese kitaar en tjello) ingesluit. Ons leerders se kultuur- en musiektalente laat 'n mens sprakeloos en dit is wonderlik om te sien hoe ons leerders se talente oor die afgelope jare ontwikkel het. Ek het die grootste respek vir hierdie leerders, want om voor 'n gehoor op te tree, maak enige mens kwesbaar en vereis moed om jou talent(e) ten toon te stel en jou aan ander mense se mening bloot te stel. Ek is so trots op ons kultuur- en musiekleerders wat met die grootste selfvertroue opgetree het. Welgedaan aan juf. Rolene en haar span, naamlik mnr. Ben, juff. Bea en Jana, asook ons eksterne musiekpersoneel (Paul Richard, Lily van der Merwe, Ruben Botha, Reece Allum, Loren Ehlers en Pieter Bezuidenhout, wat in hul eie reg professionele musikante is) wat met soveel passie en omgee ons leerders onderrig! Ek glo dat julle met my sal saamstem dat ons kultuuraanbieding die afgelope twee jaar met rasse skrede verbeter het.
Op Vrydagaand, 30 Oktober, het die Demoyencourt Balletateljee te Huppeland onder leiding van Sue Demoyencourt 'n magiese balletkonsert in die skoolsaal aangebied. Vanjaar se meesterstuk was Alice in Wonderland. Verskeie van ons skool se dogters het aan die fantastiese opvoering deelgeneem. Die kostuums en agtergrond was indrukwekkend. Baie geluk aan Sue en Therina met die meesterstuk!
Op Maandag, 02 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers om 18:00 in die saal plaasgevind. Ek was weereens aangenaam verras met die opkoms van ouers/voogde tydens die belangrike vergadering. Baie dankie aan die 96 ouers/voogde wat die vergadering bygewoon het. Ons volg altyd ‘n deursigtige proses met die begroting en ek glo dit was ‘n insiggewende sessie vir ouers/voogde rakende die finansiële bestuur van die skool asook om te sien waarvoor hul skoolgelde jaarliks aangewend word. Die 2027-begroting en verhogings van skoolfooie is soos volg deur ouers/voogde goedgekeur:

Laerskool:
  • Gr. 1–3 = R51 930 per leerder
  • Gr. 4–7 = R53 670 per leerder
Huppelland:
  • Gr. R = R55 200 per leerder
  • Gr. 0 en 00 = R53 600 per leerder
Baie dankie aan ons finansiële bestuurder, Liesel Hammond, ons tesourier, Sybil Müller, asook ons BR-voorsitter, Merwe Scholtz, vir jul kosbare tyd en harde werk om ‘n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Weereens 'n hartlike dank aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.

Afrikaans bly darem 'lekker' op die tong en is eenvoudig net 'n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is, daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):

'Die kat uit die boom kyk'

Die uitdrukking beteken dat iemand nie oorhaastig 'n besluit wil neem nie, maar eers kyk hoe die saak ontwikkel of uitspeel, m.a.w. hy/sy is eerder versigtig voordat 'n besluit geneem of opgetree word.

Ek sluit dan week 5 af met die helfte van die laaste kwartaal wat verby is en mag julle 'n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet. Sterkte aan ons o.13A-krieketspan wat vanmiddag aan Laerskool Durbanville se 6-aan-'n-kant-kriekettoernooi deelneem, asook ons mini-krieketspanne wat môre in Hermanus aan 'n toernooi deelneem wat deur Curro Hermanus aangebied word.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: November 2026

Prysuitdeling: Veelsydigheid en spesiale toekennings

Die prysuitdeling is om die draai! Gr.4 - 7-leerders kan aansoek doen vir die volgende spesiale toekennings by die prysuitdeling:

Algehele veelsydigheid t.o.v. akademie, sport en kultuur: Gr.6 en 7
Mees veelsydige sportleerder: Junior (gr.4/5) en Senior (gr.6/7)
Mees veelsydige kultuurleerder: Junior (gr.4/5) en Senior (gr.6/7)


Die vorm en bewyse (afskrifte) van die leerder se prestasies moet voor of op 20 November by juf. Lucia de Jager ingehandig word. Geen e-posinskrywings/bewyse sal aanvaar word nie.

Laai vorm hier af - Veelsydigheid Gr. 4-7 2026

Skryfbehoeftes vir 2027

Sien asseblief die skryfbehoeftes wat jou kind in 2027 gaan nodig hê hier onder:

SPORT

Buitemuurseprogram, Kwartaal 4 - 2026

ALGEMEEN

Belangrike datums en tye vir die res van kwartaal 4

Neem asseblief kennis van die volgende datums en tye:
  • Gr. 7 Musiekkonsert: Maandag, 2 November, om 08:00 - 09:00
  • Begrotingsvergadering: Maandag, 2 November, om 18:00 (slegs vir ouers)
  • Graad 1 2027-oueraand: Donderdag, 5 November, om 18:00 (slegs vir ouers)
  • Skool verdaag om 13:00 en 13:15 vir die hele skool: Vrydag, 6 November (personeel neem afskeid van terreinpersoneel)
Skool verdaag vanaf Dinsdag, 10 November, tot Dinsdag, 8 Desember, om 13:00 vir GF en 13:15 vir ISF.
  • Eksamen begin vir graad 7: Maandag, 9 November
  • Eksamen begin vir graad 4-6: Woensdag, 11 November
  • Graad 4 2027-inligtingsgesprek: Dinsdag, 10 November, om 18:00 (slegs vir ouers)
  • Graad 7 2027-inligtingsgesprek: Donderdag, 12 November, om 18:00 (slegs vir ouers)
  • Spesiale interne kultuur- en sportprogram tree tydens skoolure in werking - 16 - 27 November
  • Eksamen eindig: 20 November
  • Graad 1-prysuitdeling: Dinsdag, 24 November, om 08:30
  • Graad 2-prysuitdeling: Dinsdag, 24 November, om 10:00
  • Graad 3-prysuitdeling: Dinsdag, 24 November, om 11:30
  • Graad 4-prysuitdeling: Dinsdag, 1 Desember, om 09:00
  • Graad5-prysuitdeling: Dinsdag, 1 Desember, om 11:30
  • Kleure-atletiek (velditems o.9 - OPE): Woensdag, 2 Desember
  • Graad 6-prysuitdeling: Donderdag, 3 Desember, om 09:00
  • Graad 7-prysuitdeling: Donderdagaand, 3 Desember, om 18:00
  • Kleure-atletiek (baanitems o.7 - OPE): Vrydag, 4 Desember
  • Dinsdag, 8 Desember: sivvies
  • Woensdag, 9 Desember: sivvies; rapporte word uitgedruk en uitgedeel (nie elektronies nie) en skool sluit om 10:30 vir alle leerders

Jan Kas se Eksamenwinkelure

Neem asseblief kennis dat Jan Kas gedurende die eksamentyd die volgende winkelure vanaf 11 November tot 26 November sal volg:
  • Maandag & Woensdag: 07:00 - 08:00
  • Dinsdag & Donderdag: 12:30 - 13:30 (vroeër tye)
  • Vrydag: Gesluit
Jan Kas sluit op 26 November vir voorraadopname en sal eers weer in Januarie 2027 oopmaak. Maak dus asseblief seker dat jou kind alles het wat hy/sy vir die laaste paar weke van skool en sport sal nodig hê. Geen bestellings of aankope sal vanaf 26 November meer gemaak kan word nie.

Hou asseblief die nuusbrief dop vir die bevestigde heropeningsdatums en winkelure vir die nuwe jaar.

Ons wens almal 'n voorspoedige eksamentyd toe!

Ouersportdag: 21 November 2026

Inskrywings sluit 13 November, so finaliseer asseblief julle spanne spoedig!

SKRYF HIER IN:
Ouersport en Pretdag Inskrywings

Heerlike pryse is op die spel — baie dankie aan al ons borge wat reeds ingespring het!

🎤 Ope-mikrofoon (Open Mic):

Ons nooi alle leerders en musikante hartlik uit om deel te neem aan 'n buitelug-ope-mikrofoon op die dag!
  • Oop vir sang, elektroniese klawerbord, en enige instrumente wat jy self kan saambring.
  • Neem asseblief kennis dat dit 'n minimale klankopset buite sal wees.
  • The Studio - New Rising Arts behartig die musiekstasie.
👉 Stel jy belang om op te tree? Voltooi asseblief die vorm hier:

Ope-Mikrofoon Inskrywings

🎉 Is jy nie een vir op die sportveld of verhoog nie? Geen probleem nie!

Daar is werklik iets vir almal.

Sien julle almal by die Ouersportdag 2026!

Ons vra asseblief julle hulp

Kihandré in Gr. 2T is doof en gebruik 'n spesiale Bluetooth-toestel wat sy onderwyseres se stem direk na sy gehoorapparate stuur. Dit help hom om agtergrondgeraas uit te skakel en beter in die klas te kan hoor.

Die toestel het verlede Vrydag verdwyn, moontlik by die klas of nasorg. Ongelukkig is dit 'n duur stuk toerusting wat ongeveer R23 000 kos om te vervang.

Indien enige ouer of leerder die toestel gesien of dalk opgetel het, vra ons vriendelik dat dit by die kantoor ingehandig word. 'n Foto van die toestel word aangeheg (Kihandré s'n het 'n toutjie aan).

Baie dankie vir julle ondersteuning en hulp.

Diabetesbewusmakingsdag: Vrydag, 13 November 2026

Op Vrydag, 13 November, om 10:30 hou ons ’n spesiale diabetesbewusmakingsgeleentheid in die skoolsaal.

Leerders word aangemoedig om blou sivvies te dra ter ondersteuning van diabetesbewusmaking. Ons vra ’n bydrae van R10 per leerder, wat deur Karri betaal kan word.

Kom ons staan saam en wys ons ondersteuning vir almal wat deur diabetes geraak word!

BARBARA SCHREUDER DANSSKOOL – AAB PERFORMANCE AWARDS 2026

Sondag, 8 November 2026 | 14:00 | Laerskool Jan van Riebeeck

Die Barbara Schreuder Dansskool bied op Sondag, 8 November, die jaarlikse American Academy of Ballet (AAB) Performance Awards by Laerskool Jan van Riebeeck aan. Vanjaar se beoordelaar is Sidwell Roman van die School of Ballet in Knysna, wat ook as AAB-beoordelaar dien.

Ons dansskool bied eksklusief aan Jan van Riebeeck-leerders opleiding in verskeie dansgenres, met 'n sterk fokus op goeie tegniek, individuele aandag en die ontwikkeling van elke danser se talent.

Hierdie naweek is dit ons balletdansers se beurt om te skitter! Die AAB-program bied aan dansers die besondere geleentheid om aan 'n internasionaal erkende balletprogram deel te neem, met pragtige klassieke musiek en voorgeskrewe choreografie.

Hoewel al ons balletdansers AAB-opleiding ontvang, is deelname aan die Performance Awards vrywillig. Ons is daarom besonder trots op die dansers wat ons dansskool hierdie naweek gaan verteenwoordig. Om deel te neem, is reeds 'n prestasie op sigself!

Ons dansers sien ook reeds met groot opgewondenheid uit na ons jaareindfunksie op Sondag, 6 Desember 2026, waar hulle hul vaardighede in verskillende dansstyle, insluitend prettige danse en selfs 'n bietjie hip-hop, ten toon sal stel.

Baie sterkte aan die volgende deelnemers:
  • Graad 1: Charlie de Klerk
  • Graad 2: Heike Louw en Ada Uys
  • Graad 3: Mila Maree, Emily Theron, Cornelia Opperman, Emma-Jane Wilke en Lia Sauer
  • Graad 4: Ciera February
  • Graad 5: Mika van der Walt, Christa-Bella Swart en Hanna Louw
  • Graad 6: Heidi van Heerden en Anabel Brink
  • Graad 7: Solange Stevens en Jana van Gijsen
  • Graad 8: Ella Grey
  • Graad 10: Kerala Allewell en Karlien van der Walt
  • Graad 11: Lara Basson
Ons nooi almal hartlik uit om ons dansers te kom ondersteun en saam in hierdie besondere geleentheid te deel.

Break a leg, dansers!

Juf. Barbie

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Tennisuitslae van 02-03 November 2026

Hier volg die week se tennisuitslae:

Krieketuitslae van 29 Oktober en 02 November 2026

Hier volg die week se krieketuitslae:

KULTUUR

Kunsleerders presteer by Nasionale Eisteddfod

Ons is trots om die uitsonderlike prestasies van ons kunsleerders by die Nasionale Eisteddfod te vier.

Verskeie leerders het Goud- en Diploma-toekennings in Teken en Gemengde Media ontvang, met besondere prestasies deur Lily Jordaan, Henry Jordaan, Jamie Jordaan en Peter More.

Ons is trots om die uitslae van ons leerders wat aan die Nasionale Eisteddfod deelgeneem het, met u te deel:

Gr. 2
  • Lily Jordaan – Teken Jnr. Diploma
  • Lily Jordaan – Teken Jnr. Diploma
Gr. 5
  • Lukas Loubser – Gemengde Media Diploma
  • Lucy le Roux – Teken Goud
  • Henry Jordaan – Gemengde Media Diploma
  • Henry Jordaan – Teken Diploma
Gr. 7
  • Deon de Kock – Gemengde Media Diploma
  • Johan Redelinghuys – Teken Diploma
  • Lea Loubser – Teken Diploma
  • Lea Loubser – Gemengde Media Diploma
  • Ghia Pereira – Gemengde Media Diploma
  • Jamie Jordaan – Teken Diploma
  • Jamie Jordaan – Teken Diploma
  • Peter More – Teken Goud
  • Peter More – Teken Goud
  • Joan van Vreden – Gemengde Media Goud
  • Lukas van der Westhuizen – Gemengde Media Diploma
By die prysuitdelingseremonie is die volgende spesiale toekennings ook gemaak:
  • Lily Jordaan is aangewys as die Gr. 2 Teken Itemwenner.
  • Henry Jordaan is aangewys as die Gr. 5 Teken Itemwenner.
  • Henry Jordaan het die Gr. 5 Teken Ambassadeur-toekenning ontvang.
  • Jamie Jordaan het die Gr. 7 Teken Ambassadeur-toekenning ontvang.
  • Jamie Jordaan het ook die medalje ontvang as kategoriewenner vir Junior Kreatiewe Werk in Teken.
Baie geluk aan al ons deelnemers met hierdie uitstekende prestasies. Julle harde werk, kreatiwiteit en toewyding is 'n inspirasie!

Die bekroonde werke sal op 25 November om 18:00 by die NG Kerk Tamboerskloof uitgestal word. Ouers en belangstellendes word hartlik uitgenooi om die uitstalling te besoek en ons jong kunstenaars se talent te kom bewonder.

INDIVIDUEEL

Gerhard Conradie gee stem aan internasionale animasiefilm

Gerhard het onlangs die vertoning van die kortfilm APART by die FAME Short Film Festival bygewoon. Hierdie animasiefilm, wat ook by die Tribeca Film Festival vertoon is, bevat Gerhard as die stem van Joel, een van die twee hoofkarakters. Ons is besonder trots op hierdie prestasie en die geleentheid om deel te wees van 'n internasionaal erkende produksie. Baie geluk, Gerhard!
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet