Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Wo 16 September 2026

  • Konsert: Optrede 3

Do 17 September 2026

  • Konsert: Optrede 4 (Grand Finale)

So 20 September 2026

  • Heidré Ehlers (Onderwyser) verjaar
  • Krieket: o.13A toer

Ma 21 September 2026

  • Krieket: o.13A toer
  • Kultuursaal
  • Skrywersbesoek - Silas en die ysbeer op Tafelberg (Annie Klopper en Zandré Coetzer)
  • Beheerraad-vergadering (Goedkeuring)

Di 22 September 2026

  • Markdag - Grondslagfase
  • Sivvies
  • Krieket: o.13A toer
  • Koffie-en-Beskuit Konsert

Wo 23 September 2026

  • Sivvies
  • Skole sluit (skoolvakansie)
  • Krieket: o.13A toer

Do 24 September 2026

  • Erfenisdag

Vr 25 September 2026

  • Skoolvakansie

Wo 30 September 2026

  • Monica Robertson (Klasassistent) Verjaar


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 04 September 2026

Die seisoene is besig om te draai en Septembermaand het die afgelope week haar welkome verskyning gemaak. Dit beteken ook dat daar meer sonnige dae na die lang winter op pad is. Die lentegeure van vars bloeisel is alreeds in die lug. Die lente is ‘n ontwakende seisoen en vir my is dit wonderlik om te sien hoe mense, diere en insekte die ontploffing van lentegeure aangryp om die koue van winter af te skud – almal is meer vrolik! Ek weet ook dat Moeder Natuur beslis nie haastig is om die lenteseisoen en warmer dae sonder enige teenstand aan die Moederstad te oorhandig nie. Lentedag word tradisioneel oral in Suid-Afrika op 01 September gevier, maar hier in die Moederstad kan die permanente lenteweer ons heel moontlik op ‘n latere stadium beskore wees. Ek weet dat ons almal sonnige dae sal verwelkom, maar Kaapstad en omgewing soek beslis nog reënweer aangesien ‘n groen droogte veral die Swartland en Overberg in die gesig staar. Ons leerders het vrolik gelyk met hul lentedrag en dit het beslis almal se dag opgehelder. Baie geluk aan die tweeling Hannah en Sarah in Graad 4 wat op 01 September verjaar het met die mooiste blommerangskikkingkolwyntjie. Ek was bevoorreg om een van die 'kunswerke' te ontvang.
Die afgelope naweek het ons ook amptelik van ons wintersportseisoen met ‘n interskole-naweek tuis teen Laerskool Welgemoed op ‘n hoogtepunt afgesluit. ‘n Interskole teen ‘n groter skool soos Laerskool Welgemoed, wat bekend is vir hul sterk sportkultuur, bring uitdagings, veral as jy net na uitslae kyk. Ons was beslis uit ons gemaksone gedwing en moes ons baie harder vir ‘n oorwinning werk. Ek glo ook dit versterk vaardigheidsontwikkeling, want teen sterker opposisie gebeur alles eenvoudig net vinniger, jy moet vinniger dink, beweeg en besluite neem. Die Groot Brag wat op Vrydagoggend, 28 Augustus, plaasgevind het, was beslis die hoogtepunt van die geesweek met die voorstelling van ons eerstespanne asook die wys van heelwat video’s deur bekende sportsterre en akteurs om ons Jannies voorspoed toe te wens. Baie dankie aan al ons personeel onder leiding van juf. Shahneé vir die opwindende geesweek asook om al die ongelooflike voorspoedvideo’s in die hande te kry. Ek glo ook dat die personeel se interskole-video wat op die Suid-Afrikaanse televisiesepie (sitkom) Die Kantoor gebaseer is, vir julle en die leerders baie vermaak verskaf het! Baie dankie juf. Jana wat die teks geskryf het en ook as regiseur opgetree het asook juf. Suné wat die video-opnames en samestelling behartig het. Ek hoop van harte dat almal die 2026-interskole en interaksie met ‘n noordelike voorstedelike skool terdeë geniet het.
Op Woensdagaand, 02 September, het beide ons senior- en junior koor die wonderlike voorreg gehad om saam met die internasionale Kinder- en Jeugkoor (Jiřičky) van Mladá, ‘n stad 55 km noordwes van Praag (Tsjeggiese Republiek), asook saam met Hoërskool Jan van Riebeeck se koor, by die NG Kerk Tamboerskloof op te tree. Jiřičky verwys na klein voëltjies, lyk amper soos swaeltjies, wat met vrolike sang geassosieer word. Die naam is 'n baie gepaste simbool vir die jeugkoor wat musiek, vreugde en vriendskappe bring waar ookal hulle gaan. Dit was ‘n magiese ervaring waar volks- en koormusiek van die hoogste standaard behoorlik gevier is. Baie dankie aan ons gasteouers wat van die internasionale koorlede gehuisves het. Ek glo dit was ‘n verrykende ervaring vir ons koorleerders en gasteouers om hulle te huisves en sodoende blootstelling aan die Tsjeggiese kultuur en -gewoontes te kon kry.
Ons leerders saam met hul onderwysers oefen daagliks baie hard vir die komende konsert wat vanaf 14 – 17 September geskied. Die opwinding loop alreeds hoog en ons kan nie wag vir die afskop van die glanskonsert nie.

Op Woensdag, 02 September, het ons ook Sekretaressedag gevier. Ons is baie dankbaar vir Adri wat as die skool se sekretaresse so mooi na ons Jannies, ouers en personeel omsien. Baie dankie aan die res van ons administratiewe personeel, naamlik Jodene (menslike hulpbronne en leerder-inskrywings), Liesel (finansies), Megan (IKT), Sue-Ann (Jan Kas en admin) asook Roxanne (Huppelland se sekretaresse) vir julle onbaatsugtige diens – ons waardeer julle harde werk en toewyding!
Hoe mooi is ons kosbare taal, Afrikaans, wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

‘Van ‘n donkie kan jy ‘n skop verwag’

Die uitdrukking beteken dat jy van ‘n onbeskofte persoon beslis slegte behandeling of gedrag kan verwag.

Ek sluit dan week sewe af en mag die Bokke darem môremiddag die All Blacks in die Soweto-stadion wys dat ons vir seker die beste rugbyspan in die wêreld is. Sterkte aan ons eerste tennisspanne wat vandag en môre aan ‘n groot tennistoernooi te Laerskool Courtrai in die Paarl deelneem. Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

Fondsinsameling vir ons Terreinwerkers

Dit is met gemengde gevoelens dat ons aankondig dat vier van ons geliefde terreinwerkers, aan die einde van die jaar, by ons skool klaarmaak. Christopher, Elliam, Matthews en Patrick gaan, wanneer die skool vir Desember-vakansie sluit, terugkeer huis toe. Hulle is almal al meer as 16 jaar lank by die skool en is in murg-en-been Jan van Riebeeckers. Hulle is vir ons ontsettend kosbaar en het daagliks gehelp om ons skool veilig en skoon te hou. Hulle was en is altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop om te verseker dat alles wat ons aanpak, hetsy dit akademiese verryking, kultuurgeleenthede, sportdae of sosiale funksies is, vlot verloop.

Hierdie vier terreinwerkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Hulle is geliefd onder leerders, personeel, ouers en selfs mense wie om en naby die skool woon en werk. Ons is hulle oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Ons gaan hulle baie mis.

Gedurende hulle tyd by die skool het hulle hard gewerk om hul families op verskeie maniere te ondersteun. Elkeen het al vir hulself 'n huis tuis gebou en maak vir 'n geruime tyd planne om te kan hervestig en herenig met hul families. Die tyd het nou aangebreek waar dit sin maak om die volgende stap te neem. Ons is saam met hulle opgewonde vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en wens hulle almal voorspoed en sukses toe, maar is ook hartseer om hulle te verloor.

Die skool en Opvoedingstrust het reeds op verskeie maniere ingetree om hulle te ondersteun met hul hervestigingsplanne om sodoende hulle te verseker dat hulle in 'n beter posisie sal wees om 'n nuwe lewe tuis te bou. Ons wil hulle graag ondersteun sodat hulle kan voortbou op dit wat hulle reeds vermag het en help dat hulle en hul families tuis kan floreer.

Elkeen van hierdie vier manne het 'n besonderse bydra tot ons skool se sukses gelewer. Ons is hulle oneindig dankbaar en wil graag die geleentheid vir ons ouers gee om te help deur 'n bydrae tot hul hervestigingskostes te maak. Ons sal dus, vir die volgende drie maande, 'n spesiale fondsinsameling op Karri oopmaak sodat ouers vir wie die saak naby aan die hart lê, 'n geleentheid bied om 'n donasie te maak.

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

KULTUUR

Orff en Kodály Werkswinkels by Laerskool Jan van Riebeeck

LsJvR bied Orff en Kodály Werkswinkels vir enige belangstellende musiek- en klasonderwysers aan! Kom woon dit gerus by!

Kontak vir Juf. Rolene vir meer inligting.

JUNIOR KOOR: Kaapse Afrikaanse Eisteddfod

Die Junior Koor neem volgende week vir die eerste keer aan die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod se Koorsang afdeling deel. Ons kan nie wag nie!
 
Hier volg die reëlings:
 
Datum: Dinsdag, 8 September
Plek: Laerskool Simon van der Stel
Vervoer: 
* Die bus vertrek stiptelik om 14h30 vanaf die agterste parkeerarea van die skool. Wees reeds 14h15 daar, asb.
* Die koor neem 16h00 deel, en ons kom direk daarna terug skool toe.
* Ons behoort op die laatste weer 17h15 terug by die skool te wees. Ons sal ’n WA op die Junior Koor WA-groep stuur sodra ons by Simon van der Stel vertrek.
Kleredrag: Skoolsweetpak (top met die oranje strepies), skoolhemp, wit tekkies en sokkies.
Kos: Pak gerus gesonde peuselhappies en water in vir die busrit.
 
Kontak vir juf Rolene met enige vrae. 

Orkeswerkswinkel saam met Somerset House

Ons stryk- en houtblaasensembles gaan Saterdag, 12 September, aan ’n orkeswerkswinkel saam met leerders van Somerset House deelneem. Daar sal ook van ons senior musiekleerders by marimbagroepe vir die oggend inskakel. Dit beloof om ’n heerlike oggend van saam musiek maak te wees!

Hier volg meer spesifieke reëlings:

09h30 - 10h15: Sessie 1
10h30 - 11h15: Sessie 2
12h00 - 13h00: Konsert

Datum: Saterdag, 12 September
Tyd: 09h30 - 13h00
Plek: Somerset House Preparatory School

Ouers, familie, en vriende is BAIE welkom om die konsert by te woon, 12h00 - 13h00.

Daar sal busvervoer wees. Die bus vertrek stiptelik om 08h15 vanaf die skool en sal na afloop van die konsert weer terug kom skool toe.

Kontak gerus vir juf. Rolene met enige verdere vrae.

Koffie-en-Beskuit Konsert: Dinsdag, 8 September

Ons volgende oggendkonsert vind Dinsdagoggend, 8 September, in die NASORG plaas.

Die volgende leerders tree op:

Floris Müller - klavier
Jude Murray - kitaar
Natalie Lawson - saksofoon
Benjie Ntloko en Aiden Cronje - klarinetduet
Clara Wiese - sang
Clara Wiese en Lua Groenewald - sangduet
Alida Loubser - sang
Joris le Roux - klavier
Liliana Hartman - klavier

Hier is enkele algemene reëlings rondom die verrigtinge:

* Deelnemende leerders meld stiptelik om 07h30 in die Nasorg met hul instrument aan. Juf. Bea en/of mnr. Ben sal daar wees om hulle te ontvang en te help om instrumente te stem.
* Elke deelnemende leerder bring een of twee maatjies saam om die konsert by die woon.
* Ouers is welkom om te kom luister - bring gerus koffie saam!
* Gebruik asb die deur by die Nasorg om in te kom - die senior koor oefen in die saal, en ons wil hulle nie steur nie.

Tyd: 08h00 - 08h30
Plek: Nasorg

ALGEMEEN

Drukwerk by die skool

Het jou kind nodig om iets te print? Moenie bekommerd wees nie, ons help jou graag by die skool!
  • Swart & wit: R5 per bladsy
  • Kleur: R10 per bladsy
  1. Gaan betaal eers by tannie Adri (ontvangs)
  2. Sy sal vir jou 'n papiertjie gee met bewys van betaling
  3. Stuur die drukwerk in PDF-formaat aan juffrou Marecia by marecia@jvrprim.co.za
  4. Drukwerk moet minstens 24 uur voor die tyd gestuur word.
  5. Geen onmiddellike drukwerk sal gedoen word nie.

STOP ALLES EN LEES! 08 September 2026

Op Internasionale Geletterdheidsdag (Dinsdag, 08 September) sit ons alles vir ’n rukkie opsy en maak tyd vir die wonderlike wêreld van boeke! 📖✨

Leerders word aangemoedig om hul gunstelingboek skool toe te bring en gedurende die dag ’n spesiale leestyd te geniet.

Kom ons maak saam tyd om te lees, te droom en nuwe wêrelde te ontdek! 🌈📚

Kwartaal 3: Welwillendheid

Hierdie kwartaal is ons fokus om diere te help!

Wat: Bring kat- en hondekos skool toe.
Wanneer: 28 Julie - 7 September 2026
Waar: By jou registerklas

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

BESTEL NOU OP KARRI

LsJvR Gholfdag: 11 Maart 2027

Sien meer inligting oor die 2027 gholfdag hier onder:

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIE VAN DIE WEEK

SPORT

Skaakuitslae van 25-28 Augustus

Op Dinsdag, 25 Augustus, het ons skaakspanne teen Courtrai meegeding. Ons leerders het goed gevaar en die volgende uitslae behaal:
  • o.9 A-span: Wen 5½–½
  • o.9 B-span: Wen 4–2
  • o.11 A-span: Verloor 2–4
  • o.11 B-span: Wen 5–1
  • o.13 A-span: Gelykop 3–3
  • o.13 B-span: Gelykop 3–3
Die o.11- en o.13-spanne het teen Courtrai se gekombineerde A- en B-spanne meegeding.

Interskole teen Welgemoed

Op Vrydag, 28 Augustus, het ons skaakspanne tydens Interskole teen Welgemoed meegeding. Die o.9 span het uitstekend gevaar met ’n indrukwekkende 7–0 oorwinning.
  • o.9: Wen 7–0
  • o.11: Verloor ½–6½
  • o.13: Verloor ½–6½
Baie geluk aan al ons Jannies wat met trots en goeie sportmangees aan die wedstryde deelgeneem het! ♟️🏆

Rugbyuitslae van 29 Augustus 2026

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Netbaluitslae van 29 Augustus 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Hokkie-uitslae van 27-28 Augustus 2026

Hier volg die week se hokkie-uitslae:

KULTUUR

BARBARA SCHREUDER DANSSKOOL

Uitslae van assessering – Sondag, 30 Augustus 2026

Baie geluk aan al ons dansers met hul pragtige uitslae tydens die assessering op Sondag, 30 Augustus! 🌟

Die dansers het besonders mooi gelyk in hul leotards, rompies en kleurvolle danskostuums en het hulself met groot selfvertroue van hul beste kant gewys.

Graad 1–3
Die volgende dansers het elk ’n pragtige sertifikaat en verslag met opbouende kommentaar ontvang:
  • Emily Botha
  • Amelie Johnson
  • Charlie de Klerk
  • Ferdi Titley
  • Heike Louw
  • Ada Uys
  • Emilie Theron
  • Emma-Jane Wilke
  • Mila Maree
  • Cornelia Opperman
Graad 5–11
Die volgende dansers het sertifikate en opbouende kommentaar ontvang, met gradering op versoek:
  • Christa-Bella Swart – A+
  • Mika van der Walt – A+
  • Hanna Louw – B++
  • Anabel Brink – A
  • Heidi van Heerden – A+
  • Ella Nel – B
  • Solange Stevens – A+
  • Kerala Allewel – A+
  • Karlien van der Walt – A+
  • Lara Basson – A+
Die beoordelaar was baie beïndruk met ons dansers se mooi gepunte voete, pragtige gesigsuitdrukkings en meelewing. Sy het ook die hoë standaard en gehalte van die choreografie beklemtoon en aangedui dat die dansers baie talentvol is en oor groot potensiaal beskik.

Gereelde klasbywoning en die bywoning van repetisies is belangrik om hierdie potensiaal ten volle te ontwikkel. Dit is ook belangrik dat dansers hul liggame soepel en sterk hou. Die beoordelaar was veral beïndruk met die dansers se pragtige spronge (jetés) en draaie (pirouettes).

Ons is ongelooflik trots op elkeen van julle! Baie geluk en welgedaan, dansers!

Juf. Barbie

INDIVIDUEEL

Ella Fischer blink uit in rotsklim

Baie geluk aan Ella met haar uitstekende prestasie in hierdie jaar se Wes-Kaap- en Gauteng-streekskampioenskappe vir rotsklim!

Ella het ’n silwermedalje in Bouldering tydens die Gauteng-kampioenskappe verower en daarna goud in Bouldering tydens die Wes-Kaap-kampioenskappe behaal. Ella is as die Wes-Kaap-kampioen in haar ouderdomsgroep bekroon!

Ons is ongelooflik trots op jou, Ella! Baie geluk met hierdie besonderse prestasie!
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet