Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

KULTUUR

Eisteddfod inskrywings 2025

Liewe JvR en Huppelland-ouers

Die Eisteddfod inskrywings is oop en sal binnekort op Karri gelaai word vir betalings.


Die Eisteddfod sal einde Mei by ons skool plaasvind en beloop R110 per item.

Gr. R is ook welkom on in te skryf vir voordrag (gedig). Gr.1 en 2 kan aan voordrag (gedig) deelneem, gr. 3 aan voordrag en onvoorbereide lees en gr. 4-7 aan voordrag, onvoorbereide lees en prosa.

Ek stuur 'n skakel na 'n vorm wat ingevul moet word hier onder. Indien jy meer as een kind wil inskryf, vul asb. die vorm vir elke kind apart in: https://forms.office.com/r/Y4uegnWchU

Die inskrywings sluit 4 Maart en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Ek sal elke leerder met hul keuses en afrigting help.

Lekker dag!

Groete, Jana

SENIOR KOOR: MCC 14-16 Maart 2025

Mzanzi Conductor’s Convention by die CTICC: 14 - 16 Maart 2025

Beste Ouers,

Die naweek waarvoor die koor so hard oefen en voorberei, is om die draai. Tydens die MCC gaan ons senior koor deel vorm van die MCC Kinderkoor wat saamgestel word uit vier kinderkore: Tygerberg Kinderkoor, Pietermaritzburg Kinderkoor, Cantaré Kinderkoor, en die Laerskool Jan van Riebeeck Senior Koor.

Die MCC Kinderkoor gaan onder leiding van die bekende Kanadese kinderkoor dirigent, Zimfira Poloz, vanaf Vrydag, 14 Maart, tot Sondag, 16 Maart, werk. Die leerders se toewyding en harde werk word dan Sondag, 16 Maart @ 13h45, tydens die Convention Choirs Showcase ten toon gestel. Dit is defnitief ‘n geleentheid wat julle nie wil misloop nie!

Deel van hierdie konvensie sluit verskeie optredes deur plaaslike en internasionale kore in. Ek heg die program vir die naweek aan, en moedig almal aan om die geleentheid te gebruik om na hierdie briljante kore te luister. Ons koorlede sal toegang hê tot hierdie konserte, maar familie en vriende sal vooraf kaartjies moet koop om dit by te woon. Kaartjies kan op die MCC se webtuiste gekoop word by die volgende skakel https://tickets.tixsa.co.za/events/26842 OF stuur vir my ‘n epos (rolene@jvrprim.co.za) om kaartjies teen ‘n goedkoper prys te kry: R120 volwassenes en R75 vir kinders en pensionarisse. Hierdie aanbod is slegs geldig tot 10 Maart.

Hier is ‘n lys van die konserte waarvoor julle kaartjies kan koop. Ons senior koor tree op in die Convention Choirs Showcase op Sondag, 16 Maart:
Die koor gaan lang ure by die CTICC spandeer, maar ons vertrou dat die naweek ‘n besonderse belewenis vir elke kind sal wees.

Sien die volledige program en reëlings hier onder:

Indien jou kind nie hierdie naweek se verrigtinge kan bywoon nie, laat my asseblief weet. Ek sal verdere inligting nader aan die tyd deurgee. Vra gerus indien iets onduidelik is – ons wil graag help.

Vriendelike groete,
Rolene van Zyl

SENIOR KOOR MCC - "Rehearsal" Program

Sien die volle oefensessieprogram(Rehearsal session) vir Mzanzi Conductor’s Convention by die CTICC by hierdie skakel: MCC REHEARSAL SCHEDULE 2025

SENIOR KOOR: Maart Oefenkampe

Daar lê twee oefenkampe vir die senior koor voor, waartydens ons gaan fokus op die finale afronding van die musiek vir die Mzanzi Conductors Convention.

Waar: LJvR Skoolsaal

Saterdag, 1 Maart:

Tyd: 08h00 – 13h30

Kleredrag: Informeel en gemaklik.

Kos: Ons vra dat elke ouer asseblief middagete, ‘n peuselhappie en water vir jou kind sal inpak.

Ons begin stiptelik om 08h00 - ons sal vir die leeders tye gee om te ontspan en iets te eet tussen ons oefensessies.

Donderdag, 6 Maart:
  • 07h45 – 08h45 (Gewone oefentyd)
  • 14h00 – 17h00 (Geen sport of buitemuurse aktiwiteite vir koorlede op hierdie middag nie).
Ons sal 14h30 vir die leerders middagete voorsien. Pak asseblief peuselhappies en water in vir die res van die middag.

Neem asseblief kennis van die volgende:
  • Alle leerders moet stiptelik na afloop van die oefenkampe opgetel word. Die agterste hek sal oop wees vir gebruik.
  • Maak seker jou kind bring genoeg water om gedurende die oefensessies te drink.
  • Die snoepie is nie oop nie, en geen kind sal toegelaat word om die skoolgronde te verlaat tydens die kooroefening of pouses nie.
Laat weet asseblief indien jou kind nie ‘n oefenkamp kan bywoon nie – ons kan nie ‘n koorlid by die MCC laat optree as hy/sy ‘n oefenkamp mis en die ouer nie verskoning gemaak het nie. Ons hoop om alle koorlede teenwoordig te hê.

Ons sien uit na twee heerlike oefeninge! Vra gerus indien daar onsekerheid is oor iets.

Vriendelike groete,

Rolene van Zyl

Musiekkonserte: Kwartaal 1

Dit is amper weer tyd om musiekkonsert te hou! In Maart kry elke leerder wie ‘n musiekinstrument speel, ‘n geleentheid om die kwartaal se harde werk op die verhoog ten toon te stel. Ons leerders is nie verplig om deel te neem nie, maar ons moedig almal aan om die geleentheid te gebruik. Alhoewel musiekleerders baie tyd alleen spandeer om te oefen, is musiek ‘n uitvoerende kuns en daarom bedoel om ook met ander gedeel te word.

Die konserte sal in klas- of graadverband gedurende skooltyd plaasvind. Vra asb jou kind se musiekonderwyser indien daar onsekerheid is oor tye, veral die Graad 4H klas wat in twee sessies optree. Sien asseblief die datums en tye vir elke graadgroep:
Ons nooi alle ouers, familie, en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vondering te vier.

Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus.

Groete,
Rolene van Zyl

SPORT

Buitemuurseprogram: Winter 2025

Kliek HIER of op die foto hier onder vir die volledige winter-buitemuurseprogram:

ALGEMEEN

Waterbuffel - Burgerfees: 14 Maart 2025

Kom beleef die Waterbuffel - Burgerfees – 'n dag van lekker kos, musiek, samesyn en pret!

Sluit by ons aan vir 'n wonderlike middag vol smullekker burgers, musiek en 'n fantastiese atmosfeer! Kom probeer die nuwe gesondheids-rooivleis van Babylonstoren in 'n smaaklike burger. Die Waterbuffel - Burgerfees beloof die lekkerste burgers, wyn en 'n paar verrassings vir die hele gesin. Jy kan 'n wegneemete bestel of saamkom kuier op die mini-sportveld agter die skool vanaf 16:00. Danksy die ruim skenking van Babylonstoren kos die burgers slegs R50 elk!

???? Datum: 14 Maart 2025

Tyd:

  • Wegneemetes: 11:45 - 12:30 (kom haal jou burger by die skool)
  • Aandete: 16:00 - 20:00
???? Ligging: Mini-sportveld by Laerskool Jan van Riebeeck

Wat kan jy verwag?
  • Heerlike burgers met gesondheids-rooivleis van Babylonstoren
  • Gelukkige trekking: Vir elke burger wat jy koop, kry jy 'n kans om 'n prys te wen!
  • SnapScan-kroeg vir maklike betalings
  • Snoepie wat oop sal wees vir die kinders
  • Fantastiese samesyn saam met die skoolgemeenskap
Vriendelike Burgerfees-groete,
Susan Derksen
OOV Voorsitter

Beoogde Projek – Sportopgradering 2025 

Ons is baie opgewonde om aan te dui dat ons vanaf 25 April tot 12 Mei ons mini-sportveld (agter die skool) na ‘n veeldoelige kunsgrasbaan gaan opgradeer. Die kunsgrasoppervlakte sal ons in staat stel om daarop sport te beoefen, en dit kan ook die ‘verkeer’ van leerders dra wat daarop voor skool, tydens pouses en na skool speel. Dit beteken dat die sportaanbod verder ondersteun word, aangesien ons daarop twee mini-hokkievelde gaan aanbring, wat die hokkieleerders se vaardigheidsvlakke verder sal ontwikkel.

Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust, wat gefinansier word uit die fondse van ons mees onlangse skoolveiling. Dit sluit ook die gawe hand van Gerhard Conradie in, wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg. Baie dankie, Gerhard – ons waardeer dit baie.

Verder wil ons graag die fasiliteite opgradeer met ‘n volledige sportsentrum wat pawiljoene, kleedkamergeriewe en ‘n mini-klubhuis insluit. Dit sal ook ruimte in die skoolgebou maak vir ons kultuuraanbod. Hierdie projek sluit ook die plaveisel agter onder die bome in om die hele area esteties mooi af te rond.

Sien aangeheg ons droomplan, soos ontwerp deur Stephen Hitchcock (argitek), wat op ons Beheerraad dien. Ons nooi graag enige belangstellende ouers en voornemende donateurs wat ‘n bydrae sal oorweeg, om met my (skoolhoof@jvrprim.co.za) kontak te maak. Ons het reeds ‘n bedrag geld vir die projek opgesyfer en kan dit in twee fases aanpak. Dit sal vir ons ‘n idee gee of ons nou fase 1 aanpak of die volledige projek.

Laat my toe om Stephen Hitchcock hartlik te bedank vir die puik ontwerp van die droomplan, asook al die kosbare tyd wat daarmee gepaard gegaan het.

Baie dankie vir julle goedgunstige oorweging.

Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF

Kliek HIER om die volle plan te sien

Huldeblyk aan oud-onderwyser: Vicky Taljaardt

Vicky is sedert Januarie 1991 `n onderwyseres by Laerskool Jan van Riebeeck. Sy het einde 2016 afgetree. Ek het in Januarie 1994 as skoolhoof by Laerskool Jan van Riebeeck begin en baie gou het ek vir Vicky leer ken as ‘n baie deernisvolle persoon wat veral baie omgegee het vir die ‘afvlerkleerders.’ Sy het die senior leerders met spesiale onderwys-behoeftes onderrig. (vroeër is dit spesiale klasse genoem)

Beide Laerskool - en Hoërskool Jan van Riebeeck het vir haar baie na aan die hart gelê en sy was in murg en been `n Jan van Riebeecker. Sy was vanaf graad 8 (standerd 6) tot matriek in Hoërskool Jan van Riebeeck….`n Karoomeisie wat in die meisieskoshuis (Die Sop) tuisgegaan het.

Alle prestasies van leerders en oud-leerders van beide skole het haar baie trots gemaak. Sy was trots op hulle skooluniforms en hulle geprys as hulle netjies was (buite die skoolterrein) en hulle ook streng aangespreek as die uniform nie netjies of korrek was nie.

Vicky was ‘n baie gewilde personeellid en was altyd omring deur personeellede en leerders. Oud-leerders het gereeld die skool besoek en altyd gevra of hulle gou eers by juffrou Vicky kan gaan inloer. Sy het tot en met haar afsterwe baie kontak gehad met baie van haar oud-leerders en was baie trots op hulle prestasies, al was dit hoe gering. Sy het dit altyd gedeel met die personeel. Wat `n geliefde mens!

Vicky was ook baie betrokke met die organisasie van haar skooljaargroep se Alumni-funksies. Hulle is nog steeds ‘n groep wat gereeld bymekaarkom en gesellig verkeer. Sy gaan voorwaar ‘n groot leemte agterlaat!

Sy was ook vir baie jare in beheer van die uitverhuring van die laerskool se klubhuis op die Conradieveld en het haar ongelooflik goed van haar taak gekwyt!

Sy was ‘n mense-mens wat altyd haar medemens eerste gestel het, altyd kontak gehou met oud-personeellede en oud-leerders. Haar vriendekring was groot, maar sy het elkeen op die hande gedra. Sy het ‘n ongelooflike algemene kennis gehad en was altyd op hoogte van wêreldgebeure!

Op ‘n persoonlike noot was Vicky en Okkie, haar man, wat in Mei 2022 oorlede is, baie goeie vriende van my en Marianna. Sy was ook die een wat ons sommer vroeg na my aanstelling deel gemaak het van hulle vriendekring waarvan nog baie van hulle ons beste vriende is.

Vicky het diep spore in die geskiedenis van die twee skole getrap. ‘n Groter en meer lojale Jan van Riebeecker sal daar nie gou weer wees nie!

Geskryf deur:

Mnr. Johan Oosthuizen, voormalige Skoolhoof

Oud-Jannie presteer in krieket

Ruben Eksteen (gr.7 -2024) presteer baie goed by sy nuwe tuise, Hoërskool Pinelands.

Baie geluk, Ruben. Jy maak ons baie trots!

TERUGVOER

Christiaan Cronje verower 'n medalje in stoeitoernooi

Christiaan Cronje het deelgeneem aan die Gertjie van der Merwe - Spartan Wars Wrestling Toernooi op Saterdag, 22 Februarie 2025. Dit was sy eerste toernooi van die jaar.

Hy het 'n silver medalje in sy ouderdomsgroep verower. Welgedaan Christiaan!

Zone-atletiekkampioenskap en WP-proewe 2025

Op Saterdag, 22 Februarie, het 18 van ons leerders aan die Zone-atletiekbyeenkoms deelgeneem. Ons atlete het baie goed presteer en die volgende uitslae behaal:

  • Louis Hofmeyer het eerste plek behaal in die seuns o.10 verspring.
  • Matteo Pereira het eerste plek behaal in die seuns o.10 hoogspring.
  • Leah Jacobsz het eerste plek behaal in die dogters o.11 1200m.
  • Carter Schoeman het eerste plek in die seuns o.13 gewigstoot en tweede plek in diskus behaal.
  • Anabella Boshoff het tweede plek behaal in die dogters o.12 spiesgooi.
  • Jack Dawes het tweede plek behaal in die seuns o.13 spiesgooi.
  • Stef Nel het derde plek behaal in die seuns o.11 verspring.
  • Nils le Roux het vierde plek behaal in die seuns o.13 200m hekkies.
  • Ynes Samba Kabassidi het vierde plek behaal in die dogters o.13 1500m en 200m hekkies.
Hierdie atlete het gekwalifiseer vir die WP-proewe wat op 27 Februarie by Groenpunt plaasgevind het. Dit was 'n dag vol puik prestasies, en ons atlete het hulle baie goed van hul taak gekwyt. Hoewel daar vierde, vyfde en sesde plekke behaal is, het ons atlete ongelukkig net-net die top 3 gemis om hul WP-klere te verower.

Baie geluk aan elke atleet wat hierdie seisoen alles gegee het en waardevolle ondervinding in die proses opgedoen het. Ons is uiters trots op elkeen van julle!

Swemuitslae: 21 Februarie 2025

Sien die week se swemuitslae hier onder:

Tennisuitslae: 26 Februarie 2025

Sien die week se tennisuitslae hier onder:

JANNIES GESPREKKE

Die towerkrag van 'n diverse brein

Ons is so bevoorreg om binne 'n skoolgemeenskap te funksioneer wat diversiteit in ras, geslag, kultuur en taal omarm. Die diversiteit in leerders se breine en die manier waarop hulle in sekere situasies optree, is soms moeiliker om te verstaan as byvoorbeeld iemand met 'n fisiese gestemdheid of uitdaging. Neurodiversiteit is 'n term wat al hoe meer in ons skool gebruik word aangesien ons poog om ons leerders so goed moontlik volgens hul unieke behoeftes akkommodeer.

Hierdie week het ons besluit om 'n video te plaas wat op 'n praktiese manier uitbeeld hoe leerders wat op die outistiese spektrum gediagnoseer is, funksioneer. Kyk gerus hierna. Wys en bespreek gerus hierdie video met jou kind(ers) sodat hulle moontlik hul maats en/of hulself beter kan verstaan. Die opvoeding berus by ons om ons kind(ers) te lei hoe om teenoor ander op te tree wat van ons verskil.

Kliek op die skakel om die video te kyk: Amazing things happen!

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

 Geagte Ouers / Voogde - 28 Februarie 2025  

Die laaste dag van Februarie het net te skielik aangebreek, en ek glo dat julle ook met ‘n skok besef dat die tweede maand van die jaar agter die rug is. Februarie is vernoem na die Romeinse god Februus, wat bekend staan as die god van suiwering of reiniging, wat baie insiggewend is. Dikwels gebruik mense die maand van Februarie om hul liggame te detoks na die heerlike feestyd oor Desember- en Januarie-maand.

Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat op Vrydagaand, 21 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Ouers/voogde en leerders het, soos gewoonlik, in groot getalle opgedaag. Die weer het saamgespeel, en met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat ons omring, maak Conradieveld seker een van die mees idilliese liggings om ‘n klasbraai te hou. Baie dankie aan die personeel wat, na die lang sportweek, die moeite gedoen het om ook die spesiale aand by te woon en heerlik saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit dan ook ons Gr. 1-ouers/voogde se eerste amptelike klasbraai by die laerskool, en dit was opvallend hoe die heerlike samesyn die geleentheid gekenmerk het, terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is.
Op ‘n baie hartseer noot het een van ons skool se oud-onderwysers, naamlik juf. Vicky Taljaardt, op Vrydag, 21 Februarie, afgesterf. Juf. Vicky was ‘n opregte Jan van Riebeecker in murg en been. Sy het vir baie leerders, kollegas en mense so baie beteken. Sy was ‘n toegewyde en deernisvolle onderwyser wat altyd die spreekwoordelike ekstra myl vir haar leerders en kollegas gestap het. Haar gedenkdiens het op Woensdag, 26 Februarie, vanuit die NG Kerk Drieankerbaai om 11:00 plaasgevind. Dit is deur ds. Andries Cilliers behartig, met ‘n besonderse boodskap oor die liefde en omgee wat juf. Vicky vir haar medemens en diere gehad het. Ons vorige skoolhoof, mnr. Oosthuizen, wat baie goed met haar bevriend was, het ‘n spesiale huldeblyk oor haar merkwaardige lewe gelewer, en so is haar lewe tydens die gedenkdiens op ‘n gepaste wyse gevier. Ons medelye en gebede is met die familie. Mag sy sag rus. Vicky gaan verseker baie gemis word.
Ons skoolgebou en -terrein is sedert Woensdag, 26 Februarie, aansienlik stiller aangesien ons Gr. 7’s en 5’s weg op kampe (onderskeidelik te Franschhoek en SOS) is. Ons Gr. 7’s en 5’s is reeds vanaf Maandag baie opgewonde, en hulle kon net eenvoudig nie wag dat Woensdag moes aanbreek nie. Skoolkampe speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van leerders en bied die ideale geleentheid om leerders uit ‘n bekende en gemaklike omgewing te neem en bloot te stel aan ‘n onbekende natuuromgewing wat gestruktureerd, veilig en vriendelik is. Terwyl hulle die natuur verken, word hul karakter gebou, kommunikasievaardighede en spanwerk verbeter, en emosionele- en leierskap eienskappe ontwikkel. Hier is dus net ‘n wen-wen-situasie wat gepaardgaan met tonne pret, waar hulle beslis hulself kan wees en ander leerders sowel as hulself beter leer ken. Hulle gaan dus leer wat dit beteken om as ‘n span saam te werk en op die regte tye vir mekaar spasie te gee. Skoolkampe sal altyd ‘n onvergeetlike deel van ‘n leerder se skoolloopbaan wees, waar hulle dikwels bewustelik en onbewustelik waardevolle lewenslesse leer. Dit is natuurlik ook die Graad 5’s se eerste skoolkamp. Ek glo dit het dalk ‘n paar mamma-harte baie angstig gemaak, maar wees verseker, jou kind(ers) gaan baie pret saam met hul maats hê, en hulle is heel moontlik salig onbewus van die ouerverlange. Gaan bederf gerus die ‘kampers’ vanmiddag of oor die naweek na afloop van hul terugkeer by die skool. Ek glo hulle kan nie wag om hul nuwe kampervarings en -avonture met julle te deel nie. Laat my ook toe om die opvoeders wat ons leerders tydens die skoolkampe vergesel het, hartlik te bedank dat hulle so mooi na ons Jannies omgesien het.

Die Sone-Atletiekbyeenkoms het op Saterdag, 22 Februarie, te Vygieskraal plaasgevind. Die volgende nege atlete het vir die WP-Atletiekbyeenkoms, wat op Donderdag, 27 Februarie, te Groenpuntstadion plaasgevind het, gekwalifiseer:
  • Louis Hofmeyer
  • Matteo Pereira
  • Leah Jacobsz
  • Stef Nel
  • Anabella Boshoff
  • Carter Schoeman
  • Nils le Roux
  • Jack Dawes
  • Ynes Samba Kambassidi
Baie geluk aan die bogenoemde atlete, ons is baie trots op julle en ons hou styf duimvas! Baie dankie aan mnre. Leon, André en Dian wat ons atlete op Saterdag vergesel het. Ons is julle baie dankbaar.

Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne en sterkte aan die senior koor wat môre aan ‘n koorkamp ter voorbereiding vir die Mzansi Conductors Convention gaan deelneem, wat vanaf 14 – 16 Maart plaasvind. Môre gaan die Dapper Stappers saam met die uitreikleerders die strande van Bloubergstrand-area help skoonmaak. Daar vind ook netbalwedstryde asook mini-krieket plaas – sterkte aan almal betrokke.

Ek sluit dan die week af met ‘n onbekende aanhaling rakende respek, een van ons skool se kernwaardes:

“Treat people the way you want to be treated.
Talk to people the way you want to be talked to.
Respect is earned, not given.”

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week