Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Do 22 Oktober 2026

  • Krieket: 13A vs Tableview (TUIS)
  • Krieket: Curro Century City (WEG) o.7 - o.9
  • Krieket: 13B vs Tableview (WEG)

Vr 23 Oktober 2026

  • Swem: Herzlia (WEG)
  • Skaak: Panorama
  • TOETS: Wiskunde (Gr.4-7)
  • LJvR Junior Koor en St Cyprian's Junior Choir "Choir Mingle"

Ma 26 Oktober 2026

  • Beheerraad-vergadering
  • Krieket: o.10A vs Curro Durbanville (WEG)

Wo 28 Oktober 2026

  • Krieket: 11A vs Elkanah House (TUIS)
  • Krieket: 11B vs Elkanah House (WEG)
  • Nicola Potter (Onderwyser) verjaar
  • Fotodag: Sportfoto's

Do 29 Oktober 2026

  • Krieket: Milnerton (WEG) o.7 - o.9
  • Krieket: 13B vs Curro Durbanville (WEG)
  • Krieket: 13A vs Curro Durbanville (TUIS)
  • Kultuurkonsert Gr.4 & 5
  • Kultuurkonsert Gr.6 & 7

Vr 30 Oktober 2026

  • Tennis: St Cyprians Mixed Toernooi
  • Swem: Pinelands-Noord (WEG)
  • Sivvies
  • SW Assessering (Gr.4 -7)
  • Kultuurkonsert Gr.1 & 3

Ma 2 November 2026

  • Begrotingsvergadering: Ouers

Di 3 November 2026

  • Koffie en Beskuit Konsert

Wo 4 November 2026

  • Krieket: 11A vs Sunningdale (WEG)
  • Krieket: 11B vs Curro Century City (TUIS)
  • Stemdag: Openbare vakansiedag

Do 5 November 2026

  • o.11 & o.12 Netbalproewe vir Patrys toer 2027
  • Krieket: Sunningdale (WEG) o.7 - o.9
  • Krieket: 13A vs Van Riebeeckstrand (TUIS)
  • Krieket: 13B vs Van Riebeeckstrand (WEG)
  • Opedag: Gr.1 (SLEGS OUERS)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 09 Oktober 2026

Dit is vir my ’n wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel die afgelope week ná ’n heerlike Oktober-vakansie terug by die skool te verwelkom. Ek hoop almal het die kort vakansie terdeë geniet. Verder glo ek almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om die laaste kwartaal van die jaar met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal vier is vanjaar slegs tien weke lank met heelwat opwindende skoolaktiwiteite wat gaan plaasvind.

Op Dinsdag, 06 Oktober, het ons Jannies en personeel met groot opwinding terug skool toe gekeer. Die eerste dag van die nuwe kwartaal word tradisioneel met ’n saalbyeenkoms begin waartydens ek almal amptelik ná die heerlike vakansie kon terug verwelkom. Mnr. Keenen het die saalbyeenkoms met ’n puik boodskap oor dankbaarheid geopen. Hierdie maand vier ons ook Onderwysers en mnr. Keenen het veral gefokus op die Internasionale Onderwysersdag wat op 05 Oktober wêreldwyd gevier is. Hy het onder andere die leerders versoek om ook dankbaar vir hul toegewyde onderwysers te wees wat so ’n belangrike rol in hul lewe speel.

Graag wil ek by sy boodskap aansluit en my persoonlike dankbaarheid as skoolhoof teenoor elke onderwyser en nie-onderwyser (administratief, terrein, nasorg en sekuriteit) by Laerskool Jan van Riebeeck uitspreek. Ons is werklik geseënd met toegewyde personeel wat werklik omgee deur ons leerders se beste belange op die hart te dra. Dus versoek ek ons skoolgemeenskap om ons personeel se deursettingsvermoë en veerkragtigheid veral dié maand te vier. Kom ons eer hulle en al die ander onderwysers in die land se positiewe ingesteldheid en erken hul leeue-aandeel wat daagliks hoop, rigting en betekenis aan ons land se toekoms gee. Hiermee salueer ek elke onderwyser wat elke dag sy/haar beste gee ter wille van ons kinders se toekoms en drome – dit is nie altyd ’n maklike beroep om te volg nie en dikwels ontvang onderwysers meer kritiek as krediet!

Tydens die saalbyeenkoms op Dinsdag, 06 Oktober, is die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders van kwartaal 3 bekendgemaak en hul welverdiende sertifikate is oorhandig. Baie geluk aan die volgende elf gr. 7-leerders (alfabeties en die 10de en 11de posisies het presies dieselfde punt behaal) met jul harde werk en toewyding, ons is baie trots op julle:
  • Quinn du Toit
  • Neill Ferreira
  • Jamie Jordaan
  • Sophia Jooste
  • Lea Loubser
  • Karla Louw
  • Bella Naylor
  • Jana Nel
  • Ghia Pereira
  • Cato Terblanche
  • Dané Walker
Dan het Oktobermaand sommer net te skielik sy verskyning gemaak en die pragtige maand laat my altyd aan die bekende digter, C. Louis Leipoldt, se bekende gedig dink:

“Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!

Dan is die dag so helder, so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure

Die asvaal ou Karoo.”

So beskryf C. Louis Leipoldt die mooiste en magiese maand van die jaar in die tweede strofe van sy bekende gedig. Oktober bring beslis nuwe hoop vir veld, dier en mens. Dit is die tydperk wanneer blomme in volle mag blom en die landskap omskep word in die pragtigste kleure en geure. Die koue dae van die winter is veronderstel om iets van die verlede te wees, maar so ken ons die Moederstad wat dikwels vier seisoene in ’n enkele dag kan akkommodeer. Ek glo dat die warmer dae almal se gemoedstoestand sal opkikker en ons die laaste kwartaal met hernieude energie kan aanpak. Sien gerus die pragtige clivia-plante in ons skooltuin wat besig is om so mooi te blom. Hierdie pragtige blomplante is inheems aan Suid-Afrika en word dikwels in skaduryke plekke gesien. Hul oranje blomme bring kleur aan ons skoolterrein.

Hierdie week (6–9 Oktober) en volgende week (12–15 Oktober) is ons graad 7-leerders deur Babylonstoren genooi om by Kleinbosch aan ’n geïntegreerde leerprogram deel te neem. Leerders slaap daar oor en die Bou ’n Besigheid-program sluit prakties by entrepreneurskap, kommunikasie, probleemoplossing, kreatiewe denke, selfvertroue, samewerking en verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie aan. Leerders kry ook blootstelling aan praktiese tegnologie en prototipering, insluitend 3D-druk, waar hulle idees meer tasbaar kan maak, asook die bou van webtuistes. Hulle het ook geleer om koeie te melk – ek glo dat ons stadsjapies die oefening baie interessant gevind het. Ons glo verder dat ons graad 7-leerders die hele ondervinding baie verrykend gevind het. Baie dankie aan juff. Suné, Marecia en mnr. Keenen wat die graad 7-leerders vergesel.
Baie geluk ook aan ons adjunkhoof, juf. Marinda Brink, wat op Dinsdag, 06 Oktober, verjaar het. Mag die Here jou nuwe lewensjaar ryklik seën. Baie dankie vir alles wat jy vir die skool doen en beteken!

Afrikaans bly darem net ’n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

‘Dassie het skielik ’n stert gekry’

Die uitdrukking verwys na ’n persoon wat hom/haar skielik hoogmoedig gedra en dink hy/sy is beter as ander mense.

Ek sluit dan af en mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: November 2026

SPORT

Buitemuurseprogram, Kwartaal 4 - 2026

ALGEMEEN

Diabetesbewusmakingsdag: Vrydag, 13 November 2026

Op Vrydag, 13 November, om 10:30 hou ons ’n spesiale diabetesbewusmakingsgeleentheid in die skoolsaal.

Leerders word aangemoedig om blou sivvies te dra ter ondersteuning van diabetesbewusmaking. Ons vra ’n bydrae van R10 per leerder, wat deur Karri betaal kan word.

Kom ons staan saam en wys ons ondersteuning vir almal wat deur diabetes geraak word!

Bestel van Konsertfoto's en -video's

Bestellings vir ons konsertfoto’s en -video’s op Karri sluit Maandag, 12 Oktober, om 17:00.

Alle besonderhede oor die foto’s en video’s is op Karri beskikbaar.

BELANGRIK: Geen laat bestellings sal aanvaar of hanteer word nie. Maak dus asseblief seker dat jy jou bestelling betyds plaas.

Nuwe dag vir Die Boekbende

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

KULTUUR

Podium Pret Redenaars

Die finale ronde van Podiumpret het Donderdag, 24 September, aanlyn plaasgevind.
 
Henry Jordaan in graad 5 en Antjie Samuel in graad 6 het deelgeneem. Daar was hierdie jaar meer as 'n 1000 deelnemers! 
 
Uitslae:  
  • Henry het 'n 10de posisie vir sy graad behaal en 3de plek vir die kategorie (Afrikaans 1e Taal Redenaars Onervare) 
  • Antjie het twee 1ste plekke behaal – Graad en kategorie (Afrikaans 1e Taal Redenaars Ervare) 
Baie geluk aan hierdie twee sprekers!! Ons is baie trots op julle. 

INDIVIDUEEL

Uitstekende balletprestasies by Royal Academy of Dance-eksamens

Baie geluk aan ons Jannies wat onlangs uitstekende uitslae in hul Royal Academy of Dance (RAD)-ballet­eksamens deur die Cape Ballet Centre in Gardens behaal het.

Die RAD is een van die wêreld se voorste ballet­eksamenrade, en hierdie prestasies getuig van die leerders se toewyding, dissipline en harde werk deur die jaar.

Ons is ongelooflik trots op hul prestasies en wil hulle ook gelukwens met die wyse waarop hulle hul skoolverpligtinge en balletopleiding suksesvol balanseer.

RAD Vlak 2:
  • Deidre Louw – Onderskeiding (Goue medalje)
  • Octavia Ackermann – Onderskeiding (Goue medalje)
  • Anna Leach – Onderskeiding (Goue medalje)
RAD Vlak 3:
  • Inge Engelbrecht – Onderskeiding (Goue medalje)
  • Kitty Partner – Hoë meriete (Silwer medalje)
  • Eliana Greef – Onderskeiding (Goue medalje)
  • Karen James – Onderskeiding (Goue medalje)
  • Sophia Price – Onderskeiding (Goue medalje)
Baie geluk aan elkeen van julle! Ons wens julle alle voorspoed toe met jul toekomstige balletprestasies!

Bella blink uit by SA Gimnastiekkampioenskappe

Bella Malan het op 27 September tydens die skoolvakansie aan die SA Gimnastiekkampioenskappe deelgeneem en uitstekend gevaar.

Sy het in haar groep onder die top 10 op die sprong (vault) geëindig met ’n telling van 8,75. Hoewel sy nie uiteindelik ’n plek onder die algehele top 10 kon behaal nie, is dit steeds ’n besondere prestasie op nasionale vlak.

Baie geluk, Bella! Ons is ongelooflik trots op jou!

Noa en Lizzy Presteer in Gimnastiek

Noa Rademan en Lizzy Snyders van Ignite Gymnastics Club het op 26 Oktober 2026 die Wes-Kaap by die Nasionale Gimnastiekkampioenskappe verteenwoordig.

Uit 115 gimnaste het albei uitstekend gevaar en plekke onder die top 10 behaal. Noa het ’n indrukwekkende 8ste plek in Suid-Afrika op die balk behaal, terwyl Lizzy 10de in Suid-Afrika op die sprong geëindig het. Albei meisies het ook in die boonste helfte van die Vlak 4, 11-jaar-kategorie geëindig.

Baie geluk, Noa en Lizzy, met hierdie besondere prestasie. Ons is baie trots op julle!
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet