|
|
|
|
|
Dagboek
Di 27 Oktober 2026
- Krieket: 13A vs Tableview (WEG)
Wo 28 Oktober 2026
- Krieket: 11B vs Elkanah House (WEG)
- Nicola Potter (Onderwyser) verjaar
- Krieket: 11A vs Elkanah House (TUIS)
Do 29 Oktober 2026
- Krieket: Milnerton (WEG) o.7 - o.9
- Krieket: 13B vs Curro Durbanville (WEG)
- Krieket: 13A vs Curro Durbanville (TUIS)
Vr 30 Oktober 2026
- Tennis: St Cyprians Gemengde Toernooi
- Swem: Herzlia Highlands (WEG)
So 1 November 2026
- Rashard Fuller (Sportsorganiseerder) Verjaar
Ma 2 November 2026
- Begrotingsvergadering: Ouers
Di 3 November 2026
- Koffie en Beskuit Konsert
Wo 4 November 2026
- Krieket: 11A vs Sunningdale (WEG)
- Krieket: 11B vs Curro Century City (TUIS)
- Stemdag: Openbare vakansiedag
Do 5 November 2026
- o.11 & o.12 Netbalproewe vir Patrys toer 2027
- Krieket: Sunningdale (WEG) o.7 - o.9
- Krieket: 13A vs Van Riebeeckstrand (TUIS)
- Krieket: 13B vs Van Riebeeckstrand (WEG)
- Michelle Compion (Onderwyser) verjaar
- Opedag: Gr.1 (SLEGS OUERS)
Vr 6 November 2026
- Krieket: o.13A - 6 'n kant toernooi De Kuilen
- Skool verdaag vroeër (GSF om 13:00, ISF om 13:15)
Sa 7 November 2026
- Krieket: Mini-Kriekettoernooi by Curro Hermanus (o.7 - o.9)
Ma 9 November 2026
Di 10 November 2026
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Dit is verstommend hoe vinnig die weke teen die einde van die jaar verby snel, met die derde week van die laaste kwartaal wat vandag tot 'n einde kom. Daar het reeds heelwat sportwedstryde en -byeenkomste die afgelope twee weke plaasgevind.
|
Graag deel ek die volgende puik somersportuitslae en wens die volgende leerders geluk met hul pragtige sportprestasies:
|
Atletiek: Op Vrydag, 16 Oktober, het ons aan die Laerskool De Hoop Prestige Atletiekbyeenkoms te Somerset-Wes deelgeneem en ons atlete het soos volg puik gevaar:
|
- Louis Hofmeyer (o.11) behaal ‘n 1ste plek in verspring (ontvang goue medalje);
- Christiaan Roux (o.9) behaal twee 2de plekke vir 60 m en 100 m (ontvang twee silwer medaljes);
- Stef Nel (o.12) behaal ‘n 2de plek in hoogspring (ontvang silwer medalje);
- Ilan van den Berg (o.10) wen brons vir die 300 m;
- Jacques du Toit (o.13) wen brons vir die 300 m; en
- Ilan van den Berg, Nicolaas Boshoff, Stef Nel en Jacques du Toit behaal ‘n 3de plek vir die 300 m-wisselaflos (almal ontvang bronsmedaljes).
Verder sluit ons die aand op ‘n hoogtepunt af met 'n puik vertoning deur ons dogters – Leah Jacobsz, Anna Rabie, Elise Theron en Octavia Ackermann wen goud in die wisselaflos. Die item bestaan uit 'n 600 m, 300 m, 200 m en 100 m. In totaal het ons 8 medaljes tydens die byeenkoms verower (2 x goud; 3 x silwer en 3 x brons). Welgedaan, Jannies!
|
Skaak: Ons o.9- en o.11-skaakspanne het aan die einde van kwartaal drie aan die Wes-Kaap-proewe te Wellington deelgeneem. Die o.9's het 'n 8ste plek en die o.11's 'n 12de plek behaal. Ons is baie trots op hulle en ons o.9-span sluit Daniel Lawson, Pieter-Steph Bothma, Robert Rand, Martin Crots, Johannes Smit, Sebastiaan Scott en Christopher Styan in. Ons o.11-span sluit Benjie Ntloko, Stefan van der Walt, Christiaan Jooste, Xian Müller, Phillip Groenewald, James Steyn en Aiden Cronje in.
|
Graag wil ek Daniel Lawson (gr. 2) uitsonder wat 'n Top 10-plek tydens die o.10-individuele proewe behaal het en nou deel van die Wes-Kaapspan vorm wat aan die Suid-Afrikaanse byeenkoms gaan deelneem. Baie geluk, Daniel, dit is 'n merkwaardige prestasie, jy maak ons baie trots!
|
Ons leerders vaar nie net puik op sportgebied nie, maar soos gewoonlik ook wanneer dit by akademie kom. Ons neem jaarliks aan die Wiskunde AMESA Olimpiade deel. Vanjaar het meer as 15 000 leerders vir die tweede rondte gekwalifiseer wat op 20 Mei plaasgevind het. Baie geluk aan die volgende leerders met jul onderskeie puik prestasies:
|
- Anya Maritz
- Anya Greef
- Wrench Silvis
- Nina Ferreira
- Henry Jordaan
- Jasper Wolff
- Luc Durand
- Dirk de Jager
- Stef Nel
- Jacob Venter
- Ella van der Walt
- Chris Derksen
- Alexander Styan
- Antjie Samuel
- Lukas Venter
- Reuben Janse van Rensburg
- Jamie Jordaan
Bogenoemde is weereens 'n bewys van die hoë standaard van akademie wat ons by die skool handhaaf om ons leerders vir hul hoërskoolloopbane voor te berei.
|
Tans is die onderwysers onder leiding van hul graadhoofde en fasehoofde besig met die 2027-klasindelings. Ons het die afgelope tyd verskeie versoeke vanaf ouers ontvang rakende hul kind se klasindelings en dalk mag sommige ouers nie bewus wees nie, maar ons het ‘n welgevestigde en goed deurdagte klasindelingsbeleid in plek om klasse regverdig vir die daaropvolgende jaar in te deel met die fokus op die leerder in totaliteit. Die volgende faktore word met die indeling van klasse in ag geneem:
|
- Akademiese uitslae;
- Leerderverhoudinge (vriendskappe);
- Mediese aanbevelings en uitdagings;
- Leerderpersoonlikhede moet sover as moontlik met onderwyserpersoonlikhede versoen;
- Aantal leerders met uitdagings per klas;
- Balans tussen seuns en dogters per klas;
- Taalvaardighede (uitdaging met die Afrikaanse taal); en
- Regverdige verdeling van leerdergetalle per onderwyser.
Dus wil ek veral die grondslagfase-ouers vriendelik versoek om nie die onderwysers te nader om hulle te versoek om jul kinders volgende jaar by ‘n spesifieke onderwyser te plaas nie. Ons is baie konsiderend met die klasindelings, maar ek glo julle het begrip dat as ons een ouer se versoek toelaat, dan moet ons almal se versoeke toelaat en dit is tog prakties nie moontlik en uitvoerbaar nie. Ons het goeie en toegewyde onderwysers. By voorbaat dankie dat julle ons in die proses van klasindelings vertrou. Huppelland volg nie spesifiek hierdie klasindelingsbeleid nie, want die leerders is nog baie jonk en daarom word ouers daar by klasindelings betrek.
|
Ek dink ons vergeet soms dat kinders dikwels meer aanpasbaar is as wat ons besef en ek het begrip dat die hedendaagse ouers geneig is om oorbeskermend te wees. Ons kan al ons leerders spreekwoordelik in watte toedraai, maar ons weet die lewe daar buite nie so werk nie en dit is ook nie volhoubaar nie. Die skool is beslis die plek waar ons binne 'n beskermende omgewing ons leerders op 'n klein skaal vir die lewe kan begin voorberei. Ek bedoel beslis nie dat ons onnodig druk op leerders moet plaas om hulle vir die lewe voor te berei nie, maar eerder dat ons oor tyd en stelselmatig leerders leer om aanpasbaar, selfstandig, veerkragtig en onafhanklik te word sodat die transisie van laerskool na hoërskool soomloos kan geskied, soos dit tans is. Ons skool is ‘n veilige omgewing waar ek wil seker maak dat elke leerder sy laerskoolloopbaan geniet deur hulself te wees, hul potensiaal kan bereik en vreugde daaruit put.
|
Afrikaans bly darem net 'n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
|
‘Klein muisies het groot ore’
|
Die uitdrukking beteken dat kinders dikwels met fyn ore na grootmense se geselskap luister en dat 'n mens baie versigtig moet wees wat 'n mens voor hulle sê.
|
Ek sluit dan week 3 af en mag julle 'n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet.
|
Groetnis Naas Beets SKOOLHOOF
|
|
|
|
|
|
Terreinpersoneel - Afskeid en donasies
|
Soos almal weet, kom van ons geliefde terreinwerkers, naamlik Christopher, Elliam, Matthews en Patrick, se werkskontrakte binnekort tot ’n einde. Hulle laaste dag by die skool is Vrydag, 6 November 2026. Let asseblief op dat ons personeel ’n spesiale afskeidsfunksie vir hulle daardie middag hou en dat die skool gevolglik vroeër verdaag. Die skool sal om 13:00 vir graad 1–3 en om 13:15 vir graad 4–7 verdaag.
|
|
Laaste kans om 'n donasie te maak
|
|
Hierdie vier werkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Ons is hartseer om hulle totsiens te heet en is rêrig baie dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Hoewel daar reeds ’n geleentheid vir ouers was om ’n vrywillige donasie tot hul hervestigingskoste te maak, het van ons ouers die Karri-insameling gemis. Ons gaan dus ’n tweede Karri-insameling oopmaak vir ouers vir wie die saak na aan die hart lê en wat nog graag ’n geleentheid wil hê om ’n bydrae te lewer. Hierdie Karri-insameling sal vanaf 23 Oktober tot 2 November 2026 oop wees.
|
|
|
|
|
|
VIR AANDAG
|
|
Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien asseblief die skryfbehoeftes wat jou kind in 2027 gaan nodig hê hier onder:
|
|
|
|
SPORT
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Neem asseblief kennis dat Jan Kas gedurende die eksamentyd die volgende winkelure vanaf 11 November tot 26 November sal volg:
|
- Maandag & Woensdag: 07:00 - 08:00
- Dinsdag & Donderdag: 12:30 - 13:30 (vroeër tye)
- Vrydag: Gesluit
Jan Kas sluit op 26 November vir voorraadopname en sal eers weer in Januarie 2027 oopmaak. Maak dus asseblief seker dat jou kind alles het wat hy/sy vir die laaste paar weke van skool en sport sal nodig hê. Geen bestellings of aankope sal vanaf 26 November meer gemaak kan word nie.
|
Hou asseblief die nuusbrief dop vir die bevestigde heropeningsdatums en winkelure vir die nuwe jaar.
|
|
Ons wens almal 'n voorspoedige eksamentyd toe!
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons sien uit na ons opwindende Ouer Sport-en-Pretdag op Saterdag, 21 November! Ouers word hartlik uitgenooi om spanne vir tennis, netbal, raakrugby, hokkie, skaak of swem in te skryf. Ons benodig ook helpers en borge om van hierdie dag 'n groot sukses te maak!
|
|
Klik op die knoppie hieronder vir meer inligting en inskrywingskakels. Kom neem deel en geniet 'n heerlike dag saam met ons JvR-familie!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Goeie nuus! Die katoen-uniformreplikas is nou weer beskikbaar om direk deur die skool op Karri te bestel.
|
Bestellings sluit op Woensdag, 28 Oktober 2026.
|
Katoenbestellings word slegs twee keer per jaar geplaas - in Oktober (voor die nuwe jaar se somerkwartale) en Februarie (voor die winterkwartale). Bestel dus asseblief genoeg om tot die volgende bestelgeleentheid te hou.
|
-
|
Beskikbare items: Kortmou-gholfhemde en kortbroeke. Langmou-gholfhemde sal in Februarie, voor die winterkwartale, bestel kan word.
|
-
|
Aanpas is noodsaaklik: Leerders moet die klere vooraf aanpas, aangesien die groottes van Jan Kas se gewone uniforms verskil.
|
-
-
|
GEEN omruilings of terugsendings: Die klere word spesifiek volgens die bestellings vervaardig.
|
|
Vir enige navrae, kontak asseblief vir Lian Lombard by 0799339925
|
|
|
|
|
|
|
|
Op Vrydag, 13 November, om 10:30 hou ons ’n spesiale diabetesbewusmakingsgeleentheid in die skoolsaal.
|
Leerders word aangemoedig om blou sivvies te dra ter ondersteuning van diabetesbewusmaking. Ons vra ’n bydrae van R10 per leerder, wat deur Karri betaal kan word.
|
|
Kom ons staan saam en wys ons ondersteuning vir almal wat deur diabetes geraak word!
|
|
|
|
|
|
|
TERUGVOER
|
|
Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
SPORT
|
|
|
|
|
|
Ons skaakspan het verlede Vrydag uitstekend teen Kampsbaai gevaar. 20 leerders het altesaam deelgeneem, en ons span het die wedstryd oortuigend met 16–4 gewen. Baie geluk aan elke speler met hierdie puik prestasie. Julle toewyding, konsentrasie en sportmangees maak ons trots!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Klik HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Jy ontvang hierdie nuusbrief
|
|
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
|
|
|
|
|
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
|
|
|
|
|
|
|
|