Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

ALGEMEEN

Intersen Markdag: 27 Maart 2025

Neem asseblief kennis dat Donderdag, 27 Maart 2025, Markdag is. Dit is Intersen se beurt om te verkoop.

Tafels bespreek:

???? Karri sal vandag (Donderdag, 20 Maart) oopmaak.

???? Dit kos R20 per tafel.

Karri sluit Woensdag, 26 Maart 2025.

Moet dit nie misloop nie! ????

Kaperjolle: 12 April 2025

Dis weer tyd vir Laerskool Jan van Riebeeck se jaarlikse Kaperjolle – die grootste en lekkerste dag van die jaar! ????

Wat kan jy verwag?

???? Kosstalletjies met al jou gunsteling-lekkernye

???? Lekkergoedland om jou soettand te bederf

???? Musiek om in die regte bui te kom

???? Spookhuis – vir die dapperste avonturiers! (Slegs Graad 4 – 7)

???? Speletjies vir kinders van alle ouderdomme (en die groot kinders ook!)

???? Kroeg met yskoue bier en wyn vir die volwassenes

???? Braaikompetisie – wie se braai is die beste in die dorp?

???? Datum: 12 April 2025

Tyd: 12:00 – 18:00

???? Plek: Laerskool Jan van Riebeeck (klein veld)

Hierdie is die perfekte geleentheid om jou familie en vriende te bederf met hope pret en vermaak. Kom maak herinneringe wat julle vir altyd sal koester!

Toegang:

????‍????‍????‍???? Volwassenes: R100 – sluit proe-geleenthede in by die braaikompetisie en ’n stem vir die wenner

???? Juniorkinders (Graad R – 3): R100 – eindelose vermaak met speletjies in die vierkant

???? Seniorkinders (Graad 4 – 7): R140 – toegang tot al die speletjies én die spookhuis!

???? Moet dit nie misloop nie – ons sien jou daar! ????

Kaperjolle koskompetisie: Inskrywings

Dis weer tyd vir die Jannies om te kook in die Kaperjolle koskompetisie! Ons tema hierdie jaar is Lekker Jannies Vol Resepte of kom ons noem dit eerder – kom eet by Liplek Jan van Restaurant.

Die tema is dan toonaangewend vir die reëls:

· gebruik ten minste 2 bestanddele / disse wat begin met die letters LJVR;

· die idee is nie om beperkend te wees nie, maar kreatief met woordspel en kos;

· jy moet ten minste ‘n gedeelte van jou gereg oor die kole gaarmaak;

· jou kos moet proehappie grootte wees, sodat almal van alles kan proe

Om jul so ‘n hupstoot te gee en daai kreatiewe sappe te laat vloei, dink ons aan kos soos; lamskoftas, jasmynrys, jambalaya, Javaanse kerrie, vetkoek, vlapampoen, vlakvark, ribbetjies en roorsterkoek… of as jy nou regtig nie weet nie dan sommer Jannie-se-burgerrol!

Skryf asseblief teen Vrydag, 4 April 2025, in deur by hierdie WhatsApp groepie aan te sluit, waar verdere reëlings kommunikeer sal word.
Kaperjolle koskompetisie: Inskrywings

Kaperjolle 2025: Lekkergoedland skenkings

Om Lekkergoedland so lekker as moontlik te maak, het ons verskillende speelgoed nodig. Ons sal dit so baie waardeer as jy van jou speelgoed kan skenk waarmee jy nie meer speel nie.

Jy kan jou speelgoed by mnr. André Lourens se klas afgee.

TERUGVOER

Pieter Rademeyer: RSG Stemkunstenaar

Pieter Rademeyer het in Februarie die geleentheid gehad om, as deel van die Alma Nel-drama-ateljee-groep, in die RSG-program, Kiskenades, op te tree. Hy het die rol van ’n avontuurlustige seun in dié episode, wat eersdaags uitgesaai word, gespeel.

Pieter het vandeesweek die goeie nuus ontvang dat RSG nou vir hom ’n permanente kontrak aangebied het om verder as 'stemkunstenaar'-akteur interessante rolle op dié Afrikaanse radiostasie te vertolk.

Jy maak ons baie trots Pieter. Welgedaan!

JANNIES GESPREKKE

Leesmodel 2: Die Leestou

Die leesmodel “Reading Rope”

Lees is een van die belangrikste vaardighede wat kinders in die laerskool aanleer. Dit is nie net een enkele vaardigheid nie. Dit bestaan uit ‘n kombinasie van verskillende prosesse wat saamwerk om begrip en leesvlotheid te ontwikkel.

Die leesmodel “Reading Rope” is deur Dr. Hollis Scarborough gedurende die 1990’s ontwikkel. “Scarborough’s Reading Rope” is een van die mees toeganklike benaderings wat die komplekse prosesse van lees verduidelik.

Die model gee ‘n duidelike raamwerk van die verskillende leeskomponente.
Leesmodel 2: Die Leestou
Scarborough’s se leesmodel stel ‘n visuele model voor wat verduidelik hoe verskillende leesvaardighede saamwerk om leesvlotheid en begrip te ontwikkel. Die model stel metafories ‘n tou met twee hoofkomponente voor. Elke hoofkomponent bestaan uit verskeie in een geweefde leesvaardighede. Soos die vaardighede ontwikkel en saam gebruik word, word die tou saam geweef en word die tou al sterker, wat beteken leerders se lees word al beter.

Die model bestaan uit ‘n boonste netwerk en ‘n onderste netwerk

Die boonste netwerk bestaan: Die onderste netwerk:
  1. Taal & begrip 2. Woordherkenning
- Agtergrondkennis - Fonologiese bewustheid

- Woordeskat - Dekodering

- Taalstrukture - Alfabetletters

- Verbale redenering - Klankbewustheid

- Geletterheidkennis - Sigwoorde

Onderste deel: Woordherkenning

Die onderste deel van die tou se vaardighede help met aanvangslees. Lesers leer lees deur klanke te herken en uit te spreek. Hulle kan woorde dekodeer en hulle kan woorde lees. Hulle leer om hoë frekwensie woorde te herken sonder om elke letter te klank wat leesspoed verbeter.

Wenke:

- Speel rymwoordspeletjies. Byvoorbeeld watter woorde rym met kat.

- Klapspeletjie. Klap jou hande vir elke klank in die woord. Bv. h-o-n-d

- Sê ‘n woord en laat dan ‘n klank uit. Die kind moet vir jou sê watter klank is uitgelaat. Bv. perd -erd of per- of p-rd

- Sigwoorde: Speel sigwoordebingo of lees die woorde teen spoed en probeer elke dag al vinniger lees.

- Gedeelde lees help lesers met selfvertroue. As ouer lees jy die sin. Dan jou kind en so lees julle saam-saam die bladsy.

Boonste deel: Taal en begrip

Die boonste deel van die tou bestaan uit agtergrondkennis. Agtergrondkennis is ‘n baie belangrike vaardigheid van lees, want dit help lesers om nuwe idees en ervarings te verstaan. Lesers benodig agtergrondkennis om die konteks van die leesstuk te verstaan. Woordeskat is volgende en woorde help lesers om die storie te verstaan. Woordeskat word gebou deur praat, luister, lees en ervarings. Volgende is taalstruktuur. Lesers moet verstaan hoe sinne gevorm word. Dit help lesers om betekenis van die sinne te verstaan. Verbale redenering is die vermoë om tussen die lyne te lees en om jou agtergrondkennis te gebruik om afleidings te kan maak. Deur geletterheidskennis kan die leser vasstel wat die hooftema of idee van die teks is. Lesers kan vinnig ‘n opsomming van die teks gee en kan dan sekere vrae daaroor beantwoord.

Hier is ‘n paar wenke hoe om hierdie deel te ontwikkel:

- Praat gereeld oor nuwe woorde en hul betekenisse.

- Lees boeke vir jou kind wat bietjie moeiliker is en verduidelik moeilike woorde.

- Skep in jou huis ‘n woordmuur. Sit kaartjies met die woorde teen die woordmuur op.

- Speel woord-van-die-dag speletjies. Kyk wie kom met die mees oorspronklike nuwe woord op en sit dit op die woordmuur. Speel verder die speletjie en kyk wie gebruik die woord die meeste in sinne.

- Voordat julle ‘n storie lees: Dink eers na oor wat julle van die tema weet. Lees die opskrif of titel van die boek en gesels eers daaroor. Gesels na die storie verder. Byvoorbeeld hoe het die teks by julle agtergrondkennis ingepas. Wat was nuut of anders wat julle na die teks se lees geleer het. Leer jou kind om kritiese vrae oor die teks te. Bespreek die vrae.

- Leer jou kind om die sleutelwoorde te soek in die teks.

- Leerders in die Intersenfase kan aangeleer word om ‘n kort opsomming van die teks te maak. Gesels met jou kind oor die doel van opsommings. Waarom is die vaardigheid baie belangrik?

Gevolgtrekking

Scarborough se leesmodel verduidelik dat leesontwikkeling ‘n proses is en nie net enkele vaardighede nie.

Lesers moet woorde akkuraat en vlot kan lees om die betekenis van die verskillende tekste te verstaan. So verbeter leesvlotheid en leesbegrip.

Hoe sterker die tou gevleg word, hoe beter sal ‘n leser met begrip kan lees.

Lees is soos ‘n tou. Elke vaardigheid help om jou kind se leesvaardighede sterker te maak. Bou dit stadig en maak dit interessant en lekker. So sal die tou al sterker kan word sodat jou kind die tou kan gebruik tydens hulle skoolreis.

Geskryf deur Marietjie de Kock (Zen Den)

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 20 Maart 2025

Ons nader die einde van die tweede laaste week van ’n opwindende kwartaal, met ’n welverdiende langnaweek wat as ’n bonus op ons wag. Môre, Vrydag 21 Maart, vier ons Menseregtedag in Suid-Afrika. Dit is hartseer dat so min mense werklik die betekenis van hierdie belangrike dag besef en dit bloot as nog ’n openbare vakansiedag sien. Hierdie dag is juis ingestel ter nagedagtenis aan ’n tragiese gebeurtenis in ons land se geskiedenis – die gebeure van 21 Maart 1960 in Sharpeville. Duisende swart mense het op daardie dag vreedsaam teen die destydse paswette betoog. Die skare is egter deur die polisie uitmekaar gejaag en 69 mense is noodlottig gewond. Sedert 1994 word hierdie dag jaarliks herdenk om hulde te bring aan die slagoffers en om te verseker dat so ’n tragedie nooit weer in ons land herhaal word nie. Ek glo dat die herdenking van hierdie spesiale dag ’n waardevolle bydrae lewer tot ’n samelewing waarin mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en vrede kan leef.

Die afgelope week was besonder besig met verskeie skoolaktiwiteite. Ek gee graag terugvoering hieroor:

Ons het op Donderdag, 13 Maart 2025, ons jaarlikse gholfdag by die Milnerton Gholfklub aangebied. Hierdie unieke "links-tipe" gholfbaan is geleë tussen die Atlantiese Oseaan en die Rietvleirivier. Die baan is relatief plat met min bome, maar bied steeds uitdagings vir die gemiddelde gholfspeler – veral toe die Suidooster sy spreekwoordelike tande gewys het en die speelomstandighede aansienlik moeiliker gemaak het. Die see en die strandmeer wat aan die meeste gate grens, tesame met die sewe pragtige waterhindernisse, het menige "skewe" gholfballe opgeëis. Die asemrowende uitsig oor Tafelbaai, met Tafelberg, Duiwelspiek, Seinheuwel en Leeukop as agtergrond, het verseker dat spelers nie net ’n uitdaging gehad het nie, maar ook ’n skilderagtige gholfervaring. Baie dankie aan al ons ouers wat die gewilde gholfdag ondersteun het, sowel as diegene wat met ruim borgskappe gehelp het. Ek wil ook mnr. Rashard hartlik bedank en gelukwens met die puik reëlings. Indien jy hierdie wonderlike gholfervaring vanjaar misgeloop het, maak gerus vroegtydig met hom kontak – 2026 se gholfdag beloof om nóg groter te wees!
Op Vrydagmiddag en Saterdag, 14 en 15 Maart, het ’n gekose groep personeellede noodhulpopleiding by die skool ontvang. Dit is vir my ’n voorreg om hulle te bedank en geluk te wens met hul prestasie – almal het die eksamen geslaag en in die proses hul noodhulpsertifikate verwerf. Hierdie sertifikate is drie jaar geldig. ’n Spesiale woord van dank aan Gavin Ford, een van ons ouers, wat die opleiding teen ’n baie spesiale tarief aangebied het.
Op Vrydag, 14 Maart, het ons skool vir die eerste keer ’n Waterbuffel-"Hamburgerdag" met groot sukses aangebied, waartydens ons ’n allemintige 1 700 hamburgers gebraai het! ’n Markiestent is op die mini-sportveld agter die skool opgeslaan, en lekker musiek het in die agtergrond gespeel, wat ’n feestelike atmosfeer geskep het. Ek was aangenaam verras oor hoeveel ouers en kinders die unieke funksie bygewoon het. Die samesyn was kosbaar en die waterbuffel-frikkadelbroodjies was smullekker. ’n Groot dankie aan Susan Derksen en haar OOV-span vir die reëlings, asook aan al die pa’s wat as wafferse braaiers opgetree het!
Die hoogtepunt van die naweek was ongetwyfeld die voorreg wat ons senior koor gehad het om deel te wees van die Mzansi Dirigente-konferensie, wat vanaf 14–16 Maart by die CTICC plaasgevind het. Ons was die enigste skoolkoor wat saam met drie ander jeugkore – die Tygerberg Kinderkoor, die Pietermaritzburg Kinderkoor en die Cantare Kinderkoor – hierdie spesiale geleentheid kon bywoon. Dirigente van regoor die wêreld het die konferensie bygewoon om by van die beste dirigente ter wêreld te leer, terwyl die kore as die "sangers" opgetree het. Ek het die ongelooflike voorreg gehad om prof. Zimfira Poloz te ontmoet. Sy word as die beste jeugdirigent ter wêreld beskou, en selfs ek, wat geen formele kennis van kore het nie, het behoorlik aan haar lippe gehang tydens haar sessies met die gesamentlike koor van 180 kinders. Prof. Poloz is oorspronklik van Kazakstan en het op ’n jong ouderdom na Kanada geïmmigreer. Ons koorleerders het soveel geleer en is, saam met juf. Rolene en mnr. Leon Starker, baie dankbaar vir hierdie ongelooflike blootstelling. Die naweek was ’n belewenis en is op Sondagmiddag met ’n merkwaardige konsert afgesluit. Ek wil ook ons ouerkomitee hartlik bedank vir hul onskatbare bydrae oor die naweek – van toesig tot logistieke reëlings met die koorleerders. Ons waardeer dit opreg!
Op Dinsdag, 18 Maart, het die mediasentrum-monitors (Graad 6-leerders) amptelik hul balkies tydens die weeklikse saalbyeenkoms ontvang. Graag wens ek die volgende monitors geluk en bedank ek hulle by voorbaat vir die belangrike werk wat hulle in die mediasentrum gaan verrig:
  • Alienor Coetzer-Dereymaeker
  • Eva McBride
  • Jamie Jordaan
  • Jenna Erasmus
  • John Bremridge
  • Klara Jansen van Vuuren
  • Morgan Smit
  • Quinn du Toit
  • Solange Stevens
Ek sluit af en wens julle ’n heerlike langnaweek saam met julle gesinne toe. Ter bevordering van ons pragtige taal, sluit ek die week af met ’n bekende Afrikaanse gesegde:

"Hy eet met sy Adamsvurk."

Dit beteken hy eet met sy hande – presies hoe die meeste van ons verlede Vrydagaand ons Waterbuffel-hamburger geniet het!

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week