Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Wo 16 September 2026

  • Konsert: Optrede 3

Do 17 September 2026

  • Konsert: Optrede 4 (Grand Finale)

So 20 September 2026

  • Heidré Ehlers (Onderwyser) verjaar
  • Krieket: o.13A toer

Ma 21 September 2026

  • Krieket: o.13A toer
  • Kultuursaal
  • Skrywersbesoek - Silas en die ysbeer op Tafelberg (Annie Klopper en Zandré Coetzer)
  • Beheerraad-vergadering (Goedkeuring)

Di 22 September 2026

  • Markdag - Grondslagfase
  • Sivvies
  • Krieket: o.13A toer
  • Koffie-en-Beskuit Konsert

Wo 23 September 2026

  • Sivvies
  • Skole sluit (skoolvakansie)
  • Krieket: o.13A toer

Do 24 September 2026

  • Erfenisdag

Vr 25 September 2026

  • Skoolvakansie

Wo 30 September 2026

  • Monica Robertson (Klasassistent) Verjaar


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 28 Augustus 2026

Die Interskole-koors loop behoorlik hoog en ons as personeel is saam met die leerders baie opgewonde om vanjaar vir die eerste keer Interskole teen Laerskool Welgemoed tuis aan te bied. Sien gerus ons spesiale Interskole-video wat die personeel saamgestel het. Graag wil ek Laerskool Welgemoed, hul skoolhoof, mnr. Johan Engelbrecht, personeel, afrigters, leerders en ouers hartlik in die Moederstad verwelkom. Hierdie is beslis vir beide uitnemende skole ’n spesiale geleentheid om met mekaar sake uit te spook. Geniet en vier saam met ons ’n genotvolle Interskole waar goeie spel en sportmangees op die onderskeie moet seevier.

Ons vang die afgelope week behoorlik gees en ons leerders het saam met hul ouers baie moeite gedoen om daagliks volgens die volgende ‘gees-temas’ aan te trek:
  • Dinsdag, 25 Augustus: Dra van ’n pruik of kopstuk met skoolklere.
  • Woensdag, 26 Augustus: Trek aan soos ‘n gewonde Blessie.
  • Donderdag, 27 Augustus: Wees ‘n BRUL-JANt ‘’Look-alike’’.
Groot was die opwinding op Woensdagmiddag, 26 Augustus, toe die Interskole amptelik met ’n kodering- en robotika-uitdaging afgeskop het. Dit was ook ’n eerste vir beide skole en bied nie-sportleerders onder andere ook ’n geleentheid om aan Interskole deel te neem deur van spanwerk, probleemoplossing en kritiese denke gebruik te maak. Heelwat ouers van beide skole het die opwindende geleentheid bygewoon. Die Jannies was eenvoudig net te sterk vir Welgemoed se koderings- en robotikaspan en het met die louere weggeloop. Welgedaan, juf. Suné, en ons leerders wat daarby betrokke was.
Op Dinsdag, 25 Augustus, was ons baie bevoorreg om die bekende rugby-afrigter, Sean Erasmus, by ons saalbyeenkoms te verwelkom. Hy was ons gasspreker en ons leerders het behoorlik aan sy lippe gehang met sy ongelooflike boodskap rakende die belangrikheid van spanwerk, veral met die oog op Interskole. Sean is ’n oudonderwyser en was vir ’n geruime tyd Hoër Jongensskool Paarl (Boishaai) se mees suksesvolle hoofafrigter. Hy is vir meer as 26 jaar by skolerugby betrokke en is vanaf 2027 as Maties se hoofafrigter aangestel. Ons weet dat hy by US ongelooflike waarde sal toevoeg en ons beste wense vergesel hom vir die res van sy loopbaan. Sy nederige geaardheid en beginselvastheid staan vir my soos ’n paal bo water uit en dit pas so mooi by ons eie kernwaardes!
Vanoggend het die tradisionele ‘Groot Brag’ onder groot toejuiging van die leerders in die saal plaasgevind en ons is slaggereed om ’n wonderlike naweek van sport te geniet. Vir seker gaan dit vanjaar meer kompeterend wees, want om teen ’n sterker en groter skool mee te ding, dwing ons outomaties uit ons gemaksone asook om ons grense te verskuif, harder te werk en in die proses kry ons wonderlike geleenthede om ons eie vermoëns en prestasies te verbeter. Graag versoek ek ouers en afrigters dat hulle asseblief oor die naweek van Interskole hul eie verwagtinge moet bestuur, want daar is meer as genoeg druk op ons spelers. Hou ingedagte dat die Bokke op Saterdag, 22 Augustus, gewys het dat selfs die beste rugbyspan in die wêreld ook afdae beleef – so hoe kan ons van laerskoolleerders verwag om elke wedstryd feitlik foutloos te speel! Sport is so diep verweef met die Suid-Afrikaanse kultuur en daar is ’n oormatige klem op oorwinning. Gunstige tellingborde is beslis nie vir my al waaroor Interskole gaan nie! Kom ons vier eerder oor die sportnaweek goeie spel, maar belangriker ook gesonde sportmanskap, deursettingsvermoë, effektiewe spanwerk, karakterbou en wedersydse respek.

Ons o.10A- en o.11A-netbalspanne asook ons o.11A-rugbyspan het op Saterdag, 22 Augustus, aan die JWG Sportdag wat deur Laerskool Brackenfell aangebied is, deelgeneem en uitstekend gevaar:
  • o.10A-netbalspan wen bronsmedaljes. Baie geluk, juff. Lucia en Esmarie!
  • o.11A-netbalspan wen bronsmedaljes. Baie geluk, afrigter Lazelle en juff. Ischké en Shahneé!
  • o.11A-rugbyspan wen silwermedaljes en verloor in die finale teen Laerskool Welgemoed. Baie geluk, mnr. Rashard en afrigter Rahim.
Tydens die bogenoemde sportdag het ons spanne teen heelwat groter skole meegeding en is weereens ’n bewys van die sportontwikkeling wat by ons skool oor die laaste klompie jare plaasgevind het, sodat ons kompeterend teen groter skole kan deelneem. Welgedaan aan al ons afrigters vir jul harde werk en toewyding die afgelope seisoen.

Dit is dan my eer en voorreg om vir Jamie Jordaan (gr. 7) hartlik geluk te wens met sy 4de plek in vanjaar se Horizon Wiskundekompetisie. Dit is ’n merkwaardige prestasie, aangesien meer as 27 000 leerders in die Wes-Kaap vanjaar aan dié wiskundekompetisie deelgeneem het. Welgedaan, Jamie, dit wil gedoen wees! Jy maak ons baie trots!

Afrikaans is so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer, deel gerus met jou kind/ers:

‘Die kool is nie die sous werd nie’

Die uitdrukking beteken dat die saak nie die moeite of koste werd is nie.

Ek sluit dan week ses af en wens vir julle ’n wonderlike Interskole-naweek saam met jul gesinne en Welgemoed-vriende. Mag die Bokke darem môremiddag die All Blacks hier in die Moederstad wys wie regtig koning kraai. Sterkte ook vir al ons sportspanne wat die naweek aan Interskole tuis deelneem – geniet elke oomblik en sien julle langs die sportvelde!

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

Fondsinsameling vir ons Terreinwerkers

Dit is met gemengde gevoelens dat ons aankondig dat vier van ons geliefde terreinwerkers, aan die einde van die jaar, by ons skool klaarmaak. Christopher, Elliam, Matthews en Patrick gaan, wanneer die skool vir Desember-vakansie sluit, terugkeer huis toe. Hulle is almal al meer as 16 jaar lank by die skool en is in murg-en-been Jan van Riebeeckers. Hulle is vir ons ontsettend kosbaar en het daagliks gehelp om ons skool veilig en skoon te hou. Hulle was en is altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop om te verseker dat alles wat ons aanpak, hetsy dit akademiese verryking, kultuurgeleenthede, sportdae of sosiale funksies is, vlot verloop.

Hierdie vier terreinwerkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Hulle is geliefd onder leerders, personeel, ouers en selfs mense wie om en naby die skool woon en werk. Ons is hulle oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Ons gaan hulle baie mis.

Gedurende hulle tyd by die skool het hulle hard gewerk om hul families op verskeie maniere te ondersteun. Elkeen het al vir hulself 'n huis tuis gebou en maak vir 'n geruime tyd planne om te kan hervestig en herenig met hul families. Die tyd het nou aangebreek waar dit sin maak om die volgende stap te neem. Ons is saam met hulle opgewonde vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en wens hulle almal voorspoed en sukses toe, maar is ook hartseer om hulle te verloor.

Die skool en Opvoedingstrust het reeds op verskeie maniere ingetree om hulle te ondersteun met hul hervestigingsplanne om sodoende hulle te verseker dat hulle in 'n beter posisie sal wees om 'n nuwe lewe tuis te bou. Ons wil hulle graag ondersteun sodat hulle kan voortbou op dit wat hulle reeds vermag het en help dat hulle en hul families tuis kan floreer.

Elkeen van hierdie vier manne het 'n besonderse bydra tot ons skool se sukses gelewer. Ons is hulle oneindig dankbaar en wil graag die geleentheid vir ons ouers gee om te help deur 'n bydrae tot hul hervestigingskostes te maak. Ons sal dus, vir die volgende drie maande, 'n spesiale fondsinsameling op Karri oopmaak sodat ouers vir wie die saak naby aan die hart lê, 'n geleentheid bied om 'n donasie te maak.

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

KULTUUR

Jiřičky Jeugkoor van Praag deel 'n verhoog met JvR Kore

Ons nooi almal hartlik uit na 'n besonderse koorkonsert op Woensdag, 2 September, waar ons Junior- en Senior Koor die verhoog met die Jiřičky Jeugkoor van Praag (Tsjeggië) en die Hoërskool Jan van Riebeeck koor deel.

Die konsert vind om 18:00 by die NG Kerk Tamboerskloof plaas. Toegang is gratis, en dit beloof om 'n aand van uitsonderlike koormusiek en internasionale samewerking te wees. Kom ondersteun ons Jannies en geniet hierdie unieke musikale ervaring saam met ons.

JUNIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums

  1. Woensdag, 2 September: Koorkonsert saam met die Jiřičky Jeugkoor en kore van Hoër- en Laerskool Jan Van Riebeeck
    Plek: NGK Tamboerskloof
    Tyd: 18h00

    Koor meld vroeër aan. Meer besonderhede word op die Junior Koor WA-groep gedeel.
  2. Dinsdag, 8 September: Kaapse Afrikaanse Eisteddfod
    Die junior koor neem aan die *Kaapse Afrikaanse Eisteddfod* deel.

    Tyd: 16h00
    Venue: Laerskool Simon van der Stel.
Alle leerders ry met busvervoer na Simon van der Stel. Ouers kan leerders na afloop van die Eisteddfod by Simon van der Stel optel. Daar sal ook 'n bus wees om leerders weer terug skool toe te bring na afloop van hul optrede. Ons deel nader aan die tyd meer spesifieke reëlings op die Junior Koor WA-groep.

Kontak gerus vir Juf Rolene of Juf Bea met indien daar enige bekommernisse is.

SENIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums 

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (NG Kerk Tamboerskloof)

Teken hierdie belangrike datums aan, asseblief. Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en dit is altyd lekker om met ’n volledige koor op te tree!

Hou die Senior Koor WA-groep dop vir meer inligting rakende die onderskeie konserte. Kontak gerus vir Juf Rolene indien daar enige vrae is.

Orff en Kodály Werkswinkels by Laerskool Jan van Riebeeck

LsJvR bied Orff en Kodály Werkswinkels vir enige belangstellende musiek- en klasonderwysers aan! Kom woon dit gerus by!

Kontak vir Juf. Rolene vir meer inligting.

CSA Cape Studio Assessment – 30 Augustus 2026

Barbara Schreuder Dansskool nooi almal hartlik uit om ons talentvolle dansers te kom ondersteun tydens die CSA Cape Studio Assessment op Sondag, 30 Augustus 2026 by JvR Laerskool.

Dansers sal ongeveer ses moderne en kontemporêre danse en bewegingsreekse uitvoer wat spesiaal vir hul ouderdom en vlak gechoreografeer is. Hierdie informele geleentheid bied ouers, familie en vriende die geleentheid om die dansers se harde werk en pragtige optredes te geniet.

Program A: 10:00
Program B: 14:15

Parkering is agter die skool beskikbaar.

Toegang:
  • Volwassenes: R70
  • Skoolgaande kinders: R40
Betaling kan kontant by die deur of via EFT na die FNB Studio-rekening geskied.

Aan die einde van die assessering ontvang alle dansers 'n sertifikaat en 'n verslag met opbouende kommentaar. Dansers van Graad 4 tot 11 kan ook, op versoek, 'n amptelike gradering ontvang.

Vir meer inligting, kontak Barbie by 072 454 9353.

SPORT

Winterinterskole Program 2026

Klik op die blad om die program oop te maak:

ALGEMEEN

Kennisgewing: Skool verdaag vroeër

Neem asseblief kennis van die onderstaande datum waarop die skool weens sportverpligtinge vroeër sal verdaag. Daar sal steeds toesig beskikbaar wees tot gewone uitkomtyd vir leerders wat nie vroeër huis toe kan gaan nie. Nasorg sal gewone tyd plaasvind.

Vrydag, 28 Augustus, verdaag 12:00 (Interskole vs LS Welgemoed)


Baie dankie vir die samewerking en ondersteuning in die verband.

Snoepie: Kosbestellings via Karri

Neem asseblief kennis dat alle snoepie-kosbestellings voortaan slegs deur die Karri-toep geplaas moet word. Om die bestelproses glad en doeltreffend te laat verloop, sal geen laat bestellings of versoeke meer aanvaar word nie.

Onthou ook dat geen kos die snoepie mag verlaat voordat dit betaal is nie.

Leerders wat op die dag self 'n broodjie wil koop, is welkom om dit met kontant of 'n bankkaart by die snoepie te betaal.

Indien jy probleme met bestellings op Karri ervaar, kontak vir Megan op WhatsApp by 082 794 8430.

Dankie vir u samewerking.

Loslitdag – 4 September 2026

Plakkers is op die Karri-toep beskikbaar teen R20 elk.
Die fondse wat ingesamel word, gaan aan Die Paarl Skool vir Ontwikkeling.

Kwartaal 3: Welwillendheid

Hierdie kwartaal is ons fokus om diere te help!

Wat: Bring kat- en hondekos skool toe.
Wanneer: 28 Julie - 7 September 2026
Waar: By jou registerklas

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

BESTEL NOU OP KARRI

LsJvR Gholfdag: 11 Maart 2027

Sien meer inligting oor die 2027 gholfdag hier onder:

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIE VAN DIE WEEK

SPORTJANNIE VAN DIE WEEK

AKADEMIE

Jamie Jordaan presteer by die Horizon-wiskundekompetisie

Jamie Jordaan het ’n ongelooflike vierde plek tydens vanjaar se Horizon-wiskundekompetisie behaal.

Die kompetisie vind in die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal plaas, met meer as 100 000 leerders wat daaraan deelneem. In die Wes-Kaap het 281 skole vir die kompetisie ingeskryf, met net meer as 27 000 leerders wat deelgeneem het. Dit maak Jamie se prestasie des te meer merkwaardig.

Jamie, baie geluk! Ons is uiters trots op jou puik prestasie.

OUD-JANNIES

Leierskapprestasie

HOOFLEIERS 2026/2027

Ons is baie trots op HS JvR se hoofleiers wat op Donderdag, 26 Augustus 2026, verkies is. Dis veral lekker om te weet dat hulle almal oud-Jannies is! Ons weet dat hulle 'n fantastiese werk sal doen.

𝐉𝐕𝐑-𝐇𝐎𝐎𝐅𝐋𝐄𝐈𝐄𝐑 & 𝐕𝐑𝐋-𝐕𝐎𝐎𝐑𝐒𝐈𝐓𝐓𝐄𝐑: HELENE GREEFF

𝐇𝐎𝐎𝐅𝐒𝐄𝐔𝐍: ALBERT GRIESEL

𝐇𝐎𝐎𝐅𝐃𝐎𝐆𝐓𝐄𝐑: CARA SWANEPOEL

𝐎𝐍𝐃𝐄𝐑𝐇𝐎𝐎𝐅𝐒𝐄𝐔𝐍: OWEN WIESE

𝐎𝐍𝐃𝐄𝐑𝐇𝐎𝐎𝐅𝐃𝐎𝐆𝐓𝐄𝐑: STELLA BOJE
Media
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet