Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Vr 5 Junie 2026

  • Hokkie: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Skaak: Herzlia Highlands Primary School (WEG)

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 13 Maart 2026

Hoe is dit moontlik dat dit vandag weer ‘n Vrydag van die dertiende is, en nogal twee maande opeenvolgend? ‘n Mens sou kon dink een vir die jaar is meer as genoeg, maar dit wil voorkom of 2026 vol verrassings is. Dit stop ook nie by twee van hierdie buitengewone Vrydae nie. Die rare kalender sluit nog ‘n Vrydag die dertiende in, wat later in November vanjaar gaan plaasvind. Vrydag die dertiende vind dus vanjaar drie keer plaas – my innige simpatie vir diegene wat ‘n bietjie bygelowig is. Hierdie verskynsel gebeur beslis nie gereeld nie, want dit kan net plaasvind as die maand op ‘n Sondag begin. Dit het laas in 2015 plaasgevind en sal weer sy verskyning in 2037 maak. Hierdie is dalk nuttelose inligting, maar tog is dit ‘n interessante verskynsel wat menigte mense baie benoud laat.

Op Vrydagoggend, 06 Maart, het ons o.7 - o.13 netbal- en rugbyspanne om 08:30 met groot opwinding na Porterville vertrek om aan Hoërskool Porterville se jaarlikse Bulfees deel te neem. Dis is beslis ‘n ‘bul’ van ‘n sportfees wat jaar-in en jaar-uit uitstekend gereël word. Die Bulfees raak net elke jaar groter en groter, maar hulle kry dit beslis reg om die sportfees baie opwindend aan te bied terwyl ons die unieke plattelandse gasvryheid ook terdeë kon geniet. Vir die eerste keer het ons o.7 netbalspan aan die fees en aan hul eerste wedstryde deelgeneem – hulle het puik gevaar, en dit so vroeg in die seisoen! Ek glo hul ouers het die nuwe ervaring net soveel soos die spelers geniet. Baie geluk aan al ons spanne wat op die dag puik tydens die voorseisoentoernooi gevaar het. Baie dankie aan die personeel en afrigters wat die spanne vergesel het en so mooi na ons leerders omgesien het. ‘n Hartlike dank aan al die ouers asook grootouers wat al die pad na Porterville gereis het om hul kinders/kleinkinders en hul onderskeie spanne te ondersteun. Ons leerders, personeel en afrigters se gedrag op en vanaf die veld was weereens onberispelik deurdat hulle ons kernwaardes tydens die sportdag so mooi uitgeleef het. Ek is vir seker die trotste skoolhoof in die land!
Die uitbreiding van ons musiekprogram het tans baie momentum en word verder gekomplimenteer met die bekendstelling van die Koffie-en-Beskuit Konserte wat op Dinsdae vanaf 08:00 in die musieklokaal plaasvind. Dit is definitief ‘n ‘wenner’. Musiekleerders kry nie altyd die geleentheid om hul talente ten toon te stel nie, maar hier kry almal ‘n kans om op ‘n klein skaal voor hul ouers, grootouers, broers en susters op te tree, en enige iemand is welkom om die informele konserte by te woon. Baie dankie aan juf. Rolene en die musiekspan vir die puik inisiatief wat musiek en ons leerders se talente verder ontwikkel en bevorder. Bring dus jou koffie saam en kom geniet ons musiekleerders se ongelooflike musiektalente!
Ons junior koor, onder leiding van juf. Bea en deur mnr. Ben begelei, het ons aangenaam verras met ‘n uitstekende optrede tydens Dinsdag, 10 Maart, se saalbyeenkoms. Hulle het drie nuwe liedjies met volle oorgawe gesing en ons baie trots gelaat. Welgedaan juf. Bea en mnr. Ben met al jul harde werk en toewyding om ons junior koor verder te ontwikkel.

Graag herinner ek julle dat die opwindende sportopgraderingsprojek agter by die skool in kwartaal 2 gaan afskop. Die eerste grond word op Maandag, 13 April 2026, gebreek net na afloop van die Kaperjolle (voedselfees) wat op Saterdag, 11 April, plaasvind. Ek glo dat ons hele skoolgemeenskap nie kan wag dat hierdie indrukwekkende fasiliteit met pawiljoenspasie, sportkleedkamers, ‘n sportkantoor, ‘n moderne koderings- en robotikalokaal, sportstoorgeriewe en ‘n klubhuis gebou gaan word nie. Dit gaan beslis nie net ‘n estetiese verbetering van die skoolterrein wees nie, maar dit gaan ook uiters funksioneel wees om ons huidige sport- en koderingsprogram verder te komplimenteer. Volg die skakel om ‘n kort animasie van die opwindende bouprojek te sien – SPORT: BOUPROJEK. Indien jy dalk intussen oorweeg het om ook ‘n bydrae tot die sportopgraderingsprojek te maak, is jy altyd welkom om my by skoolhoof@jvrprim.co.za te kontak.

Hierdie afgelope week het Moeder Natuur ons natuurlik herinner dat die somer nog lank nie verby is nie. Soos julle bewus is, stel ons nie sommer sportoefeninge of wedstryde as gevolg van die weer af nie, maar vanaf Woensdag, 11 Maart, het die hitte tot meer as 40°C gestyg en kon ons nie die kans vat om ons leerders aan hitteuitputting of moontlike sonsteek bloot te stel nie. Die hittegolf het ons verder genoodsaak om die gr. 6-kamp vanaf 11–13 Maart te Wellington na 25–27 Maart te skuif. Ons dink die stad was warm, maar Wellington het vanaf 11 Maart rekordtemperature van meer as 47°C beleef. Baie dankie vir almal se begrip in die verband.

Ek herinner weer almal om julle kind/ers te motiveer om Afrikaanse leesboeke te lees as deel van ‘n kollektiewe poging om ons mooi taal te bevorder. Baie dankie aan juf. Marecia en haar mediasentrummonitors met die stigting van die ‘Boekbende’, waar ons leerders elke eerste Woensdag van die maand in die mediasentrum bymekaar kom om in Afrikaans te lees! Moedig asseblief jul kind/ers aan om dit by te woon en leesboeke by die mediasentrum uit te neem.
Graag wil ek vir juf. Louise, departementshoof van Huppelland, gelukwens met hul huweliksbevestiging wat môre in die pragtige Franschhoek plaasvind. Mag die Here jou en Jakkie se huwelik ryklik seën!

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

“’n Haastige hond verbrand sy mond.”

Die uitdrukking beteken dat oorhaastige besluite dikwels nadelige gevolge het. Ons weet ook dat indien jy oorhaastig is, dit tot brouwerk sal lei.

Sterkte vir ons o.13-netbalspan, onder leiding van juf. Ischké, asook die o.11-rugbyspan, onder leiding van mnr. Rashard, wat vanmiddag aan ‘n toernooi te Laerskool De Kuilen in Kuilsrivier deelneem. Die van julle wat môre aan die Dapper Stappers se staproete gaan deelneem, moet dit terdeë geniet. Baie dankie aan juff. Ilse-Marié en Jodene wat die stappers gaan vergesel.

Ek sluit dan af met my beste wense en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne geniet.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Drukwerk by die skool

Het jou kind nodig om iets te print? Moenie bekommerd wees nie, ons help jou graag by die skool!
  • Swart & wit: R5 per bladsy
  • Kleur: R10 per bladsy
  1. Gaan betaal eers by tannie Adri (ontvangs)
  2. Sy sal vir jou 'n papiertjie gee met bewys van betaling
  3. Stuur die drukwerk in PDF-formaat aan juffrou Marecia by marecia@jvrprim.co.za
  4. Drukwerk moet minstens 24 uur voor die tyd gestuur word.
  5. Geen onmiddellike drukwerk sal gedoen word nie.

Studiekursus: Kwartaal 2, 2026

Sien meer inligting oor kwartaal 2 se studiekursus hier onder:

Indien jou kind deel is van die studiekursus, sluit gerus by die WhatsApp-groep aan deur op die skakel te klik: Studiekursus (Ls JvR)

KULTUUR

Koffie-en-Beskuit Konsert: Dinsdag, 17 Maart 2026

Ons volgende oggendkonsert vind Dinsdagoggend, 17 Maart, in die NASORG plaas. 
 
Die volgende leerders tree op:
 
Strykensemble - Jacob Venter, Coreen Scholtz, Theo Robson, Anna-Sophia Leach, Morgan Smit
Lukas van der Westhuizen - saksofoon
Antjie Samuel - klavier en viool
Micah Nikiforos - saksofoon
Frannie Samuel - klavier
Samuel Smit - klavier
Emma Kuys - klavier
Matthias Ackerman - klavier
Mathias Barkhuizen - klarinet
Cara Scholtz - klavier
 
Hier is enkele algemene reëlings rondom die verrigtinge:
 
* Deelnemende leerders meld stiptelik 07h45 in die Nasorg aan met hul instrument. Juf Bea en/of mnr Ben sal daar wees om hulle te ontvang en te help om instrumente te stem. 
* Elke deelnemende leerder bring slegs een maatjie saam om die konsert by die woon. Ons het ongelukkig nie spasie om meer leerders te akkommodeer nie.
* Ouers is welkom om te kom luister - bring gerus koffie saam!
* Gebruik asb die deur by die Nasorg om in te kom - die senior koor oefen in die saal, en ons wil hulle nie steur nie.
 
Tyd: 08h00 - 08h30
Plek: Nasorg

Junior en Senior Kooroptredes: Kwartaal 2, 2026

Ons kore werk hard om voor te berei vir die konserte wat gedurende die tweede kwartaal vir ons voorlê. Indien daar optredes bygevoeg word, sal ons julle in kennis stel.

Teken gerus die datums aan en hou die Nuusbrief en betrokke WA-groepe dop vir meer gedetaileerde inligting rakende die spesifieke geleenthede:

Junior Koor

7 Mei HS JvR Reünie Kultuuraand (aandkonsert)
19 Junie Grondslagfase Musiekkonsert (oggendkonsert by LS JvR)

Senior Koor

12 April Passion ChoralFest by Hugo Lambrechts @ 16h00
21 April Fairmont High School Choir Evening (aandkonsert en busvervoer sal gereël word)
7 Mei HS JvR Reünie Kultuuraand (aandkonsert)
18 Junie Intersenfase Musiekkonsert (aandkonsert by LS JvR)

Ek herinner graag dat dit verpligtend vir koorlede is om die optredes by te woon, tensy daar vooraf by juf. Bea (junior koor) of juf. Rolene (senior koor) verskoning gemaak word. Moenie huiwer om ons te kontak met enige vrae nie - ons help graag!

Musiekkonserte: Kwartaal 1, 2026

Die Kwartaal 1 Musiekkonserte is om die draai! Let asseblief op dat die Graad 6 en 7’s se konsertdatums verander het.

Maandag, 23 Maart

* Graad 2: 08h00 - 09h00

* Graad 3: 09h15 - 10h10

* Graad 7: 10h30 - 11h30

* Graad 6: 11h30 - 12h30

Dinsdag, 24 Maart

* Graad 4: 08h00 - 08h30

* Graad 5: 09h00 - 10h00

Vra asb vir juf Rolene òf jou kind se musiekonderwyser indien daar enige vrae rondom jou kind se deelname aan hierdie konserte is. Ons help graag.

Ons nooi alle ouers, familie, en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vordering te vier.

Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus. Die leerders wat by die skool musiekles neem, kry voorkeur. Ons akkommodeer egter graag enige leerder wat musiekles buite die skool neem, indien die program dit toelaat.

ALGEMEEN

Old School-ondersteunersdrag

Ons toets tans die belangstelling. Sodra daar genoeg belangstelling is vir ’n minimum van 80 items, sal die vooraf bestellings oopgestel word vir betaling via die Karri-toep.

👉 Voltooi asseblief die aangehegte vorm indien jy belangstel.
📅 Let wel: Die vorm sluit op 28 Maart 2026, en alle bestellings moet voor hierdie datum geplaas word.

Indien daar voldoende belangstelling is, behoort die truie teen die einde van Junie beskikbaar te wees.

Laat die Jannie-ondersteuners uitstaan langs die sportveld! Plaas nou jou bestelling by die skakel hier onder!

(Indien jy reeds verlede jaar bestel het, wil ons jou vra om asb. weer hierdie opgedateerde vorm te voltooi.)

KAPERJOLLE – 11 APRIL 2026

Dis weer tyd vir Laerskool Jan van Riebeeck se jaarlikse Kaperjolle – die grootste en lekkerste dag van die jaar!

Wat kan jy verwag?

🍔 Kosstalletjies: Onder andere boereworsrolle, pannekoek en Woodstock Brewery se food truck.

🍭 Lekkergoedland: Bederf jou soettand – spookasem en slushies!

🎶 Musiek: Om jou in die regte bui te kry.

👻 Spookhuis: Vir die dapperste avonturiers! (Slegs Graad 4–7).
Slegs 13:00–17:00.

🎯 Speletjies: Die vierkantspeletjies is vir alle kinders.

🍺 Kroeg: Yskoue bier en wyn vir volwassenes.

🍖 Koskompetisie: Wie kook die beste in die dorp? Skryf asseblief jou span in!

📅 Datum: 11 April 2026
⏰ Tyd: 12:00–18:00
📍 Plek: Laerskool Jan van Riebeeck (klein veld)

Hierdie is die perfekte geleentheid om jou familie en vriende te bederf met hope pret en vermaak. Kom skep herinneringe wat julle vir altyd sal koester!

Toegang:

👨‍👩‍👧‍👦 Volwassenes: R100 – sluit proegeleenthede by die braaikompetisie én ’n stem vir die wenner in.

🎈 Juniorkinders (Graad R–3): R100 – eindelose vermaak met speletjies in die vierkant.

🎃 Seniorkinders (Graad 4–7): R140 – toegang tot al die speletjies én die spookhuis.

🌟 Moet dit nie misloop nie – ons sien jou daar! 🎊

Kaperjolle koskompetisie: Skryf nou in!

Dis weer tyd vir die jaarlikse Kaperjolle koskompetisie.

Vanjaar se tema is: Jan van Riebeeck se pitstop-toer, wat beteken jy kan ‘n dis maak van enige land waar ou Jan voet aan wal gesit het.

Hier is hoe dit werk:

🌍 Jou span kan ‘n dis maak van enige van die volgende lande: Nederland, Indonesië, Japan, Viëtnam, Maleisië, Sierra-Leone, Tansanië, Portugal, Italië en natuurlik Suid-Afrika. Jou “pitstop” moet ook volgens die tema versier word.

🔥‘n Gedeelte van jou gereg moet op die kole gemaak word.

😋 Nes verlede jaar gaan dit weer ‘n proe-kompetisie wees. Die eetgerei sal voorsien word, en jou porsies moet so twee of drie happies groot wees.

🏆Almal wat proe, mag stem vir een gunsteling-gereg en die wenner is die pitstop met die meeste stemme.

Wie gaan die kroon dra as Jan Pitstop Kampioen 2026?
Skryf jou span teen 20 Maart in deur hierdie vorm in te vul:
SKRYF HIER IN

Somersokkie: 19 Maart 2026

Dit is amper weer tyd vir die graad 5-7 Somersokkie! Sien meer inligting hier onder:

Kontakbesonderhede op MyJvR opdateer

Ons versoek ouers vriendelik om hul kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) op MyJvR na te gaan en op te dateer indien dit verander het. Dit verseker dat alle belangrike kommunikasie, insluitend u kind/kinders se rapporte, ontvang word.

Volg hierdie skakel na MyJvR: KLIK HIER

Dankie dat u saam met ons werk om gladde en effektiewe kommunikasie te verseker!

Veiling 2026: Skenkings

Liewe Ouers,

Hou asb 6 Junie 2026 oop vir hierdie jaar se Laerskool JvR Opvoedingstrust Veiling, wat by die Mount Nelson sal plaasvind.
Ons soek graag skenkings vir ons lotte. Enige ouers wat kan help met drank, vakansiehuise, jagritte, kuns, juwele, spa-ervarings, ens. word vriendelik versoek om Anna Blackmore op 083 386 4057 te kontak.
Enige bydrae word opreg waardeer.

Welwillendheidsprojek: Kwartaal 1, 2026

Hier is hoe jy hierdie kwartaal 'n verskil kan maak:

Paaseiers insamel!

Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club ondersteun deur paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het soos op die prentjie. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer.

Enige donasies word opreg waardeer!

Kombuistaal Werkswinkel: vir jou en jou kind(ers)

Kom kuier, luister na en kook saam met Rooi Rose se oudredaktrise (Vickie de Beer) wat 'n kookboek geskryf het om ons kinders te inspireer om gesonder te eet. Haar fokus is op lekker kos wat voedsaam is. Koop gerus jul, jy en jou kind(ers), kaartjie d.m.v. Quicket teen R370 per gesin. Dit sluit 'n mengbak, houtlepel, bestanddele vir die gereg en die resepteboek in. Dis ook opwindend om te weet dat Antjie Krog saam met Vickie gewerk het om hierdie kookboek ekstra spesiaal te maak. Ons gaan 'n heilsame aand (Dinsdag, 17 Maart) in ons skoolsaal beleef! Sien jou daar.

Marinda Brink

BESPREEK HIER

Boekverkope: 18-19 Maart 2026

The Book Box kom weer binnekort kuier! Spaar solank om jouself en jou boekrak te bederf.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Netbaluitslae: 6 Maart 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Rugbyuitslae: 6 Maart 2026

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Skaakproewe: 7 - 8 Maart 2026

Na afloop van die skaakproewe wat op Saterdag, 7 Maart en Sondag 8 Maart, te Somerset-Wes plaasgevind het, het twee van ons vier spelers wat daaraan deelgeneem het, distrikskleure verwerf. Baie geluk aan Pieter-Steph Bothma en Daniel Lawson wat gekwalifiseer het vir die WP-proewe wat in Mei plaasvind. Ons is ongelooflik trots op julle en hoe julle JvR op die skaakbord verteenwoordig!

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad