Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 13 Februarie 2026

Dit is vandag Vrydag, 13 Februarie! Volgens mites en legendes is Vrydag die 13de ‘n gedoemde dag! Dalk wonder julle ook soos ek: waar kom die bang-Jan-storie vandaan? Ek glo hierdie is ‘n bygeloof wat dikwels onnodig angs by baie mense veroorsaak. Tog bly dit interessant dat hotelle en hospitale nie ‘n kamernommer 13 of ‘n dertiende verdieping het nie. Die negatiewe konnektasie met Vrydag die 13de het ‘n kombinasie van godsdienstige en kulturele oorsprong. Uit ‘n godsdienstige oogpunt word Vrydag die 13de as ‘n ongelukkige dag beskou, want dit was die 13de dissipel, naamlik Judas Iskariot, wat Jesus verraai het, wat gelei het tot Jesus se kruisiging op ‘n Vrydag.

Vandag vier ons Valentynsdag by die skool, aangesien dit môre wêreldwyd gevier word waar mense dikwels die geleentheid gebruik om die liefde behoorlik te vier. Op Valentynsdag word die liefde dikwels met blomme, kaartjies en pragtige geskenke gevier. Vir seker beskou baie mense dit net as ‘n kommersiële foefie en bloot ‘n geldmaakspul, maar tog word hierdie gewilde dag in Suid-Afrika geassosieer met die stuur van kaartjies, geskenke en blomme aan ‘n geliefde, en volgens statistiek word die aand met ‘n romantiese ete deur 80% van alle verliefde paartjies afgesluit.

Die personeel vier vandag saam met die leerders die liefde en omgee vir mekaar en trek ons tradisioneel ‘iets’ rooi, pienk en/of wit aan. Op ‘n manier sluit die Valentynsvieringe by een van ons kernwaardes, naamlik OMGEE, aan. Ons kinders word groot in ‘n era waar alles ongelukkig resultaatgedrewe en materialisties van aard is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeit nie in die bank lê nie, maar eerder dat liefde alle kwaad oorwin. Vandag geskied ook die jaarlikse en gewilde Valentynsdagverkope wat tydens eerste pouse in die vierkant plaasvind. Baie dankie aan al ons ouers/voogde vir al die wonderlike Valentynsdagitems wat te koop is. Ek hoop en vertrou dat julle ook op hierdie Valentynsdag tot in die afgrond bederf sal word, julle jul geliefdes sal bederf, en mag ons nooit die krag van liefde en vergifnis onderskat nie. Daar is vandag ontelbare mense in die wêreld wie se mees basiese behoefte om geliefd te wees nie eers amper vervul word nie. Die rede hiervoor is seker dat die mensdom vandag so behep is met hul eie dinge en gefokus is om hul eie doelwitte na te streef, dat hulle nie tyd maak om liefde vir hul medemens te gee nie. Kom ons maak tyd vir ons medemens, selfs in ons eie skoolgemeenskap waar daar baie mense sonder liefde en omgee leef. Laat ons nooit vergeet dat omgee ‘n positiewe krag van deernis besit wat mense oor kulture saambind. Mag ons skoolgemeenskap omgee as ‘n lewensfilosofie daagliks uitleef om ‘n verskil in die brose wêreld te maak.

Op Vrydag, 06 Februarie, het die graad 4’s hul eerste Engelse (Eerste Addisionele Taal)-assessering suksesvol afgelê met ‘n puik gemiddelde van 70%. Die assessering (skryfstuk) het gehandel oor die eerste leerders verbonde aan Laerskool Jan van Riebeeck meer as ‘n eeu gelede. Ons Gr. 4-leerders het die geleentheid gekry om op die dag soos die eerste leerders van die skool aan te trek. Baie dankie, juf. Marianne, vir die puik inisiatief. Die leerders het pragtig in ‘20ste-eeu-skooldrag’ gelyk en dit het sommer ook baie gehelp om die angs vir assessering te verminder.
Baie geluk en baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Leon Starker wat op 06 en 07 Februarie ‘n suksesvolle koorkamp vir die senior koor aangebied het. Ons senior koor bestaan vanjaar uit 62 lede. Hulle het soveel baat by die koorkamp gevind. Die koorkamp is op Saterdag, 07 Februarie, om 14:30 met ‘n koorkonsert vir hul ouers afgesluit om te wys wat hulle alles oor die twee dae geleer het. Ek het die voorreg gehad om dit by te woon en weereens wil ek al die koorouers hartlik bedank dat hulle al die nuwe koorinisiatiewe so getrou ondersteun. Dit verg harde werk en toewyding om as ‘n koor te ontwikkel en te presteer. Ek is vas oortuig dat daar weer vanjaar vir die senior koor ‘n suksesvolle jaar, propvol opwinding, voorlê.
Vanaf 11 tot 12 Februarie het ons skool se interne redenaarskompetisie plaasgevind. Baie dankie aan juf. Andri wat aan die stuur van sake staan, en sy word vanjaar deur juf. Anthea in die verband ondersteun. Die volgende Gr. 4–7-leerders het deelgeneem:
  • Pieter-Steph Bothma (gr. 3)
  • Izak Steyn (gr. 3)
  • Lua Groenewald (gr. 5)
  • Pieter Derksen (gr. 5)
  • Henry Jordaan (gr. 5)
  • Christina du Toit (gr. 5)
  • Amalie Janse van Rensburg (gr. 5)
  • Mia Bothma (gr. 5)
Ek sal in volgende week se nuusbrief meer terugvoering rakende die uitslae gee nadat die graad 6 en 7's se voorbereide en onvoorbereide toesprake afgehandel is.
Op 22 Januarie 2026 het ons vir julle kennis gegee dat daar twee vakatures op die Beheerraad gevul moet word as gevolg van twee lede wat teen die einde van 2025 bedank het. Ons het teen die sperdatum (04 Februarie om 12:00) vir nominasies slegs die volgende twee kandidate as genomineerdes ontvang:
  • Oloff Sieberhagen
  • Sybil Müller (Tesourier)
Daar sal dus nie meer ‘n aanlyn verkiesing op 16 Februarie plaasvind nie, en is dit my eer en voorreg om beide Oloff en Sybil hartlik geluk te wens met die verkiesing tot die Beheerraad. Ons beste wense vergesel hulle met die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap gaan speel.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te bevorder:

"'n Kat in die sak koop’’

Die uitdrukking word gebruik wanneer iemand ‘n slegte koop doen, m.a.w. wanneer jy iets koop waaroor jy later spyt is. Hierdie uitdrukking spruit uit ‘n ou gebruik op markdae waar verkopers jong varkies aan kopers moes wys voordat dit in sakke gelaai is. Hierdie varkies was kosbaar en baie gewild aangesien dit baie winsgewend was. Skelm verkopers het egter vooraf toegeknoopte sakke uitgesit sodat ‘n haastige of goedgelowige koper sommer een so in die verbygaan kon gryp, betaal en huis toe kon neem. Die sakke was egter toe en die koper kon nie sien watter dier in die sakkie was nie. Eers tuis vind die koper dan nie ‘n vet jong speenvarkie in die sak nie, maar eerder ‘n waardelose kat wat niemand sou aanskaf nie.

Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

KULTUUR

Senior en Junior Kore

Beide ons kore het hierdie jaar afgeskop met die aanleer van wonderlike nuwe repertorium. Ons senior koor het die afgelope naweek ’n oefenkamp gehad, waar die koormaats mekaar beter leer ken het en hulle goeie vordering gemaak het met hul musiek. Die nuwe koorlede – en veral ons Graad 4’s – skakel sommer reeds goed in by die groep en word mooi deur hul koor-buddies gedurende die oefeninge ondersteun.
Die junior koor het hierdie jaar vir juf Bea de Wit aan die stuur, en saam met mnr Ben is hulle reeds volstoom aan die gang elke Maandag- en Vrydagoggend. Die junior koor het ook Graad 1’s in die koor verwelkom hierdie jaar, en hulle pas baie mooi by die nuwe roetine aan.
Alle ouers wat ’n kind in een van die twee kore het, moet asseblief by die Senior Koor- en/of Junior Koor-WA-groepe aansluit. Daar deel ons belangrike inligting rakende optredes en oefeninge.

Ek bevestig weer ons kore se oefentye:

Junior Koor
  • Maandag- en Vrydagoggend: 07h45–08h15
Senior Koor
  • Dinsdag: 07h30–08h30
    Donderdag: 11h30–12h30
Indien jy afwesig is vir ’n oefening of optrede, moet ’n verskoning vooraf by juf Rolene (senior koor) of juf Bea (junior koor) ingedien word.

Ons sien julle by die optredes!

Senior Koorleiers van 2026

Ons senior koor het die afgelope naweek ’n koorkamp gehad waartydens ons 2026 koorleiers verkies is. Baie geluk aan die leerders wat bereid is om die koor te ondersteun deur ’n goeie voorbeeld van dissipline en toewyding te wees, ’n bron van ondersteuning vir hul groepslede, en op wie die koor kan steun vir musikale hulp tydens ons oefeninge.

Ons senior koorleiers vir 2026 is:
Aiyana Alfredo
Alida Loubser
Andrya Robinson
Ella van der Walt
Esme Coetzee
Joan van Vreden
Lea Loubser
Mila Malan
Olivia Blackmore
Quinn du Toit

Baie dankie aan elkeen van hierdie leerders vir die groot verskil wat hulle in die koor maak. Ons is baie trots op julle.

Koffie-en-Beskuit Konsertreeks

Die Musiekdepartement stel ’n nuwe inisiatief bekend: Die Koffie-en-Beskuit Konsertreeks! Hierdie platform is geskep om Laerskool JvR se musiekleerders meer geleentheid te bied om aan die vaardighede wat dit van enige musikant vereis om op te tree en hul stukkie met gemak en die nodige musikantskap uit te voer, te slyp. Die konserte vind in ’n kleiner groep plaas, wat dit vir baie leerders makliker maak om voor mense op te tree en op hierdie manier voor te berei om in groter konserte te speel. Die platform bied vir leerders wat vir eksamens of Eisteddfods voorberei, die geleentheid om hulle musiek voor te dra. Vir beginners en leerders wat pligsgetrou oefen, is ons Koffie-en-Beskuit Konsertreeks ook ’n wonderlike kans om hul musiek met hul maats en familie te deel.

Hoe werk dit?

Musiekonderwysers bepaal wie gereed is om deel te neem.
  1. Elke konsert het tussen 6-12 deelnemers.
  2. Elke deelnemer kan ’n maatjie saambring (weens spasie, kan ons slegs een maatjie akkommodeer). Ouers is welkom om ook die konserte by te woon.
  3. Ouers van deelnemende leerders sal ’n boodskap ontvang om deelname te bevestig.
  4. Koffie en beskuit is welkom!
Kwartaal 1 Datums:
Dinsdae gedurende koorperiode
24 Februarie
10 Maart
17 Maart

Tyd: 08h00 - 08h30
Plek: Musiekklas

Indien daar enige vrae is hieroor, kontak gerus vir juf Rolene.

ALGEMEEN

Kontakbesonderhede op MyJvR opdateer

Ons versoek ouers vriendelik om hul kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) op MyJvR na te gaan en op te dateer indien dit verander het. Dit verseker dat alle belangrike kommunikasie, insluitend u kind/kinders se rapporte, ontvang word.

Volg hierdie skakel na MyJvR: KLIK HIER

Dankie dat u saam met ons werk om gladde en effektiewe kommunikasie te verseker!

Plasing van leerderprestasies in die nuusbrief

Ouers wat graag hul kind se prestasies en foto’s in die nuusbrief wil laat plaas, word vriendelik herinner dat hierdie inligting vrywillig deur ouers gestuur word. Neem asseblief kennis dat die nuusbrief elektronies versprei word en ook aanlyn beskikbaar is, wat beteken dat leerders se name en foto’s moontlik op die internet en in soekenjins kan verskyn. ’n Bevestigings e-pos sal gestuur word om toestemming vir publikasie te verkry.

Alle inligting en foto’s moet nie later nie as Woensdag om 14:00 gestuur word om in die huidige week se nuusbrief geplaas te word. Laat bydraes sal outomaties eers in die volgende week se nuusbrief verskyn.

Veiling 2026: Skenkings

Liewe Ouers,

Hou asb 6 Junie 2026 oop vir hierdie jaar se Laerskool JvR Opvoedingstrust Veiling, wat by die Mount Nelson sal plaasvind.

Ons soek graag skenkings vir ons lotte. Enige ouers wat kan help met drank, vakansiehuise, jagritte, kuns, juwele, spa-ervarings, ens. word vriendelik versoek om Anna Blackmore op 083 386 4057 te kontak.

Enige bydrae word opreg waardeer.

Kombuistaal Werkswinkel: vir jou en jou kind(ers)

Kom kuier, luister na en kook saam met Rooi Rose se oudredaktrise (Vickie de Beer) wat 'n kookboek geskryf het om ons kinders te inspireer om gesonder te eet. Haar fokus is op lekker kos wat voedsaam is. Koop gerus jul, jy en jou kind(ers) se kaartjie d.m.v. Quicket teen R370 per gesin. Dit sluit 'n mengbak, houtlepel, bestanddele vir die gereg en die resepteboek in. Dis ook opwindend om te weet dat Antjie Krog saam met Vickie gewerk het om hierdie kookboek ekstra spesiaal te maak. Ons gaan 'n heilsame aand (Dinsdag, 17 Maart) in ons skoolsaal beleef! Sien jou daar.

Marinda Brink

KOOP JOU KAARTJIE HIER

Welwillendheidsprojek: Kwartaal 1, 2026

Hier is hoe jy hierdie kwartaal 'n verskil kan maak:

Sosiale media gesprek met Carla

Kom sluit aan by die gesprek oor kunsmatige intelligensie en sosiale media met Carla de Beer. Sien meer inligting hier onder:

Boekbende: Nuwe Datums

Die Boekbende gaan nou elke tweede Woensdag van die maand in die Mediasentrum om 07:15-07:45 bymekaar kom. Kyk asb na die datums in die advertensie, sodat jy nie uitmis nie!

Boekbende-groete!

Paaseiers insamel!

Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club ondersteun deur paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het soos op die prentjie. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer.

Enige donasies word opreg waardeer!

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Krieketuitslae: 9-12 Februarie 2026

Hier volg die week se krieketuitslae:

Tennisuitslae: 12 Februarie 2026

Hier volg die week se tennisuitslae:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad