|
|
|
|
|
|
DATUMS
Sa 6 Junie 2026
- Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
- Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
Ma 8 Junie 2026
Di 9 Junie 2026
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)
Do 11 Junie 2026
- Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)
Vr 12 Junie 2026
Ma 15 Junie 2026
Di 16 Junie 2026
Wo 17 Junie 2026
Do 18 Junie 2026
- Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)
Vr 19 Junie 2026
- Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Na afloop van ons interne redenaarskompetisie wens ons die volgende leerders geluk, wat ons skool tydens ATKV se eerste ronde gaan verteenwoordig:
|
Gr. 1 – 3: Jean-Jacques Rossouw, Petronella Gouws, Pieter-Steph Bothma
Gr. 4 – 5: Antjie Samuel, Mia Bothma, Hanna Thom, Jan-Jurie Fourie, Stef Nel, Amalie Janse van Rensburg
Gr. 6 – 7: Katryn Silvis, Sabine Barnard, Abigail Fourie, Dané Olivier, Pieter Rademeyer, Cara Nel, Bella Naylor, Elisabet Marais
|
|
Hierdie leerders neem van 11–12 April by Hoërskool Jan van Riebeeck deel.
|
|
|
|
|
|
|
|
Dit is amper weer tyd om musiekkonsert te hou! In Maart kry elke leerder wie ‘n musiekinstrument speel, ‘n geleentheid om die kwartaal se harde werk op die verhoog ten toon te stel. Ons leerders is nie verplig om deel te neem nie, maar ons moedig almal aan om die geleentheid te gebruik. Alhoewel musiekleerders baie tyd alleen spandeer om te oefen, is musiek ‘n uitvoerende kuns en daarom bedoel om ook met ander gedeel te word.
|
|
Die konserte sal in klas- of graadverband gedurende skooltyd plaasvind. Vra asb. jou kind se musiekonderwyser indien daar onsekerheid is oor tye, veral die Graad 4H klas wat in twee sessies optree. Sien asseblief die datums en tye vir elke graadgroep:
|
|
|
Ons nooi alle ouers, familie, en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vondering te vier.
|
Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus.
|
|
|
|
|
|
|
|
Individuele- en klasfoto's is nou beskikbaar by hierdie skakel: LS JvR FOTO'S Wagwoord: JVR2020
|
|
Sien verdere inligting hier onder:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club help om paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer. Ons wil vra dat die paaseiers voor of op Vrydag, 11 April, skool toe gebring word (neem asb. kennis van die veranderde sluitingsdatum).
|
|
|
|
|
|
|
|
Dis weer tyd vir 'n somersokkie! Sien meer inligting hier onder:
|
Neem asseblief kennis dat kaartjieverkope op Karri, Maandag, 17 Maart sluit. Bestel jou kaartjie sommer nou!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Kyle het aan die karate-uitdunne deelgeneem en tweede plek verower in beide Kata en Kumite, en sodoende silwermedaljes in albei behaal. Dit beteken dat hy gekwalifiseer het vir sy WP-kleure in karate en deel van die Wes-Kaap-span sal wees wat in Mei aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gaan deelneem. Welgedaan Kyle! Jy maak ons sommer baie trots.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Nippers is 'n junior program wat ontwerp is om kinders, gewoonlik tussen die ouderdom van 5 en 14 jaar, aan strandredding en strandveiligheid bekend te stel. Dit is 'n prettige en opvoedkundige aktiwiteit waar kinders leer oor oseaanbewustheid, brander toestande en basiese noodhulp. Hulle neem ook deel aan verskeie strand- en wateraktiwiteite, soos swem, plankroei en strandresies. Die uiteindelike doel is om selfvertroue te bou, lewensvaardighede aan te leer en hulle voor te berei op toekomstige rolle as strandredders.
|
|
'n Paar graad 4-seuns het vroeër vanjaar aan die WP-kampioenskappe vir Stilwater Nippers deelgeneem. Jan Jurie Fourie het 'n goue en 'n silwermedalje verower, terwyl Lukas Loubser 'n bronsmedalje ingepalm het. Ons is ongelooflik trots op hierdie twee manne wat so uitstekend presteer het!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien die week se netbaluitslae hier onder:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Gedurende die volgende drie weke gaan ons die klem op leesontwikkeling plaas. Inligting rakende die verskillende leesmodelle sal bespreek word.
|
Hierdie week se leesmodel: Duke & Cartwright (2021) se “Active View of Reading”
|
Lees is ‘n komplekse proses wat baie dele van die brein gebruik. Onlangs het ons in die media gehoor dat meer as 80% van die leerders in graad 4 nie met begrip kan lees nie.
|
Lees is nie ‘n natuurlike vaardigheid wat kinders aanleer soos byvoorbeeld praat of loop nie. Lees is ‘n komplekse kognitiewe proses wat die brein aanleer. Tydens lees word baie verskillende dele van die brein gebruik.
|
Die volgende vier hoofareas word tydens lees gebruik:
|
* Frontale lob: Die area van die brein help leerders om woorde vinnig te herken sonder om elke letter individueel te dekodeer.
|
* Pariëntale lob: Sensoriese bewustheid vind hier plaas. Leerders gebruik die deel van die brein vir fonologiese bewustheid. Om bewus te word van die klanke van letters en om visueel die letters te herken.
|
* Oksipitale lob: Die gedeelte word gebruik vir visuele herkenning van woorde; visuele geheue; leesspoed en visuele diskriminasie.
|
* Temporale lob: Die area van die brein help leerders om letters en klanke te verbind. ‘n Sleutelvaardigheid vir dekodering. Die deel help ook met die betekenis van woorde en sinne.
|
Volgens Duke & Cartwright (2021) se “Active View of Reading” is lees nie net die herkenning van woorde nie, maar ‘n aktiewe kognitiewe proses wat vereis dat kinders gebruik maak van verskillende vaardighede.
|
Die model beklemtoon drie belangrike komponente in, naamlik: woordherkenning; taalbegrip, probleemoplossingstrategieë en uitvoerende funksies. Volgens dié model moet kinders aktief betrokke by die leesstrategie wees.
|
Die vraag by ouers is natuurlik hoe kan ek na aanleiding van bogenoemde model my kind met lees help?
|
* Maak gebruik van gedeelde lees (paired reading). As ouer lees jy ‘n sin en dan laat jy jou kind dieselfde sin lees. So kan jou kind die woorde sien en hoor. Dit help kinders met selfvertroue en om die woorde korrek uit te spreek.
|
* Speel speletjies met sigwoorde deur flitskaarte van die woorde te maak. Kinders moet die woorde op sig kan lees sonder om die woorde te klank.
|
* Laat jou kind na die prent van ‘n leesstuk kyk en gesels met jou kind oor die prent. Vra die volgende tipe vrae: Wat sien jy in die prent? Wat doen hulle? Wat dink jy sal gebeur as die hond kan vlieg? Hoe dink jy voel die vrou? Wat in die prent sal jy wil verander?
|
* Oogbewegings is baie belangrik. Maak jou kind bewus dat ons oë van links na regs beweeg. Daar is verskeie oogbewegings wat jy vir jou kind kan gee om sy/haar oë te oefen.
|
* Moenie jou kind die heeltyd reg help as hulle ‘n woord verkeerd lees nie. Dit kan hulle selfvertroue beïnvloed. Lees die sin oor en vra vir jou kind om na die woord te kyk wat hy/sy verkeerd gelees het. Vra vir jou kind watter klank in die woord ‘n mens kan uitvang.
|
* Leerders kan uitvoerende funksies (executive functioning) toepas, voordat hulle begin lees.
|
* Leer ‘n goeie woordaanpakstrategie aan.
|
* Laat jou kind verskillende tipe vrae oor die leesstuk opstel.
|
* Bevorder jou kind se kritiese denke deur die leesstuk oor te skryf en die karakters te verander na ruimtewesens of verskillende tipe diere.
|
* Gee vir die kinders ‘n prent en laat hulle, hulle eie leesstuk skryf. Lees die skryfstuk vir iemand voor.
|
* Verbeter leesspoed deur sigwoorde teen spoed te lees. Kyk hoeveel sigwoorde jou kind in een minuut kan lees.
|
Lees is soos ‘n towersleutel wat ‘n wêreld vol stories, kennis en avonture oopsluit. Elke woord wat jou kind lees, bou sy/haar brein, verbeelding, selfvertroue en kennis.
|
|
Marietjie de Kock (Zen Den)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Vandag heers daar groot opwinding by die skool, want ons hou vir die eerste keer ‘n Waterbuffel-‘Hamburgerdag’ en beoog om 1 700 ‘burgers’ te braai. In goeie en suiwer Afrikaans moet ek seker na frikkadelbroodjies verwys. Die ‘burgers’ word vandag as ‘n wegneemete verkoop of vanaf 16:00 as ‘n aansitete beskikbaar wees. Waterbuffelvleis word as een van die gesondste rooivleise beskou, met heelwat minder vet as beesvleis, en gaan verseker binnekort ‘n alternatief vir gesonder vleis op die winkelrakke wees. Dit is hoog in proteïene, sink, yster en Omega-3, dus moet jy seker maak jy mis nie uit op die geleentheid om ‘n smullekker waterbuffel-frikkadelbroodjie te kom geniet nie. Daar gaan spesiaal ‘n markiestent vir die feestelike geleentheid op die mini-sportveld agter die skool opgeslaan word, terwyl lekker musiek in die agtergrond speel, wat ‘n feestelike atmosfeer gaan skep. Die snoepie sal ook hul dienste daar verskaf en staan gereed vir enige ander aankope. Ek kan nie wag om julle almal vanaf 16:00 te ontvang nie en saam met julle die waterbuffel-frikkadelbroodjies te proe en daaraan te smul nie. Laat my toe om veral vir Susan Derksen hartlik te bedank, saam met haar OOV-span, wat aan die reëlings van die unieke dag staan, asook ons pa’s wat as braaiers optree. Gister het ons 500 van die ‘burgers’ gebraai en aan ons susterskool, naamlik Laerskool Prestwich, geskenk om vir hul leerders te gee.
|
|
|
|
Verlede Vrydag het ons o.11 - o.13 netbalspanne, asook ons o.7 - o.13 rugbyspanne, aan die Bulfees-sportdag in Porterville deelgeneem. Dit was bloedigwarm, met die kwik wat op ‘n stadium tot bo 37°C gestyg het. Nie eers die hoë temperature kon ons Jannies se geesdrif demp nie, en hulle het met oorgawe aan hul eerste wintersportwedstryde vir 2025 deelgeneem. Ons spanne het werklik goed tydens die voorseisoentoernooi gevaar, wat deel van die voorbereiding vir die opwindende winterseisoen wat voorlê, vorm.
|
|
|
Vandag en môre ontvang ‘n geselskap van personeellede noodhulpopleiding wat oor die naweek by die skool aangebied word. Dit sluit ook ‘n praktiese eksamen in om ‘n noodhulpsertifikaat te kan verwerf. Noodhulpopleiding vir ons personeel is noodsaaklik en bevorder natuurlik die gevoel van veiligheid. Kennis van noodhulp help hulle ook om meer waaksaam te wees ter beskerming van ons leerders. Of dit ‘n geringe neusbloeding of ‘n ernstige allergiese aanval is, moet personeel voorbereid wees op enige iets wat in die klaskamer of op die perseel mag gebeur. Noodhulpopleiding help dus die personeel om spoedig en doeltreffend op te tree, indien leerders, personeel of ouers dalk mediese hulp verlang.
|
|
Op Maandag, 10 Maart, het Hoërskool Jan van Riebeeck ons leerderraad uitgenooi om vanaf 07:30 ‘n leerderraad-ontbyt saam met verskeie ander laerskole by die statige Welgemeend te geniet. Tydens die spoggeleentheid het die bekende Suid-Afrikaanse verspringatleet, wat al aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, naamlik Rushwahl Samaai, ons as gaspreker toegespreek. Sy motiveringspraatjie was merkwaardig en het inderdaad almal geïnspireer om spreekwoordelik aanhou om ‘groot’ te droom, in jouself te glo en elke dag net ‘n beter weergawe van jouself te wees. Hy het as kind in ‘n baie arm, informele woonbuurt in die Paarl grootgeword. Hy en sy ouers het in ‘n karige pandok gewoon. Hulle was brandarm en hy moes elke dag 10 km stap na ‘n atletiekveld om sy passie vir verspring uit te leef. Hy het onwrikbaar in homself geglo en stel vir ons almal ‘n goeie voorbeeld van hoe om uitdagings te oorbrug en sy passie na te volg. Sy boodskap was duidelik: ons moet nooit ons omstandighede blameer indien ons nie suksesvol is nie. Baie geluk en hartlike dank aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span met die puik leerderraad-ontbyt wat ons leerderraad terdeë geniet het.
|
|
|
Op Dinsdag, 11 Maart, tydens die weeklikse saalbyeenkoms het juf. Lucia en ‘n groep graad 6-leerders ‘n bewusmakingsessie aangebied om ons te herinner dat ons ‘n Afrikaanssprekende skool is en dat leerders hulle in Afrikaans met mekaar by die skool moet kommunikeer en nie in Engels nie. Daar is nou ‘n tendens dat ons leerders verkies om in Engels met mekaar, veral voor- en na skool en tydens pouses, te kommunikeer. Jy mag dalk wonder wat nou hiermee verkeerd is. Behalwe dat ons ‘n trotse Afrikaanse skool is, verloor die leerders die vermoë om in korrekte Afrikaans te praat en sukkel hulle al hoe meer om in Afrikaans te lees met begrip. Dus word leerders nou aangespreek wat Engels tydens skoolure praat en versoek ek ook julle hulp in die verband om jou kind/ers aan te moedig om korrekte en suiwer Afrikaans te praat. Hulle vermoë om in Engels te kommunikeer en te lees, is uitstekend, want ek glo dit is as gevolg van die blootstelling dat in moderne tye omtrent alles in Engels geskied. Ons het dus ‘n verantwoordelikheid om ons pragtige taal te beskerm en te bevorder.
|
|
Op Woensdag, 12 Maart, het ons gr. 5- en 6-leerders vir die eerste keer ‘n Wetenskap Ekspo in die skoolsaal onder die leiding van juf. Marianne Conradie (NWT-Vakhoof) aangebied. Die tema was Suid-Afrika, ons wonderlike plante en diere. Die Gr. 5- en 6-leerders het hul puik NWT-projekte vir die res van die skool uitgestal om te kom besigtig. Leerders het ‘n spesiale toegangskaartjie ontvang om die saal, wat spesiaal soos ‘n museum opgemaak is, te besoek. Ek was aangenaam verras met die kwaliteit van die NWT-projekte, veral die detail wat daarmee gepaard gegaan het. Die doel van die Ekspo is om die bewustheid en wonders van wetenskap te verhoog, asook om hul kennis op die vakgebied uit te brei. Ek glo ook dat dit ‘n wonderlike geleentheid vir leerders bied om innoverend saam in ‘n groep te werk. Baie dankie, juf. Marianne, vir die puik inisiatief en baie geluk, juf. Shahneé, met jou leerders se puik projekte. Julle maak ons baie trots en ek glo dat dit ‘n jaarlikse instelling gaan word.
|
|
|
Ek herhaal graag, soos in verlede week se nuusbrief, rakende ‘n skrywe vir ouers/voogde en donateurs se oorweging om ‘n finansiële bydrae vir die beoogde opgradering van sportfasiliteite agter by die mini-sportveld te maak:
|
Fase 1 behels die lê van ‘n veeldoelige kunsgrasbaan. Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust uit fondse van ons mees onlangse skoolveiling, en daarmee saam die gawe hand van Gerhard Conradie, wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg.
|
Fase 2 van die projek behels dat ons graag die fasiliteite verder wil opgradeer met ‘n volledige sportsentrum met pawiljoene, kleedkamergeriewe, twee klaskamers, sportstore en ‘n mini-klubhuis.
|
Fase 3 sluit ook in die plaveisel agter onder die bome om die hele area esteties af te rond.
|
Die kosteberaming van die opwindende projek beloop R7,76m. Baie dankie aan die donateur wat na afloop van verlede week se nuusbrief (28/02) vir ons geld vir die projek bewillig het, maar ons benodig nog heelwat fondse om die projek ‘n moontlikheid te maak. Ek sluit dus weer ‘n skakel in wat al die planne en motivering bevat, soos dit in verlede week se nuusbrief verskyn het. Baie dankie vir julle goedgunstige oorweging om die infrastruktuur by die skool op te gradeer en esteties af te rond. Kontak my gerus indien jy sou belangstel om ‘n bydrae tot die wonderlike projek te maak. Hartlike dank aan Stephen Hitchcock (ouer op ons Beheerraad en argitek) wat die ongelooflike planne ontwerp het.
|
|
|
Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne. Sterkte aan juf Rolene, mnr. Leon Starker en die senior koor wat die naweek aan die MCC deelneem. Hulle het baie hard gewerk en is goed voorberei vir die koorfees. Ek sluit dan die week af met ‘n bekende Afrikaanse idioom om ons pragtige taal te bevorder:
|
‘Ledigheid is die duiwel se oorkussing.’
|
|
|
|
|
|
Kliek HIER vir Die Suidooster
met al die nuutste artikels, foto's en video's.
|
|
|
|
Kliek HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|