Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Vr 7 Augustus 2026

  • TOETS: Wiskunde Gr.4 ,6 & 7
  • World Robot Olympiad Kompetisie (Kodering en Robotika)
  • TOETS: NWT Gr.5

So 9 Augustus 2026

  • Nasionale Vrouedag

Ma 10 Augustus 2026

  • Vakansiedag

Di 11 Augustus 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert

Vr 14 Augustus 2026

  • Skool verdaag vroeër
  • Hokkie: Dirkie Uys (TUIS) - Almal
  • TOETS: Wiskunde Gr.5
  • TOETS: NWT Gr.4, 6 & 7

Sa 15 Augustus 2026

  • Netbal: Dirkie Uys (TUIS) - Almal
  • Rugby: Dirkie Uys (TUIS) - Almal

So 16 Augustus 2026

  • Senior Kooroptrede: Tygerberg Children's Choir: In Harmony

Di 18 Augustus 2026

  • Hokkie: Durbanvilletoernooi (o.9 Seuns & Dogters)

Wo 19 Augustus 2026

  • Rugby: De Tyger
  • Netbal: Van Riebeeckstrand (TUIS) - Almal
  • Boekverkope: Exclusive Books

Vr 21 Augustus 2026

  • Netbaltoernooi (o.7-o.9): Tableview
  • Assessering: SW


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 31 Julie 2026

Die kwartaal het skaars afgeskop en die eerste twee weke is agter die rug.

Graag spog ek met ons o.13A-tennisspanne (seuns en dogters) wat vanaf 20 – 24 Junie aan die prestige Sun City-tennistoernooi deelgeneem het. Ons dogterspan het vanjaar hul titel gaan verdedig en hul baie goed van hul taak gekwyt deur bronsmedaljes te verower. Ons seuns het ook gewys dat hulle nie onderskat moet word nie deur 'n sesde plek te behaal. Daar het vanjaar 18 seuns- en 17 dogterspanne aan die prestige-tennistoernooi deelgeneem en ek glo dat julle sal saam stem dat dit merkwaardig is dat ons as 'n 'klein skooltjie' op nasionale vlak teen heelwat groter skole kompeterend kan wees. Baie geluk aan ons dogters en seuns wat ons so trots gemaak het en in die proses het hulle ook as ware ambassadeurs vir ons skool by Sun City opgetree. Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogter- en seunspanne suksesvol bestuur en vergesel het. Laat my ook toe om Yurich Daniels (buite-tennisafrigter) hartlik te bedank vir sy instrumentele rol oor die afgelope klompie jare om tennis by ons skool te ontwikkel.
Baie dankie ook aan al ons ouers wat die ouerafsprake op 27 en 28 Julie by jul kind(ers) se onderskeie onderwysers bygewoon het. Baie dankie dat julle tyd gemaak het om die akademiese vordering van jou kind(ers) met hul onderwysers te bespreek. Hou ook ingedagte dat kinders nie net bekommerd is oor hul eie punte nie, maar ook oor hul ouers se reaksie daarop. Ek glo dat julle die geleentheid gebruik het om weer met onderwysers kontak te maak, insigte te deel en saam te werk om jou kind(ers) se leerervaring te verbeter. Ek glo dat 'n spograpport 'n groot seëning is, maar beslis nie die geheelbeeld van jou kind(ers) bepaal nie. Baie dankie dat ons kollektief saam met julle as 'n span kan funksioneer om jul kind(ers) verder te ondersteun sodat hulle met selfvertroue probleme kan aanpak en leer om dit op te los.

Op Maandag, 27 Julie, het ons skool ook vir die eerste keer 'n Kodering- en Robotikadag vir die Grondslagfase-leerders aangebied. Ons graad 1- tot 3-leerders het soveel pret gehad en met groot entoesiasme aan die dag deelgeneem. Die bou en programmering van die kabelkarretjies het suksesvol afgeloop en baie opwinding veroorsaak. Baie dankie, juf. Suné, vir al die puik reëlings, asook die onderskeie onderwysers wat die dag met soveel entoesiasme aangepak het. Ons moet nooit die waarde van leer en onderrig buite die vier mure van 'n klaskamer onderskat nie. Dit is juis een van die redes waarom ons op 'n gereelde basis opvoedkundige uitstappies en instappies vir ons leerders reël.
Ek gaan die kwartaal weer voort om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in 'n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):

"Ledigheid is die duiwel se oorkussing"

Die uitdrukking verwys dikwels na 'niksdoeners' wat dikwels onheilighede bedink, m.a.w. wanneer 'n mens besig is, dan kry hy/sy nie tyd om onbenullighede uit te dink nie.

Ek sluit dan die tweede week van die nuwe kwartaal af en my beste wense vir ons mini-sportdag (mini-rugby en -netbal) wat môre by ons skool aangebied word. Geniet 'n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne!

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

Fondsinsameling vir ons Terreinwerkers

Dit is met gemengde gevoelens dat ons aankondig dat vier van ons geliefde terreinwerkers, aan die einde van die jaar, by ons skool klaarmaak. Christopher, Elliam, Matthews en Patrick gaan, wanneer die skool vir Desember-vakansie sluit, terugkeer huis toe. Hulle is almal al meer as 16 jaar lank by die skool en is in murg-en-been Jan van Riebeeckers. Hulle is vir ons ontsettend kosbaar en het daagliks gehelp om ons skool veilig en skoon te hou. Hulle was en is altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop om te verseker dat alles wat ons aanpak, hetsy dit akademiese verryking, kultuurgeleenthede, sportdae of sosiale funksies is, vlot verloop.

Hierdie vier terreinwerkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Hulle is geliefd onder leerders, personeel, ouers en selfs mense wie om en naby die skool woon en werk. Ons is hulle oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Ons gaan hulle baie mis.

Gedurende hulle tyd by die skool het hulle hard gewerk om hul families op verskeie maniere te ondersteun. Elkeen het al vir hulself 'n huis tuis gebou en maak vir 'n geruime tyd planne om te kan hervestig en herenig met hul families. Die tyd het nou aangebreek waar dit sin maak om die volgende stap te neem. Ons is saam met hulle opgewonde vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en wens hulle almal voorspoed en sukses toe, maar is ook hartseer om hulle te verloor.

Die skool en Opvoedingstrust het reeds op verskeie maniere ingetree om hulle te ondersteun met hul hervestigingsplanne om sodoende hulle te verseker dat hulle in 'n beter posisie sal wees om 'n nuwe lewe tuis te bou. Ons wil hulle graag ondersteun sodat hulle kan voortbou op dit wat hulle reeds vermag het en help dat hulle en hul families tuis kan floreer.

Elkeen van hierdie vier manne het 'n besonderse bydra tot ons skool se sukses gelewer. Ons is hulle oneindig dankbaar en wil graag die geleentheid vir ons ouers gee om te help deur 'n bydrae tot hul hervestigingskostes te maak. Ons sal dus, vir die volgende drie maande, 'n spesiale fondsinsameling op Karri oopmaak sodat ouers vir wie die saak naby aan die hart lê, 'n geleentheid bied om 'n donasie te maak.

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Studiekursus: Kwartaal 3

KULTUUR

Skoolkonsert 2026: 14 -17 September 2026

Ons is baie opgewonde oor ons skoolkonsert wat hierdie September plaasvind! Elke leerder word versoek om ’n bedrag van R200 by te dra om die kostes van kostuums en grimering te help dek. Leerders sal hul kostuums ná afloop van die konsert kan hou.

Karri sal vanaf Dinsdag, 28 April, tot en met September beskikbaar wees vir betalings.

Baie dankie vir almal se ondersteuning en samewerking om hierdie produksie moontlik te maak.

JUNIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums

4 Augustus: Reddam Sings (Reddam Constantia) @ 18h00. Daar sal busvervoer en genoeg toesig wees. Leerders vertrek 16h00 met die bus na Reddam, en ons beveel sterk aan dat alle koorlede van busvervoer gebruik maak. Dit is altyd lekker vir die gees en luim van die groep!

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebbeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (LS JvR Skoolsaal) @ tbc

8 September: Kaapse Afrikaanse Eisteddfod (Laerskool Simon van der Stel) @ 16h00. Alle junior koorlede maak van busvervoer na Laerskool Simon van der Stel gebruik. Ouers is welkom om leerders na afloop van die Eisteddfod by Laerskool Simon van der Stel op te tel. Daar sal ook busvervoer terug skool toe wees na die optrede. Ons bevestig later die vertrektyd van die bus. Hou die Junior Koor WA-groep dop.

Teken hierdie belangrike datums asseblief aan. Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en ons wil graag met ’n volledige koor optree!

Hou die Junior Koor WA-groep dop vir meer inligting rakende die onderskeie konserte. Kontak gerus vir Juf Bea indien daar enige vrae is.

SENIOR KOOR: Kwartaal 3 Belangrike Datums 

3 Augustus: Tafelberg Koorfees (Hoërskool Jan van Riebeeck)

1) Tyd: 18h00
2) Koorlede arriveer reeds 16h00 vir die massa kooroefening en werkswinkel saam met Mnr Pieter Bezuidenhout.
3) Kaartjies is R50 per persoon - sien die skakel op die WA-groep.

16 Augustus: Tygerberg Children’s Choir: In Harmony (Kaapstadse Stadsaal)

1) Tyd: 15h00
2) Koorlede arriveer stiptelik om 12h30 by die stadsaal sodat hulle gereed is om 12h30 met die massa kooroefening en klanktoets te begin.
3) Kaartjieverkop is reeds oop en die skakel is op die koor WA-groep.

2 September: Koorkonsert saam met Jiřičiky Jeugkoor (Tsjeggië), Hoërskool Jan van Riebbeeck en Laerskool Jan van Riebeeck Junior en Senior kore (LJvR Skoolsaal)

1) Besonderhede oor hierdie konsert sal later bevestig word.

Teken hierdie belangrike datums aan, asseblief. Dit is opwindende geleenthede om na uit te sien, en dit is altyd lekker om met ’n volledige koor op te tree!

Hou die Senior Koor WA-groep dop vir meer inligting rakende die onderskeie konserte. Kontak gerus vir Juf Rolene indien daar enige vrae is.

Orff en Kodály Werkswinkels by Laerskool Jan van Riebeeck

LsJvR bied Orff en Kodály Werkswinkels vir enige belangstellende musiek- en klasonderwysers aan! Kom woon dit gerus by!

Kontak vir Juf. Rolene vir meer inligting.

SPORT

Hier volg die program vir môre se Mini Sportdag:

ALGEMEEN

Kwartaal 3: Welwillendheid

Hierdie kwartaal is ons fokus om diere te help!

Wat: Bring kat- en hondekos skool toe.
Wanneer: 28 Julie - 7 September 2026
Waar: By jou registerklas

Trofees terugbring

Ons is tans besig om al die trofees wat die leerders verlede jaar tydens die prysuitdeling ontvang het, te dokumenteer. Indien u kind verlede jaar ’n trofee ontvang het, stuur dit asseblief na die Mediasentrum, aan Juffrou Marecia van Zyl.

Baie dankie vir u hulp hiermee.

Groete,
Juffrou Marecia

Boekverkope - 19 & 20 Augustus 2026

Exclusive Books bring hul boekverkope na ons skool op
19 en 20 Augustus!

✨ Boeke beskikbaar vanaf slegs R50 – daar is iets vir elke jong leser.

Moenie hierdie geleentheid misloop om jou boekrak uit te brei en 'n nuwe gunstelingboek te ontdek nie.

🗓️ Teken 19 en 20 Augustus nou op jou kalender aan!

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

BASJAN Ondersteunerskussing op UITVERKOPING!

Moenie die geleentheid misloop nie! Kry jou BASJAN Ondersteunerskussing nou teen die spesiale uitverkopingsprys van slegs R220.

Perfek vir die pawiljoen, sportveld of enige plek waar jy ons Jannies kom ondersteun.

💙 Slegs R220
🏉 Koop nou voor die naweek se groot sport!
⚠️ Beperkte voorraad beskikbaar – wees vinnig!

🛒 BESTEL HIER

Jan Kas: Swart Woolworthssakke

Baie dankie aan almal wat gereeld sakke vir Jan Kas skenk, dit werk baie goed! Indien julle ekstra Woolworthssakke by die huis het en bereid is om dit te skenk, hou asb. aan om dit na Jan Kas of Megan en Sue-Ann se kantoor te stuur. Ons het altyd nog nodig. Baie dankie!

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Netbaluitslae van 22-29 Julie 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Rugbyuitslae van 29 Julie 2026

Hier volg die week se rugbyuitslae:

JvR skitter by Sun City Tennistoernooi

Van 19–24 Julie het ons 1ste Tennisspan (seuns en dogters) die voorreg gehad om aan die gesogte Sun City Tennistoernooi deel te neem. Altesaam 18 van Suid-Afrika se voorste skole (17 dogters- en 18 seunsspanne) het in die dogters- en seunsafdelings meegeding, wat vir ons spelers die geleentheid gebied het om hul vaardighede teen die bestes te toets.

Gedurende die week het ons spelers elke dag wedstryde teen sterk skole soos Courtrai, Trinity House, Hennops, Elarduspark en Randhart gespeel. Elke wedstryd het nuwe uitdagings gebied en waardevolle ervaring opgelewer. Ons spelers het hulself met trots gemeet aan van die sterkste tennisskole in die land.

Ons is ongelooflik trots op ons uitslae:

Meisies: 3de plek
Seuns: 6de plek

Hierdie uitslae weerspieël nie net talent nie, maar ook ure se oefening, deursettingsvermoë en spanwerk. Ons spelers het met trots die JvR-klere gedra en uitstekende sportmangees op en langs die baan getoon. 'n Hartlike dankie aan ons afrigters, ouers en ondersteuners wat hierdie toer moontlik gemaak het. Julle aanmoediging, ondersteuning en opoffering het 'n groot bydrae gelewer tot die sukses van ons spelers.

Baie geluk aan elke speler wat Laerskool Jan van Riebeeck met trots verteenwoordig het. Julle prestasies is 'n bewys dat sukses nie net gemeet word aan die finale uitslag nie, maar ook aan die karakter, dissipline en vasberadenheid wat julle deur die week uitgeleef het. Die hele JvR-gemeenskap is ongelooflik trots op julle.
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
Email Marketing Powered by MailPoet