Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

AKADEMIE

Prysuitdeling 2024

Prysuitdelingsgeleenthede vir 2024 vind in ons skoolsaal op die volgende dae en tye plaas:

Maandag, 2 Desember: Graad 1 om 8:30; Graad 2 om 10:00; Graad 3 om 11:30

Dinsdag, 3 Desember: Graad 4 – 09:00; Graad 5 – 11:30

Donderdag, 5 Desember: Graad 6 - 09:00; Graad 7 – 18:00

Let asb. op die volgende:

1) Alle leerders (gr. 1-7) in die skool ontvang 'n sertifikaat met unieke akademiese-, persoonlike kommentaar, sowel as aktiwiteite waaraan die leerder deelgeneem het.

2) Gr. 4-7: Ontvang Top 3 graadpryse vir Afrikaans, Engels (EAT en HT) sowel as Wiskunde.

3) Gr. 5-7: Ontvang Top 10-medaljes vir graadposisies

4) Indien jou kind nie die prysuitdeling kan bywoon nie, moet jy asb. die bepaalde registeronderwyser in kennis stel.

Gr.4-7 Prysuitdeling: Aansoek vir Spesiale Toekennings

Alle gr.4 - 7-leerders wat tydens hierdie jaar besonderse prestasies behaal het óf veelsydigheid getoon het op sport- en kulturele gebied kan in aanmerking kom vir 'n spesiale prys by die prysuitdeling.

Voltooi asb. die aangehegte vorm en handig die vorm en afskrifte van bewyse van die prestasie(s) teen Vrydag, 21 November, by juf. Lucia de Jager in. 'n Hardekopie van die vorm kan ook afgehaal word.

Kliek op hierdie skakel om aansoek te doen:

AANSOEK VIR SPESIALE TOEKENNINGS

KULTUUR

Kerskonsert: 28 November 2024

28 November 2024 om 19:00 | Skoolsaal
R50 pp - Kaartjies op Karri beskikbaar

Redenaars 2025: Inligtingsessie

Hier volg meer inligting oor die redenaars 2025 inligtingsessie:
Vul asseblief hierdie vorm in, indien jy die inligtingsessie gaan bywoon: INLIGITINGSESSIE VORM

Maak asseblief seker jy is op die redenaars WhatsApp-groep, sodat jy nie belangrike inligting mis nie.
Ls JvR Whatsapp Community: Redenaars (Ls JvR)

SPORT

2025 Jan van Riebeeck-gholfdag

Vind asb. aangeheg inligting vir die 2025 Jan van Riebeeck-gholfdag. Daar is slegs 12 x 4 balle beskikbaar. Neem kennis dat gholfkarretjiebesprekings vir jou eie rekening sal wees en direk by die proshop bespreek moet word.

Kontak mnr. Rashard vir besprekings, borgskap van pryse of putjies en navrae indien u enige het.

067 311 8914 of sport@jvrprim.co.za

ALGEMEEN

Skool verdaag vroeër: 15 Nov - 10 Des 2024

Neem asseblief kennis dat die skool vanaf Vrydag, 15 November tot Dinsdag, 10 Desember vroeër sal verdaag:
Grondslagfase - 13:00
Intersenfase - 13:15

Jan Kas tye: Aangepas

Jan Kas sal Dinsdae- en Donderdaemiddae vroeër oop wees a.g.v. die skool wat vroeër verdaag.

Ma & Wo - 07:00 - 08:00
Di & Do - 12:30 - 13:30

HS Jan van Riebeeck-busvervoer

SUIDELIKE VOORSTEDE: OceanView, Glencairn, Vishoek, Muizenberg, Lakeside, Dieprivier, Wynberg, M3:

NOORDELIKE VOORSTEDE: Brackenfell, Bellville, Parow, Goodwood:

WESKUS (MILNERTON/TABLEVIEW/BLOUBERG/MELKBOS):

Kliek op die onderstaande skakel VIR DIE BETROKKE ROETE, vul dit in en maak seker u submit. Sodra u dit gedoen het, sal ons ontvangs erken en al die verdere nodige inligting, kostes, roetes en tye aan u stuur om die aansoek af te handel. U sal op die blou skakel nadat u daarop ingegaan het, al die stoppunte sien waar die bus 2024 gestop het. Ons neem voorstelle vir nuwe stoppunte in ag.

Kliek hier vir meer inligting: BUSVERVOER INLIGITNG

Kliek hier vir meer inligitng oor aansoeke: AANSOEK INLIGITNG

Om aansoek te doen vir die busdiens van Jan van Riebeeck, kliek op die toepassende blou skakel vir die onderskeie roetes. U sal ontvangs erkenning kry, met verdere aansoek dokumente.

SUIDELIKE VOORSTEDE: OceanView, Glencairn, Vishoek, Muizenberg, Lakeside, Dieprivier, Wynberg, M3:
https://forms.gle/ccSbwCVTX1eMKh556

NOORDELIKE VOORSTEDE: Brackenfell, Bellville, Parow, Goodwood:
https://forms.gle/vD29isRnv3uTutSU6

WESKUS (MILNERTON/TABLEVIEW/BLOUBERG/MELKBOS):
https://forms.gle/G3PpHUT27eePVLfz7

Vir enige ander navrae, kontak:

Theresa Lombard
theresa@actdfin.co.za

Biblioteek sluit vroeër: 18 November 2024

As gevolg van leerders wat vroeër verdaag sal die biblioteek ook vanaf Maandag, 18 November, vir die res van die kwartaal om 14:30 sluit.

Vir enige navrae, kontak vir Marecia by marecia@jvrprim.co.za

Versoek om Uitstaande Biblioteekboeke Terug te Stuur

Oor die afgelope paar jaar het daar verskeie persone in beheer van ons skoolbiblioteek gewissel, en ons werk tans daaraan om ons rekords op te dateer en seker te maak dat alle biblioteekboeke teruggestuur word.

As jou kind steeds biblioteekboeke by die huis het, vra ons asseblief dat dit so gou moontlik terug na die skool gestuur word. Dit sal help om 'n akkurate inventaris te behou en te verseker dat alle leerders toegang het tot die hulpbronne wat hulle nodig het.

Baie dankie vir die samewerking en ondersteuning in hierdie verband.

Karri-donasie vir terrein-, nasorg- en snoepiepersoneel

Indien jy graag ‘n kersdonasie d.m.v. Karri vir die terrein-, nasorg- en/of snoepiepersoneel by die laerskool wil bydra, is jy welkom. Die Karri-insameling maak binnekort oop.

TERUGVOER

Barbara Schreuder Dansskool: November 2024

Ons dansers het behoorlik geskitter tydens die American Academy of Ballet "Performance Awards" by JvR Sondag, 10 Nov 2024.

Bedankings;
Aan mnr Beets vir gebruik van JvR saal en juf Sharon vir gebruik van haar klaskamer;
Ons oulike dansers vir hul liefde en passie vir dans en hul deursettingsvermoë;
Anene vir gebruik van haar Ballet matte en Philip en Matthew vir die musiek en sekuriteit;
Karlien en Kerala vir kaartjieverkope en Belinda en Icelene ons "Runners";
Mammas vir mooi hare versorging en grimering en Pappas vir ondersteuning en " lifts" na ekstraklasse.

AAB GRADERING:
Bronze: Bronze with distinction | Bronze with double distinction
Silver: Silver with distinction | Silver with double distinction
Gold: Gold with distinction

AAB UITSLAE:
Gr1
Mila Maree Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Emily Theron Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Emma Wilke Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Livia-Mae Liebenberg Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Amatullah Barsadien Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Heike Janse v Rensburg Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Vasti Swart Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Cornelia Opperman Silver with Double Distinction en n Ster hangertjie
Gr 2
Iris Caldeira Silver with Double Distinction
Ciera February Silver with Double Distinction
Gr3/4
Isla Jooste Gold with Gold Medal
Mika vd Walt Gold with Gold Medal
Heidi v Heerden Gold with Gold Medal
Natalie Lawson Silver with Double Distinction
Gr5/6/7
Solange Stevens Gold Distinction with Gold Medal
Ella Grey Silver with Double Distinction
Gabriella Buckenham Silver with Double Distinction
Daniella Boshoff Gold with Gold Medal
Larah Opperman Gold with Gold Medal
Jessica Schincariol Gold Distinction with Gold Medal
Gr8/9
Kerala Allewell Gold with Gold Medal
Karlien vd Walt Gold with Gold Medal
Lara Basson Gold with Gold Medal
Emma Liebenberg Gold with Gold Medal

Welgedaan almal, julle maak ons sommer baie trots!

Tydens ons Jaareinddansfunksie op Sondag, 8 Des 2024, vertoon JvR Dansers weer verskeie genre Moderne en Ballet danse en ons hou lekker partytjie daarna! Kom ondersteun en geniet dit saam met ons.

Juf. Barbie

Swem: 8 November 2024

Hier volg die nuutste swemresultate:

Krieket: 6-13 November 2024

Hier volg die week se krieketresultate:

Terugvoer: Meningspeiling 2024

Hiermee gee ons graag terugvoer rakende die meningspeiling 2024 wat 245 ouers/voogde van ons laerskool voltooi het.

Ons voel uiters bevoorreg dat daar soveel deelname aan hierdie meningspeiling was wat gedurende Junie 2024 geloods is. Die idee met die opname was om te bepaal of die skool vanaf die vorige opname wat gedurende 2021 versprei is, verbeter het. Ons kan met dankbaarheid deel dat daar heelwat aspekte van ons skool is wat ons vanuit daardie meningspeiling kon aanspreek en verbeter. Dit is dus waardevol om soveel moontlik van ons ouers/voogde se insette te ontvang sodat daar deursigtige besluite geneem kan word om die hele skoolgemeenskap te verbeter en te bevoordeel. Met die kind as ons hooffokus, bly dit ‘n plesier om uitnemendheid as ‘n holistiese benadering na te streef.

Vanuit hierdie jaar se opname blyk dit duidelik te wees dat ons leerders baie gelukkig in ons skool is en dat ons skool hoë gehalte onderrig op verskeie vlakke lewer. Hierdie twee aspekte dien as die hoofrede waarom Laerskool Jan van Riebeeck doen wat ons doen en weet dat ons voordurend moet bly verbeter op die twee aspekte om dit ons prioriteit te hou.

Die volgende punte staan duidelik uit in die meningspeiling:
  • Leerders moet die vrymoedigheid ontwikkel om vrae te vra indien daar iets is waarvan hulle onseker voel;
  • Boelie-insidente: Ons het ‘n aksieplan saamgestel wat reeds in die skool geïmplementeer is.
  1. Ons sal meer oor hierdie konsep aan ons leerders en ouers/voogde in onder andere die nuusbrief kommunikeer soos ons alreeds 'n paar keer gedoen het;
  2. Groepsgesprekke sal met bepaalde graadgroepe georganiseer word. ‘n Deskundige sal hierdie gesprekke voer. Graad 3's het hierdie week 'n inligtingsessie by Marike Badenhorst gehad.
  3. Opvoeders en leerders weet watter kanale om te volg. Boeliebeleid is hersien.
  4. Duidelike onderskeid word tussen die begrip boelie vs. dissipline getref. Ons ondervind dat die meerderheid van ‘boelie’ meestal dissipline-uitvalle is.
  5. Ouerleiding d.m.v. ouerpraatjies sal ook aangebied word.
  • Graad 1-3-huiswerk is gepas – ons ondersoek dit en pas aan soos nodig;
  • Duidelike kommunikasie aan leerders sodat hulle weet met watter opvoeders om te gesels indien hulle ‘n nie-akademiese probleem ervaar.
  • Duidelike inligting aan ouers/voogde deurgee rakende die inhoud van kodering/robotika-onderrig by ons skool.
  • Aanspreek van verkeersprobleme binne en buite die skoolperseel om op- en aflaai van leerders te vergemaklik
  • B-sportspanspelers ook soveel blootstelling as A-spanne moet kan geniet;
  • Musieklokale is afgeleef en oud;
  • Aanbieding van Drama as interne en buitemuurse aktiwiteit;
  • Moontlikheid om vorderingsverslae (rapporte) digitaal beskikbaar te stel word ondersoek.
Vriendelike Beheerraadgroete.

JANNIES GESPREKKE

Om jou “moeilike” kind te dissiplineer? Is dit moontlik?

Ongeag hoe “maklik” en aangenaam jou kind voor ander mense optree of ál die sosiale reëls nakom, sien jy as ouer dikwels ‘n totaal ander kind by die huis. Gelukkig, met meer kennis asook ‘n bietjie kreatiwiteit is daar maniere om op ‘n vreedsame manier ‘n moelike kind te dissiplineer en ook te leer om konfliksituasies te hanteer. As ouers kan ons nie verwag dat ons kinders te alle tye hulle uitsonderlik goed moet gedra nie. Kinders is besig om hul plek in die wêreld te vind en te leer om ‘n magdom nuwe emosies te hanteer. Daar is gewoonlik ’n paar redes vir hierdie gedrag:

‘n Soeke na onafhanklikheid: onafhanklikheid is een van die vroegste sosiale vaardighede wat ‘n kind móét leer. Dit is dikwels die rede vir moeilik hanteerbare gedrag. Wat hulle eintlik vir ons probeer sê is: “Ek wil dit ‘n slag op mý manier doen!”

‘n Poging tot kontrole en om in beheer te voel: selfs as ‘n volwassene voel ons frustreerd wanneer ons nie beheer het oor ‘n sekere situasie nie. Dikwels,wat vir ons na swak gedrag lyk, is dalk net ons kind se manier om vir ons te probeer sê: "Los alles en luister net na my…ek wil gehoor word!"

‘n Soeke na aandag: kinders tree gewoonlik buite die grense op as ‘n manier om die aandag op hulle te vestig. Onthou, kinders ervaar emosies net so intens soos ons, hulle het dikwels net nog nie die taal om dit te verwoord nie. Dit kan uitspeel in ‘n gebrek aan kontrole en frustrasie.

Ander redes: dit is normaal vir die maklikste kind om jou teen te gaan. Kyk na ander redes wat dit dalk mag veroorsaak: Het iets dalk by die skool gebeur? Was daar ‘n argument met ‘n maat? Hou ook altyd in gedagte: jou kind mag dalk net doodeenvoudig ‘n “af” dag hê. As volwassenes beleef ons ook dae waar alles skeefloop en ons vir niks kans sien nie. Ons kinders ook.

Hoe leer ek dan my kind konflik hanteer?

Opponerende gedrag in kinders is normaal en ons moet dit verwag. Dit is doodeenvoudig deel van die lewe om nie saam te stem oor alles nie. Dit is wat ons uniek maak. Selfs ‘n baie jong kind moet leer om konflik te hanteer: van hulle eerste baklei oor speelgoed tot koppe stamp op die speelgrond. Ongelukkig is daar net een plek waar kinders kan leer om konfliksituasies konstruktief te hanteer: in die huis en by hulle ouers. Hoe jý konflik hanteer, gaan bepaal hoe jou kind konflik gaan hanteer. Al probeer jy oor-en-oor jou kind leer wat die regte manier is om op te tree, gaan jou kind dit nooit leer as jý ongelukkig ‘n swak voorbeeld stel nie. Met dit in gedagte, is daar vyf goed wat ons vir ons kinders kan leer:
  1. Ons mag verskil: Leer jou kind dat, om nie altyd saam te stem oor alles nie, heeltemal normaal is. Dit beteken nie dat ‘n mens nie nog steeds vriende kan wees nie.
  2. Leer jou kind om te luister: In enige konfliksituasie het die ander persoon ook die reg om sy/ haar standpunt te stel. Wees respekvol en moenie jou maat onderbreek totdat hy/sy nie klaar gesê het hoe hy/sy voel nie.
  3. Verskille is ‘n goeie ding: ‘n Mens kan nie áltyd iemand se opinie verander nie en daar is niks daarmee verkeerd nie. Dit is normaal en goed dat mense verskil en verskillend voel. Gebruik hierdie voorbeeld om dit vir jou kind te verduidelik: as ons almal van dieselfde soort roomys gehou het, hoe kleurloos en vervelig sou die lewe nie gewees het nie?
  4. Daar is ‘n tyd om te verskil en ‘n tyd om jou opinie vir jouself te hou.
  5. Jy hoef nie altyd die laaste woord te hê of die argument te “wen” nie. Indien dit lyk of jy en ‘n maatjie nie die verskil met respek vir mekaar kan oplos nie, stap weg. Jy gaan niks verloor as jy toelaat dat die ander persoon die laaste sê het nie. Inteendeel.
Indien jou kind van jongs af reeds bogenoemde beginsels tydens verskille kan toepas, leer jy hom/haar om as ‘n volwassene konstruktiewe debatte te hê, maar belangriker, om selfs die mense naaste aan jou met respek te hanteer wanneer julle verskil.

Marike Badenhorst Opvoedkundige Sielkundige

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 15 November 2024

Kan julle dit glo, oor minder as ‘n maand sluit die skole vir die leerders. Ek glo dat die leerders en julle as ouers/voogde nie meer kan wag om die welverdiende rustyd te geniet nie. 2024 was ‘n besige jaar met propvol opwindende skoolaktiwiteite waarvan die skoolkonsert seker die kollig gesteel het. Een aspek wat vir my die jaar soos die spreekwoordelike paal bo water uitstaan, is die feit dat ons leerders elke skoolaktiwiteit terdeë geniet het. Dit is vir my wonderlike om te sien hoeveel vreugde dit vir hulle bring. Wanneer leerders skoolgaan en in dieselfde proses ook pret het, leer hulle soveel makliker en beter. Dus fokus ons om gelukkige leerders te huisves wat ons in staat stel om hulle holisties te ontwikkel om hul volle potensiaal te kan bereik.

Die Graad 7’s se finale laerskooleksamen het die week op Woensdag, 13 November, met Wiskundevraestel 1 afgeskop. Die assesserings vir die grondslagfase eindig vandag en ek glo die grondslagfase leerders gee saam met hul ouers/voogde ‘n sug van verligting en kan nou net die res van die kwartaal geniet met verskeie pretaktiwiteite wat vir hulle voorlê. Op Maandag, 18 November, begin die Gr. 4 – 6 finale eksamen en wil ek vir hulle ook spesiale sterkte toewens. Die eksamen vir die intersenfase (Gr. 4 – 7) eindig op 27 November 2024. Die eksamenproses behels nie net die skryf van vraestelle nie, maar sluit ook ‘n deeglike moderasie van die antwoordstelle en kontrolering van punte in voordat die finale rapporte uitgedruk word.

Die somersportoefeninge vir kwartaal 4 het op Donderdag, 14 November, tot ‘n einde gekom, maar so tussen die eksamen en die leer, gaan die somersportprogram nou in skooltyd vir Gr. 1 – 3-leerders voort terwyl die Gr. 4 – 7-leerders slegs op atletiek gaan fokus a.g.v. die kleure-atletiek wat op Woensdag, 06 Desember ,(velditems) en Vrydag, 08 Desember ,(baanitems) by die hoërskool se velde plaasvind. Ek glo dat julle sal saamstem dat die leerders dit terdeë geniet om ‘n sportaktiwiteit net na afloop van ‘n eksamen- of assesseringsessie te kan beoefen. Dit help beslis om die angstigheid van assessering te verminder asook om net ‘n bietjie asem te skep na ‘n lang skryfsessie. Studies toon dat leerders wat gereeld sportoefeninge bywoon beter tydens kognitiewe toetse presteer, beter geheue het en meer gefokus tydens eksamens is. Ons weet om vir eksamens voor te brei en die skryf daarvan, kan geestelik en fisies uitputtend wees wat baie leerders moeg en afgemat laat voel. Wanneer hulle dan oefen, stel hul liggame hormone soos adrenalien en kortisol vry, wat weer help om die energievlakke hoog te hou. Ek is vas oortuig dat om sportoefeninge vir leerders tydens die eksamen in te sluit, hulle beslis sal help om beter in die eksamen te presteer en hul algemene gesondheid en welstand ook in die proses te verbeter.

Ons jaarlikse gr. 7-inligtingsessie met ons huidige gr. 6-ouers het op Donderdagaand, 07 November, om 18:00 in die saal plaasgevind. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige gr. 6-ouers te verduidelik wat gr. 7 asook die nuwe fase (senior fase) behels. Dit sluit onder andere die nuwe gr. 7-vakke in en om die verskillende onderwysers wat die vakke onderrig, voor te stel. Ek wil graag vir juf. Charlene (Graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik en insiggewende aanbieding.

Deel van die Gronslagfase se laaste week van assesserings sluit onder andere mondeling in. Ek wil nie graag spesifieke leerders uitsonder nie, maar ek het die week die wonderlike voorreg gehad om na die Afrikaanse mondeling van Petronella Gouws ‘n Graad 2leerder in my kantoor aan te hoor. Haar mondeling het oor die Groot Vyf gehandel, waarvan die Buffel haar gunsteling een is. Behalwe dat ek geleer het dat ‘n Buffel 32 tande, slegs 2 tone het en kan teen 56 km/h hardloop, was ek so beïndruk met die puik mondeling van Petronella. Haar ongelooflike selfvertroue en die vermoë om al haar woorde so mooi te onthou en duidelik te artikuleer is eenvoudig net merkwaardig vir ‘n Graad 2-leerder. Welgedaan, Petronella, jy maak ons baie trots!

Op Maandagaand, 11 November, het die beheerraad sy laaste amptelike vergadering vir die akademiese jaar gehad. Laat my dus toe om die Voorsitter, Merwe Scholtz, hartlik vir sy puik leierskap en visie die afgelope jaar te bedank asook sy lojale ondersteuning aan my as Skoolhoof. Baie dankie aan die volgende Beheerraadslede vir julle kosbare tyd, toewyding en passie om seker te maak Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan:
  • Hugo van den Heever (Onder-Voorsitter)
  • Susan van der Walt (Tesourier)
  • Marié Cruywagen (IKT en adminstelsel)
  • Stephen Hitchcock (Geboue en Terreine)
  • Marinda Brink (Sekretaresse)
  • Andri de Villiers (KS Opvoeder-verteenwoordiger)
  • Hannes Muller (Nie-KS Opvoeder-verteenwoordiger)
Op ‘n hartseer noot het ons op Woensdag, 13 November, van twee leerders, naamlik Bernard en Chenelle afskeid geneem. Beide van hulle is Gr.1-leerders, kinderhuiskinders wat op Donderdag, 14 November, na Pretoria vertrek om na die Jakaranda Kinderhuis oor geplaas te word sodat hulle nader aan hulle familie kan wees. Ons Graad 1-klasse het ‘n spesiale afskeidspartytjie vir hulle gehou en geskenke aan hulle oorhandig. Baie dankie aan al die ouers wat ’n bydrae tot die partytjie en geskenke gemaak het. Ek het self die afskeidspartytjie bygewoon en opvallend was hoe elke graad 1-leerder vir hulle onderskeidelik ‘n drukkie en spesiale boodskap gegee het. Dit is weereens ‘n bewys van ‘n kosbare omgee-skoolgemeenskap waarop ons baie trots kan wees.
Jammer dat ek soos ‘n platespeler klink wat vashaak, maar as gevolg van die dringendheid neem ek die week weer die vrymoedigheid om ons ouers/voogde te nader of daar dalk iemand bereid sou wees om die koshuisfooi by HS Jan Van Riebeeck van ‘n huidige graad 7-leerder by ons vir 2025 (Gr. 8) te kan dra. Hierdie leerder kom uit ‘n behoeftige gesin wie se omstandighede skielik verander het en dus benodig die leerder vanaf 2025 koshuisinwoning wat hulle nie kan bekostig nie. Kontak my asseblief indien jy van hulp kan wees, by voorbaat dankie.

Ek sluit die week met ‘n anonieme aanhaling wat ek dink baie gepas is veral vir die tyd van die jaar waar enegievlakke laag is, frustrasievlakke hoog is en die meeste mense se humeure maklik opvlam. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe, sterkte met die eksamen en mag die bokke môreaand die arrogante Engelse Rugbyspan ‘n behoorlike loesing gee.

“You cannot see your reflection
in boiling water. Similarly,
you cannot see the truth in a state of anger.
When the water calms, clarity comes.’’

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week