Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Di 21 Julie 2026

  • Skole heropen
  • Sport en Kultuur Begin
  • Sun City Tennistoer
  • Algemene kennis toets

Wo 22 Julie 2026

  • Lead4life (Gr.6)
  • Netbal: St Cyrpians (TUIS)

Do 23 Julie 2026

  • Lead4life (Gr.4)

Vr 24 Julie 2026

  • Hokkie: Vishoek
  • TOETS: Engels (Gr.5&7)
  • Lead4life (Gr.5)
  • TOETS: Afrikaans (Gr.4&6)

Sa 25 Julie 2026

  • Rugby: Vishoek
  • Netbal: Vishoek

Ma 27 Julie 2026

  • GEEN SPORT
  • Gr.3 - Interne Robotika Kompetisie
  • Skool sluit 13:00
  • Ouerbesoeke

Di 28 Julie 2026

  • GEEN SPORT
  • Finkom Vergadering
  • Skool sluit 13:00

Wo 29 Julie 2026

  • Rugby: Fanie Theron (WEG) - Almal
  • Netbal: Tableview (TUIS) - Almal
  • Gr.1 & 2 - Interne Robotika Kompetisie

Vr 31 Julie 2026

  • Quiz-aand: Bring & Raai
  • TOETS: Afrikaans (Gr.5&7)
  • o.9 Hokkietoernooi
  • TOETS: Engels (Gr.4&6)
  • Sivvies




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 28 Maart 2025

Die einde van kwartaal 1 het vir my net te vinnig sy opwagting gemaak met elf bedrywige weke agter die rug. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport om erkenning te ontvang vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal. Ek het elke rapport geteken en so ‘n kort persoonlike boodskappie vir elke leerder geskryf om hul toegewydheid te onderskryf. As skoolhoof kyk ek met trots terug na al die opwindende en suksesvolle aktiwiteite wat gedurende die afgelope kwartaal plaasgevind het. Graag wil ek die personeel hartlik bedank wat so hard die afgelope kwartaal gewerk het en die beginsel van uitnemendheid in alles wat ons aangepak het, toe te pas. Om suksesvol te wees, beteken nie net om soms hard te werk nie, maar eerder om elke dag te verbeter op die vorige dag. Ons skool is werklik geseënd met ‘n dinamiese personeel met omgee-harte en nie skroom om die ekstra myl te loop nie. Laat my ook toe om die Beheerraad onder leiding van Merwe Scholtz te bedank vir al hul onbaatsugtige werk wat hulle verrig om ons trotse skool na nog hoër hoogtes te lei. Baie dankie ook aan Susan Derksen en die OOV-lede vir hulle leeue-aandeel in al die suksesvolle funksies wat aangebied is. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n opregte dank aan ons wonderlike ouers/voogde wat ons week-in en week-uit die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Julle omgee, aktiewe betrokkenheid asook insiggewende insette by die skool is instrumenteel in ons skool se algehele sukses en vooruitgang. Ek glo dat ons skoolgemeenskap ook saam met ons as personeel ongelooflik trots is op wat die afgelope kwartaal vermag is.

Vanaf 24–26 Maart het ons gr. 6-leerders ‘n skoolkamp by Bergkroon te Wellington bygewoon. ‘n Skoolkamp in die laaste week van die kwartaal, glo ek, is die spreekwoordelike kersie op die koek vir die gr. 6’e. Die opwinding op Maandagoggend, 24 Maart, met die vertrek van die busse was baie groot. ‘n Skoolkamp is altyd propvol nuwe avonture en ‘n wonderlike geleentheid om jou skoolmaats en jouself beter te leer ken, asook om aan spanwerk, beplanning, deursettingsvermoë en veerkragtigheid te werk. Ek glo hulle kon seker nie meer wag om hul wonderlike ervarings en stories met julle as graad 6-ouers/voogde te deel nie. Baie dankie aan juff. Lucia, Andri, Shahneé en mnr. Keenen wat so mooi na hulle gekyk het.

Die einde van die kwartaal beteken ook dit was weer tyd vir die gewilde musiekkonserte. Hierdie musiekkonserte het as volg plaasgevind:

  • Die gr. 6-konsert op Donderdag, 20 Maart
  • Die gr. 7-konsert op Maandag, 24 Maart
  • Die gr. 2- en 3-konserte ook op Maandag, 24 Maart
  • Die gr. 4- en 5-konserte op Woensdag, 26 Maart
Die kwartaallikse musiekkonserte is altyd opwindend en kosbaar. Baie geluk aan al ons musiekleerders wat aan die konserte deelgeneem het; julle maak ons so trots. Ek besef ook hoe intimiderend dit moet wees om voor ‘n gehoor wat bestaan uit ouers, grootouers, onderwysers en leerders op te tree. Anders as spansportdeelname tydens ‘n wedstryd, staan jy in hierdie geval stoksielalleen en vat dit baie moed en karakter om op jou eie voor ‘n redelike groot gehoor op te tree. Baie dankie aan juf. Rolene en die musiekdepartement vir hul leeue-aandeel in die voorbereiding en onderrig van ons musiekleerders. Dit was ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel ouers, voogde, oumas en oupas die konserte ondersteun het. Dit beteken so baie vir die kinders!
Die NWT-Ekspo wat die gr. 5- en 6-leerders op 12 Maart aangebied het, het die gr. 4-leerders so geïnspireer dat hulle graag hul eie miniatuur-weergawes van bekende landmerke wou bou. Ek was natuurlik in die bevoorregte posisie dat hulle hul indrukwekkende take vir my kom wys het. Baie geluk Gr.4’s met julle spogwerk.
Die gr. 7’s het ook die week aan ‘n kodering- en robotikaprojek gewerk. Cara Nel en Ruben de Ridder het vir ons ‘n oplossing om die veiligheid van leerders tydens af- en oplaai van leerders by die skool voorgestel en dit ook vir my kom wys. Hulle het ‘n merkwaardige miniatuur-robot gebou wat kan help om die veilige kruising by die voetoorgang deur leerders te verseker sonder dat dit deur personeel beman hoef te word. Die robot is geprogrammeer om beweging van voorwerpe deur middel van sensors op te tel en stop dan alle voertuie om die voetoorgang veilig oor te steek. Baie geluk met die kreatiewe oplossing om die veiligheid van ons leerders te verseker!
Ons is saam met juf. Mardry Wright en haar man, Kyle, opgewonde aangesien hulle in September ‘n baba verwag. Ons is saam met hulle dankbaar vir hierdie nuwe fase wat op hulle wag.

Sterkte ook aan ons Gr. 7- leerders en ouers wat vanaf 27 Maart die Oranjerivier-toer aanpak. Geniet die spesiale tyd saam met jou kind, veilig roei en ek glo julle sal die kosbare ervaring vir ewig onthou.

Ek sluit af en wens vir julle as gesinne ‘n welverdiende vakansie toe. Lekker rus en herlaai behoorlik die spreekwoordelike batterye vir nog ‘n opwindende kwartaal 2 wat voorlê. In my verdere pogings om ons pragtige taal in ons skoolgemeenskap uit te brei, sluit ek dan die kwartaal met ‘n minder bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Land van Kokanje.’
Kokanje verwys na ‘n denkbeeldige luilekkerland waar niemand werk nie, maar almal lekker leef. Mag dit vir julle ‘n Kokanje-vakansie vol van die saligheid van niksdoen wees!

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

AKADEMIE

Studiekursus: Kwartaal 2, 2025

Die studie-ontwikkeling bestaan uit die volgende:

1. Beplanning en doelwitte

2. Leestegnieke

3. Luister om te konsentreer

4. Leer tydens klastyd

5. Verskillende opsommingstegnieke

6. Oefening van tegnieke

Die kursus word gratis deur Marietjie de Kock in die Zen Den aangebied. Die kursus begin die 14de April en eindig die week van die 2de Junie. In elke graad is 2 groepe om die leerders wat by verskillende sport betrokke is, te akkommodeer. Leerders woon een van die groepe in hulle graad by. Elke groep bestaan uit 8 leerders.

Tye is as volg:

GRAAD 4
  • Groep 1 Maandae 15:45 – 16:30
  • Groep 2 Donderdae 14:50 – 15:30
GRAAD 5
  • Groep 1 Maandae 16:30 – 17:15
  • Groep 2 Donderdae 16:30 – 17:15
GRAAD 6
  • Groep 1 Dinsdae 14:50 – 15:30
  • Groep 2 Woensdae 15:45 – 16:30
GRAAD 7
  • Groep 1 Maandae 14:50 – 15:30
  • Groep 2 Donderdae 15:45 – 17:15
Jy kan vir Marietjie de Kock kontak by marietjie@jvrprim.co.za om ‘n plek vir jou kind te bespreek.

KULTUUR

Senior Koor: Belangrike Datums 2025

Beste Ouers,

Die senior koor het ‘n bedrywige eerste kwartaal agter die rug, en ek glo julle is net so trots op die leerders se optrede by die Mzanzi Conductor’s Convention soos ons! Dit was ‘n belewenis wat ons nie sommer sal vergeet nie.

Die tweede kwartaal is rustig wat optredes betref, en daar sal geen ekstra oefenkampe wees nie. Ons gaan nuwe repertorium aanleer en fokus op vaardigheidsontwikkeling. Ons gewone oefentye bly dieselfde, en ons verwag dat leerders dit asseblief getrou bywoon:

Dinsdag: 07h30 – 08h30
Donderdag: 07h45 – 08h45

Ons beplan om met die koor in Augustus na George te toer waar ons sal deelneem aan die Cantamus Koorfees. Daar is kostes aan verbonde, waaroor ek meer detail sal gee sodra die tweede kwartaal begin. Baie van die koorlede is nog jonk, en George is vêr – ons is daarom oop daarvoor om ouers op die toer te verwelkom. Neem asseblief die vakansie om hieroor na te dink, en dan kan ons vroeg in die tweede kwartaal gesprekke rondom die beplande toer voortsit.

Hier is ‘n opsomming van die koor se optredes vir die res van die jaar. Plaas dit asseblief in jul kalenders om enige botsings of teleurstellings te vermy.
  • 8 Mei Hoërskool Jan van Riebeeck Reunie Musiekkonsert
  • 4 Augustus Tafelberg Koorfees / Hoërskool Jan van Riebeeck
  • 8-10 Augustus Cantamus Koorfees / George Koortoer
  • 23 September Nootvas Musiekfees / Curro Durbanville
  • 20-24 Oktober Weskus Koorfees / Laerskool Van Riebeeckstrand
  • 30 Oktober IF Kultuurkonsert / Laerskool Jan van Riebeeck
  • 27 November Laerskool JvR Kerskonsert
  • 30 November NGK Tamboerskloof Kerssangdiens
Ek en Leon sien geweldig baie uit na die res van die jaar saam met die senior koor, en ons kan nie wag om die mooiste musiek en nog baie spesiale koor-oomblikke met hulle te deel nie.

Vra gerus indien daar onduidelikheid oor iets is. Ons wil graag help.

Vriendelike groete,
Rolene en Leon

Junior Koor: Belangrike Datums 2025

Beste Ouers,

Die junior koor is goed op dreef, en ons het selfs al die voorreg gehad om na hulle te luister tydens ‘n saalbyeenkoms vroeër hierdie jaar. Dit was omtrent ‘n fees om hulle te hoor sing!

Ek stuur graag vir julle ‘n opsomming van die junior koor se optredes vir die res van die jaar. Plaas dit asseblief in jul kalenders om enige botsings of teleurstellings te vermy.
  • 4 Augustus Tafelberg Koorfees / Hoërskool Jan van Riebeeck
  • 20-24 Oktober Weskus Koorfees / Laerskool Van Riebeeckstrand
  • 31 Oktober GF Kultuurkonsert / Laerskool Jan van Riebeeck
  • 27 November Laerskool JvR Kerskonsert
  • 30 November NGK Tamboerskloof Kerssangdiens
Ek en Ben sien uit na ‘n opwindende jaar vol hoogtepunte saam met die junior koor!

Vra gerus indien daar onduidelikheid oor iets is. Ons wil graag help.

Vriendelike groete,
Rolene en Ben

ALGEMEEN

Ouerbesoeke: 15 & 22 April 2025

Ouerbesoeke vind op 15 & 22 April vanaf 13:30 - 17:30 plaas.

Skeduleer asseblief so gou as moontlik 'n afspraak met jou kind se onderwyser deur gebruik te maak van die onderstaande skakel:

MAAK AFSPRAAK HIER

Hoe werk dit?
  • Maak die skakel oop en kies die regte graad
  • Rol af na die kalenderafdeling en kies jou kind se onderwyser by die "select staff" opsie
  • Kies die datum (15/22 April) en die tydsgleuf wat jou die beste pas
  • Rol af en vul alle nodige besonderhede in
  • Kliek op "Book"

Jan Kas Tye: Kwartaal 2, 2025

Jan Kas sal weer op Maandag, 7 April oopmaak vir kwartaal 2.

Tyd: 9:00 - 11:00

Gewone tye sal dan weer vanaf Dinsdag, 8 April gevolg word:
  • Maandae en Woensdae - 07:00 - 08:00
  • Dinsdae en Donderdae - 13:30 - 14:30

Individuele- en klasfoto's: Bestellings oop

Individuele- en klasfoto's is nou beskikbaar by hierdie skakel: LAERSKOOL JAN VAN RIEBEECK FOTO'S
Wagwoord: JVR2020


Sien verdere inligting hier onder:

Lion's Club Paaseierskenkings

Lion's Club Paaseierskenkings
Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club help om paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer. Ons wil vra dat die paaseiers voor of op Vrydag, 11 April, skool toe gebring word (neem asb. kennis van die veranderde sluitingsdatum).

Kaperjolle: 12 April 2025

Dis weer tyd vir Laerskool Jan van Riebeeck se jaarlikse Kaperjolle – die grootste en lekkerste dag van die jaar!

Wat kan jy verwag?

???? Kosstalletjies: Onder andere boereworsrolle, pannekoek, pizza en Woodstock Brewery se food truck. Volg die skakel om die spyskaart te sien: SPYSKAART

???? Lekkergoedland: Bederf jou soettand.

???? Musiek: Om jou in die regte bui te kry.

???? Spookhuis: Vir die dapperste avonturiers! (Slegs Graad 4 – 7).

???? Speletjies:

  • Die vierkant-speletjies is vir alle kinders en sluit in nootgolf, kussinggevegte, boontjiesak-teiken, ringgooi, Nerf-geweer-teikenskiet en vele meer.
  • Graad 4 – 7 het ’n aparte speelarea op die tennisbane met Jenga, handjietennis, foosball en meer.
  • Daar is ook ’n eksklusiewe area net vir Gr. 6’s en 7’s.
???? Kroeg: Yskoue bier en wyn vir volwassenes.

???? Braaikompetisie: Wie braai die beste in die dorp? Skryf asseblief jou span in!

???? Datum: 12 April 2025 ⏰ Tyd: 12:00 – 18:00 ???? Plek: Laerskool Jan van Riebeeck (klein veld)

Hierdie is die perfekte geleentheid om jou familie en vriende te bederf met hope pret en vermaak. Kom skep herinneringe wat julle vir altyd sal koester!

Toegang:

????‍????‍????‍???? Volwassenes: R100 – sluit proe-geleenthede in by die braaikompetisie én ’n stem vir die wenner in.
???? Juniorkinders (Graad R – 3): R100 – Eindelose vermaak met speletjies in die vierkant.
???? Seniorkinders (Graad 4 – 7): R140 – Toegang tot al die speletjies én die spookhuis.

???? Moet dit nie misloop nie – ons sien jou daar! ????

Kaperjolle braaikompetisie: Inskrywings

Dis weer tyd vir die Jannies om te kook in die Kaperjolle braaikompetisie! Ons tema hierdie jaar is Lekker Jannies Vol Resepte of kom ons noem dit eerder – kom eet by Liplek Jan van Restaurant

Die tema is dan toonaangewend vir die reëls:

· gebruik ten minste 2 bestanddele / disse wat begin met die letters LJVR;

· die idee is nie om beperkend te wees nie, maar kreatief met woordspel en kos;

· jy moet ten minste ‘n gedeelte van jou gereg oor die kole gaarmaak;

· jou kos moet proehappie grootte wees, sodat almal van alles kan proe

Om jul so ‘n hupstoot te gee en daai kreatiewe sappe te laat vloei, dink ons aan kos soos; lamskoftas, jasmynrys, jambalaya, Javaanse kerrie, vetkoek, vlapampoen, vlakvark, ribbetjies en roorsterkoek… of as jy nou regtig nie weet nie dan sommer Jannie-se-burgerrol!

Skryf asseblief teen Vrydag, 4 April 2025, in deur by hierdie WhatsApp groepie aan te sluit, waar verdere reëlings kommunikeer sal word.

Doughnut Verkope: Bestel op Karri

Ondersteun die Gr.7's en bestel 'n lekker doughnut!

TERUGVOER

Jannies op RSG te hoor

Hannah en Stella de Stadler was onlangs op RSG te hoor. Hulle is studente van Alma Nel se dramaskool en het onlangs as gasstemme op episodes van Kiskenades verskyn. Hier is die skakels na die potgooie:

  • Saterdag 15 Maart, Episode 153: Hannah verskyn in hierdie episode.
  • Saterdag 22 Maart, Episode 154: Stella verskyn in hierdie episode saam met Pieter en Jamie Jordaan.
Welgedaan! Julle maak ons baie trots.
Hannah en Stella op RSG te hoor

JANNIES GESPREKKE

Jannie-gesprekke brei uit

Ons is so bevoorreg om ons kundigheid deurgaans te verbreed en wil dit graag met die res van ons skoolgemeenskap deel daarom dat Jannie-gesprekke nou uitbrei deur twee onderafdelings naamlik: Zen Den-gesels (die vorige Jannie-gesprekke) en dan die nuwe afdeling DInK-slim.

Zen Den-gesels

Ons het die afgelope kwartaal heelwat verskillende onderwerpe vanuit die Zen Den aangeraak en bespreek. Sien asb in die akademie afdeling die studiekursusse wat volgende kwartaal sal plaasvind. Ons sal ook volgende kwartaal met die leesmodel-reeks voortgaan soos die afgelope twee weke bespreek.

DInK-slim

Ons wil graag ons ouergemeenskap ondersteun om DInK-slim te wees – slim in besluite t.o.v. digitale tegnologie, persoonlike inligting en die kuberruim.

In ons gereelde DInK-slim rubriek poog ons om inligting en advies met ouers/voogde te deel, wat sal help om belangrike digitale bevoegdhede te ontwikkel en goeie besluite in die belang van ons kinders se veiligheid en gesonde ontwikkeling te kan neem. Sien die inleiding tot hierdie nuwe rubriek.

DInK-slim: Riglyne vir ‘n Digitale Wêreld

DInK-slim: Riglyne vir ‘n Digitale Wêreld
Digitale tegnologie, inligting en die kuberruim. Is jy Slim Jan of Bang Jan, of nog erger, Dooie Jan?

1. Konteks

In ‘n wêreld en samelewing wat toenemend tegnologie-geörienteerd raak, het bevoegdhede soos digitale geletterdheid, digitale vaardighede en digitale gereedheid belangrike vereistes vir die toekomsgereedheid van individue geword. By Laerskool Jan van Riebeeck volg ons ‘n 70:30 benadering tot leer en onderrig , met 70 persent fokus op tradisionele metodiek en 30 persent fokus op die gebruik van moderne tegnologie om leer en onderrig te ondersteun.

Tegnologie ontwikkel teen ‘n eksponensiële tempo en die stadige pas waarteen individue vir die digitale wêreld voorberei word, hou onbedoelde negatiewe gevolge vir individue en die samelewing as ‘n geheel in.

Een van die ernstigste kwessies wêreldwyd, is die hoë voorkoms van kuberrisiko’s onder kinders, byvoorbeeld kuberboeliegedrag, tegnologie verslawing, gevaarlike aanlyn kontakte, die verspreiding van digitale disinformasie, inbreuk op privaatheid, sekuriteitsbedreigings en nog vele ander.
‘n Gebrek aan digitale bevoegdhede onder volwassenes is ‘n verdere kwessie wat wêreldwyd tot kommer lei.

Om hierdie gebreke aan te spreek, is ‘n holistiese benadering tot die ontwikkeling van digitale bevoegdhede nodig. So ‘n benadering fokus nie net op tegniese vaardighede nie, maar ook op bevoegdhede soos digitale veiligheid, digitale regte en digitale emosionele intelligensie. Met ander woorde, hierdie bevoegdhede moet mense nie slegs bemagtig om ‘n rekenaar of slimfoon te gebruik nie, maar ook om die moderne sosiale - en ekonomiese uitdagings en vereistes van hierdie tegnologiese vooruitgang te hanteer.

2. DInK-slim

Onder die vaandel van Jannies Gesprekke, wil ons graag ons ouergemeenskap ondersteun om DInK-slim te wees – slim in besluite t.o.v. digitale tegnologie, persoonlike inligting en die kuberruim.

In ons gereelde DInK-slim rubriek poog ons om inligting en advies met ouers/voogde te deel, wat sal help om belangrike digitale bevoegdhede te ontwikkel en goeie besluite in die belang van ons kinders se veiligheid en gesonde ontwikkeling te kan neem.

3. Benadering

Toepaslike onderwerpe word vanaf kwartaal 2 op ‘n gereelde basis aan die hand van die volgende agt temas bespreek:
Digitale identiteit: Bou van ‘n gesonde aanlyn- en vanlyn identiteit.
Onderliggende beginsel: Respek vir jouself.
  1. Digitale gebruik: Gebruik van tegnologie in ’n gebalanseerde, gesonde en beskaafde manier.
    Onderliggende beginsel: Respek vir tyd en die omgewing.
  2. Digitale veiligheid: Verstaan, verminder en bestuur verskeie kuberrisiko’s met veilige, verantwoordelike en etiese gebruik van tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir lewe.
  3. Digitale sekuriteit: Opspoor, vermy, bestuur verskillende vlakke van kuberbedreigings om data, toestelle, netwerke en stelsels te beskerm.
    Onderliggende beginsel: Respek vir eiendom.
  4. Digitale emosionele intelligensie: Herken, navigeer en uitdrukking van emosies in jou digitale intra- en interpersoonlike interaksies.
    Onderliggende beginsel: Respek vir ander.
  5. Digitale kommunikasie: Kommunikasie en samewerking met ander deur middel van die gebruik van tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir reputasie en verhoudings.
  6. Digitale geletterdheid: Vind, lees, evalueer, sintetiseer, skep, aanpas en deel van inligting, media en tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir kennis.
  7. Digitale regte: Verstaan en handhawing van menseregte en wetlike regte tydens die gebruik van tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir regte.
Kyk uit vir die volgende DInK-slim rubriek in die eerste nuusbrief na afloop van die vakansie, wanneer ons oor die onderwerp gesels: Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak?

Ons sien daarna uit om saam met ons ouergemeenskap ons digitale bevoegdhede te ontwikkel en uit te brei en ‘n DInK-slim gemeenskap te word!

Verwysings:
  • “IEEE Standard for Digital Intelligence (DQ)--Framework for Digital Literacy, Skills, and Readiness," in IEEE Std 3527.1-2020 , vol., no., pp.1-47, 15 Jan. 2021, doi: 10.1109/IEEESTD.2021.9321783.
  • OECD Future of Education and Skills. 2024. Learning Compass 2030. Beskikbaar by https://www.oecd.org/en/about/projects/future-of-education-and-skills-2030.html
  • World Economic Forum. 2025. Future of Jobs Report 2025. Beskikbaar by https://www.weforum.org/publications/the-future-of-jobs-report-2025/
DInK-slim © 2025 deur Marié Cruywagen is gelisensieer onder CC BY-NC-SA 4.0

Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 4.0 International

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week