Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

KULTUUR

Senior Koorkamp en Piekniek: 7 & 8 Februarie 2025

Dit is weer tyd vir ons senior koor se jaarlikse koorkamp, en ons kan nie wag vir hierdie heerlike naweek van saam sing en musiek maak nie!

Waar: LJvR Skoolsaal

Tyd:

  • Vrydag, 7 Februarie: 14h30 – 17h30
  • Saterdag, 8 Februarie: 08h00 – 13h30
Kleredrag: Informeel en gemaklik. Leerders slaap nie oor by die skool nie, maar gaan huistoe na afloop van die oefening.

Kos: Ons vra dat elke ouer asseblief middagete en ‘n peuselhappie vir jou kind sal inpak vir Vrydag, 7 Februarie.

Saterdagoggend begin ons stiptelik om 08h00, en ons sal vir die leerders tye gee om te ontspan tussen ons oefensessies. Ons sal 09h45 lekker vars waatlemoen vir die koorlede gereed hê, en teen 12h00 kry elkeen ‘n heerlike boereworsrolletjie. Pak gerus nog peuselhappies in!

Maak seker jou kind bring genoeg water om gedurende die oefensessies te drink.

Die snoepie is nie oop nie, en geen kind sal toegelaat word om die skoolgronde te verlaat tydens die kooroefening of pouses nie.

Piekniek: Vrydag, 7 Februarie: 17h30 – 18h30

Ons nooi alle senior koor-families uit om Vrydagaand na afloop van ons eerste oefensessie, saam te kom kuier op die skool se sportvelde. Bring ‘n lekker piekniekmandjie en iets om te drink! Ons is seker die kinders sal dit ook geniet om hulle dag op hierdie manier af te sluit. Sien julle daar!

Ons vra ook dat alle leerders op Saterdag, 8 Februarie, stiptelik om 13h30 opgetel word na afloop van ons sessie. Die agterste hek sal oop wees vir gebruik.

Ons sien uit na ‘n heerlike naweek! Vra gerus indien daar onsekerheid is oor iets.

Vriendelike groete,
Rolene van Zyl

Mobile Music Academy: Marimba Lesse

Mobile Music Academy bied op Woensdae, 16h00 - 16h30, marimba lesse in groepsverband in ons skoolsaal aan. Dit is ’n wonderlike geleentheid om deel van ’n unieke ervaring te wees, en jou musiek vaardighede in die proses te slyp. Kliek hier om die demonstraie te sien.

Muzkanda Kids: Graad 1

Muzkanda Kids stel kinders aan musiek bekend deur sang, dans en eenvoudige musiekinstrumente, alles aangebied saam met prettige diere-tema stories! Liedjies word in Engels, Afrikaans en isiXhosa gesing. Sien meer inligting hier onder:

SPORT

Swemgala: 7 Februarie 2025

Neem asseblief kennis dat ons jaarlikse Senior-Kleur Swemgala (Graad 4-7) volgende week Vrydag, 7 Februarie 2025, plaasvind.

Dit is belangrik dat jou kind deelneem indien hy/sy vir die skoolswemspan wil swem. Motiveer asseblief jou kind/kinders om deel te neem.

Die program sal op Whatsapp uitgestuur word.

Groete,
Rashard

ALGEMEEN

Valentynsdag Verkope en Sivvies

Dit is amper weer sulke tyd! Valentynsdag is om die draai en dit beteken sivvies,
lekkernye en vele ander produkte!

Advertensies: WhatsApp-groep

Sluit aan by ons Advertensies WhatsApp-groep!

Ons plaas 1 keer 'n week advertensies hier wat ook in ons nuusbrief verskyn.

Kliek HIER om aan te sluit.

JANNIES GESPREKKE

My kind luister nie: Marike Badenhorst

MY KIND LUISTER NIE… IS DAAR HOOP?

Die grootste frustrasie wat ons as ouers het, is wanneer ons kinders nie luister as ons hulle vra om iets te doen nie. Hoekom moet dit, wat vir ons voel ‘n baie logiese volgende stap is wat volgende moet gebeur, elke keer in ‘n debat ontaard? Hoekom doen hulle nie dadelik of onmiddellik wat ons wil hê hulle moet doen nie? Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie.

Kinders praat terug omdat hulle nog nie die vaardigheid aangeleer het om hul opinie te “filter” nie. Dit sluit in wát om te sê en hóé om dit te sê. Het jy al ooit jou kind die volgende hoor sê: “Mamma jy is reg soos altyd. Ek is baie moeg. Ek weet dit is nou tyd om te gaan slaap…” Onrealistiese verwagting? Hoekom? Doodeenvoudig omdat hulle op hulle ouderdom glad nie bewus is van wat hulle NODIG het nie. Hulle reageer op WAT HULLE WIL HÊ. Ongelukkig laat ‘n kind wat voortdurend terug praat en nie doen wat jy vra nie, jou ongeloofwaardig voel asook dat hulle nie jou rol as ouer respekteer nie.

DIE HARDE WERKLIKHEID…

Hoekom laat dit ons so totaal magteloos voel? Doodeenvoudig omdat ons as volwassenes weet dat dít wat ons vra, regtig in die kind se belang is. Dus: wat gebeur die oomblik wanneer hulle terug praat of doodeenvoudig weier om die opdrag uit te voer? Dit herinner ons dat ons nie régtig ten volle in beheer is soos ons wil wees of wat ons dink ons veronderstel is om te wees nie.

Die realiteit wat ons bang maak, is dat ons weet hulle gaan uiteindelik hul eie keuses moet maak. En dít is die rasionaal agter ons gevoel van frustrasie en angs wanneer enige versoek wat ons rig, in ‘n debat ontaard: die moontlikheid dat hulle verkeerde keuses weg van ons gaan maak. En wat dan?? Is jou verwysingsraamwerk dat jou sukses as ouer gelyk is aan dat hulle moet doen wat jy vra sonder om terug te praat of voel jy dit is ‘n teken dat jy as ouer misluk as dit níé gebeur nie? Ontspan. Dit gebeur in elke huis. Die goeie nuus is dat as jy anders hierna kyk en jou strategie verander, dit ‘n geleentheid kan word waar jy jou kind toerus met ‘n belangrike lewensvaardigheid.

WAT IS ONS EINDDOEL?

As ouers vergeet ons soms dat ons kinders individue is, ‘n persoon in eie reg. En al is ons in die posisie om die reëls te maak totdat hulle die huis verlaat, beteken dit nie dat hulle nie hul opinie mag gee en van jou mag verskil nie.

Soms gebruik ‘n ouer sy/haar outoriteit om die kind se stem “stil” te maak. Dit kan gevaarlik wees, want jy mag ‘n kind grootmaak wat nie vir hom-/haarself kan dink nie. Dus, wil ons régtig hê ons kind moet in die toekoms die hardste, mees outoritêre stem daar buite volg, of wil ons hulle leer om op te staan vir wat hulle dink reg is?

Hoe leer ons dan ons kinders dat dit goed en reg is om vir hulself te dink en om vrae te hê wanneer hulle nie ‘n reël verstaan nie, maar om dit op ‘n respekvolle manier te doen? Ons wil tog hê dat hulle in die toekoms moet opstaan vir wat hulle dink is reg sonder om blindelings die massas te volg. Maar terselfdertyd wil ons hê hulle moet outoriteit respekteer.

Kan jou kind luister en reageer soos ‘n volwassene? Natuurlik nie. En hoekom nie? Hulle is steeds besig om te leer. Ouerskap is ongelukkig gelyk aan “teaching”. Dit is jóú werk om vir jou kind te wys hoe hy of sy moet luister en hoe om te verskil. Maar ons vergeet soms dat ons kinders tyd nodig het om te verstaan presies wat hier aan die gang is. So, as jy in die proses is om hulle te leer om te luister of van jou te verskil, onthou om aan hulle dieselfde geduld en grasie te gee as wat jy sou wou hê wanneer jý iets aanleer.

Die wêreld van vandag het vrye en kreatiewe denkers nodig. Iemand wat oor goed kan redeneer en kan opstaan teen outoriteit indien hulle voel dit is verkeerd. Dít is hoe ons kinders gaan uitstaan bo die res.

Ons kyk volgende week na maniere hoe om ‘n respekvolle omgewing te skep waarin ons ons kinders kan leer hulle mág verskil en anders dink, maar dat die geheim is hóé om dit te doen.

Marike Badenhorst | Opvoedkundige sielkundige

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 31 Januarie 2025

Ek glo dat julle ook verbaas is dat vandag die laaste dag van Januarie is. Vir my voel dit asof die nuwe jaar skaars afgeskop het en môre moet ons vir Februarie welkom heet. Weet nie of dit iets met ouer word te doen het nie, maar tyd vlieg. Tyd het ‘n magiese kwaliteit, veral as ‘n mens met ‘n lekker taak of projek besig is. Geniet dus wat jy doen. Dit is presies waar ek as skoolhoof my tans bevind - ek geniet elke oomblik by die skool terdeë. Wat ‘n voorreg om deel van ‘n omgee-skoolgemeenskap te wees met dinamiese leerders en hul betrokke ouers.

Die probleem met tyd is egter dat dit vir niemand wag nie. Indien jy dus vanjaar beplan om nog iets spesiaal te doen of jy moet dalk nog iemand vergewe of om verskoning vra, moenie wag nie liewe vriende, doen dit sommer onmiddellik! Is dit nie ongelooflik dat sommige mense in dieselfde tyd berge kan versit terwyl ander absoluut niks vermag nie? Mag ons die tyd in 2025 effektief en met balans aanwend.

Graag wil ek almal hartlik bedank vir al die mooi verjaardagwense en pragtige geskenke wat julle saam met jul kinders vir my gestuur het. Ek is op Dinsdag, 28 Januarie, tot in die afgrond deur die leerders, leerderraad en personeel bederf. Ek wens julle kon die spesiale dag by die skool saam met my beleef. Dit was so kosbaar. Die leerders se opregte omgee, spontaneïteit en kreatiewe verjaardagwense, sal ek vir ewig koester. Ek moes op die dag soos ‘n superheld aantrek en leidrade deur die skool volg wat my na elke klas gelei het. Iron Man is met soveel opwinding in elke klas ontvang. Die graad 1’s kon hul oë nie glo dat hulle skoolhoof nou skielik in ‘n superheld verander het nie. Dit was groot pret en ‘n groot voorreg!
Op Saterdag, 25 Januarie, het ons vir die derde agtereenvolgende jaar die gewilde Ouer-en-Kind Sportdag vanaf 08:30 by die Conradieveld aangebied. Die opkoms van ouers en kinders was ‘n riem onder die hart met 51 spanne wat reeds vooraf geregistreer het. Alhoewel dit baie warm was, het ons ouers/voogde en leerders nog steeds met hope entoesiasme deelgeneem. Die opgewondenheid en gees was aansteeklik en almal het hul gate uit geniet. Dit was dan ook ‘n ideale geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker kollektief gees te vang, behoorlike oefening te kry en die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes opgetree en ook die snoepieverkope op die dag behartig het. Welgedaan, mnre. Rashard en Leon, met die puik pret sportdag.

Week 3 van die nuwe kwartaal is vol opwinding met beide my verjaardag en die skool se verjaardag! Vandag is die opwinding nog groter met die viering van die skool se 104de bestaansjaar. Leerders gaan vir die tweede keer die week met ‘n koel verversing bederf word. Die stigting van ons trotse skool is alles te danke aan Japie Louw. Hierdie jongeheer het meer as ‘n eeu gelede net eenvoudig geweier om in Engels skool te gaan en dit het tot die stigting van Laerskool Jan van Riebeeck gelei. Soos Japie en nog menigte wat na hom gevolg het, het hy vinnig ontdek dat hierdie besondere skool baie meer as net geleerdheid bied. Hier ontdek jy jouself! Hier leer jy wat dit beteken om net jouself binne ‘n veilige omgewing met gekoesterde waardes te wees. Mag Laerskool Jan van Riebeeck vir nog ‘n 104-jaar voortbou op sy suksesse en altyd ‘n waardegedrewe omgewing koester waar ‘n kind nog kind kan wees.

Die afgelope week het ons ook met krieketwedstryde begin. Vanmiddag neem ons aan ‘n swemgala te Laerskool Kampsbaai deel. Die somersportprogram en -wedstryde is dus in volle swang en my beste wense vergesel al ons leerders en afrigters.

Laat my ook verder toe om weer die skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck, Pieter Rademeyer, en sy personeel hartlik geluk te wens met hul puik matriekuitslae van 2024. Hoërskool Jan van Riebeeck word vir die 3de jaar in ‘n ry as een van die Top 20 Afrikaanse Skole in die land na afloop van die 2024-matriekeksamen aangewys. Dus is hulle weer uitgenooi na die nasionale merietetoekenningsgeleentheid van SOS wat op 07 Februarie in Pretoria aangebied word en is hulle die tweede beste gemengdegeslagskool in die land, en eerste in die Wes-Kaap. Ons is saam met julle trots en mag julle op al julle suksesse voortbou!

Verskeie ouers het my genader en wou uitvind waarom ek vir die interim sokkerspel vir die seuns voor, na en tydens skoolure gestop het. Graag deel ek die redes soos volg:

  • Kompetisie: Selfs na verskeie gesprekke bly ons seuns geweldig kompeterend en lei dit gereeld tot konflik en bakleiery wat daagliks dissiplinêre optrede vereis.
  • Beserings: Geskied op ‘n daaglikse basis en seuns moet gereeld mediese behandeling ontvang. Ongelukkig is spasie by die skool beperk en nie-deelnemers is dikwels ook in die slag met ‘n bal wat hulle teen die kop en/of in die gesig tref.
  • Skade: Die konstante geskop van sokkerballe teen die heining wat die mini-sportveld agter omring, loop gereeld deur en moet herstel word. Verskeie motors is ook al deur sokkerballe beskadig.
Ek sal weer met die seuns ‘n gesprek voer en heroorweeg om sokkerspel toe te laat.

Hiermee ‘n dringende versoek om asseblief jul samewerking te gee om die gladde vloei van verkeer vanaf Nuwe Kerkstraat te verseker wanneer julle soggens/smiddae jul kind(ers) by die skool aan die agterkant (Nuwe Kerkstraat) af-/oplaai en veral - as jy graag jou kind(ers) wil help om soggens hul skooltas(se) uit die kattebak te haal, of ‘n drukkie/soentjie te gee, of ‘n bietjie bemoediging vir die dag wat voorlê te gee - eerder van die parkering as die af- en oplaaisones gebruik sal maak. Middae het ons ‘n groter probleem met voertuie wat die verkeer onnodig ophou en dit jaag onnodig ouers/voogde se bloeddruk op. Gee asseblief jul samewerking vir ons terreinmanne wat aangewys is om die verkeer middae op die skoolgronde te bestuur. Baie dankie vir jul begrip en samewerking in die verband.

Baie dankie aan ons senior koor ouerkomitee wat vir juf. Rolene tydens koorkampe en -optredes met logistieke reëlings en toesig gaan ondersteun. Graag bedank ek by voorbaat die volgende ouers vir hulle hulp met die senior koor:

  • Joanita du Toit
  • Samantha le Roux
  • Thelma Janse van Rensburg
  • Louiza Rademan
  • Catherine Clover
  • Frances Samuel
  • Coreen Scholtz
  • Suzanne Jacobsz
Ons sien vanjaar baie uit na beide kore se optrede en wens hulle alle voorspoed toe.

Ek sluit dan die week weer af met ‘n hart van dankbaarheid en deel die onderstaande aanhaling van Will Arnett rakende dankbaarheid. Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne.

“I am happy because I am grateful. I choose to be grateful. That gratitude allows me to be happy.”

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week