Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 06 Maart 2026

Graag verwelkom ons Maart-maand in week agt van kwartaal een. Dit beteken dat die skole oor drie weke op 27 Maart vir ‘n kort en welverdiende vakansie sluit voordat ‘n besige kwartaal twee op 08 April afskop. Die seisoene is ook stadig, maar seker besig om te draai met die son wat soggens ‘n bietjie later opkom en vroeër ondergaan.

Vanjaar het ons vir seker ook ‘n unieke kalenderperiode, want die Lydenstydperk (Lent) het vir die Christelike geloof begin, terwyl Ramadan ook vir Moslemfamilies begin het. Aangesien beide die Lydenstydperk en Ramadan deur die fases van die maan bepaal word, vind die Lydenstydperk elke jaar plaas in die 40 dae voor Paasfees, terwyl Ramadan elke jaar ongeveer 11 dae vroeër skuif. Hierdie jaar oorvleuel die Lydenstydperk en Ramadan. Dit is ’n seldsame oorvleueling. Dit sal eers weer in 2059, oor 33 jaar, gelyktydig plaasvind.

Ons wens al ons Christen-ouers ‘n geseënde Lydenstydperk, asook aan al ons Moslem-ouers/vriende ‘n geseënde Ramadan Mubarak toe.

Ons skool was vanaf Maandag weer voltallig met die terugkeer van die gr. 5- en 7-leerders vanaf hul onderskeie skoolkampe die vorige week. Ek het met van die ‘kampers’ gepraat en hulle was almal eens dat hulle die skoolkampervaring terdeë geniet het. Natuurlik was hulle verlede Vrydag met terugkeer doodmoeg van die min slaap, die uitdagings van die onbekende avontuur en al die opwindende aktiwiteite wat aangebied is.

Skoolkampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede, vereis deursettingsvermoë en ontwikkel leierskapvaardighede. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar het definitief hul ouers/voogde se tuisgemaakte kos asook die gemak van hul ouerhuise gemis. Ek glo hulle waardeer sommer weer van vooraf hul ouerhuise en is dankbaar vir al die wonderlike voorregte wat hulle baie keer as vanselfsprekend aanvaar.

Verlede Vrydag het ons jaarlikse Junior Swemgala plaasgevind en ons grondslagfase-swemmers was spreekwoordelik soos visse in die water terwyl hul luidkeels deur hul mede-leerders, ouers/voogde en grootouers aangemoedig is. Die junior swemgala bly vir my ‘n hoogtepunt. Dit is baie opwindend, veral omdat die gr. 1-leerders vir die eerste keer ‘n geleentheid gekry het om aan ‘n amptelike skoolswemgala deel te neem.

Hierdie week het die wintersportbuitemuurse program ook in volle swang afgeskop en sien ons uit na verskeie wintersportwedstryde en -sportdae.
Op Maandag, 23 Februarie 2026, het ons eerste beheerraadsvergadering in die mediasentrum plaasgevind. Baie geluk aan die volgende BR-lede wat die komende jaar in die volgende belangrike ampte verkies is:

Voorsitter: Merwe Scholtz
Onder-voorsitter: Hugo van den Heever
Tesourier: Sybil Müller
Sekretaris: Marinda Brink

My beste wense vergesel ons dinamiese beheerraad. By voorbaat dankie vir jul leeue-aandeel om ons trotse skool jaar-in en jaar-uit na nog hoër hoogtes te lei.

Na afloop van die WP-atletiekbyeenkoms wat op Saterdag, 28 Februarie, te Blue Downs plaasgevind het, het een van ons agt atlete wat daaraan deelgeneem het, haar WP-kleure ontvang. Baie geluk aan Anabella Boshoff (gr. 7) wat met die louere as WP-kampioen vir spiesgooi o.13 dogters weggestap het. Dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie en ons is saam met haar en haar ouers baie trots op wat sy vermag het.

Ons hou nou styf duimvas dat sy haar Wes-Kaap (WP, Boland en SWD)-kleure by die Wes-Kaap-byeenkoms op Saterdag, 14 Maart, te Coetzenburg sal verwerf. Anabella presteer nie net op die sportgebied nie, maar ook op akademiese gebied (‘n Top 10 akademiese leerder), asook op kulturele gebied met puik sangoptredes en sy is ‘n uitstekende vioolspeler!

Baie dankie aan mnr. Leon wat die groep van 8 atlete na die WP-kampioenskappe vergesel het, asook om Anabella môre na Stellenbosch te vergesel.
Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die Beheerraad van HS Jan van Riebeeck geluk te wens met hul besluit om ‘n standaard-grootte astro-hokkieveld te laat installeer. Dit is beslis die regte stap om beide ons skole se hokkiespelers te akkommodeer, aangesien die hoërskool en ons as laerskool van die min skole is wat nie hul eie astro-fasiliteit besit nie. Die meeste wedstryde en/of toernooie geskied deesdae op astro-velde.

Die laerskool ondersteun beslis hierdie besluit wat vir beide skole groot voordele gaan inhou en dat ons as skole veral op sportgebied nouer sal saamwerk. Sien gerus die dokument vanaf die HS JvR se Beheerraad wat ek op Saterdag, 28 Februarie, met julle op die "WA-announcements’’ gedeel het of by hierdie skakel: Astro-fasiliteit: Dokument.

Vir ons as laerskool gaan dit dus heelwat meer spasie beskikbaar stel, aangesien daar dikwels met verskeie hokkiespanne gelyktydig (tien spanne vanaf o.11 - o.13) op een veld (Conradieveld) geoefen moet word. Ons hokkiegetalle het ook oor die laaste twee jaar drasties gestyg en met meer spasie gaan ons vir seker meer effektief kan afrig en selfs die huidige hokkieuitslae, wat goed is, kan verbeter.

Ek het op Dinsdagmiddag, 03 Maart, self die hokkie-oefeninge vir die junior spanne agter op die kunsgrasveld gaan bywoon en was aangenaam verras met 44 graad 1’s wat vir hul eerste hokkie-oefening opgedaag het.

Sterkte vir al die netbal- en rugbyspanne (o.7 - o.13) wat vanoggend om 08:30 na Porterville vertrek het om aan die gewilde Bulfees deel te neem. Weens die feit dat dit so ver is om te ry, maak ons van groot luukse busse (Elwierda) met professionele bestuurders gebruik om die veiligheid van ons leerders te verseker.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

‘’Om Gods water oor Gods akker te laat loop’’

Die uitdrukking word gebruik om iemand of mense se aksie/s te beskryf wat net dinge/sake (gewoonlik negatief) hul gang te laat gaan sonder om in te gryp. In Engels beteken dit: ‘’to let things slide’’. Die uitkomste is dikwels nie gewens nie.

Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Drukwerk by die skool

Het jou kind nodig om iets te print? Moenie bekommerd wees nie, ons help jou graag by die skool!
  • Swart & wit: R5 per bladsy
  • Kleur: R10 per bladsy
  1. Gaan betaal eers by tannie Adri (ontvangs)
  2. Sy sal vir jou 'n papiertjie gee met bewys van betaling
  3. Stuur die drukwerk in PDF-formaat aan juffrou Marecia by marecia@jvrprim.co.za
  4. Drukwerk moet minstens 24 uur voor die tyd gestuur word.
  5. Geen onmiddellike drukwerk sal gedoen word nie.

KULTUUR

Koffie-en-Beskuit Konsert: Dinsdag, 10 Maart

Ons volgende oggendkonsert vind Dinsdagoggend, 10 Maart, in die groot musiekklas plaas.

Die volgende leerders tree op:

Anya Greeff - Klavier
Anton Titley - Klavier
Natalie Lawson - Saksofoon
Bella Naylor - Klavier
Nina de Villiers - Klavier
Ella van der Walt - Klavier
Pierre du Toit en Elsie Janse van Rensburg - Klavierduet
Pierre du Toit - Klavier
Eliana Greeff - Klavier
Daniel Oosthuizen - Klavier

Hier is enkele algemene reëlings rondom die verrigtinge:

* Deelnemende leerders meld stiptelik 07h45 by die groot musiekklas aan met hul instrument. Juf Bea en/of mnr Ben sal daar wees om hulle te ontvang en te help om instrumente te stem.
* Elke deelnemende leerder bring slegs een maatjie saam om die konsert by die woon. Ons het ongelukkig nie spasie om meer leerders te akkommodeer nie.
* Ouers is welkom om te kom luister - bring gerus koffie saam!
* Gebruik asb die deur by die Nasorg om by die musiekklas te kom. Die senior koor oefen in die saal.

Tyd: 08h00 - 08h30
Plek: Groot Musiekklas (Musiekdepartement)

Musiekkonserte: Kwartaal 1, 2026

Die Kwartaal 1 Musiekkonserte is om die draai! Elke leerder wie ‘n musiekinstrument speel, kry die geleentheid om die kwartaal se harde werk op die verhoog ten toon te stel. Ons leerders is nie verplig om deel te neem nie, maar ons moedig almal aan om die geleentheid te gebruik. Alhoewel musiekleerders baie tyd alleen spandeer om te oefen, is musiek ‘n uitvoerende kuns en daarom bedoel om ook met ander gedeel te word.

Die konserte sal in graadverband gedurende skooltyd plaasvind. Let asseblief op dat die Graad 7’s se konsertdatum verander het.

Maandag, 23 Maart
  • Graad 2: 08h00 - 09h00
  • Graad 3: 09h15 - 10h10
  • Graad 7: 10h30 - 11h30
Dinsdag, 24 Maart
  • Graad 4: 08h00 - 08h30
  • Graad 5: 09h00 - 10h00
Woensdag, 25 Maart
  • Graad 6: 08h00 - 09h00
Vra asb vir juf Rolene óf jou kind se musiekonderwyser indien daar enige vrae rondom jou kind se deelname aan hierdie konserte is. Ons help graag.

Ons nooi alle ouers, familie, en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vordering te vier. 

Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus. Die leerders wat by die skool musiekles neem kry voorkeur, maar ons akkommodeer graag enige leerder wat musiekles buite die skool neem, indien die program dit toelaat.

SPORT

Winter: Buitemuurseprogram 2026

Sien die winter buitemuurseprogram vir kwartaal 2 en 3 hier onder:
Klik op die knoppie vir die volledige program

ALGEMEEN

Kaperjolle koskompetisie: Skryf nou in!

Dis weer tyd vir die jaarlikse Kaperjolle koskompetisie.

Vanjaar se tema is: Jan van Riebeeck se pitstop-toer, wat beteken jy kan ‘n dis maak van enige land waar ou Jan voet aan wal gesit het.

Hier is hoe dit werk:

🌍 Jou span kan ‘n dis maak van enige van die volgende lande: Nederland, Indonesië, Japan, Viëtnam, Maleisië, Sierra-Leone, Tansanië, Portugal, Italië en natuurlik Suid-Afrika. Jou “pitstop” moet ook volgens die tema versier word.

🔥‘n Gedeelte van jou gereg moet op die kole gemaak word.

😋 Nes verlede jaar gaan dit weer ‘n proe-kompetisie wees. Die eetgerei sal voorsien word, en jou porsies moet so twee of drie happies groot wees.

🏆Almal wat proe, mag stem vir een gunsteling-gereg en die wenner is die pitstop met die meeste stemme.

Wie gaan die kroon dra as Jan Pitstop Kampioen 2026?
Skryf jou span teen 20 Maart in deur hierdie vorm in te vul:
SKRYF HIER IN

Somersokkie: 19 Maart 2026

Dit is amper weer tyd vir die graad 5-7 Somersokkie! Sien meer inligting hier onder:

Kontakbesonderhede op MyJvR opdateer

Ons versoek ouers vriendelik om hul kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) op MyJvR na te gaan en op te dateer indien dit verander het. Dit verseker dat alle belangrike kommunikasie, insluitend u kind/kinders se rapporte, ontvang word.

Volg hierdie skakel na MyJvR: KLIK HIER

Dankie dat u saam met ons werk om gladde en effektiewe kommunikasie te verseker!

Veiling 2026: Skenkings

Liewe Ouers,

Hou asb 6 Junie 2026 oop vir hierdie jaar se Laerskool JvR Opvoedingstrust Veiling, wat by die Mount Nelson sal plaasvind.
Ons soek graag skenkings vir ons lotte. Enige ouers wat kan help met drank, vakansiehuise, jagritte, kuns, juwele, spa-ervarings, ens. word vriendelik versoek om Anna Blackmore op 083 386 4057 te kontak.
Enige bydrae word opreg waardeer.

Welwillendheidsprojek: Kwartaal 1, 2026

Hier is hoe jy hierdie kwartaal 'n verskil kan maak:

Paaseiers insamel!

Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club ondersteun deur paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het soos op die prentjie. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer.

Enige donasies word opreg waardeer!

Kombuistaal Werkswinkel: vir jou en jou kind(ers)

Kom kuier, luister na en kook saam met Rooi Rose se oudredaktrise (Vickie de Beer) wat 'n kookboek geskryf het om ons kinders te inspireer om gesonder te eet. Haar fokus is op lekker kos wat voedsaam is. Koop gerus jul, jy en jou kind(ers), kaartjie d.m.v. Quicket teen R370 per gesin. Dit sluit 'n mengbak, houtlepel, bestanddele vir die gereg en die resepteboek in. Dis ook opwindend om te weet dat Antjie Krog saam met Vickie gewerk het om hierdie kookboek ekstra spesiaal te maak. Ons gaan 'n heilsame aand (Dinsdag, 17 Maart) in ons skoolsaal beleef! Sien jou daar.

Marinda Brink

BESPREEK HIER

Boekverkope: 18-19 Maart 2026

The Book Box kom weer binnekort kuier! Spaar solank om jouself en jou boekrak te bederf.

Ondersteun die skool deur jou MySchool-kaart te gebruik

Wat is 'n MySchool-kaart?

Die MySchool-kaart is ’n maklike manier om jou skool te ondersteun sonder dat dit jou iets ekstra kos. Elke keer as jy met jou kaart by deelnemende winkels betaal, skenk die winkel ’n persentasie van jou aankoop direk aan ons skool. Jy dra dus by tot waardevolle projekte en hulpbronne, eenvoudig deur jou alledaagse inkopies te doen.

Registreer by hierdie skakel: Registreer: MySchool

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Netbaluitslae: 28 Februarie 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad