|
|
|
|
|
Dagboek
Di 21 Julie 2026
Wo 22 Julie 2026
- Netbal: St Cyrpians (TUIS)
Do 23 Julie 2026
Vr 24 Julie 2026
- TOETS: Afrikaans (Gr.4&6)
Sa 25 Julie 2026
Ma 27 Julie 2026
- Gr.3 - Interne Robotika Kompetisie
Di 28 Julie 2026
Wo 29 Julie 2026
- Rugby: Fanie Theron (WEG) - Almal
- Netbal: Tableview (TUIS) - Almal
- Gr.1 & 2 - Interne Robotika Kompetisie
Vr 31 Julie 2026
- TOETS: Afrikaans (Gr.5&7)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Week 5 het darem weer vir ons ’n normale, volle akademiese week gebied met geen openbare vakansiedae wat leer en onderrig onderbreek het nie. Meevallertjies soos lekker langnaweke is nou eers iets van die verlede en die enigste langnaweek wat nog die kwartaal gaan plaasvind, is vanaf 13–16 Junie. Dit sluit Jeugdag in, wat nóg ’n openbare vakansiedag is, en vind op Dinsdag, 16 Junie, plaas. Dus is Maandag, 15 Junie, dan ’n skoolvakansiedag – maak gerus die aantekening in jou dagboek vir ’n heerlike langnaweek wat voorlê!
|
Soos julle bewus is, hou ons elke Dinsdagoggend ’n saalbyeenkoms wat al die leerders en personeel bymekaar bring om onder andere gemeenskaplike skoolsake te bespreek, skoolnuus te deel, erkenning vir leerders te gee asook om eenheid en skoolkultuur te bevorder. Ons saalbyeenkomste word op ’n gepaste wyse met ’n boodskap begin wat deur ’n onderwyser op ’n rotasiebasis gelewer word. Die saalboodskappe fokus op ons kernwaardes en hierdie week het juf. Esmarié vir ons ’n baie insiggewende boodskap gelewer om ons spreekwoordelike brille wat nie die goeie in ander mense en in onsself sien nie, af te haal en eerder brille op te sit wat die goeie in mense raaksien en waardeer. Ons is almal so skuldig hieraan en ons vergeet dat kinders die wêreld anders sien as ons as grootmense. Hulle sien ’n wêreld van verwondering en onskuld met ’n hart wat dikwels glo dat alles moontlik is. Hulle vertrou maklik en klou nie vas aan gister se seer en onreg nie. Kinders se vreugde kom dikwels in die kleinste dinge en gebare voor. Dalk moet ons dit ernstig oorweeg om soos kinders te leef met ’n oop hart en gemoed. Kom ons daag mekaar uit om met eenvoudige geloof en vreugde te leef wat nie direk afhanklik van ons omstandighede of eise is nie, maar eerder weer die mooi te sien wat elke dag deur God se genade aan ons geskenk word.
|
Tydens dieselfde saalbyeenkoms op Dinsdag, 05 Mei, is daar Jannies van die Week- asook Sport-Jannies van die Week-sertifikate aan leerders uitgedeel. Ek sonder nie sommer enige toekenning in die verband uit nie, maar graag deel ek een wat vir my soos ’n paal bo water uitstaan. Stefan van der Walt (Gr. 5) ontvang ’n spesiale Sport-Jannie van die Week-sertifikaat omdat hy verlede week tydens ’n o.11B-rugbywedstryd teen LS Edgemead ’n drie gedruk het wat deur die skeidsregter toegeken is. Hy staan toe egter uit die maalbeweging wat oor die doellyn val, op en versoek die skeidsregter om die drie te kanselleer, want hy het dit kort van die doellyn gedruk en was doodseker dat die skeidsregter dit nie kon sien nie. Stefan se eerlikheid en integriteit spreek boekdele van sy karakter. Sy span was op daardie laat stadium van die wedstryd aan die verloorkant en ’n drie kon die saak beredder, maar hy doen die regte ding en pas een van ons skool se kernwaardes, naamlik eerlikheid, toe ten aanskoue van sy spanlede wat so graag die punte wil hê. Die o.11B-span verloor toe die wedstryd met 19–26. Hierdie kosbare oomblik bevestig weer dat ons ’n waardegedrewe skool in praktyk is en nie net op spreekwoordelike papier nie. Dit sal altyd vir my, die personeel en sy ouers ’n kosbare oomblik bly. Bravo Stefan, jy maak ons so trots! Ons kan so baie by jou leer deur altyd die regte ding te doen, al is dit hoe moeilik!
|
Op Sondag, 10 Mei, vier ons weer Moedersdag. Moedersdag is wat my betref meer as net ’n dag van geskenke gee, maar eerder ’n viering van onvoorwaardelike liefde wat ’n ma vir haar kind(ers) en gesin het. Ek glo dat al ons mammas en oumas in ons skoolgemeenskap op Moedersdag tot in die afgrond bederf sal word. Kom ons eerbiedig al ons ma’s vir die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap speel asook al die opofferings wat hulle as ma’s tot voordeel van hul kinders en gesinne maak. Ek glo moeders is die spreekwoordelike gom wat gesinne en gemeenskappe bymekaar hou, veral onder moeilike omstandighede. Daar is ’n anonieme uitdrukking wat sê dat ma’s soos knope is. Hulle hou alles bymekaar. Die hart van ’n ma is seker die mooiste meesterstuk uit die hart van God, want ’n ma is tog die begin van elke mens.
|
Op Woensdagaand neem ons vir die eerste keer aan Laerskool Eversdal se Evervasvrae deel wat al vir ’n geruime tyd jaarliks aangebied word. Nege skole se Gr. 7’s is uitgenooi om aan die algemene kennis-vasvraekompetisie deel te neem. Ons het die volgende twee spanne ingeskryf:
|
Span 1: Jamie Jordaan Neill Ferreira Morgan Smit Reuben Janse van Rensburg Ben Ward
|
Span 2: Ghia Pereira Deon de Kock Jacques du Toit Joan van Vreden Peter Wickwar
|
|
Baie geluk aan Span 1 wat die aand met die louere weggeloop het deur die ander agt skole uit te stof. Dit is merkwaardig dat ons sommer tydens ons eerste probeerslag met die silwerware kon wegstap. Hartlike dank aan juf. Marecia vir die voorbereiding van die leerders asook al die ander reëlings wat gepaard gegaan het om ’n sukses van die uitstappie te kon maak. Baie dankie juf. Marinda dat jy die aand ondersteun het.
|
|
|
Op ’n hartseer noot moet ek julle ongelukkig inlig dat ons Hoof van die Nasorg, juf. Madri Greyling, ons aan die einde van die kwartaal gaan verlaat. Juf. Madri was sewe jaar aan bestuur van die Nasorg en onder haar bekwame bestuur, het die groei van nasorgleerdergetalle tot rekordgetalle gelei met 144 leerders wat hulle onlangs op een dag moes hanteer. Ons beste wense vergesel haar vir die nuwe hoofstuk in haar beroepslewe en mag sy net sukses ervaar.
|
Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):
|
“Die klein jakkalsies wat die wingerd verniel”
|
Die uitdrukking beteken dat dit die klein dingetjies is wat dikwels die grootste skade of hartseer veroorsaak en onmiddellik aangespreek moet word.
|
Ek sluit dan week 5 af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet en ’n geseënde Moedersdag, propvol bederf, aan al ons uitsonderlike en spesiale mammas. Ek sien uit om julle die komende naweek langs die sportveld te sien. Sterkte ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck vir hul Massa-Reünienaweek om hul 100ste bestaansjaar te vier, asook vir hul veilingsgeleentheid vanaand. Baie dankie mnr. Pieter Rademeyer dat ons ook deel van jul eeufeesvieringe kan wees.
|
|
|
|
|
|
VIR AANDAG
|
|
Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien belangrike inligting rakende die Junie-eksamen asook die rooster hier onder:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons volgende oggendkonsert vind Dinsdagoggend, 12 Mei, in die NASORG plaas. Die volgende leerders tree op: Natalie Lawson - Saksofoon Benjie Ntloko - Klarinet Doen de Kock - Saksofoon Micah Nikiforos - Saksofoon Celeste de Wet - Klavier Izak Steyn - Klavier Niku le Roux - Klavier Daar word ook kunswerke van hierdie leerders in die Nasorg uitgestal, waarna julle gerus voor óf na die konsert kan kyk. Hier is enkele algemene reëlings rondom die verrigtinge: * Deelnemende leerders meld stiptelik 07h45 in die Nasorg aan met hul instrument. Juf Bea en/of Mnr Ben sal daar wees om hulle te ontvang en te help om instrumente te stem. * Elke deelnemende leerder bring een of twee maatjies saam om die konsert by die woon. Ons het ongelukkig nie spasie om meer leerders te akkommodeer nie. * Ouers is welkom om te kom luister - bring gerus koffie saam! * Gebruik asb die deur by die Nasorg om in te kom - die senior koor oefen in die saal, en ons wil hulle nie steur nie. Tyd: 08h00 - 08h30 Plek: Nasorg
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons is baie opgewonde oor ons skoolkonsert wat hierdie September plaasvind! Elke leerder word versoek om ’n bedrag van R200 by te dra om die kostes van kostuums en grimering te help dek. Leerders sal hul kostuums ná afloop van die konsert kan hou.
|
Karri sal vanaf Dinsdag, 28 April, tot en met September beskikbaar wees vir betalings.
|
|
Baie dankie vir almal se ondersteuning en samewerking om hierdie produksie moontlik te maak.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Die Musiekdepartement wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser(s) te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.
|
Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Julle is ook welkom om ‘n alternatiewe tyd vir ‘n ontmoeting af te spreek.
|
Kontak gerus jou kind se musiekonderwyser om ‘n datum en tyd vir ‘n ontmoeting te bevestig. Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.
|
|
Ek lys die musiekonderwysers en kontakbesonderhede:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Baie dankie aan almal wat gereeld sakke vir Jan Kas skenk, dit werk baie goed! Indien julle ekstra Woolworths-sakke by die huis het en bereid is om dit te skenk, hou asb. aan om dit na Jan Kas of Megan en Sue-Ann se kantoor te stuur. Ons het altyd nog nodig. Baie dankie!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons skool is opgewonde om hierdie kwartaal ’n welwillendheidsprojek aan te bied om Laerskool Prestwich te ondersteun – ’n minderbevoorregte skool wat hulp nodig het om kos aan hul leerders te voorsien. Ons gaan blikkies boeliebief insamel, en dit sommer in ’n prettige kompetisie tussen die klasse omskep! Hoe werk dit? ⭐ Vir elke 5 blikkies boeliebief wat ’n klas insamel, kry hulle 1 blokkie om in te kleur. ⭐ Hoe meer blikkies ingesamel word, hoe voller raak die klas se blokkaart! 🏆 Die klas met die meeste blokkies wen: 🍕 ’n Pizza-partytjie 👕 ’n Sivviedag 📅 Datums: Begin: 20 April 2026 Sluit: 8 Junie 2026
|
|
💛 Elke blikkie maak ’n verskil. Kom ons werk saam en help waar dit regtig nodig is!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.
|
|
Ondersteun gerus ons Graad 7’s.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Liewe Ouers Ons nooi julle graag uit om nou julle kaartjies vir die veilingsdinee te bespreek.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Die JvR-skoolgemeenskap word vriendelik deur St Cyprian’s uitgenooi om die vertoning van Peter and the Wolf op 9 Mei by te woon. Die vertelling word deur die bekende akteur, Rob van Vuuren, gedoen en beloof om ’n wonderlike ervaring vir kinders te wees! Die vertoning is ten bate van hul koor wat in Julie na Spanje en Frankryk toer.
|
Plek: St Cyprian’s School Datum: Saterdag, 9 Mei Tyd: 1) 10h00 - 10h45 2) 11h00 - 11h45 Kaartjies: Beskikbaar op Quicket. Hier is die skakel: KOOP HIER
|
|
|
|
|
|
|
TERUGVOER
|
|
Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:
|
|
|
|
|
|
JANNIES VAN DIE WEEK
|
|
|
|
|
|
|
SPORT
|
|
|
|
|
Ons is ongelooflik trots op die volgende netbalspelers wat deur is na die finale rondte WP-proewe.
|
o.11 Mika van der Walt Lizzy Snyders
|
o.13 Jana Nel Cato Terblanche Dané Walker Anabella Boshoff Anouk van der Linde Solange Stevens Mia-Lynn Podesta Ghia Pereira
|
Hierdie dogters neem Saterdag, 9 Mei, aan die finale rondte deel.
Ons wens hulle baie sterkte toe!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se netbaluitslae:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se hokkie-uitslae:
|
|
|
|
|
|
|
SPORT JANNIE VAN DIE WEEK
|
|
|
|
OUD-JANNIES PRESTEER
|
|
|
|
|
|
Chrystal Conradie, oudleerder, het haar Westelike Provinsiale Kleure vir Synchro Skaats ontvang! Sy en haar span, Team Velocity, neem deel aan die Nasionale Kompetisie van 10–12 Mei.
|
|
|
|
|
|
|
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.
|
|
|
|
Klik HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Jy ontvang hierdie nuusbrief
|
|
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
|
|
|
|
|
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
|
|
|
|
|