Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

ALGEMEEN

Veilingsdinee: 7 Junie 2025

Maak asseblief ‘n nota in julle dagboeke – 7 Junie 2025 is die datum vir die Opvoedingstrust se jaarlikse veilingsdinee!

Ons is opgewonde om aan te dui dat hierdie spesiale aand weer vanjaar by die pragtige Mount Nelson Hotel sal plaasvind. Ons komitee is reeds hard aan die werk om ‘n onvergeetlike aand te beplan.

Hou volgende week dop vir meer opwindende besonderhede!

Ons sien daarna uit om julle daar te verwelkom.

Vriendelike groete,
Die 2025 Veilingkomitee

Somersokkie: 19 Maart 2025

Dis weer tyd vir 'n somersokkie! Sien meer inligting hier onder:

Lion's Club Paaseierskenkings

Lion's Club Paaseierskenkings
Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club help om paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer. Ons wil vra dat die paaseiers voor of op Vrydag, 14 Maart, skool toe gebring word.

'n Akteur in ons midde: Gerhard Conradie

Gerhard Conradie en sy suster het saam 'n kortfilm geskiet, Alma Oppad, wat by die Silwerskerm-filmfees vertoon gaan word! Dit sal later vanjaar op kykNET wees. Chrystal vertolk die rol van Alma, Gerhard speel haar broer, Laudo Liebenberg is die pa, en Amalia Uys die ma.

Welgedaan Gerhard! Jy maak ons trots.

TERUGVOER

Interne Redenaarskompetisie 2025

Ons leerders het tydens Woensdag en Donderdag se interne redenaarskompetisie net weereens bewys dat ons Jannies kán redeneer, maar met behulp van argumente wat ondersteun word deur navorsing.

Graad 1 tot 7 het ons omtrent van verskeie onderwerpe oortuig; onder ander, dat kougom kou in die klaskamer voordelig vir ons leerders is, rekenaarspeletjies help met leer, is 'n top 10 in laerskole regtig nodig? En selfs dat ritmes in die lewe jou help met breinontwikkeling!

Daar was nog vele meer insiggewende onderwerpe wat deur ons 23 deelnemers argumenteer is. Graad 6 en 7 leerders het onvoorbereide toesprake sowel as voorbereide toesprake gelewer. Hulle moes redeneer of kunsmatige intelligensie 'n voordelige hulpmiddel in die klaskamer is.

Daar is albei dae van eksterne ATKV-beoordelaars gebruik gemaak en ons sprekers kon van hul repliek ook soveel waarde wegneem.

Ons sal binnekort die leerders wat ons skool by ATKV se eerste ronde gaan verteenwoordig, bekendmaak.

Welgedaan aan al die sprekers!

N.S. 'n paar van ons leerders moes van die geleentheid gebruik maak om Mnr. Beets ook van 'n paar dinge te oortuig... en hy het mooi na elkeen se argumente geluister.

Digitale Geletterdheid: Wat het ons in kwartaal 1 geleer?

Hierdie kwartaal in Digitale Geletterdheid het ons oor 'n paar interessante aspekte van rekenaars en digitale toestelle gepraat. Een van die temas wat die meeste uitgestaan het, was die Graad 5's se gebruike van die internet. Hier het die leerders geleer wat die voordele van die internet is, hoe om veilig te wees wanneer jy aanlyn werk en ook wat die gevare van aanlyn speletjies en toepassings is.

Ons het nie net teorie geleer nie, maar ook prakties op die tablette gewerk. Een van die lesse wat uitgestaan het, was toe die Graad 3's 'n tikvaardigheid-aktiwiteit gedoen het. Dit was so mooi om te sien hoe hulle mekaar gehelp het, as een sukkel om 'n spesifieke letter te vind. Hulle het baie hard gekonsentreer om op die sleutelbord te tik en seker te maak hul tik met die regte vingers op die regte knoppies.

Ons sien uit na nog 'n klomp lekker temas vir Kwartaal 2 in Digitale Geletterdheid.

WP Tennis - Synergy Cup 2025

Stella en Neels het JvR baie mooi verteenwoordig by die Synergy Cup (WP / Boland / Noord-Kaap) vir die Cape Town WP A-span.

Die top 4 van die A-span se seuns en dogters van die WP-span het nie gespeel nie, so ons klomp het harde kompetisie gehad teen Boland. Die A-span het 2de geëindig en silwer gekry. Dit was regtig warm en lang dae, so ek is ongelooflik trots op die 2 wat na die Graad 7-kamp met so baie gees opgedaag het en so ‘n voorbeeld op die tennisbaan was. Julle kan baie trots wees!

Jeanne en Amelie het vir die B-span gespeel by 'n ander klub.

Ons is baie trots op julle!

Krieketuitslae: 6 Maart 2025

Sien die week se krieketuitslae hier onder:

Netbaluitslae: 1 Maart 2025

Sien die week se netbaluitslae hier onder:

Tennisuitslae: 5 Maart 2025

Sien die week se tennisuitslae hier onder:

JANNIES GESPREKKE

Die wonderwêreld van disleksie

Vir die brein om letters in die korrekte volgorde te sien, te prosesseer en dan te verseker dat dit geïnterpreteer word om ‘n woord korrek te lees, uit te spreek en te skryf, is vir sommige mense ‘n ontsettende uitdaging. Om ‘n kind(ers) met disleksie groot te maak in ‘n wêreld waar daar aangeneem word dat almal ewe goed kan lees, skryf en praat is ‘n moeilike berg om uit te klim. Hierdie diagnose kan jou alleen en moedeloos laat voel totdat jy besef dat daar vreeslik baie ouers is wat in dieselfde bootjie sit.

Die idee dat jou kind(ers) nie alleen hierdie reis hoef aan te pak nie, is ‘n gerusstellende gedagte. Kennis en kundigheid word daagliks oor disleksie ingewin en uitgebrei aangesien ons hier by LS JvR besef dat hier heelwat Jannies met disleksie gediagnoseer word. Dis ‘n lewenslange reis wat by ons as skoolgemeenskap begin om ons kinders op te voed om met hulself en hul maats wat moontlik disleksie het, grasie en begrip te hê.

Hierdie diagnose (disleksie), net soos soveel ander, lyk by elke leerder anders. Dis dus baie moeilik om soms agter te kom dat jou kind moontlik simptome van disleksie het. Die brein is ongelooflik en vind maniere om hierdie simptome te omseil en weg te steek daarom blyk dit nie by almal so ooglopend te wees nie. Indien ‘n onderwyser op ‘n dag ‘n assessering by ‘n opvoedkundige sielkundige mag aanbeveel, is dit om jou as ouer, maar meer belangrik die leerder te ondersteun en te lei.

Ons probeer so goed moontlik ‘n leeromgewing vir die leerders skep waarbinne hulle ook kan veilig voel sodat leer kan plaasvind. Alhoewel ons nie ‘n inklusiewe skool is nie, poog ons daagliks om sover moontlik alle leerders te akkommodeer. Hoe gelukkig is die Alpha-generasie (kinders gebore in 2010-2024) nie … hulle is die kinders oor wie ons huidiglik die meeste kennis beskik om leer met meer grasie toe te pas. Ja, ons onderwysers is nie opgelei in al die areas waarin ons as ouers so dikwels ‘n behoefte het nie, maar elkeen probeer op sy of haar manier om elke individu in die klas en op die sportveld so goed moontlik te ondersteun. Ons is uiters bevoorreg om vanaf 2010 ons skool se leersentrum te kon uitbrei met die nodige kundigheid tot waar ons vandag met ‘n spogsentrum leerders, onderwysers asook ouers kan lei en toerus so goed ons kan.

Die wêreld waarbinne leerders met disleksie leef, is dié van intelligensie, kreatiwiteit, ontdekking en soveel meer as net letters en woorde. Gaan loer gerus na die Youtube video wat weer soos verlede week hierdie onderwerp op ‘n praktiese manier verduidelik. Wys gerus vir jou kinders ook.

Kliek hier: SEE DYSLEXIA DIFFERENTLY

Saamgestel deur Marinda Brink

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 07 Maart 2025

Vandag is die eerste Vrydag van Maart en dit beteken dat die skole oor drie weke vir ‘n kort en welverdiende vakansie sluit, voordat ‘n besige kwartaal 2 afskop. Die seisoen is ook besig om te draai, met die son wat soggens later opkom en vroeër ondergaan, terwyl volmaan op 14 Maart gaan aanbreek, wanneer die aarde direk tussen die son en die maan gaan wees. Maart word ook gekenmerk deur Ramadan en ons wens vir al ons Moslem-ouers en -vriende ‘n geseënde Ramandan Mubarak toe.

Ons skool was vanaf Maandag weer voltallig met die terugkeer van die gr. 5– en 7-leerders vanaf hul onderskeie skoolkampe. Ek het met van die ‘kampers’ gepraat en hulle was almal eens dat hulle die skoolkampe terdeë geniet het. Natuurlik was hulle Vrydag by terugkeer doodmoeg van die min slaap, die uitdagings van die onbekende avontuur en al die opwinding. Tydens die kampe kon ons stadsjapies heerlik die natuur verken, terwyl hulle in spanne moes saamwerk. Skoolkampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede, vereis deursettingsvermoë en ontwikkel leiersvaardighede. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar het verseker hul ouers/voogde se tuisgemaakte kos, asook die gemak van hul ouerhuise, gemis. Ek glo hulle waardeer sommer weer van vooraf hul ouerhuise en is dankbaar vir al die wonderlike voorregte wat hulle baie keer as vanselfsprekend aanvaar.

Verlede Vrydag het ons jaarlikse Junior Swemgala plaasgevind en ons grondslagfase-swemmers was spreekwoordelik soos visse in die water, terwyl hulle luidkeels deur hul ouers/voogde, grootouers en maats aangemoedig is. Die junior swemgala bly maar altyd vir my ‘n hoogtepunt. Dit is baie opwindend, veral omdat die gr. 1-leerders vir die eerste keer ‘n geleentheid kry om aan ‘n formele skoolswemgala deel te neem. Hierdie week het die wintersport-buitemuurse program ook in volle swang afgeskop, en dit terwyl Moeder Natuur ons herinner het dat dit eintlik nog somer is, met die hoë temperature wat tans heers.
As skoolhoof kry ek die wonderlikste geleenthede om onder andere na ons leerders se ongelooflike mondelinge te luister en take te sien. Graag deel ek die volgende met julle: Verlede week het die graad 3’s hul Engelse mondeling vir formele assesserings afgelê en het Chidima Manzana, ‘n gr. 3-leerder by juf. Ehlers, die onderstaande Engelse mondeling oor haar skool in die klas geskryf en aan die klas voorgedra:

“Hello teacher, friends and class. I am going to tell you about my school. It is like a dream, but you cannot sleep here, but you can learn here. We have the best sports, the best teachers and the best classes. If you like this school, then feel proud, thank you.”
Dit is vir my so kosbaar om te hoor hoe ‘n leerder die skool positief ervaar en waardering daarvoor uitspreek. Dit is vir my so belangrik dat die skool ‘n veilige omgewing vir leerders is, waar hulle kan leer, geliefd voel en geleenthede kry om net hulself te wees.

Op Saterdag, 01 Maart, het ons leerders en personeel aan die volgende aktiwiteite deelgeneem:

  • Senior Koor-kamp: Het vanaf 08:00 – 14:00 plaasgevind. Ons koorlede het dit baie geniet en hulle werk baie hard ter voorbereiding van die Mzani Conducto’s Convention by CTICC vanaf 14 – 16 Maart. Baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Pieter Bezuidenhout wat die koorkamp georganiseer en gelei het. Baie dankie aan ons ouerkoorkomitee wat gehelp het met die logistieke reëling vir eet- en drinkgoed. Ons waardeer julle hulp baie!
  • Mini-krieket: Toernooi het by Laerskool Table View plaasgevind. Ons o/8A- en B-, asook o/9A- en B-spanne het deelgeneem en puik gevaar deur al hul onderskeie wedstryde te wen. Ons mini-krieket het vanjaar ‘n puik seisoen agter die rug. Die standaard van ons mini-krieket het aansienlik verbeter en dus wil ek al ons afrigters en juffrouens hartlik bedank vir hul puik afrigting en toegewydheid.
  • Netbal: Ons o/12- en o/13-spanne het aan Hoërskool Jan van Riebeeck se ‘onder die berg’-toernooi deelgeneem en puik gevaar. Baie dankie aan juf. Ischké en Shahneé vir julle diens.
  • Dapper Stappers en Uitreik: Het op Saterdag die strandarea te Bloubergstrand gaan skoonmaak deur vullis op te tel en te verwyder. Baie dankie aan juf. Anika, Michelle, Nicola, mnre. Keenen en Dian, asook Petronella se ouers wat so hard gewerk het om die strandarea skoon te maak.
Ons interne redenaarskompetisie het op Dinsdag, 04 Maart, met groot opwinding afgeskop en word oor twee dae aangebied. Baie dankie aan juf. Andri vir al jou puik reëlings, asook die ouers/voogde wat dit so getrou ondersteun het. Ek bly verstom oor ons leerders se selfstandigheid, hul selfvertroue en kommunikatiewe vaardighede om indrukwekkende toesprake voor ‘n gehoor te lewer. Hulle is nog so jonk, maar lewer toesprake met die grootste gemak, asof hulle dit al vir jare doen. Ek was so beïndruk met die wyse waarop hulle hul gedagtes formuleer en orden om hul standpunt met argumente oortuigend in te neem. Verseker het hulle my van hul standpunte oortuig. Hartlike dank ook aan juf. Lize (Gr. 1) wat as interne beoordeelaar opgetree het.
Vandag neem ons netbalspanne (o/11 - o/13) en ons rugbyspanne (o/7 - o/13) aan die Bulfees-sportdag te Porterville deel. Daarom moes ons die skool vandag oor vroeër verdaag. Die o/13-rugbyspan neem ook môre aan die Hopefield Rugbydag deel. Sterkte aan al ons sportspanne en afrigters vir die deelname aan die voorseisoentoernooie.

In verlede week se nuusbrief het ek ‘n skrywe aan ouers/voogde en donateurs gerig om finansiële ondersteuning rakende die beoogde opgradering van sportfasiliteite agter by die mini-sportveld:

Fase 1 behels die lê van ‘n veeldoelige kunsgrasbaan. Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust uit fondse van ons mees onlangse skoolveiling en daarmee saam die gawe hand van Gerhard Conradie wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg.

Fase 2 van die projek behels dat ons graag die fasiliteite verder wil opgradeer met ‘n volledige sportsentrum met pawiljoene, kleedkamergeriewe, twee klaskamers, sportstore en ‘n mini-klubhuis.

Fase 3 sluit ook in die plaveisel agter onder die bome om die hele area esteties af te rond.

Die kosteberaming van die opwindende projek beloop R7,76m. Baie dankie aan die donateur wat na afloop van verlede week se nuusbrief (28/02) vir ons geld vir die projek bewillig het, maar ons benodig nog heelwat fondse om die projek ‘n moontlikheid te maak. Ek sluit dus weer ‘n skakel in wat al die planne en motivering bevat soos dit in verlede week se nuusbrief verskyn het. Baie dankie vir jul goedgunstige oorweging om die infrastrukture by die skool op te gradeer en esteties af te rond. Kontak my gerus indien jy sou belangstel om ‘n bydrae tot die wonderlike projek te maak. Hartlike dank aan Stephen Hitchcock (ouer op ons Beheerraad en argitek) wat die ongelooflike planne ontwerp het.

Sien die planne hier: SPORTSPAVILJOEN-PROJEK
Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne. Ek sluit dan die week af met ‘n onbekende aanhaling oor wat ‘n mens definieer:

“Two things define you:
Patience when you have nothing
and
Your attitude when you have everything.”


Vriendelike groete,


Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week