|
|
|
|
|
Dagboek
Vr 26 Junie 2026
- Skole sluit (skoolvakansie)
Sa 27 Junie 2026
Di 30 Junie 2026
- Shahnee Felix (Onderwyser) verjaar
Wo 8 Julie 2026
- Claudia Abdol (Assistent) verjaar
- Leon Hanekom (Onderwyser) verjaar
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
So kom ons vandag aan die einde van die tweede laaste week van ‘n opwindende kwartaal en môre, Saterdag, 21 Maart, word Menseregtedag in Suid-Afrika gevier. Dit is so hartseer dat min mense hulle werklik aan die betekenis van die belangrike dag steur en dit bloot as nog ‘n openbare vakansiedag sien. Hierdie geskiedkundige dag was juis ingestel ter nagedagtenis aan ‘n tragiese gebeurtenis in ons land se geskiedenis. Die dag herinner ons aan die afgryslike gebeure wat op 21 Maart 1960 in Sharpeville afgespeel het. Duisende swart mense het op die dag teen die destydse paswette betoog. Die skare is egter deur die polisie uitmekaar gejaag, terwyl daar op hulle geskiet is en 69 mense noodlottig gewond is. Sedert 1994 word die dag jaarliks gevier om die slagoffers se tragiese dood te herdenk en seker te maak dat daar nooit weer so ‘n tragedie in ons land sal gebeur nie. Ek glo dat die herdenking van die spesiale dag ‘n waardevolle bydra lewer sodat alle mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en in vrede in ons pragtige land kan leef.
|
Een kenmerk van Laerskool Jan van Riebeeck wat ons van baie ander skole onderskei, is dat ons ‘n waardegedrewe skool in die ware sin van die woord is, en beslis nie net op papier nie. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om daagliks te sien hoe leerders, personeel en ouers ons kernwaardes (respek, omgee, verantwoordelikheid en eerlikheid) uitleef. Dit word bevestig weens die feit dat daar op Dinsdae tydens die weeklikse saalbyeenkoms gereeld spesiale sertifikate, naamlik Jannie van die Week-sertifikate, aan leerders uitgereik word wat ons skool se kernwaardes uitgeleef het om ‘n verskil te maak. Dit is nie so maklik om te kwalifiseer vir die spesiale sertifikaat nie, want dit is onderhewig aan streng kriteria en onderwysers rig die nominasies aan ‘n paneel vir goedkeuring.
|
Op Dinsdag, 17 Maart, het ons tydens ons saalbyeenkoms die Jannie van die Week-sertifikaat aan ‘n nuwe leerder, naamlik Benjamin Blake (Gr. 4), oorhandig, waar hy in die bresse vir ‘n Gr. 3-leerder getree het toe die seun tydens ‘n pouse deur sy mede-maats geterg is. Hy het die skuldige partye onmiddellik aangespreek en genoem dat die tipe gedrag nie ons waardes komplimenteer nie, want Jannies moet nie ander boelie nie. Die seun wie onder sy maats deurgeloop het, het my persoonlik versoek om aan Benjamin ‘n Jannie van die Week-sertifikaat toe te ken, want hy het vir hom opgestaan. Ek dink dit is baie spesiaal en dit bevestig die vaslegging van ons kernwaardes.
|
Baie dankie aan al die Dapper Stappers wat op Saterdag, 14 Maart, Tafelberg se ‘pipetrack’-staproete gestap het. Die snikhete hittegolf het veroorsaak dat daar slegs 12 leerders en hul ouers saam met juff. Ilse-Marié en Jodene die pragtige staproete aangedurf het. Die Pyproete is die perfekte Tafelberg-staproete vir beginnerstappers sowel as diegene wat 'n meer ontspanne en minder uitdagende stapervaring wil geniet. Die Pyproete volg 'n pad tussen Kloofnek en Kasteelpoort, langs Tafelberg. Alhoewel die Pyproete nie heeltemal tot bo-op Tafelberg gaan nie, sirkel dit om die berg. Die roete het asemrowende uitsigte oor Leeukop, die Atlantiese Oseaan, die Twaalf Apostels-bergreeks en die pragtige Moederstad.
|
Gedurende die afgelope week het die volgende opwindende aktiwiteite plaasgevind:
|
- Op Dinsdag, 17 Maart, het ons vanaf 18:00 ‘n kombuistaal-kosgesprek en demonstrasie in die saal aangebied. Kombuistaal is ‘n resepteboek vol gesonde resepte en rympies vol pret wat kinders leer om reg te eet. Die resepteboek is saamgestel deur Vickie de Beer en die pragtige versies is deur die bekende Antjie Krog, ook ‘n ouma by ons skool, geskryf. Die resepteboek is dus deur middel van ‘n opwindende ouer-en-kind sessie deur Vickie de Beer aangebied en ons ouers en leerders het die geleentheid terdeë geniet. Baie dankie aan juf. Marinda vir al die puik reëlings.
|
|
- Op Woensdag, 18 Maart, het die graad 1’s op hul eerste uitstappie gegaan. Hulle het die Cape Town Science Centre besoek en hope pret gehad.
- HS Jan van Riebeeck se ‘Paashase’ besoek ons skool op Woensdag, 18 Maart, en deel paaseiers aan die graad 1- en 2-leerders uit. Die graad 1’s was veral in hul spreekwoordelike noppies om in lewendige lywe die sogenaamde Paashase te kon ontmoet en selfs ‘n drukkie te gee. Baie dankie aan mnr. Chris Faber, die senior adjunkhoof, en die matriekraad wat ons leerders en personeel met paaseiers kom bederf het.
|
|
- Gloei en Glinster! Dis presies wat die gr. 5 - 7-leerders gisteraand (Donderdag, 20 Maart) in ons skoolsaal gedoen het. Dankie aan juf. Mardry en die sosiale komitee wat 'n vermaaklike somersokkie aan ons leerders gebied het. Musiek, gesigverf, foto's en kos ... wat is dan nou beter. Ook 'n groot dankie aan al die onderwysers wat saam kom glinster het! Dis hierdie tipe samehorigheid en feestelikheid wat vir die ongelooflike goeie gees onder ons leerders verantwoordelik is.
|
|
Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:
|
‘’Boontjie kry sy loontjie’’
Die uitdrukking beteken elkeen kry sy verdiende loon, m.a.w. jy kry wat jy verdien, positief of negatief, maar gewoonlik word dit in ‘n negatiewe lig gesien. In Engels: ‘’you reap what you sow’’.
|
Sterkte en geniet ons eerste wintersportnaweek wat vanmiddag met hokkie tuis teen Laerskool Totius en weg teen Curro Durbanville (slegs o.13A-spanne) afskop, en môre geskied die netbal en rugby tuis teen Laerskool Kampsbaai. Ek sien uit om julle langs die sportvelde oor die naweek te verwelkom.
|
Ek sluit dan af met goeie wense en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne geniet.
|
Groetnis Naas Beets SKOOLHOOF
|
|
|
|
|
|
VIR AANDAG
|
|
Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons versoek ouers vriendelik om hul kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) op MyJvR na te gaan en op te dateer indien dit verander het. Dit verseker dat alle belangrike kommunikasie, insluitend u kind/kinders se rapporte, ontvang word.
|
|
Dankie dat u saam met ons werk om gladde en effektiewe kommunikasie te verseker!
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien meer inligting oor kwartaal 2 se studiekursus hier onder:
|
|
Indien jou kind deel is van die studiekursus, sluit gerus by die WhatsApp-groep aan deur op die skakel te klik: Studiekursus (Ls JvR)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Die Musiekdepartement wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser(s) te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.
|
Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Julle is ook welkom om ‘n alternatiewe tyd vir ‘n ontmoeting af te spreek.
|
Kontak gerus jou kind se musiekonderwyser om ‘n datum en tyd vir ‘n ontmoeting te bevestig. Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.
|
|
Ek lys die musiekonderwysers en kontakbesonderhede:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons kore werk hard om voor te berei vir die konserte wat gedurende die tweede kwartaal vir ons voorlê. Indien daar optredes bygevoeg word, sal ons julle in kennis stel.
|
Teken gerus die datums aan en hou die Nuusbrief en betrokke WA-groepe dop vir meer gedetailleerde inligting rakende die spesifieke geleenthede:
|
7 Mei HSJvR Reünie Kultuuraand (aandkonsert)
19 Junie GF Musiekkonsert (oggendkonsert by LJvR)
|
12 April Passion ChoralFest by Hugo Lambrechts @ 16h00
21 April Fairmont High School Choir Evening (aandkonsert en busvervoer sal gereël word)
7 Mei HSJvR Reünie Kultuuraand (aandkonsert)
18 Junie ISF Musiekkonsert (aandkonsert by LJvR)
|
|
Ek herinner graag dat dit verpligtend is vir koorlede om die optredes by te woon, tensy daar vooraf verskoning gemaak is by Juf Bea (junior koor) of Juf Rolene (senior koor). Moenie huiwer om ons te kontak met enige vrae nie – ons help graag!
|
|
|
|
|
|
|
|
Loer gerus na die datums en tye van volgende week se musiekkonserte. Vra asb. vir Juf Rolene óf jou kind se musiekonderwyser indien daar enige vrae rondom jou kind se deelname aan hierdie konserte is. Ons help graag.
|
- Graad 2: 08h00 - 09h00
- Graad 3: 09h15 - 10h10
- Graad 7: 10h30 - 11h30
- Graad 6: 11h30 - 12h30
- Graad 4: 08h00 - 08h30
- Graad 5: 09h00 - 10h00
Ons nooi alle ouers, familie en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vordering te vier.
|
|
Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus. Die leerders wat by die skool musiekles neem, kry voorkeur, maar ons akkommodeer graag enige leerder wat musiekles buite die skool neem, indien die program dit toelaat.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien verdere inligting hier onder:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons sien baie uit na Markdag wat volgende Donderdag, 26 Maart plaasvind!
|
Leerders in Graad 1 tot 3 kry die geleentheid om hul eie produkte te verkoop en sommer ook ’n bietjie entrepreneursgees te ontwikkel.
|
-
-
|
🔢 Slegs 44 tafels beskikbaar
|
-
|
📲 Besprekings: Karri is oop vanaf 20 Maart tot 25 Maart
|
-
|
⏰ Opstel van tafels: Vanaf 09:30
|
-
|
Moet dit nie misloop nie – dit beloof om ’n heerlike en lewendige oggend te wees!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Aan die einde van elke kwartaal gaan ons ’n verlore goedere-verkope hou – alles wat nie afgehaal is nie. Die opbrengs van hierdie verkope gaan direk aan ons biblioteek/mediasentrum, om nuwe boeke aan te skaf. Dit is ’n wonderlike manier om verlore items ’n tweede kans te gee en terselfdertyd ons biblioteek te ondersteun!
|
Ons tweedehandse skoolklereverkope vind op Maandag, 23 Maart, van 12:30 tot 15:30 plaas.
|
Waar: Onder die afdak by die aflaaisone (agterste parkering)
Prys: Items geprys tussen R20 en R100
Betaling: Kontant of kaart word aanvaar
|
|
Kom koop skoolklere teen goeie pryse – ’n perfekte geleentheid om te bespaar en die skoolbiblioteek te ondersteun!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons toets tans die belangstelling. Sodra daar genoeg belangstelling is vir ’n minimum van 80 items, sal die vooraf bestellings oopgestel word vir betaling via die Karri-toep.
|
👉 Voltooi asseblief die aangehegte vorm indien jy belangstel. 📅 Let wel: Die vorm sluit op 28 Maart 2026, en alle bestellings moet voor hierdie datum geplaas word.
|
Indien daar voldoende belangstelling is, behoort die truie teen die einde van Junie beskikbaar te wees.
|
Laat die Jannie-ondersteuners uitstaan langs die sportveld! Plaas nou jou bestelling by die skakel hier onder!
|
|
(Indien jy reeds verlede jaar bestel het, wil ons jou vra om asb. weer hierdie opgedateerde vorm te voltooi.)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Dis weer tyd vir Laerskool Jan van Riebeeck se jaarlikse Kaperjolle – die grootste en lekkerste dag van die jaar!
|
🍔 Kosstalletjies: Onder andere boereworsrolle, pannekoek en Woodstock Brewery se food truck.
|
🍭 Lekkergoedland: Bederf jou soettand – spookasem en slushies!
|
🎶 Musiek: Om jou in die regte bui te kry.
|
👻 Spookhuis: Vir die dapperste avonturiers! (Slegs Graad 4–7). Slegs 13:00–17:00.
|
🎯 Speletjies: Die vierkantspeletjies is vir alle kinders.
|
🍺 Kroeg: Yskoue bier en wyn vir volwassenes.
|
🍖 Koskompetisie: Wie kook die beste in die dorp? Skryf asseblief jou span in!
|
📅 Datum: 11 April 2026 ⏰ Tyd: 12:00–18:00 📍 Plek: Laerskool Jan van Riebeeck (klein veld)
|
Hierdie is die perfekte geleentheid om jou familie en vriende te bederf met hope pret en vermaak. Kom skep herinneringe wat julle vir altyd sal koester!
|
👨👩👧👦 Volwassenes: R100 – sluit proegeleenthede by die braaikompetisie én ’n stem vir die wenner in.
|
🎈 Juniorkinders (Graad R–3): R100 – eindelose vermaak met speletjies in die vierkant.
|
🎃 Seniorkinders (Graad 4–7): R140 – toegang tot al die speletjies én die spookhuis.
|
|
🌟 Moet dit nie misloop nie – ons sien jou daar! 🎊
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Dis weer tyd vir die jaarlikse Kaperjolle koskompetisie.
|
Vanjaar se tema is: Jan van Riebeeck se pitstop-toer, wat beteken jy kan ‘n dis maak van enige land waar ou Jan voet aan wal gesit het.
|
🌍 Jou span kan ‘n dis maak van enige van die volgende lande: Nederland, Indonesië, Japan, Viëtnam, Maleisië, Sierra-Leone, Tansanië, Portugal, Italië en natuurlik Suid-Afrika. Jou “pitstop” moet ook volgens die tema versier word.
|
🔥‘n Gedeelte van jou gereg moet op die kole gemaak word.
|
😋 Nes verlede jaar gaan dit weer ‘n proe-kompetisie wees. Die eetgerei sal voorsien word, en jou porsies moet so twee of drie happies groot wees.
|
🏆Almal wat proe, mag stem vir een gunsteling-gereg en die wenner is die pitstop met die meeste stemme.
|
Wie gaan die kroon dra as Jan Pitstop Kampioen 2026? Skryf jou span teen 20 Maart in deur hierdie vorm in te vul: SKRYF HIER IN
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hou asb 6 Junie 2026 oop vir hierdie jaar se Laerskool JvR Opvoedingstrust Veiling, wat by die Mount Nelson sal plaasvind.
|
|
Ons soek graag skenkings vir ons lotte. Enige ouers wat kan help met drank, vakansiehuise, jagritte, kuns, juwele, spa-ervarings, ens. word vriendelik versoek om Anna Blackmore op 083 386 4057 te kontak.
|
|
Enige bydrae word opreg waardeer.
|
|
|
|
|
|
Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club ondersteun deur paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het soos op die prentjie. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer.
|
|
Enige donasies word opreg waardeer!
|
|
|
|
|
|
TERUGVOER
|
|
Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:
|
|
|
|
|
|
JANNIES VAN DIE WEEK
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se netbaluitslae:
|
|
|
|
|
|
|
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.
|
|
|
|
Klik HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Jy ontvang hierdie nuusbrief
|
|
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
|
|
|
|
|
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
|
|
|
|
|
|