Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 08 Augustus 2025

Daar was groot opwinding op Vrydag, 01 Augustus met die langverwagte inwyding van ons nuwe kunsgrasveld agter by die skool. Ons leerders kon nie meer wag om die ‘gevoel’ van die kunsgras te ervaar nie, en ons het op Vrydag net voor eerste pouse al die leerders op die kunsgrasveld laat sit, terwyl ons vir Gerhard Conradie snr. (borg van al die grond- en siviele werk) gevra het om simbolies vir ons die lint te knip om amptelik die pragtige fasiliteit te open. Ons is vir Gerhard baie dankbaar vir al sy borgskappe oor die afgelope jare om die fasiliteite by die skool op te gradeer. Die eerste hokkiewedstryd (o/9 seuns en dogters) het ook op Vrydag net na skool teen Laerskole Robertson en Sunningdale plaasgevind. Ek glo julle is net so trots soos ek op die nuwe toevoeging om sport verder by ons skool te ontwikkel. Die pragtige spasie sal dus vir mini-hokkie en -rugby sowel as netbal aangewend word, terwyl daar voor skool en gedurende pouses op gespeel word.
Op Saterdag, 02 Augustus, het ons skool vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar ‘n baie suksesvolle mini-sportdag (o/7 - o/9 rugby en netbal) aangebied. Die verskil vanjaar was egter dat ons die nuwe en veeldoelige kunsgrasveld deel van die program kon maak. Tien skole is by die netbalwedstryde en agt skole is by die rugby geakkommodeer, met ongeveer 1 000 leerders wat by die skool en Conradieveld deelgeneem het. Weereens was die gewilde toernooi ‘n reuse sukses, en het die ekstra twee netbalbane, wat deur die kunsgrasprojek moontlik gemaak is, handig te pas gekom. Ek glo julle sal saamstem dat die nuwe kunsgrasveld ook ‘n belangrike bydrae het om ons skoolterrein esteties af te rond. Vir ‘n beter dag kon ons beslis nie gevra het nie, aangesien die weer vir ‘n slag saamgespeel het met ‘n perfekte, sonnige dag, waartydens ons ons skool met sy pragtige fasiliteite aan soveel besoekende leerders, onderwysers en ouers ten toon kon stel. Agter die skerms het die dag verskeie logistieke uitdagings gebied, aangesien dit by die skool en Conradieveld plaasgevind het. Die dag was suksesvol weens puik beplanning, veerkragtigheid en deeglike uitvoering! Baie geluk en baie dankie aan ons sportkantoor (mnre. Leon en Rashard) vir die puik reëlings, asook al ons personeel wat so hard gewerk het om die dag se sukses te verseker. Ek glo dat julle as ouers/voogde saam met ons as personeel en leerders baie trots op die puik aanbieding van die sportdag was. Graag wil ek ook ons hoofborg van die dag, naamlik Nashua, hartlik bedank vir hul ruim borgskap om die dag moontlik te maak.
Op Vrydagaand, 01 Augustus, het ons skool die jaarlikse en gewilde Bring-en-Raai-kompetisie in die saal aangebied. Die saal was vol gepak met spanne, en almal het die samesyn van die gewilde sosiale aand terdeë geniet. Baie dankie aan MC du Toit (Gr. 4 en 1 ouer) wat puik as seremoniemeester opgetree het. Baie geluk aan die wenspan, naamlik Quiz-Kombuis, wat die aand met die louere weggestap het. Laastens, maar nie die minste nie, wil ek graag vir Pieter Rademeyer hartlik bedank wat aan die stuur van die reëlings gestaan het. Pieter, ons het groot waardering vir al jou moeite in die verband, en ons weet hoe besig jy as skoolhoof is!
Die EXCO (skoolbestuur) het vanaf Sondag, 03 – 05 Augustus hul jaarlikse strategiese beplanningsessie suksesvol afgelê. Hierdie sessie is uiters belangrik om seker te maak ons trotse skool is strategies op die regte pad om ons skool na nog hoër hoogtes saam met ons dinamiese Beheerraad te lei. Tydens die sessies word onder andere die volgende items gefinaliseer:
  • 2026 Kalender met buitemuurse programme
  • 2026 Klasroosters
  • 2026 Werksindeling van personeel
  • 2026 Sportplan
  • 2026 Kultuurplan
  • 2026 Graad- en vakhoofde
  • Insette vir 2026 konsepbegroting
  • 2026 Veiligheid- en sekuriteitsplan
  • 2026 Komitees
  • Hersiening van 2024 – 2027 Strategiese Plan
Dit is dan ook my eer en voorreg om die volgende puik sportuitslae van die afgelope naweek met julle te deel:
  • Baie geluk aan ons o/12A- en o/13A-netbalspanne wat op Saterdag, 02 Augustus brons medaljes vir hul liga-uitspeelwedstryde verwerf het. Hierdie is welverdiende uitslae, aangesien beide spanne vanjaar hard gewerk het en ‘n puik seisoen beleef. Baie dankie en geluk aan die onderskeie afrigters, naamlik juf. Sharon (o/12A) en juf. Ischké (o/13A), met jul spanne se puik prestasies. Julle maak ons baie trots!
  • Baie geluk aan ons o/9-skaakspan wat die Kaapse Metro-sentraal se Topskole-toernooi op Saterdag, 02 Augustus gewen het en dus deurdring na die Wes-Kaap Topskole-skaaktoernooi. Ons o/13-skaakspan het ook op die dag brons medaljes ontvang. Ons is ongelooflik trots op jul puik prestasie en hou styf duimvas vir ons o/9-span wat binnekort aan die Wes-Kaap Topskole-skaaktoernooi gaan deelneem. Baie dankie en geluk aan juf. Jua wat aan die stuur van sake staan en hulle vergesel het.
Terwyl daar verskeie sportaktiwiteite plaasvind, vind daar ook kooroptredes plaas, en ons kore het die afgelope week soos volg opgetree:
  • Beide junior en senior kore het op Maandag, 04 Augustus aan die Tafelberg Koorfees deelgeneem, wat deur Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied is.
  • Die senior koor het verder ook op Dinsdag, 05 Augustus aan die "Reddam Sings" deelgeneem, wat deur Reddam Constantia aangebied is.
Die senior koor het juis van die bogenoemde twee optredes gebruik gemaak as deel van hul finale voorbereiding voordat hulle môre na George vertrek om vanaf 09 – 11 Augustus aan die Cantamus Koorkompetisie deel te neem. Ons wens juf. Rolene, mnr. Leon Starker en die koorlede sterkte toe, en mag hulle die nuwe ervaring terdeë geniet. Baie dankie aan die ouerkoorkomitee wat die koortoer vergesel om juf. Rolene te help met toesig en logistieke reëlings. Baie geluk aan beide kore wat so hard werk – ons kan dit ervaar tydens hul puik optredes. Ek is baie trots op die vordering wat die kore die afgelope jaar toon, en ek glo hulle gaan binnekort hul volle potensiaal bereik.

Ek sluit dan die derde week af en mag julle ’n wonderlike naweek geniet. Sterkte aan die o/10- en o/11-netbalspanne vir jul liga-uitspeelwedstryde môre, indien die weer dit gaan toelaat – ons hou styf duimvas!

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit af met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking:

"Net die oortjies van die seekoei steek uit."

Die uitdrukking beteken dat iets wat aan ons bekend is, slegs ’n baie klein deeltjie van die volle waarheid of eintlike probleem is.

Vir ons Engelssprekende ouers beteken dit: “It is only the tip of the iceberg.”

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

SPORT

Jantrap Fietsry Klub Trap Weg!

Ons is opgewonde om aan te kondig dat die Jantrap Fietsry Klub amptelik afskop met ons eerste fietsrydag op Vrydag, 27 September om 09:00! Hierdie is die perfekte geleentheid vir almal – van beginners tot ervare fietsryers – om saam te kom, nuwe mense te ontmoet en die buitelewe te geniet.

Wil jy deel wees van die avontuur? Sluit aan by ons WhatsApp-groepie vir meer inligting, roetes en opdaterings.
Kliek hier om aan te sluit: Jantrap WhatsApp-Groep

Maak seker jou fiets is reg, en trap saam met ons 'n nuwe seisoen in beweging!

ALGEMEEN

Kennisgewing: Skool verdaag vroeër a.g.v. Interskole

Neem asseblief kennis dat die skool Vrydag, 15 Augustus, om 12:00 verdaag aangesien die Interskole Hokkiewedstryde reeds op Vrydagoggend, 15 Augustus, om 10:00 te Moorreesburg begin. Daar sal wel toesig wees vir leerders wat skool gaan bywoon. Nasorg sal vanaf 12:00 aangebied word.

Taberna Boekuitstalling: 25-27 Augustus 2025

Kom maak 'n draai by die boekuitstalling op 25-27 Augustus in die mediasentrum. Ouers is ook welkom om na skool saam met hul kinders te kom inloer.

Loslitdag

???? Loslitdag is hier! ????

Wanneer: Vrydag, 5 September 2025

Tema: Beyond the Label

Koste: R20

Kom wys jou ware kleure op Loslitdag! Leerders mag op 5 September in sivvies skool toe kom — maar net as jy ‘n Loslit-plakker het!

Koop jou plakker vir slegs R20 op Karri en help om bewusmaking te skep oor die belangrikheid daarvan om mense nie volgens hul etiket te beoordeel nie.

Wees deel van die verandering — gaan beyond the label!

Bederf 'n Juffrou vir Onderwysersdag!

Hierdie kwartaal gaan ons iets besonders doen — ons gaan die onderwysers van ons buur-skool, Prestwich Primary, verras en bederf in hul personeelkamer!

Dié toegewyde onderwysers werk ongelooflik hard en ontvang min erkenning. Laat ons saam ’n verskil maak deur hulle te waardeer met lekkernye en ’n klein geskenkie.

Hoe kan jy help?

Maak ’n vrywillige donasie via die KarriApp – elke bydrae help ons om hierdie spesiale bederf moontlik te maak.

????️ KarriApp oop: 4 Augustus – 5 September 2025

Saam sê ons: Dankie, Juffrou! ❤️

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Jannies presteer in skaak by Topskole-toernooi

Ons o/9- en o/13-skaakspanne het ons op 2 Augustus verteenwoordig by die Metrosentraal Topskole-toernooi. Basies kwalifiseer vyf skole per ouderdomsgroep, uit ’n totaal van 30, om in hierdie toernooi mee te ding.

Ons o/9-span het met goue medaljes én die trofee in hulle ouderdomsgroep weggestap. Hulle het ook gekwalifiseer vir die volgende rondte van die Topskole-toernooi.

Ons o/13-span het ons naam hoog gehou deur teen SA-spelers te kompeteer en het brons medaljes verwerf.

Dit was ’n naweek vol pret, en ons is ongelooflik trots op ons spanne!

Rugbyuitslae: 6 Augustus 2025

Hier volg die week se rugbyuitslae:

Hokkieuitslae: 31 Julie - 1 Augustus 2025

Hier volg die week se hokkieuitslae:

Netbaluitslae: 1-6 Augustus 2025

Hier volg die week se netbaluitslae:

INDIVIDUEEL

Christiaan Cronje presteer in stoei

Christiaan het die afgelope naweek Pretoria toe gereis vir die Johnny Reitz Big 5-stoeitoernooi – die grootste van die jaar met 834 deelnemers. Hy het vier wedstryde gestoei, waarvan hy drie oortuigend gewen het sonder dat sy teenstanders enige punte kon aanteken – een selfs binne 27 sekondes!

Sy laaste wedstryd was eers na 20:00 en het tot die laaste sekonde vol spanning gebly. Alhoewel hy op punte verloor het, het hy ’n welverdiende silwer medalje huis toe gebring.

Met hierdie prestasie het Christiaan se jaarlike totaal nou op drie goue en drie silwer medaljes te staan gekom. Baie geluk – jou harde werk en deursettingsvermoë is ’n inspirasie!

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad