Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde: 28 November 2025

Die komende naweek groet ons spreekwoordelik November-maand en dan breek die laaste maand van die jaar aan. Met ’n groot skok besef ’n mens dat 2025 amper iets van die verlede is. Weereens ’n bewys dat Vader Tyd vir niemand en niks stilstaan nie. Op ’n meer positiewe noot, die langverwagte somervakansie waarna ons almal uitsien, kom vinnig nader en ek glo ook dit is welverdiend met ’n baie suksesvolle en besige jaar agter die rug. Maak gerus seker dat julle ons 2025-jaarverslag, wat op 10 Desember beskikbaar gestel word, deurlees. Dit sluit al die opwindende 2025-aktiwiteite en suksesse van Laerskool Jan van Riebeeck in.

Ek wil graag vir julle die versekering gee dat ons as personeel die afgelope jaar volkome toegewyd is tot die skool se operasionele bestuur, maar ons weet ook dat ons dalk nie al ons ouers honderd persent in alle aspekte tevrede gestel het nie. Die skool maak egter voorsiening vir die breë spektrum van sy leerders en ouers en ons kan nie ’n leerder of ’n ouer uitsonder deur hulle anders te hanteer of voorkeurbehandeling te gee nie. Verder sê ek beslis nie dat die skool alles reg doen nie, maar dat alle faktore oorweeg word voordat besluite geïmplementeer word. Daar is altyd plek vir verbetering en ons gaan daaraan aandag gee, maar ek glo ook dat daar beslis nie ’n plek soos ’n “perfekte skool” is nie. ’n Skool maak ook foute, want daar werk gewone mense wat ook foute maak, soos by enige ander instansie of besigheid. Dalk vergeet ons soms dat onderwysers nie “superwesens” is nie, maar gewone mense met hul eie gesinne; hulle ervaar ook angs en spanning, sit ook elke dag in verkeer, ervaar dikwels ook finansiële druk, en hulle moet ook siektes en dood in hul gesinne en families hanteer, asook die alledaagse uitdagings wat die lewe bied. Solank ons as skool bereid is om die foute reg te stel en daaruit te leer, glo ek daar vind waardevolle groei en ontwikkeling plaas. Ek fokus gereeld met ons personeel om eerstens pro-aktief op te tree en tweedens om te leer uit ons foute. Dit is beslis nie ’n verskoning vir nalatigheid en swak werk nie, maar eerder om te beklemtoon dat onderwysers en die personeel net mense is – hulle werk hard en gee werklik om vir jul kinders!

Huppelland het op Donderdagaand, 20 November, hul jaarlikse graad R-konsert in die saal aangebied. Die teks “Oos, Wes, Huppelland Bes!” is deur die bekende jeugskrywer, Christien Neser (Louise se ma), geskryf en die indrukwekkende konsert het die gehoor deur ’n idilliese wêreldreis geneem. Baie geluk aan Louise en haar Huppelland-span met die uitstekende konsert wat die gehoor in vervoering gehad het. Dit was weereens ’n bewys van die hoë standaard wat ons skool stel om uitnemendheid op alle vlakke van skoolgee toe te pas.
Op Maandag, 24 November, het die finale eksamens vir die Gr. 4–7-leerders uiteindelik tot ’n einde gekom en ek glo ons huisgesinne het ’n groot sug van verligting gegee, want nou kan huishoudings weer “normaal” funksioneer. Alhoewel die rapporte nog nie gefinaliseer is nie, wil ek vir julle graag die versekering gee dat ons leerders puik tydens hul finale eksamens gevaar het. Die afgelope week is ek aktief by die modereringsproses betrokke om vir die jaarlikse promosie en progressie voor te berei, wat vir die Grondslagfase (gr. R–3) op Woensdagmiddag, 26 November, plaasgevind het en vir die Intersenfase (gr. 4–7) op Maandagoggend, 1 Desember, sal plaasvind. Graag wil ek die onderwysers hartlik bedank vir hulle deeglike nasienwerk gedurende die afgelope eksamens en assesserings om seker te maak die leerders ontvang hul regmatige punte. Laat my ook toe om die modereringspan hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel om seker te maak dat die eksamenpunte volledig en akkuraat is, wat ook benodig word vir die prysuitdelings vir gr. 4 en 5 wat op Dinsdag, 2 Desember, en vir gr. 6 en 7 op Donderdag, 4 Desember, plaasvind. Soos julle bewus is, word die Top 10-akademiese prestasies nie in graad 4 aangewys nie. Dit sal slegs vanaf graad 5 bekendgestel word. Hiermee poog ons om die onnodige akademiese druk op graad 4-leerders vir eers uit die weg te ruim aangesien hulle hierdie jaar eers in die nuwe skoolfase (Intersen) moes aanpas.

Ek het baie begrip dat prysuitdelings altyd kontroversieel van aard sal wees, maar wees verseker dat die prysuitdelings by ons skool met die grootste respek en omsigtigheid hanteer word. Net soos ons weekliks erkenning aan sport- en kultuurprestasies in die saal en in die nuusbriewe gee, wil ons ook graag erkenning aan leerders wat akademies hard werk en presteer, gee aangesien akademie darem ons kernbesigheid is. Nie alle leerders presteer in sport of op kultuurvlak nie en kry selde kans om erkenning vir akademiese uitnemendheid in die saal te ontvang. Verder neem ons deurdagte besluite rakende die proses om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Dus sal die Top 10-presteerders in grade 5 tot 7 tydens volgende week se prysuitdelings bekend gemaak word.

Die verkiesing van die 2026-leerderraad het ook op Maandag, 24 November, net na afloop van die laaste eksamen plaasgevind en dit word op Dinsdag, 9 Desember, in die saal aan die leerders bekendgemaak.

Verlede week het ek die uitslae van die 2025 Mondelinge Kommunikasie-eksamens van ons leerders wat aan die SA Spraak-, Drama- en Kommunikasiekollege se nasionale eksterne eksamens deelgeneem het, onder leiding van Alma Nel by Hoërskool Jan van Riebeeck, met julle gedeel. Graag wil ek net ’n regstelling maak dat ons per abuis vir Antjie Samuel erkenning gegee het, maar dit moes eintlik haar suster, Susie Samuel, toegekom het, wat die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met lof geslaag het, en met ’n punt van 89% spog – jammer, Susie!

Dit is dan soos die vorige weke my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“As die Here ’n land straf, is die aasvoëls by.”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat daar altyd mense is wat munt slaan (voordeel trek) uit ander se ongeluk.

Geniet môre se sportdag vir ouers en mag die beste spanne wen – dit gaan baie opwindend wees! Mag die Bokke die naweek weer wen deur die Rooi Drake (Wallis) in Cardiff ore aan te sit!

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Prysuitdelingsgeleenthede 2025

Prysuitdelings vind op die volgende dae en tye in die skoolsaal plaas. Kom woon dit gerus by.

Maandag, 1 Desember 2025:

Graad 1: 08:30

Graad 2: 10:00

Graad 3: 11:30

Dinsdag, 2 Desember 2025:

Graad 4: 09:00 (Geen Top 10 word aangekondig nie)

Graad 5: 11:00 (Top 10 word aangekondig)

Donderdag, 4 Desember 2025:

Graad 6: 09:00 (Top 10 word aangekondig)

Graad 7: 18:00 (Top 10 word aangekondig)

Kontakbesonderhede op MyJvR opdateer

Ons versoek ouers vriendelik om hul kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) op MyJvR na te gaan en op te dateer indien dit verander het. Dit verseker dat alle belangrike kommunikasie, insluitend u kind/kinders se rapporte, ontvang word.

Volg hierdie skakel na MyJvR: KLIK HIER

Dankie dat u saam met ons werk om gladde en effektiewe kommunikasie te verseker!

Skryfbehoeftes vir 2026

Sien asseblief die skryfbehoeftes wat jou kind in 2026 gaan nodig hê hier onder:

KULTUUR

REDENAARS 2026

Raak deel van die Redenaars WhatsApp-groep om alle inligting rakende volgende jaar se redenaars te ontvang. Alle kommunikasie sal daar plaasvind. Gaan na ons LsJvR Community en soek die groep Redenaars (Ls JvR)

Vul asseblief die vorm in indien jou kind in Redenaars 2026 belangstel:
REDENAARS 2026 – Fill out form

Hier is die kompetisiedatums asook inligtingsessie se datum wat in die eerste week van skool plaasvind. Dagboek asseblief hierdie datum!

SPORT

Kleure-atletiekprogram 2025

Sien die program hier onder:

ALGEMEEN

Kersdonasies vir JvR-personeel

Indien jy graag ’n kersdonasie deur Karri vir die terrein-, nasorg- en/of snoepiepersoneel by die laerskool te maak, is jy baie welkom om 'n bydrae te lewer.

Hou asseblief die Karri-toep vir meer besonderhede dop.

Baie dankie vir julle ondersteuning en ruim harte!

Koop ’n kookboek – ’n geskenk wat aanhou gee!

Kersfees is om die draai! Koop kookboeke as geskenke vir oumas, onderwysers, vriende en familie – en laat die skool daarby baat!

Vir elke kookboek wat teen R200 gekoop word, ontvang die skool R50.

Dis die perfekte manier om iets besonders vir Kersfees of verjaardae te gee, terwyl jy terselfdertyd ons skool ondersteun.

Kies uit vier pragtige kookboeke:

Geure deur Lientjie Wessels – eenvoudige resepte met jou gunstelingbestanddele soos asyn, sout en olyfolie. Heerlik en stylvol!
Cake It Till You Make It deur Anmar Wilding – stap-vir-stap riglyne om die perfekte koek te bak, met al die geheime vir goeie bakwerk.
Going Home deur Sophia Lindop – ’n Lebanese kookboek vol bekende Mediterreense disse soos hummus, laban en kofta. Gesond én smaaklik!
The Lockdown Recipe Storytelling Book saamgestel deur Ingrid Jones – ’n nostalgiese versameling resepte vir klassieke gunstelinge soos hertzoggies en sagopoeding.
Sien die volgende skakel vir meer besonderhede oor hoe om te bestel: BESTEL JOU KOOKBOEK

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Krieketuitslae - 20 November 2025

Hier volg die week se krieketuitslae:

KULTUUR

BARBARA SCHREUDER DANSKOOL – Desember 2025

Baie geluk aan ons dapper balletdansers met hul wonderlike uitslae! Deelname is opsioneel, maar elke danser het met groot trots en toewyding deelgeneem.

Die AAB-funksie het seepglad verloop en die dansers het hulself ten volle geniet.

Die beoordelaar, Iain McDonald, was baie beïndruk en wil graag al die dansers aanmoedig om volgende jaar weer deel te neem.

Dit is pragtige werk – opwindend, leersaam en uitstekend vir die bou van selfvertroue.

Ratings

Pre-Level: Silver Star

Hoër vlakke ontvang die volgende toekennings:
  • Bronze
  • Bronze + Distinction
  • Bronze + Double Distinction
  • Silver
  • Silver + Distinction
  • Silver + Double Distinction
  • Gold

PERFORMANCE AWARDS – Uitslae (9 November 2025)

Gr. 1 – Pre-Level 1

  • Heike Louw – Silver Star
  • Ada Uys – Silver Star

Gr. 2 – Level 2

  • Emily Theron – Silver Medal Double Distinction
  • Cornelia Opperman – Silver Medal Double Distinction
  • Emma Wilke – Silver Medal Double Distinction
  • Mila Maree – Gold Medal
  • Isabella Robinson – Gold Medal

Gr. 3 – Level 3

  • Ciera February – Gold Medal

Gr. 4 – Level 5

  • Mika vd Walt – Gold Medal with Summer School Sponsorship
  • Christa-Bella Swart – Gold Medal with Summer School Sponsorship

Gr. 5 – Level 5

  • Heidi v Heerden – Gold Medal with Summer School Sponsorship
  • Natalie Lawson – Gold Medal with Summer School Sponsorship

Gr. 6 – Level 6

  • Solange Stevens – Silver Medal Double Distinction with Summer School Sponsorship

Gr. 7 – Level 6

  • Ella Grey – Silver Medal Double Distinction with Summer School Sponsorship
  • Gabriella Buckenham – Silver Medal Double Distinction with Summer School Sponsorship

Gr. 9 – Level 9

  • Kerala Allewell – Gold Medal with Summer School Sponsorship
  • Karlien vd Walt – Gold Medal with Summer School Sponsorship
Gr. 10 – Level 10
  • Lara Basson – Gold Medal with Summer School Sponsorship
Baie trots op elkeen van julle!

Juf Barbie

INDIVIDUEEL

Mila Malan presteer in binnenshuise hokkie

Drie van ons graad 6-leerders — Mila Malan, Elle Malan en Ella van der Walt — het hierdie kwartaal begin met binnenshuise hokkie as deel van die PSI-liga. Hulle het oor vyf Saterdae liga-wedstryde gespeel en uiteindelik as wenners uit die stryd getree!

Die nasionale spanne is onlangs aangekondig, en Mila Malan is as goalie vir die Cape Seal Pups (O/12A-span) gekies! Mila neem van 11 tot 14 Desember aan die nasionale byeenkoms deel, waar sy teen spanne van regoor die land, asook Namibië, sal speel.

Baie geluk, Mila! Ons is ongelooflik trots op jou!

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad