Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Di 21 Julie 2026

  • Skole heropen
  • Sport en Kultuur Begin
  • Sun City Tennistoer
  • Algemene kennis toets

Wo 22 Julie 2026

  • Lead4life (Gr.6)
  • Netbal: St Cyrpians (TUIS)

Do 23 Julie 2026

  • Lead4life (Gr.4)

Vr 24 Julie 2026

  • Hokkie: Vishoek
  • TOETS: Engels (Gr.5&7)
  • Lead4life (Gr.5)
  • TOETS: Afrikaans (Gr.4&6)

Sa 25 Julie 2026

  • Rugby: Vishoek
  • Netbal: Vishoek

Ma 27 Julie 2026

  • GEEN SPORT
  • Gr.3 - Interne Robotika Kompetisie
  • Skool sluit 13:00
  • Ouerbesoeke

Di 28 Julie 2026

  • GEEN SPORT
  • Finkom Vergadering
  • Skool sluit 13:00

Wo 29 Julie 2026

  • Rugby: Fanie Theron (WEG) - Almal
  • Netbal: Tableview (TUIS) - Almal
  • Gr.1 & 2 - Interne Robotika Kompetisie

Vr 31 Julie 2026

  • Quiz-aand: Bring & Raai
  • TOETS: Afrikaans (Gr.5&7)
  • o.9 Hokkietoernooi
  • TOETS: Engels (Gr.4&6)
  • Sivvies


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 17 April 2026

Ons jaarlikse en gewilde Kaperjolle het op Saterdag, 11 April, plaasgevind en hierdie spesiale geleentheid het darem net sy eie sjarme en bekoring. Die kosbare samesyn tussen ouers, personeel en leerders maak ons skool so uniek. Die heerlike kuier is nog steeds op almal se lippe en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se sosiale kalender, veral vir ons leerders. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk.

Volgens die leerders was die besoek aan die spookhuis die gewildste aktiwiteit om te doen. Leerders het in lang rye tougestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ’n kans is dat ’n sogenaamde spook, genaamd Trudie, aan jou kan raak. Ek glo dat ’n spookhuis se gewildheid nooit oor die jare sal taan nie en vir geslagte nog, veral ons leerders en selfs volwassenes, sal fassineer. Die nuwe aktiwiteit waartydens jy ’n ou motorwrak (Honda Ballade) met ’n hamer kon slaan, was ook baie gewild. Dit was die ideale geleentheid om al jou opgehoopte frustrasies spreekwoordelik uit jou sisteem te kry.
Baie geluk en ook groot dankie aan ons ouers wat die smaaklikste disse by hul onderskeie stalletjies opgedis het vir ieder en elk om te proe. Die fraai versierde kosstalletjies en die heerlike warm weer het die geleentheid perfek afgerond. Die verskeidenheid disse om te proe was hemels en die kompetisie was baie sterk. Baie geluk aan die volgende kosstalletjies wat as wenners aangewys is:

Die dekorstalletjie wat die estetiese prys ontvang het: Vetkoek & Vuur
Derde plek vir die beste kosstalletjie: Die Burger-Meesters
Tweede plek vir die beste kosstalletjie: Vetkoek & Vuur
Eerste plek vir die beste kosstalletjie: Squadra Papà
Die opkoms van ouers en leerders tydens Kaperjolle was weereens verstommend en spreek weer boekdele van die unieke karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Hierdie kombinasie saam met omgee-mense maak die perfekte resep vir ’n onvergeetlike ervaring. Ek is so trots en dankbaar dat ons ouers/voogde die skool in alle opsigte ondersteun. Dit dra onder andere kollektief tot ons skool se algemene sukses by. Graag wil ek ons OOV-voorsitter, Susan Derksen, Wilene Sieberhagen, Frances Samuel, asook al die ouers, voogde en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die 2026 Kaperjolle te verseker, hartlik bedank.

Ek en juf. Marinda (Adjunkhoof) het op Sondagmiddag, 12 April, die voorreg gehad om ons senior koor se optrede tydens die Passion ChoralFest in die pragtige Hugo Lambrechts-sentrum by te woon. Die volgende kore het aan die merkwaardige fees deelgeneem:

Vivox Voices
DF Dynamics
Tygerberg City Choir
Cape Town Camerata
Laerskool Jan van Riebeeck

Ons koor onder leiding van Leon Starker en juf. Rolene het die volgende drie liedere gesing:
When you believe
Veni Veni Emmanuel
Liewe Lewe

Ons senior koor het, wat my betref, hul beste vertoning ooit gelewer – dit was eenvoudig net briljant! Hulle het ’n staande toejuiging ontvang en ek is vir seker die trotste skoolhoof in die land. Baie dankie mnr. Leon en juf. Rolene vir jul harde werk en toewyding die afgelope twee jaar om ons senior koor te ontwikkel en na nog hoër hoogtes te neem. Laaste, maar nie die minste nie, baie geluk aan die senior koorleerders self wat so toegewyd is om die sukses van die koor te verseker.
Dit is baie hartseer om met julle te deel dat Loraine van Vuuren, wat ons vakansiesorg vir die laaste tien jaar behartig het, op Sondag, 12 April, tragies afgesterf het. Sy was so geliefd onder ons leerders en ouers en sy gaan so baie gemis word. Ons innige meegevoel aan haar familie met die groot verlies en mag die Here julle vertroos tydens die moeilike tyd.

Op Woensdag, 15 April, is ons skool deur ’n groep van 42 Belgiese jeugwerkers (ouderdomme vanaf 19–27) besoek, wat studente, onderwysers, argitekte en ingenieurs insluit. Hierdie groep jeugwerkers het België en sy kultuur aan ons leerders kom bekend stel en ons leerders is in die proses ook kans gegee om ons unieke Suid-Afrikaanse kultuur en gebruike met hulle te deel. Ons leerders het die blootstelling en ervaring terdeë geniet en nie geskroom om Suid-Afrika en veral Kaapstad te promoveer nie.
Vanaf 15–16 April het die volgende leerders aan die eerste uitdunrondte van die ATKV-redenaarskompetisie te HS Jan van Riebeeck deelgeneem:

Izak Steyn Gr. 3
Pieter-Steph Bothma Gr. 3
Amalie Janse van Rensburg Gr. 5
Christina du Toit Gr. 5
Mia Bothma Gr. 5
Pieter Derksen Gr. 5
Lua Groenewald Gr. 5
Henry Jordaan Gr. 5
Stef Nel Gr. 6
Nina Bremer Gr. 6
Antjie Samuel Gr. 6
Chris Derksen Gr. 7
Ella van der Walt Gr. 7
Pieter Rademeyer Gr. 7
Bella Naylor Gr. 7
Alida Loubser Gr. 7

Ons wag nog vir bogenoemde uitslae en sal dit op ’n latere stadium met julle deel. Baie dankie aan juff. Andri en Anthea wat ons leerders vergesel het.

Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):

“Iemand die leviete voor te lees”

Die uitdrukking beteken om iemand ernstig te berispe of streng aan te spreek oor wangedrag.

Ek sluit dan af en sien baie uit om julle oor die sportnaweek tuis teen Curro Durbanville te sien. Geniet die res van die naweek.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Junie-eksamen 2026

Sien belangrike inligting rakende die Junie-eksamen asook die rooster hier onder:

KULTUUR

Senior koor: Hoërskool Fairmont Kooraand

Ons senior koor tree Dinsdag, 21 April, by die Fairmont Hoërskool Kooraand op. Dit is ’n groot voorreg om die verhoog met die Fairmont en Curro Durbanville Hoërskoolkore te deel, en ons sien baie daarna uit om by hierdie geleentheid op te tree.

Hier is meer inligting rakende kaartjieverkope en reëlings rondom die konsert.

Datum: Dinsdagaand, 21 April
Plek: Hoërskool Fairmont
Tyd: 18h30
Kaartjies: Quicket

Reëlings vir die Senior Koor:

* Bus vertrek stiptelik 15h45 vanaf die agsterste parkeerarea van die skool.
* Leerders wat hokkie oefen, kan direk na die oefening bus toe kom en met hul oefenklere tot by Fairmont ry. Sodra ons daar arriveer, kan hulle verklee - pak asb hul formele skoolklere in, soos benodig vir die optrede. Juf Ilse-Marié Holtzhausen sal help om seker te maak dat almal netjies en reg aangetrek is voor die konsert.
* Juf Ilse-Marié Holtzhausen vergesel die koor.
* Die konsert behoort teen 19h30 klaar te wees, waarna die bus sal terugkeer skool toe. Hou die WA-groep vir ’n meer spesifieke arriveringstyd dop.
* Kleredrag: Formele Skooldrag (hou WA-groep vir spesifikasies dop)

Kontak gerus vir juf. Rolene indien daar enige verdere vrae is.

Musiek-ouervergaderings: Kwartaal 2, 2026

Die Musiekdepartement wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser(s) te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.

Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Julle is ook welkom om ‘n alternatiewe tyd vir ‘n ontmoeting af te spreek.

Kontak gerus jou kind se musiekonderwyser om ‘n datum en tyd vir ‘n ontmoeting te bevestig. Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.

Ek lys die musiekonderwysers en kontakbesonderhede:

Skoolkonsert 2026

Maak seker jy dagboek hierdie belangrike datum! Ons skoolkonsert vind van 14 tot 17 September 2026 plaas.
Ons sien uit na ’n spoggeleentheid propvol talent en vermaak!

ALGEMEEN

Boeliebief-Blokkies Uitdaging!

Ons skool is opgewonde om hierdie kwartaal ’n welwillendheidsprojek aan te bied om Laerskool Prestwich te ondersteun – ’n minderbevoorregte skool wat hulp nodig het om kos aan hul leerders te voorsien.

Ons gaan blikkies boeliebief insamel, en dit sommer in ’n prettige kompetisie tussen die klasse omskep!

Hoe werk dit?
⭐ Vir elke 5 blikkies boeliebief wat ’n klas insamel, kry hulle 1 blokkie om in te kleur.
⭐ Hoe meer blikkies ingesamel word, hoe voller raak die klas se blokkaart!

🏆 Die klas met die meeste blokkies wen:
🍕 ’n Pizza-partytjie
👕 ’n Sivviedag

📅 Datums:
Begin: 20 April 2026
Sluit: 8 Junie 2026

💛 Elke blikkie maak ’n verskil. Kom ons werk saam en help waar dit regtig nodig is!

Wêreldboekedag – 23 April 2026

Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat ons skool Wêreldboekedag op 23 April gaan vier!

Om hierdie spesiale dag te vier, nooi ons al ons leerders uit om soos hul gunstelingkarakter uit een van Jaco Jacobs se boeke aan te trek. Jaco Jacobs vier vanjaar ook die 25ste herdenking van die publikasie van sy eerste boek.

Dit is ’n wonderlike geleentheid om ’n liefde vir lees aan te wakker en kreatiwiteit te vier. Daar sal ook ’n spesiale boekprys per graad toegeken word aan die leerder met die beste kostuum!

Ons sien baie uit daarna om al die kleurvolle en kreatiewe uitrustings te sien. 🎉📖

Skrywersbesoek: Francois Bloemhof

Sien meer inligting oor die volgende skrywersbesoek hier onder:

Doughnutverkope: Bestel nou!

Ons Graad 7-leerders hou ’n heerlike doughnutfondsinsameling om hul projekte en aktiwiteite te ondersteun. Doughnuts is beskikbaar teen slegs R15 elk en word Vrydae vars afgelewer.

Ondersteun gerus ons Graad 7’s.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Netbaluitslae: 11 April 2026

Hier volg die week se netbaluitslae:

Hokkie-uitslae: 10 April 2026

Hier volg die week se hokkie-uitslae:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad